As jy ’n chroniese migraine-lyer is, mag daar dalk binnekort vir jou ’n kuur wees. Nuwe medikasie kan dalk jou migraine voorkom, eerder as om dit te behandel nadat die pyn jou reeds in sy greep het, berig WebMD. Lees die volledige berig hier.

Jy kry gereeld migraine – minstens twee keer ’n maand. Jy het al alles probeer, van diëte tot allergie-toetse, maar niks wil werk nie. Jy het eintlik al geleer om daarmee saam te leef en elke paar uur ’n paar sterk pynpille te drink totdat die pyn ná ’n paar uur, selfs dae, verdwyn.

Die antwoord lê dalk ’n nuwe voorkomende middel wat veroorsaak dat die migraines in die eerste plek nie posvat nie.

Volgens WebMD, ’n Amerikaanse gesondheidswebblad, is daar ’n nuwe middel wat spesifiek ontwikkel is vir mense wat meer as twee keer in ’n maand ’n migraine kry. Die medisyne werk soos ’n teenliggaam en val die proteïene in jou lyf aan wat die migraine veroorsaak.

Dit staan op die oomblik bekend as ALD403 en kan met ’n inspuiting toegedien word of binne-aars gegee word.

Saturday Star het ook oor dié nuwe middel berig.

Navorsers waarsku dat die middel steeds eksperimenteel is en dit word nog net drie maande lank deur migraine-lyers getoets, maar die resultate lyk tot dusver baie belowend.

Die bevindings gaan by die Amerikaanse Akademie van Neurologie se jaarlikse vergadering in Philadelphia aangebied word en die verwagting is dat daar nog baie opvolg-navorsing gaan wees.

Eet jou migraine weg*

Een van ons SARIE.com-bloggers se migraines het danksy ’n drastiese verandering in haar dieet verbeter. ’n Homeopaat het haar gehelp om vas te stel watter kosse haar migraines veroorsaak. Sy het vir die eerste maand koringprodukte, suiwel en suiker in enige vorm uitgesny, asook vrugte soos spanspek, waatlemoen, druiwe, sitrus, droëvrugte en vrugtesappe. Selfs koffie en tee (behalwe rooibos) was taboe.

Ná ’n maand het die dokter haar dieet aangepas. Sy kon nou ’n bietjie lamsvleis, koeskoes, ongegeurde jogurt met natuurlike kulture, bokmelk en bokmelkkaas (dis nie suiwel nie) byvoeg. Sy het begin brood bak met rysmeel en maak rysmelk-poeier aan wat sy in haar tee drink en by hawermout- en Maltabella-pap eet.

Sy word nou byna elke oggend met ’n helder kop wakker en kry slegs af en toe ’n dowwe hoofpyn.

*Lees die volledige storie deur Lydia van der Merwe op SARIE.com

Laat sny jou migraine weg*

’n Eenvoudige chirurgiese tegniek wat deur ’n Johannesburgse kaak-gesig-en-mondchirurg ontwikkel is, kan die helfte van alle hoofpyn-lyers en minstens 60% van migraine-lyers help. Dr. Elliot Shevel, stigter en voorsitter van die Suid-Afrikaanse Hoofpynvereniging en mediese direkteur van die Hoofpynkliniek in Johannesburg, sê jy kry hoofpyn as oppervlakkige aartjies in jou kopvel gespanne is. In die geval van migraine is meer aartjies betrokke. Hy bind dié aartjies in ’n dagkliniek af.

*Hierdie inligting kom uit ’n artikel wat in 2008 op SARIE.com gepubliseer is.

Nóg migraine raad

Dr. Elliot Shevel, stigter van die Migraine-en-hoofpynkliniek in Johannesburg, deel sy raad oor migraines:

  • Identifiseer die snellers wat vir jou pyn verantwoordelik is, soos byvoorbeeld rooiwyn, en vermy dit dan so ver moontlik.
  • Hou ’n hoofpyn- of migraine-dagboek. Skryf dan neer wat en hoe laat jy elke dag eet, hoe laat jy ’n hoofpyn kry en hoe lank dit aanhou.
  • Skryf ander moontlike oorsake neer, soos spanning, lang ure agter die stuurwiel of baie tyd voor die rekenaar. Kyk dan of jy ’n patroon kan raaksien.
  • Doen ontspannende aktiwiteite soos joga om stres en spanningshoofpyne te keer, of eet klein hoeveelhede sjokolade as dit hoofpyne aanwakker eerder as ’n groot blok op een slag.
  • Indien jy ’n hoofpyn kry wanneer jy voor die rekenaar was, het jy moontlik ’n swak postuur. Probeer gemaklik sit – regop, maar effens agteroor, met jou arms ontspanne langs jou sye en jou voorarms wat rus op die tafel. Die stoel moet ook net hoog genoeg wees dat jy reguit voor jou kan kyk en nie jou nek aanhoudend hoef te buig nie.

Jul grootste kwale en hul oplossings

Voorkom migraines 

  • Probeer jou stres beheer
  • Bly weg van sterk reuke as jy sensitief is
  • Dra ’n sonbril as jy sensitief vir skerp lig is
  • Eet gesond
  • Kry genoeg slaap

Klik hier vir die volledige artikel oor hoe om hoofpyne en migraines te vermy

Bronne: WebMD, SARIE.com