Al dié een gehoor: Pienk tablette het ’n groter stimulerende uitwerking as bloues. Behalwe by Italiaanse mans, bloues laat weer hul adrenalien pomp. Dis waarskynlik omdat die Italiaanse sokkerspan blou dra. Nee, groenes is nog nie op Suid-Afrikaners getoets nie. Maar dit kan dalk ons harte op loop laat gaan.

Gestres? Probeer ’n blou kalmeerpil. As jy pyn het, is ’n wit pynpil weer beter.

Duur tablette met handelsname is beter pynstillers as goedkoop, generiese soorte. Groter tablette is meer doeltreffend as kleintjies. En kapsules meer as tablette. Sommige studies suggereer selfs inspuitings is doeltreffender as pille.

Dis nie die nuutste meme nie. Fopmedisyne, of plasebo’s, is erns in die wetenskapwêreld. Dis nou die verskynsel waar jy ’n pil sonder enige aktiewe bestanddele (soos ’n suikerpil) neem en dit het een of ander fisieke effek. Dis ook nie noodwendig net pille nie. Die oopsny en onmiddellike toewerk van ’n knie – sonder enige behandeling – kan by mense met knie-osteoartritis sorg vir dieselfde verbetering as regte chirurgie, het Amerikaanse dokters bevind. Dit geld ook skyn-akupunktuur, wanneer die naalde elders as in die akupunktuurpunte gedruk word.

Studies wys pasiënte wat ná ’n operasie pynmedikasie kry wat deur ’n versteekte robot-pomp toegedien word, het dubbel soveel doepa nodig vir dieselfde pynverdowende effek. Vergeleke met wanneer ’n verpleegster wat jy kan sien, dit gee.

Daar is selfs ’n verskynsel soos die nosebo-effek, waar jou negatiewe verwagtinge oor ’n behandeling jou slegter laat voel. As jy dus verwag om newe-effekte soos hoofpyn, naarheid en lomerigheid te hê, is die kans groter dat jy dit gaan ervaar. Sommige kenners glo die nosebo kan in ’n mate die huidige toename in voedselsensitiwiteit (soos vir gluten en suiwel) verklaar. Mense het ’n negatiewe verwagting ontwikkel dat byvoorbeeld gluten hulle sleg gaan laat voel. En dit gebeur dan ook, selfs al het hulle dalk geen biologiese glutensensitiwiteit nie.

Entrepreneurs het kennis geneem en jy kan plasebo-pille aanlyn koop. Maar hoekom daarvoor betaal as jy jou eie kan maak? Die instruksies is op die internet. “Koop leë gelatienkapsules. Vul dit met ’n skadelose stof, soos ’n knippie suiker ...” Besluit wat jy wil verbeter: fokus, wilskrag, geluk, intelligensie. En skep dan ’n inspirerende naam daarvoor, soos die “Albert Einstein supergeniale pil”. Nee, moenie jou oë rol nie ...

DIE OUDSTE MEDISYNE

Feit is, jou kop kan ’n kragtige werktuig wees. Die plasebo-effek kom nie van vandag af nie en het ’n lang spoor van genesing. Geloof is die mens se oudste medisyne. Vir millennia het dokters, versorgers en genesers geweet skynbehandelings werk. Die gewese Amerikaanse president Thomas Jefferson bewonder in 1807 die genialiteit daaragter in ’n brief aan ’n vriend: “Een van die mees suksesvolle geneeshere wat ek ken, verseker my hy gebruik meer broodpille, druppels gekleurde water en poeiers van neuthout-as, as al die ander medisyne sáám.”

’n Nuutjie is dat wetenskaplikes uiteindelik saamstem. Hulle het die verskynsel onder hul vergrootglas gesit. En bevind onder die regte omstandighede kan dit net so doeltreffend soos tradisionele behandelings wees.

“Dis meer as positiewe denke – dit gaan oor die skep van ’n sterker verbintenis tussen die brein en lyf en hoe hulle saamwerk,” volgens prof. Ted Kaptchuk. Dié Amerikaner was een van die eerste Westerlinge wat akupunktuur in China studeer het en het jare lank ’n suksesvolle praktyk in Chinese medisyne gehad. Mettertyd het hy oortuig geraak dat die verhouding wat hy met pasiënte bou en hul geloof in sy vermoë om hulle te help, ’n sleutelrol in sy sukses speel. Hy is later by Harvard se mediese skool aangestel as hoof van hul program in plasebo-studies.

Fopmedisyne gaan nie jou cholesterol verminder of ’n gewas laat krimp nie. Maar werk vir simptome wat deur die brein gereguleer word, soos die persepsie van pyn. “Dit kan jou beter laat voel, maar nie genees nie,” sê hy. Dit het oënskynlik die grootste krag oor simptome wat op die donker grens tussen die fisieke en sielkunde lê. Daar is bewys dis meer doeltreffend vir onder meer toestande soos pynbeheer, stresverwante insomnia en newe-effekte van kankerbehandeling soos moegheid en naarheid. 

DIE GOUE STANDAARD

Plasebo-beheer is bekend as ’n “goue standaard” waarteen wetenskaplikes nuwe behandelings meet, meestal in medisynestudies. Só sal een groep die “ware” middel kry wat getoets word, sê nou maar vir cholesterol. Terwyl die ander een die fopmiddel, of plasebo, kry. Nie die proefpersone of die navorsers weet wie die aktiewe middel en wie die plasebo kry nie. (Die studie is “dubbelblind”.) Want weet jy jy kry die ware Jakob, kan jy hoër verwagtinge hê dat jy beter gaan voel, wat die resultate kan beïnvloed. Die teenoorgestelde kan ook gebeur. Proefpersone wat die fopmedisyne kry en dit wéét, kan ’n nosebo-effek (die nare een van die tweeling) kry en slegter voel.

Daar word nog nie heeltemal verstaan hoe plasebo’s werk nie. Maar dit behels ’n komplekse kop-lyf-reaksie wat alles insluit: van goedvoel-neurooordragstowwe soos endorfien en dopamien, tot meer aktiwiteit in sekere dele van die brein gekoppel aan bui, emosionele reaksies en selfbewussyn.

“Fopmedisyne het egter nie net met breinkrag te doen nie, maar ook met die ‘ritueel van behandeling’,” sê prof. Kaptchuk. As jy aan ’n studie deelneem wat nuwe medikasie met ’n plasebo vergelyk, moet jy op sekere tye by ’n kliniek aanmeld waar jy deur medici in wit jasse ondersoek word. Jy ontvang allerhande soorte eksotiese pille en ondergaan vreemde prosedures. Jy voel jy kry aandag en sorg. Dit kan ’n diepgaande effek hê op hoe die liggaam simptome ervaar.

Ons is ook ’n bietjie soos Pavlov se honde, wat begin kwyl as hulle ’n klokkie hoor. Hulle het geleer hulle gaan dan kos kry. Só verwag ons ’n positiewe uitkoms as ons ’n dokter vertrou. Of ’n pilletjie sluk.

JY WEET DIS SKYN MAAR ...

Interessant: Baie mense hoef inderdaad nie eens geflous te word met die skynmiddel nie. Selfs al weet hulle dis fopmedisyne reageer hul brein steeds positief daarop. ’n Oorsig van vyf studies waar proefpersone weet hulle gebruik fopmedisyne (’n sogenaamde “eerlike” plasebostudie), het bevind dit bevoordeel pasiënte met rugpyn, depressie, allergiese rhinitis, aandaggebrekhiperaktiwiteitsindroom (AGHS) en prikkelbare dermsindroom (PDS).

Die geskiedenis van sogenaamde “eerlike” fopmedisyne kan teruggevoer word na Amerikaanse dokters wat dit in 1965 vir 15 “neurotiese” pasiënte gegee het. Hulle is vertel: “Dit word soms suikerpille genoem, maar het al baie mense met jou toestand gehelp. Ons het gedink dit kan vir jou ook werk.” Baie van hulle hét beter gevoel. Maar dis omdat hulle gereken het die dokters jok en het hulle tog maar die regte medisyne gegee. Sedertdien is strenger navorsing gedoen, onder meer met PDS. PDS is moeilik om te behandel. Jy kry verlammende maagkrampe en daar is min behandelings wat regtig werk. In een studie is 80 pasiënte met erge PDS fopmedisyne gegee. Hulle is vertel dit bevat ’n nie-aktiewe middel, soos suiker. En dat kliniese studies bevind het dit verbeter PDS beduidend deur selfgenesende prosesse wat die kop-lyf-verbintenis inspan. (Positiewe verwagtinge is dus geskep.)

’n Kontrolegroep het geen behandeling gekry nie. Meer as dubbel die aantal pasiënte wat die fopmedisyne geneem het se simptome het verbeter, teenoor die kontrolegroep. Dis nie al nie: Die verbetering was amper soortgelyk aan die effek van twee soorte medikasies vir PDS wat in daardie stadium (2009) algemeen gebruik is. Een van die deelnemers het jare lank met PDS gesukkel en niks het daarvoor gehelp nie. Ná die “eerlike” fopmedisyne het sy gesê sy het nog nooit so goed gevoel nie. Toe die studie afgehandel is en dit gestaak word, het haar PDS weer vererger. Sy het haar apteker vir “eerlike” fopmedisyne gevra, maar hy het gesê dit sal oneties wees.

Hoe kan jy jouself ’n plasebo-hupstoot gee sonder om ’n foppil te sluk? Die beoefening van selfhelp-tegnieke is een manier. ’n Gesonde leefstyl – reg eet, oefening, joga, sosiale tyd, meditasie – omvat waarskynlik van die plaseboeffek se sleutelelemente, volgens prof. Kaptchuk. Dis op hul eie positiewe ingrepe, maar die mate van aandag wat jy daaraan gee, kan die voordeel versterk. “Die aandag en emosionele ondersteuning wat jy jouself gee, is dikwels nie iets wat ons maklik kan meet nie. Maar dit help jou om gemakliker in die wêreld te voel. En dit kan op sigself baie tot genesing bydra.” 

GENETIES ÓÓK

“Die raad dat jy ’n oorpluisie in jou oorkanaal moet druk om die pyn van middeloorontsteking te verlig klink argaïes en lagwekkend.

Hoe kan ’n stukkie watte in die buiteoor help vir pyn in die middel van die orgaan? Dit kan. Die rede is nie die watte nie, maar die positiewe druk wat dit op die oortrom uitoefen. Dit verminder die spanning in die sensitiewe oortrom en siedaar, minder pyn. Jy kon netsowel ’n stuk kougom of kerswas ingedruk het.

’n Plasebo is anders. Dis ’n stof wat nie oor enige farmakologiese werking beskik nie. Tog bring dit simptomatiese verligting by sowat die helfte van pasiënte wat dié nuttelose stof neem. Twee dinge is opvallend.

Eerstens is dit die doeltreffendste by pasiënte wat aan spesifieke toestande ly, soos pyn en depressie. En nee, nie omdat dié groep ’n groter verbeelding het nie. Dié siektetoestande gaan gepaard met veranderinge in sekere senuwee-oordragstowwe in die brein. ’n Plasebo kan die afskeiding van die stowwe, soos endorfiene, serotonien en dopamien, sodanig reguleer dat dit verligting bring. Die binding van die stowwe aan hul spesifieke reseptore is nie by alle mense dieselfde nie.

Genetiese veranderinge verklaar waarom sowat die helfte van pasiënte ’n gunstiger reaksie op plasebo’s het. Dus is dit nie wensdenkery nie, maar berus op ’n genetiese en fisiologiese basis.”

Dr. Heinz Mödler, narkotiseur, skrywer en rubriekskrywer