“Okay, Linda. Listen, listen, listen . . . listen, Linda, ” sê ’n driejarige seuntjie in ’n YouTube-video. Hy noem sy ma Linda wanneer hy iets “belangriks” wil sê of gefrustreerd is.

Dis nie net Linda wat nie luister nie.

Volgens ’n studie aan drie Amerikaanse universiteite (Florida State, Michigan State en Minnesota) onthou ons net 25% van wat ons hoor. Dus het ons die kuns van luister verloor, reken dié navorsers.

Luistervaardighede is een van die hoekstene van doeltreffende kommu-nikasie en suksesvolle verhoudings, sê Marlaine Pienaar-Vice, Bolandse sielkundige. Of dit met jou baas, jou maat of tussen jou en jou kind is. Ons praat ook, maar word nie gehoor nie. Dalk omdat ons onsself nie doeltreffend of met emosie uitdruk nie. Of omdat ons konfronteer of krities of verwytend is. “’n Gebrek aan luistervaardighede laat verhoudings verbrokkel,” sê sy.

“Maak oop jou ore . . . Niemand luister meer nie!” is juis ’n frase uit Hemelbesem se liedjie “Luister”. Coenie de Villiers, wat die musiek gekomponeer het, reken ons het toondoof geword. “Ek hoop ons luister weer met deernis na mekaar ná die tyd van afsondering,” sê hy.

Deur te luister kan ons probleme identifiseer. Moet net nie oombliklik iemand anders s’n wil oplos nie. Die meeste probleme is soos ’n ui, verduidelik Heidi Malan, sielkundige van Pretoria. “Deur te luister kan jy iemand help om elke lagie af te skil en by die kern van die probleem uit te kom.” Luister kan ook oorweldigende emosies verlig, sê sy.

Wanneer emosies jou gespreksgenoot se denke domineer, dink hy dalk nie meer so rasioneel nie. Indien jy na hom luister, help dit hom omdat hy nie meer so emosioneel oor sy probleem dink nie, eerder nugter. Deur te luister help jy ook jou gespreksgenoot om self sy probleem op te los. Om dit reg te kry moet hy kreatief dink. Wanneer hy dit regkry, gee dit hom selfvertroue en vind hy dit makliker om die beste oplossing te kry.

Ons behoort met begrip te luister, eerder as om te reageer, voeg Heidi by.

Jy bedoel dit dalk goed om raad te gee, of te troos, maar dit verlig nie noodwendig ontsteltenis nie. Jou gespreksgenoot kan opstandig raak en jou insette vertolk as “jy dink ek kan nie my eie probleem oplos nie. Jy verstaan my nie. Jy frustreer of bedreig my. Jy maak my angstig.” Maar, deur met begrip te luister, word die onvoorwaardelike aanvaarding van “ek hoor jou” geskep. Julle hoef nie noodwendig saam te stem nie.

Jannie Putter, motiveringspreker en leefstylafrigter van Pretoria, beklemtoon dat respek ononderhandelbaar is vir suksesvolle verhoudings. Ongelukkig seëvier disrespek. Familiariteit is ’n oorsaak hiervan, reken hy. “Wanneer ons mense goed ken, heg ons nie meer waarde aan hulle nie, ons hoor nie meer wat hulle sê nie.”

Ons kyk na werklikheidsprogramme. Eers skokkend, maar later die norm. Sporthelde en -afrigters vloek en skree op skeidsregters. Leerders minag hul onderwysers. Deur met begrip te luister kan ons verhoudings bou wat op wedersydse agting, liefde en vrede gebaseer is, beklemtoon Heidi.

Maar hoekom luister ons dan nie meer nie? Tegnologie is ’n groot probleem.

“Ons is behep met ons selfone,” sê Marlaine. “Ons vrees dat ons iets sal misloop.” Tegnologie gee ook onmiddellike behoeftebevrediging. Jy voel of jy tot ’n groep behoort.

“Maar dit kan verslawend wees en raak uiteindelik belangriker as regte verhoudings.” Jannie stem saam. “Ons het die stem van die wêreld in ons ore. Ons luister nie, want ons oë is op skerms gerig of ons dra oorfone. Jou kind se selfoon word sy belangrikste verhouding. Ons verleer sosiale vaardighede.”

Ons wil ook nie hoor wat ons nog alles moet doen nie. En is dalk bang vir kritiek en manipulasie. Boonop word ons grootgemaak om foute raak te sien, mekaar te kritiseer en te oordeel, reken hy. Ons praat te veel en luister te min. Ons wil reageer, maar luister nie na ander se hart nie. “Ons moet soms net stil wees en regtig luister.”

Marlaine reken weer ons is selfgerig, ons jaag sukses en plesier na. “Ons ambisies en prestasies is belangriker as ander se behoeftes.” Ons jaag rond, die lewe het mededingend geword. Ons móét sukses behaal. Die stres veroorsaak angs en dit lei tot meer gejaagdheid. Elke verhouding bied spesifieke luisteruitdagings, sê ons kenners.

Jy kén hulle waarskynlik: Die tiener wat haar oë rol wanneer Ma praat. Die kritiese kind wat sê: “My ouers luister nie, hulle maak afleidings.” Die pa wat sy kind stoomroller met sý mening. Die ouer wat skree en dan die argument “wen”.

Die uitdaging is om met begrip na mekaar te luister, om nie dadelik te reageer nie, sê Heidi.

Jou kind sê dalk “ek is bang vir die toets”. Jy antwoord “nie as jy geleer het nie!” Só blokkeer jy kommunikasie. Jy luister om te praat, nie om te verstaan nie. Voor jy weet, skree die een harder as die ander. Dis dan wanneer jou kind kan sê “niemand verstaan my nie”.

Maar as jy vir haar sê “jy klink bekommerd oor die toets”, kan sy antwoord “ja, ek het hard geleer en wil graag goed doen”. Dit beteken jy luister met begrip, jy probeer verstaan.Kommunikasie vloei en jy bemagtig jou kind om self probleme op te los, volgens Heidi, wat in ouerleiding spesialiseer.

Ons wys alewig ons kinders se foute uit, kritiseer hulle, reken Jannie.

Hulle word vreesbevange om foute te maak. Ons plaas soveel klem op die uitslag dat ons ons kinders se harte verloor. Ons dwíng hulle ook om sekere dinge te doen, al wíl hulle dit nie doen nie.

Waak teen vooropgestelde idees, sê Marlaine. ’n Kind moenie aanneem haar ouers is te streng en daarom niks meer wil deel nie. Raak bewus van en werk aan jou persoonlikheidseienskappe. ’n Outokratiese, meerderwaardige of beterweterige ouer is nie ontvanklik vir haar kind se menings nie, sê sy ook.

Moenie jou “mag” as ouer misbruik en jou kind stoomroller met jou opinies nie. Sy kan respek vir jou en ook vir ander gesagsfigure verloor. Vra: “Mag Mamma nou met jou praat?” As sy ja sê, sal sy waarskynlik luister en respek betoon. Oefen respek tuis. Maak daagliks tyd vir persoonlike gesprekke, sê Jannie.

Monitor die tyd wat jou kind aan haar selfoon bestee. Vra jouself: Wat sal my kind van my onthou? Vandag se herinneringe? ’n Kind wat nié gehoor word nie, het dikwels minder selfvertroue en probleme met interpersoonlike verhoudings, sê Marlaine. “Sy sal later nie die vrymoedigheid hê om werklik te kan kommunikeer nie. En vertroue ly skade.”

Jy ken hulle ook: Die man wat sê sy vrou kyf en kla, hy steur hom nie meer aan wat sy sê nie. Die vrou wat nie haar man se mening vra nie en dit in elk geval ignoreer. Die man wat nie na sy vrou luister nie, sy vriende kom altyd eerste.

’n Gebrek aan kommunikasie is een van die belangrikste redes vir egskeiding, sê kenners. Ons luister nie na mekaar nie. Te veel dinge trek ons aandag af. Die gevolg is frustrasie, angstigheid of eensaamheid. Om aktief te luister verminder misverstande. Dit skep ook ’n veilige ruimte om oor gevoelens te praat en mekaar te verstaan.

Onthou, emosies is nie reg of verkeerd nie. Hoe kan ons beter luister? Fokus. Maak seker jy’t reg gehoor. Vra jou maat vrae.

Moenie gevolgtrekkings maak of jou geliefde onderbreek nie. Hy moet ruimte hê om oor sy probleme, opinies en gevoelens te praat. Sit jou eie gedagtes eenkant.

Pasop vir vooropgestelde idees, waarsku Marlaine. Soos om te dink “dis nou tipies van mans/vroue”. Moenie blameer of veroordeel nie, sê Jannie. Ook nie raad gee tensy jy gevra word nie. Jou liggaamstaal moet wys jy luister. Leun terug, behou oogkontak, knik, frons, glimlag. Gee erkenning, soos “Hmmm”, “Ek sien . . .”, “Sowaar?” stel Heidi voor.

Moenie vroetel, tik op die tafel of jou oë rol nie. Vra vrae wat meer as ’n “ja” of “nee” vereis. Som op wat jou maat pas gesê het. Indien hy nie ’n goeie luisteraar is nie, skryf neer wat jy wil sê. Maar praat eers daaroor.

Neem mekaar se kommunikasie-style in ag. As jou maat op die punt af en reguit is, maar jy sukkel self daarmee, kan jy hom frustreer. Onthou ook persoonlikhede verskil, sê Jannie. “Ons moet mekaar laat groei, nie afbreek nie.”

Respekteer mekaar se tyd en gemoed. Sê: “Ek het jou insette nodig. Is dit ’n goeie tyd om te praat?” Maak daagliks tyd vir persoonlike gesprekke en oor iets spesifieks, sê Jannie. “Daar is nie ’n reg of verkeerd nie, net verskillende menings. Jy verloor nie skielik jou huwelik nie, jy verloor dit dag vir dag.”

Doen introspeksie. Dalk is jy dominerend of selfgesentreerd. Werk daaraan. “So nie, sal een van julle leer om eerder stil te bly en dalk ’n ander skouer soek om op te huil,” sê Marlaine.

Jy ken hulle waarskynlik ook: Die baas wat dink hy is altyd reg en sy wil op ander afdwing. Die werker wat heeltyd sê: “Ek kom nie met my kollegas oor die weg nie.” Die baas wat op jou skree, jou ignoreer, nie na jou luister of jou na waarde skat nie. Die vrou wat kla “my kollegas steur hulle nie aan my nie”.

Luistervaardighede is van deurslag-gewende belang in die werkplek, het die departement van arbeid in die VSA bevind. As jy goed kan luister, is jy meer doeltreffend en produktief. Misverstande sal verminder. Jou baas sal jou vertrou, sy sal nie jou vordering met ’n taak hoef na te gaan nie. Jy sal ’n sterker samehorigheidsgevoel op kantoor skep en beter in ’n span kan saamwerk.

Jou baas behoort ook na jou te luister. So nie, kan jy nog meer gestres raak en swakker presteer, sê Marlaine. Maar hoe? Trek haar aandag deur iets te sê wat haar sal interesseer. Jou voorstelle moet by haar doelwitte en toekomsvisie inpas. Vra eers jou lynbestuurder om ’n mening. Gee die voor- en nadele. Vra jouself: Hoe wil my baas inligting ontvang? Net die algemene konsep, meer detail, op skrif? Hou dit in elk geval kort en kragtig.

Kies die regte tyd. Moenie by jou baas inhardloop wanneer sy heeltemal te veel werk het nie. Dalk verkies sy vroegoggendgesprekke. Maak dit maklik om jou e-pos te beantwoord. Vra haar om “JA” te tik langs die opsie wat sy verkies. Moenie dat sy te lank daaroor dink nie, dalk stel sy uit of antwoord glad nie. Praat haar taal. As sy visueel ingestel is, gebruik woorde soos “die volle prentjie” en “visualiseer”.

As sy op gehoor ingestel is, gebruik woorde soos “hoor” en “klink”. As sy op emosie fokus, sê “ek voel dat . . .” Sy sal makliker na jou luister. “Neem ’n bewustelike besluit dat jy met almal goeie verhoudings wil hê en knap jou kommunikasievaardighede op. Jy sal dan ook beter kan luister,” sê Marlaine