Noem die menopouse en jy dink aan estrogeenvlakke wat boomskraap is, reg? Met gepaardgaande simptome, van warm gloede tot ’n wolkop en buie wat wipplank ry?

’n Oorvereenvoudiging, volgens dr. Christiane Northrup, Amerikaanse ginekoloog en skrywer van boeke soos Women’s Bodies, Women’s Wisdom (Bantam, 1994) en The Wisdom of Menopause (Bantam, 2012), op haar webblad drnorthrup.com. Want eintlik is die eerste hormonale veranderinge tydens ’n natuurlike menopouse ’n geleidelike daling in progesteroonvlakke. (Saam met estrogeen die vroulike hormone genoem.) Dit terwyl estrogeenvlakke ’n paar jaar lank nog normaal kan bly of selfs styg. Estrogeenvlakke daal eers baie as jou menopouse goed op dreef is.

“’n Vrou wat ’n jaar of wat nie meer menstrueer nie, se liggaam kan steeds ’n redelike hoeveelheid estrogeen vervaardig. Selfs vroue van 70 tot 80 jaar kan nog ’n bietjie estrogeen hê. Progesteroonvlakke daal baie vinniger. Estrogeen-dominansie – te veel estrogeen relatief tot progesteroon – raak toenemend ’n probleem vir vroue wêreldwyd. Jou estrogeenvlakke kan dan normaal wees, maar die verhouding met progesteroon is uit balans en kan tot ongemaklike simptome aanleiding gee,” volgens dr. Gys du Plessis, mediese dokter van die Longiva Healthy Ageing Institute in Johannesburg.

Oorgewig, buierig, angstig, moeg? Moenie estrogeen
FOTO Getty Images/ Gallo Images

“Dis boonop nie net ’n probleem vir vroue in hul meno-pouse nie, maar ook vir jongeres. Meisies se menstruasie gebeur deesdae baie vroeër, nes premature ovariële versaking (perimenopouse) en menopouse by vroue: perimenopouse tussen 39 en 47 en menopouse tussen 45 en 55, sowat 5 tot 6 jaar vroeër as 50 jaar gelede. Toestande soos fibrosistiese borste (dus met siste in die bindweefsel), polisistiese ovariële sindroom (’n hormoonafwyking wat lei tot veelvuldige siste in die eierstokke) en hormoon-sensitiewe kankers (soos bors- en baarmoederkanker) neem ook toe,” sê hy.

Lisa* is 34 met ’n vyfjarige kind. Sy was oorgewig, haar vel lelik, sy het sleg geslaap en was angstig en depressief toe sy met estrogeen-dominansie gediagnoseer is. Sy neem nou ’n progesteroon-aanvulling op ’n sekere tyd van haar siklus en haar simptome het verdwyn. Die lys simptome is ellelank en kan ook insluit ’n verminderde seksdrang, ongereelde of abnormale menstruasie, vogretensie, borste wat swel en teer is, fibrosistiese borste, hoofpyne veral voor menstruasie, buierigheid (soos geïrriteerdheid), gewigstoename veral rondom die maag, haarverlies, skildklierafwykings, koue hande en voete (simptome van ’n skildklierafwyking), trae metabolisme, kop voel vol watte, geheueprobleme, moegheid en PMS. Estrogeen-dominansie word voorts gekoppel aan allergieë, outo-immuunsiektes, baarmoederkanker, borskanker en ’n verhoogde risiko vir bloedstolling. En geassosieer met die versnelling van die verouderingsproses, volgens dr. Northrup. Omdat verskeie hormoonwanbalanse se simptome oorvleuel, is dit nie ongewoon vir iemand met estrogeen-dominansie om ’n voorskrif vir estrogeen-aanvullings te kry nie. Wat die simptome natuurlik vererger, sê sy.

Oorgewig, buierig, angstig, moeg? Moenie estrogeen
FOTO Getty Images/ Gallo Images

Estrogeen en progesteroon komplementeer mekaar. Estrogeen is die vroulike hormoon wat groei stimuleer, progesteroon die teenwig wat vir balans sorg. (Sien kassie hier onder.) En vir goeie gesondheid moet dit in balans wees. Wanneer jou menstruele siklus normaal is, is estrogeen die eerste twee weke ná menstruasie (dus voor ovulasie) dominant. Die twee laaste weke word dit deur progesteroon gebalanseer. In jou perimenopouse het jy soms siklusse waar jy nie ovuleer nie. Progesteroonvlakke is dan baie laer en estrogeen het dikwels geen “opposisie” – dus die gewone progesteroon-teenwig – nie. Dis egter slegs een moontlike faktor in estrogeen-dominansie. In geïndustrialiseerde lande (soos Suid-Afrika) is daar verskeie bykomende én voorkombare oorsake. Dr. Du Plessis verduidelik.

Hieraan kan jy iets doen

Stres: Die hormoon pregnenoloon is ’n voorloper van die sekshormone (estrogeen, progesteroon en testosteroon), asook die streshormone. As jy gestres is, gebruik jou liggaam al die beskikbare pregnenoloon om meer streshormone soos kortisol te maak.

Die Pil: Die gekombineerde Pil is saamgestel uit ’n mengsel van estrogeen en progestien (“chemiese” progesteroon), wat die produksie van progesteroon (die ware Jakob) in jou lyf onderdruk. (Net só ook progestien in konvensionele menopousale hormoonvervangingsterapie, HVT). Alternatiewe vir die Pil: Intra-uteriene toestelle (IUD’s), met koper, nie hormone nie. Die Mirena bevat wel progestien, maar die hoeveelheid wat jou liggaam opneem, is min. Die Kyleena is ’n nuwe, kleiner IUD met nog minder progestien. Dr. Du Plessis is gekant daarteen dat net estrogeen-aanvullings vir menopousale vroue sonder baarmoeder voorgeskryf word (soos tradisioneel gedoen word). “Progesteroon kalmeer jou, maak jou minder depressief en angstig, laat jou lekker slaap en verbeter jou libido.”

Xeno- (vreemde) estrogene, sogenaamde hormoon-ontwrigters wat in ons omgewing voorkom. (Sien kassie op bl. 136: “Ons giftige omgewing”.)

Onvoldoende lewer-detoksifisering: As die lewer te hard werk om van gifstowwe soos alkohol, dwelms en xeno-estrogene ontslae te raak, word die liggaam se vermoë verminder om estrogeen uit die bloed te verwyder.

Estrogeen word normaalweg deur die dermkanaal uitgeskei. As jou dermkanaal nie optimaal werk of ongesond is, neem die liggaam dit weer op.

Ander: Min slaap en oefening, rook, te veel alkohol (meer as 14 eenhede per week).

’n Eenvoudige bloedtoets kan jou estrogeen-progesteroon-verhouding bepaal. Doen dit ná jou menopouse soggens, enige dag van die maand. In jou reproduktiewe jare op dag 18 tot 20 van jou menstruele siklus. “Soms is die simptome só ooglopend dat ’n bloedtoets byna net ter stawing nodig is,” sê dr. Du Plessis.

Oorgewig, buierig, angstig, moeg? Moenie estrogeen
FOTO Getty Images/ Gallo Images

Behandeling

Volgens dr. Du Plessis sal hy ’n bio-identiese progesteroon-aanvulling voorskryf. (Sien kassie op bl. 135.) ’n Room is van waarde in jou menopouse, aangesien progesteroon, estrogeen en testosteroon gemeng kan word. In jou reproduktiewe jare verkies hy ’n bio-identiese orale progesteroon-aanvulling wat jy op dag 12 tot 18 neem, om saam te val met die natuurlike styging van dié hormoon. Jy kan egter ook met jou leefstyl estrogeen-dominansie in ’n groot mate fnuik.

Dieet: Eet baie vars groente en vrugte, veral kruisdraende groente soos broccoli, kool, blomkool en Brusselse spruite. Dit bevat onder meer sulforafaan, belangrik vir die lewer se detoksifikasie van estrogeen. Asook groen blaargroentes, ryk aan magnesium, wat met estrogeen-dominansie help. Eet genoeg vesel (soos groente, vrugte, onverfynde koolhidrate, sade, neute). Dit help estrogeen in die dermkanaal bind sodat dit nie heropgeneem word nie. Beperk versadigde vette (diervette) en eet meer omega-3 vette (die beste bronne is vetterige vis soos haring, salm, sardiens).

  • Genoeg slaap, oefening en gefiltreerde water is eweneens kardinaal vir die lewer om goed te werk.
  • Neem ’n goeie multivitamien met genoeg vitamien B’s en ook minerale (veral selenium en sink).
  • Beveg stres deur ontspanningstegnieke toe te pas en leer om “nee” te sê.
  • Verloor gewig. Bykomende estrogeen word ook deur vetselle vervaardig. * Skuilnaam
Bio-identies, wat? Die volgende is ’n strydpunt tussen meer konvensionele medici en mediese dokters wat fokus op ’n interaktiewe (’n mengsel van Westerse medisyne en minder konvensionele behandelings) en funksionele benadering (soek die onderliggende oorsaak van ’n kwaal) tot hormoonversteurings en teenveroudering. “Bio-identies”: Hormone wat sinteties van plantprodukte in ’n laboratorium gemaak word en dieselfde molekulêre struktuur as jou liggaam het. Dieselfde plantbronne (soos soja en jamswortel) word soortgelyk verwerk vir sommige van die hoofstroom-hormoonterapie (HT). Dis dus ook “bio-identies”. Moenie “bio-identies” verwar met planthormone of fito-estrogeen wat in die natuur voorkom nie. Hoofstroom-HT word deur die Medisynebeheerraad goedgekeur en verpak as standaard-dosis formulerings (tablet, jel, ens.). Bio-identies saamgestelde hormone, daarenteen, word volgens jou individuele behoeftes deur ’n apteker gemeng. Dis beskikbaar in pilvorm, ’n room of inplanting onder jou vel. En dieselfde skedule as hoofstroom-hormone – jy het dus ’n doktersvoorskrif nodig.