1. Jy het dikwels in die son gebraai – sonder sonbrandroom

Dis nie so erg nie as ...

Jammer, maar veilige sonbaai in die giftige SA son is ’n mite, sê dr.Izolda Heydenrych, Kaapstadse dermatoloog. Tot 80% van sonskade word aangerig vóór jy 18 is. Al het jy net één keer as kind blase gebrand, vergroot dit jou kans om later velkanker te kry, beaam die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa). Navorsing wys ook as jy ’n sonbed gebruik voor jy 30 is, is jou kans 75% groter om velkanker te kry,sê Kansa. Volgens Izolda help dit nie jy troos jouself dat jy net nou en dan sonbaai nie. Melanoom,’n uiters aggressiewe soort velkanker, floreer juis op kort, onderbroke sarsies son.

Rooi ligte

Tekens van sonskade: Baie moesies en voorkankeragtige letsels (rooi of velkleurige, vratagtige groeisels); Wit kolletjies op jou vel (nie kankeragtig); Leeragtige vel (veroudering); en sproete, verduidelik Izolda.

Begin nuut

  • Ken jou sonbrandroom: Daar is 2 soorte UV-strale wat jou vel beskadig: UVB (wat jou rooi laat brand) en UVA (wat jou voor jou tyd oud laat lyk). Albei kan kanker veroorsaak. Let daarom op dat jou sonbrandroom jou teen albei beskerm.
  • SBF: Dis die maatstaf om die room se vermoë te bepaal om UVB-strale uit te filtreer. Hoe hoër die faktor, hoe meer beskerming. As jy gewoonlik binne vyf minute begin brand,sal ’n SBF (sonbeskermingsfaktor) van 15 jou vel vir 75 minute beskerm, dus 15 keer langer.
  • Breë spektrum: Dis ’n aanduiding (op SA produkte) dat dit jou ook teen UVA-strale beskerm. By Europese produkte moet jy soek vir “UVA” in ’n afsonderlike sirkeltjie. (UVBbeskerming in rome is wêreldwyd gestandaardiseer, UVA-beskerming is nie. Soek dus rome met sinkoksied, Mexoryl XL/SX of TinosorbSas bestanddeel, beveel Izolda aan.) Hoeveel: Sowat ’n ½ teelepel aan jou gesig en jou arms; ’n teelepel elk aan jou rug, maag en elke been,sê Izolda.
  • Die beste sonbrandmiddel gaan jou nie heeltemal teen ons giftige son beskerm nie. (Dra dit nietemin!) Vermy dus die son tussen tienuur en drieuur. Dra altyd ’n hoed van diggeweefde materiaal. Ook ’n donkerbril met UV-beskerming.
  • Besoek jou dermatoloog een keer per jaar, of elke ses maande as jy baie moesies en onreëlmatige vlekkies het. Melanoom kan binne drie maande dodelik wees en moet baie vroeg geïdentifiseer word. ’n Skandeertoestel maak dit nou makliker om veranderinge in jou moesies raak te sien. Vra jou dermatoloog.
Foto ter illustrasie. FOTO: Getty / Gallo Images


2. Jy het gerook

Dis nie so erg nie as ...

Die enigste goeie sigaret is een wat jy nie rook nie, sê prof. Harry Seftel van die nasionale raad teen rook. ’n Sigaret het meer as 4 500 chemikalieë, waarvan byna 600 dodelike gifstowwe is en meer as 60 kanker kan veroorsaak.

Die goeie nuus is:

As jy gemiddeld 20 sigarette per dag rook en ophou, gebeur die volgende met jou lyf:

Ná 2 uur: Daar is nie meer nikotien in jou bloedstroom nie.

6 uur: Jou hartklop is stadiger en jou bloeddruk daal effens.

Tussen 12 tot 24 uur: Jou longe raak meer doeltreffend. As jy jouself inspan, is jy minder kortasem.

Tussen 3 tot 30 dae: Jou bloeddruk is weer normaal. 3 weke: Jou longe begin al klaar beter funksioneer.

2 maande: Bloedvloei na jou bene en arms verbeter, en jy het meer energie.

3 maande: Jou longe se natuurlike skoonmaak-prosesse is weer normaal.

1 jaar: Jou risiko vir hartsiektes is byna die helfte minder as mense wat steeds rook.

5 jaar: Jou risiko vir longkanker is die helfte minder. En jou risiko vir hartsiektes feitlik dieselfde as iemand wat nooit gerook het nie.

10 jaar: Jy kan gerus begin slaap dat jy waarskynlik nie kanker of erg emfiseem gaan kry nie.

Begin nuut

  • As jy jare lank gemiddeld 20 sigarette per dag rook gerook het en jy hou op, kan jy nie verwag alles gaan binne ’n dag “normaal” wees nie. Dis ’n proses wat tyd en geduld verg, sê Mercia Axon van Smokenders.
  • Drink minstens 2 liter water per dag, lewenslank. Jou longe skei sowat 1½ liter water per dag af en as dit nie vervang word nie, beskadig jy dit nog meer. Dit help ook vir jou vel: Rook droog dit uit en rokers lyk maklik tien jaar ouer as hul werklike ouderdom.
  • Hou ’n waterbottel byderhand waaraan jy kan suig. Baie van die depressie en ellende wat jy ervaar as jy ophou, is omdat jy nie meer aan ’n sigaret kan suig nie.
  • As jy rook of opgehou het, moet jy ’n vitamien C-aanvulling (2 000 mg/dag) neem – tot minstens tien jaar ná jou laaste sigaret.Vir elke sigaret gebruik jou lewer 25 mg vitamien C.
  • Rook tas jou senuweestelsel aan. Neem ’n goeie vitamien B-kompleksaanvulling. Rescue Remedy is ’n goeie homeopatiese middel.
  • Werk sagkens met jou longe. Matige oefening (soos stap) is belangrik. Stap aanvanklik 15 minute per dag. (Moenie dadelik in die gimnasium rondspring en gewigte optel nie.) Dit help jou bloedsomloop, hart, asemhaling, longe en metabolisme en keer dat jy vet word. Bly besig. Die duiwel vind altyd ’n sigaret vir ’n ledige kop en hande!
Foto ter illustrasie. FOTO: Getty / Gallo Images


3. Jy was in ’n siklus vasgevang van ooreet en dan weer dieet

Dis nie so erg nie as ...

Jy eet nou gesond, oefen gereeld en is nie meer gedurig op dieet nie. Jou gewig is stabiel, sê Charlene van NICUS

Rooi ligte

Jou figuur lyk elke seisoen anders op foto’s. Die nimmereindigende siklus van gewig aansit en verloor, maak dit vir jou liggaam moeiliker om optimaal te funksioneer. Volgens Charlene het jou liggaam die vermoë om vir jou te sê wanneer jy honger of versadig is. Maar ons ignoreer dikwels die seine en kan dit later nie meer voel nie, of oortuig onsself ons liggaam stuur dit nie meer nie.

Begin nuut

Charlene se raad:

  • Los alle diëte en “wondermiddels” vol leë beloftes.
  • Keer terug na die basiese beginsel van gesonde eetgewoontes: klein, gereelde maaltye, hoëvesel-grane, laevet-vleis en -suiwelprodukte, en hope vrugte en groente.
  • Selfs die ongesondste bederfie het ’n plek in ’n gesonde leefwyse. Luister na jou liggaam. Dit raak later makliker, wees dus geduldig.
  • Oefening is die goue sleutel tot sukses as jy steeds gewig wil verloor. Dit verg meer tyd en moeite, maar jy word beloon met gewigsbeheer, beter gesondheid,stresontlading, lekker slaap en selfs beter eetgewoontes