In Woody Allen se fliek Sleeper (1973) word ’n man 200 jaar die toekoms in wakker. Die wetenskap het intussen bevind hoëvet-kosse is gesond.

Hoor ek jou sê Tim Noakes en die Banting-dieet?

Dekades lank was laevet-diëte mos die towerwoord vir ’n gesonde leefstyl en gewigsverlies. Die motto: Botter is uit. Harde, geel kaas ... uit. ’n Vetterige tjoppie ... uit!

Dis grootliks danksy die wêreldbekende sportwetenskaplike prof. Noakes dat Suid-Afrikaners bewus geword het van ’n groter debat wat aan die gang is. Dit ís so dat baie van ons gewigs- en gesondheidsprobleme voor verfynde koolhidrate (stysel en suiker) se deur gelê moet word. ’n Laekoolhidraat-hoëvetdieet (LKHV) kan selfs vir sekere mense gesondheidsvoordele inhou, om nie te praat van gewig wat afrol nie.

Die bant-manie het intussen grootliks sy loop geneem en dit wil voorkom asof nog net die gehardste dissipels steeds daardie trom slaan. ’n Meer ekstreme vorm daarvan is egter tans baie trendy: Die ketogene dieet, of “keto”. Die mooie akteur Armand Aucamp eet reeds die afgelope sowat drie jaar só. Dit het hom genoop om self ’n voorskoot aan te sit en pas het sy kookboek by Lapa verskyn: Armand kook kaal. Kaal kós, gehoor, onverfyn, ongeprosesseer ... soos dit in die natuur voorkom. “Ek hou van treats, brood, muffins, sulke goeters. En omdat ek stysel met alternatiewe bestanddele moet vervang, het ek my eie begin bak.” Keto, verduidelik hy, is soos bant, maar jy eet nog minder koolhidrate. “Die deursneemens eet sowat 200-300 g koolhidrate per dag, as jy bant is dit sowat 50 g. Ek? Sowat 20 g. Ek eet baie en ken nie iets soos klein porsies nie.”

Dis ’n ingewikkelde metaboliese proses, maar baie vereenvoudig kom dit daarop neer dat ’n ekstreme laekoolhidraat-hoëvetdieet die manier verander waarop die liggaam energie verbruik. Koolhidrate is ’n belangrike bron van energie – veral vir die brein.

As die liggaam nie genoeg energie uit koolhidrate kry nie, “stroop” dit ander bronne, soos opgegaarde liggaamsvet. Die afbreekprodukte van vetverbranding – chemiese stowwe genaamd ketone – word dan gevorm. Ketone in die bloedstroom is dus ’n aanduiding dat jou liggaam vet vir energie gebruik.

“Het jy al ooit daardie slegte smaak in jou mond gehad as jy baie min geëet het en bekommerd is jou asem ruik bietjie suur? Dit is wanneer jou liggaam ‘oorgeskakel’ het en in ’n toestand van ketose is,” verduidelik Mariza van Zyl, geregistreerde dieetkundige van die Paarl, in Dik vir Dieet (Naledi, 2015). Die klassieke ketogene dieet bepaal sowat 75% van jou daaglikse energiebehoefte moet vanaf vet kom, verduidelik sy.

FOTO Getty Images/ Gallo Images

Dit beteken die gemiddelde vrou sal sowat 110 g vet moet inneem (gelyk aan 20 teelepels olie/botter/kokosneutolie/enige ander vet). Dit kan gekombineer word met klein porsies proteïen. En ’n byna weglaatbaar klein porsie koolhidrate (of ’n groter porsie groente met minder koolhidrate, soos groen blaargroentes, komkommer en aspersies). Ook groente wat bogronds groei, soos broccoli, blomkool en eiervrug. Die koolhidraat-inname moet egter só min wees dat die liggaam steeds in ketose bly. Volgens Mariza word die voordele van ’n ketogene dieet toenemend ondersoek.

“Dit word jare lank reeds suksesvol gebruik vir die behandeling van epilepsie, of waar vetsug lewensbedreigend is. Navorsing bevestig ook die positiewe effek op diabetes en komplikasies weens diabetes, asook insulienweerstandigheid, cholesterol en hartsiekte. Breingesondheid, wat insluit die voorkoming van Alzheimersiekte en selfs depressie, is tans onder die vergrootglas. “’n Laekoolhidraat-hoëvetdieet pas sommige mense soos ’n handskoen, maar dis nie vir almal nie. Ons metaboliese meganismes om ‘in ketose te gaan’ verskil ook. Mans word dikwels makliker ‘ketoties’ as vroue, dalk vanweë hormonale verskille.

Geen rigiede aanbeveling – laevet, hoëvet of ketogeen – kan op een en almal van toepassing gemaak word nie. Ons het nie almal ewe veel en dieselfde soorte voedingstowwe, insluitend vet, nodig nie. Sommige mense funksioneer geneties beter met ’n bietjie minder vet, en ander met ’n bietjie meer.” (Kontak Mariza vir ’n verwysing vir genetiese toetse om te bepaal waar op die spektrum jy lê of vir ’n individuele dieetvoorskrif.) Dis ook baie belangrik om te let op watter soort vette voordelig blyk te wees. Die “baie vet” verantwoordelik vir die sg. Eskimo-gesondheid kan nie net toegeskryf word aan die hoeveelheid vet nie, maar ook die soort vet. Dieselfde geld vette in die Mediterreense eetpatroon. Meer vet, maar meer van sekere soorte vet, is die bepalende faktor. Só wys epidemiologiese navorsing groepe mense wie se tradisionele eetpatrone met beter gesondheid verbind word, se inname van versadigde vet (diervet) is net sowat 10% tot 15% van hul totale energie-inname. Dié vette is ook nie meer as ’n derde van al die vette wat geëet word nie. Sowat 70% van die dieetvet wat geassosieer word met minder siek bevolkings, is onversadig (plantaardig).

“Dus: Die soort vet wat jy kies, is belangrik!” Die gehalte (of soort) vet, eerder as net die hoeveelheid wat jy eet, word toenemend beklemtoon. “Gehalte” verwys na die samestelling van die vette. Só verander die soort voer wat ’n dier kry die vetsamestelling. (Dus die verhouding tussen versadigde en onversadigde vette. Asook tussen omega 3- en omega 6-vette.) Chemiese stowwe en preserveermiddels in die vet het ook ’n uitwerking op jou liggaam, verduidelik Mariza.

Vet is ’n belangrike bron van voedingstowwe. Vetoplosbare vitamiene, soos vitamien A, is byvoorbeeld noodsaaklik vir jou immuunstelsel en goeie sig. Vet verbeter die opname van voedingstowwe soos betakaroteen (’n kragtige antioksidant) in groen en geel groente. Sekere vette is essensieel en nodig vir goeie gesondheid, maar jou liggaam kan dit nie self vervaardig nie. Jy moet dit deur jou dieet inkry. Daar is twee, omega 3 en 6. Ons het egter tans te veel omega 6 in verhouding tot omega 3 in ons dieet. Bronne van omega 6 is veral margarien en sonneblomolie. Maar ook die meeste dierprodukte, veral as hul dieet grootliks bestaan uit voer en nie gras en bossies nie. Omega 3 is hoofsaaklik afkomstig van vetterige vis soos salm en sardientjies. ’n Wanbalans in die verhouding omega 3:6 blokkeer as’t ware jou liggaam se eie anti-inflammatoriese vermoëns – en dus jou vermoë om teen inflammasie te veg, volgens Mariza. Nes proteïene, is vet belangrik om jou versadig te laat voel. Dit por ook jou metabolisme aan.

Navorsing wys as daar genoeg vet in jou dieet is, eet jy minder. Ná ’n ketose-sessie sal jy vind jy kan met minder kos klaarkom, bloot omdat dit ’n gewoonte geword het. Weet egter: Vir jou liggaam om optimaal te funksioneer, moet jy (op enige dieet) sowat 500-700 g groente per dag inneem. Anders kan jy maer maar wanvoed wees, sê sy.

* Lees Armand kook kaal (Lapa Uitgewers, R380).

Hello keto, tatta banting!
FOTO Armand Aucamp
In ’n neutedop Kies sover moontlik koudverwerkte/ -geparste/-vervaardigde olies. Jou tweede keuse is kanola-olie sonder preserveermiddels. Gebruik ’n verskeidenheid vette – soos klapper, botter, avokado, neute en sade. Vermy verwerkte vette hoog in omega 6 soos sonneblomolie en margarien. Kies grasvoerdiere of Karoolam. Sny die vet van voerkraaldiere af, of maak dit gaar met baie roosmaryn, wat anti-inflammatories is. Eet meer vetterige vis soos sardiens en selfs stokvis. Eet elke dag minstens ’n hand vol rou neute en/of ’n lekker porsie avokado. Vas minstens 12 uur lank oornag. Dít het metaboliese voordele in pas met ketose. Bron: Mariza van Zyl