Lang wandelings, voëlkyk en die vleg van blomkettings word nou deur dokters van Skotland se Shetland-eilande as deel van die behandeling vir chroniese siektes voorgeskryf.

In Oktober verlede jaar het Shetland se nasionale gesondheidsdiens sy “natuurvoorskrifte” bekendgemaak om te help met die behandeling van ’n reeks siektes, waaronder hoë bloeddruk, angs en depressie. En om mense met onder meer hartsiektes en diabetes se gemoed ligter te maak.

In spreekkamers kan jy nou ’n kalender en voubiljet kry met soms ligte, dikwels buite-die-boks-voorstelle vir olike pasiënte. In Februarie kan jy byvoorbeeld ’n windkous maak en die “spoed van die wind” takseer. (In die Kaap kan jy dit sommer heeljaar doen.) In April kan jy ’n hond leen en vir ’n wandeling gaan. In Oktober “’n wolk waardeer” en in Desember (die hartjie van die winter daar) voëltjies in jou tuin kos gee. Alles in opdrag van jou dokter.

Bewyse van die natuur se voordele vir jou kop en lyf is talryk. As jy net negentig minute van jou dag in ’n bosryke gebied deurbring, is daar byvoorbeeld minder aktiwiteit in die deel van jou brein tipies geassosieer met depressie. Tyd in die natuur verlaag nie net bloeddruk, verminder angs en laat jou gelukkiger voel nie, dit verminder ook aggressie, simptome van aandaggebrek-hiperaktiwiteitsindroom (AGHS) en verbeter pynbeheer en die immuunstelsel. Dié lys raak boonop toenemend langer.

‘BAAI IN DIE BOS’

Hoekom voel jy gesonder en gelukkiger as jy in die branders baljaar of deur ’n bos slenter? Is dit maar net omdat jy wegkom van alles en almal, stres ontlaai en die natuurskoon jou bekoor?

Sowat twintig jaar lank al probeer wetenskaplikes bepaal presies hoe biodiversiteit ons gesondheid verbeter, volgens die webblad The Conversation (theconversation.com), met artikels deur voorste akademici en navorsers.

Japannese navorsers is op die voorpunt met hul navorsing op die eiland Jakoesjima, juis bekend vir biodiversiteit, volgens navorsers Jeffrey Craig en Susan L. Prescott in die Journal of Physiological Anthropology. Die Japannese het lankal ’n naam vir die wonderlike gevoel van welbehaaglikheid wat jy in die natuur ervaar: sjinrin-jokoe of “baai in die bos”(kortweg sommer bosmedisyne of bosterapie). Tokio, hul hoofstad, het die grootste bevolking ter wêreld en sjinrin-jokoe word dekades lank al daar beoefen. Dis niks meer nie as bloot tyd bestee in ’n beboste gebied, of jy nou sit, lê of loop.

Ons weet ’n diverse ekosisteem bevorder ’n veelsoortige en voordelige mikrobiese gemeenskap (bakterieë, virusse en fungi) binne en rondom ons, volgens The Conversation. En dat blootstelling aan “groen” gebiede, selfs binne stede, ons fisieke en geestelike gesondheid verbeter.

Maar hoekom? Volgens die Japannese navorsers is daar by bome heilsame stowwe in die lug wat ons inasem. Hulle het drie dinge geïdentifiseer: goeie bakterieë, essensiële olies afkomstig van plante en negatief gelaaide ione.

1. Mikrobes

Ons word omring deur mikrobes en die groeiende kennis oor hul effek op ons gesondheid veroorsaak ’n revolusie in die mediese wetenskap. Nie net deel ons ons liggaam met hulle nie, hulle leef in ons omgewing en, belangrik, die lug wat ons inasem. Hoe meer interaksie ons met mikrobes het, hoe gelukkiger en gesonder is ons. Dis deels vanweë die bakterieë in ons dermkanaal, wat kos afbreek wat ons nie kan verteer nie en stowwe vervaardig waarby ons fisiek en sielkundig baat vind.

2. Essensiële olies

Plante en die bakterieë wat daarop leef, kan essensiële olies vervaardig wat skadelike mikro-organismes beveg. Daarna word kollektief verwys as fitondoders, dus van plante afkomstig. Plante skei dit af om hulself teen kieme en insekte te beskerm. Navorsing oor die gesondheidsvoordele van dié essensiële olies is nog jonk, maar volgens die Japannese laat boslug jou nie net beter en verfris voel nie, die inasem van die fitondoders verbeter klaarblyklik ook jou immuniteit. In nog ’n studie is bevind fitondoders van die Koreaanse denneboom verbeter varke se gesondheid en die bakteriële samestelling van hul dermkanaal.

3. Negatiewe ione

Toestelle wat sogenaamde negatiewe ione opwek, word deur baie pseudowetenskap omgewe. Daar is egter bewyse dat negatiewe ione, waarvan meer in ’n bos of by water aangetref word, dalk geesteswelstand kan bevorder. En boonop ’n effek kan hê op chroniese laegraadse inflammasie, wat ’n rol by van hartsiektes tot Alzheimer se siekte speel.

Daar is ook ’n wisselwerking tussen mikrobes, essensiële olies en negatiewe ione en dit beïnvloed mekaar. Só kan die ione en fitondoders die natuurlike omgewing se mikrobiese samestelling bepaal, volgens Craig en Prescott.

Sunbeams breaking through Spruce Tree Forest in au
FOTO Getty Images / Gallo Images

MEER AS NET NATUURSKOON

Die Japannese sjinrin-jokoe is dus meer as ’n visuele (esteties mooi) ervaring in die natuur, volgens Craig en Prescott. “Jy baai in die boslug, met die klem op wat jy inasem. Die ervaring laat jou toe om letterlik die bestanddele in te neem wat die bos uitstraal.” Jy ontsnap dus nie bloot van die vuil stadslug nie, jy sien, voel, hoor en ja, adem Moeder Natuur in. Jy “bad” in biodiversiteit, oftewel ’n groot verskeidenheid planten dierlewe.

Craig en Prescott versoek dat nog navorsing gedoen word oor die verband tussen biodiversiteit en ons geestelike en liggaamlike gesondheid, veral in ons kindertyd, daardie belangrike vormingsjare. Ook hier ter sprake is die sogenaamde “higiëne”-hipotese waarvolgens ’n kind se omgewing “te skoon” kan wees. Hul immuunstelsel word dan nie aan kieme blootgestel en kry nie kans om spiere te bult en weerstand op te bou nie. Daarom die toename in asma en allergieë. Alles te wyte aan ons oorlog teen kieme.

Die laaste (wetenskaplike) woord oor die natuur se invloed op ons gesondheid is nog nie gespreek nie, maar jy kan reeds die voordele daarvan benut. Draf by ’n rivier in plaas van op ’n trapmeul. Loop werk toe of stap oor middagete deur ’n park.Werk in die tuin. Draai ’n klip om en kyk wat is daaronder. Kampeer in die bos. Luister na voëlgesang. Voel die wind in jou gesig.

Voor “bos-baaiers” die bos binnegaan, raai Gregg Berman, ’n geregistreerde verpleër en wilderniskenner van Kalifornië, hulle aan om ’n klip op te tel en hul probleme daaronder te sit. Hulle kan dit weer optel wanneer hulle die bos verlaat, verseker hy–maar met hul terugkeer bly die klip vergete.

WAAR WOON JY?

Duitse navorsers het ’n sterk verband gevind tussen stedelinge wat sowat ’n kilometer van ’n bos af woon en ’n “gesonder” amigdala, die deel van die brein wat stres en angs beheer. Jy is dan minder geneig tot dié versteurings. Nie só as jou huis naby ’n “groen” stadsgebied soos ’n park is nie. Die navorsers reken dit kan wees omdat digte bosse gewoonlik aan die buitewyke van ’n stad is, waar minder mense, verkeer en dus lugbesoedeling is.

Die Verenigde Nasies skat twee derdes van die wêreld se bevolking sal teen 2050 in stede woon (tans is dit ’n bietjie meer as die helfte) en volgens die navorsers is meer studies soos dié dringend nodig. So kan ons immers stede ontwerp wat tot ’n gesonde brein bydra.

En navorsers by die Instituut vir Europese Omgewingsbeleid wat 200 studies bestudeer het, het bevind jy is minder geneig om vetsugtig te wees en antidepressante te neem as jy naby bome en groen gebiede woon. Die kans is ook beter dat jy oefen. Só is Dene wie se huis verder as ’n kilometer van ’n groen gebied af is, meer geneig om vetsugtig te wees en die kans skraler dat hulle straf oefen. Teenoor mense wat binne 300 m daarvandaan woon.

Babas wat in gebiede gebore is wat deur groenigheid omring word, weeg meer en die omtrek van hul kop is ook groter. En binne 5 km van ’n bos en op plase is kinders minder geneig om allergieë te ontwikkel. (Die “higiëne”-hipotese is een verklaring daarvoor.)

Amerikaanse navorsers het voorts bevind die beoefening van aktiwiteite op groen plekke het kinders met AGHS se simptome beduidend meer verminder as op ander plekke, volgens die studie in die American Journal of Public Health.

Bron: www.weforum.org