’n Tendens genoem onderbroke vas (intermittent fasting) is tans baie gewild. Dit behels afwisselende siklusse van vas en eet. Dit skryf nie voor watter kosse jy kan eet nie, maar eerder wanneer jy dit moet doen. Daar is verskillende metodes, wat almal die dag of week in tye van eet/vas verdeel.

Ons almal “vas” daagliks terwyl ons slaap. Onderbroke vas kan so eenvoudig wees soos om die vastyd effens te verleng. Jy slaan dan ontbyt oor en eet die eerste keer met middagete en jou laaste maaltyd agtuur saans. Jy vas dan tegnies 16 uur ’n dag en eet in ’n 8-uur-tydgleuf. Dis die gewildste manier van onderbroke vas, bekend as die 16/8-metode. Hollywood-hunk Hugh Jackman het sy Wolverine-lyf glo onder meer daaraan te danke. (En ure in die gimnasium!)

Verskeie blitsverkoper-boeke besing die voordele daarvan vir gewigsverlies, asook die feit dat dit risikofaktore verminder wat tot diabetes tipe 2 en hartsiektes bydra. Maar nee, ’n magiese nuwe manier om gewig af te skud is dit nie. ’n Oorsig van studies langer as ses maande in die interna-sionale joernaal Nutrients vind geen bewyse dat dit beter as ander diëte is nie. Die navorsers het gereken groter studies oor ’n langer tydperk is nodig om te bepaal hoe lank jy die gewig afhou wat jy só afskud.

Só ’n studie is verlede jaar in JAMA Internal Medicine gepubliseer. Navorsing is ’n jaar lank met 100 vetsugtige deelnemers gedoen – ses maande om gewig te verloor en ses maande om te sien of dit afbly. Groep 1 het elke tweede dag (vasdag) 25% van hul daaglikse kJ geëet en die alternatiewe dag (feesdag) 125%. Groep 2 het bloot hul kJ-inname verminder en groep 3 het gewoonweg geëet.

Dit was moeiliker vir dié wat onderbroke gevas het om by hul dieet te hou, is bevind. Gewigsverlies (en die “terugkruip” daarvan daarna) was soortgelyk tussen die dieetgroepe. So ook veranderinge tussen vet en spierweefsel. (Een van die aannames van onderbroke vas is dat jy minder spiere verloor as met tradisionele diëte.) Die vermindering van risikofaktore vir hartsiektes, soos bloeddruk, cholesterol en trigliseriede (’n tipe vet in jou bloed), was ook dieselfde.

Die gevolgtrekking? Dis nie beter (of slegter) as ’n gewone dieet waar jy bloot minder eet nie. (Interessant: Die studie se mede-outeur, dr. Krista Varady, is jare lank al ’n onwrikbare voorstander van onderbroke vas.)

Nog ’n studie, in die Europese joernaal Clinical Nutrition, het bevind nie een van die twee metodes verminder die liggaam se manier om te kompenseer vir wat hy as hongersnood ervaar nie: Die metabolisme raak stadiger en die sogenaamde hongerhormoon, ghrelien, se vlakke vermeerder.

“Ek raai kliënte aan om nie tussen agtuur saans en agtuur soggens te eet nie, dus twaalf uur se vas. As jy egter voor dit honger is, is dit nie sinvol om voort te beur nie,” sê Mariza van Zyl, geregistreerde dieetkundige van die Paarl. “Ons verskil almal. As dit vir jou werk om later soggens te eet, doen dit. Maar is dit vir jou beter vroeër, is daar niks mee verkeerd nie – mits jy ’n gesonde eetpatroon volg.” Bykomende bron: The Washington Post