Nog ’n rede waarom jy kan bly wees jy is Afrikaans! Mense wat twee tale praat se kognitiewe funksies gaan stadiger agteruit as mense wat net een praat, volgens die bevinding van ’n studie wat onlangs gepubliseer is.

As jy Afrikaans is, is die kanse goed dat jy op ’n daaglikse basis twee tale praat en sommer maklik tussen Afrikaans en Engels moet wissel. Die eerste voordeel van meertalig wees, is natuurlik dat jy baie maklik met meer mense kan kommunikeer. Maar volgens ’n studie wat in die Annals of Neurology gepubliseer is, is daar ’n ander, minder vanselfsprekende rede. Klik hier vir die volledige navorsingsartikel. Mense wat twee tale kan praat se kognitiewe funksie gaan stadiger agteruit as dié wat slegs een taal kan praat. Die studie is in Brittanje onderneem en het reeds in 1947 begin toe 836 deelnemers se kognitiewe funksies getoets is. Hulle was toe 11 jaar oud. Die tweede deel van die navorsing is tussen 2008 en 2010 uitgevoer toe die deelnemers in hul sewentigs was. Daar is bevind dat diegene wat iewers gedurende hul leeftyd ’n tweede taal aangeleer het, se leesvaardighede en algemene intelligensie beter is as dié wat slegs een taal kan praat. Daar is steeds baie vrae en opvolgnavorsing wat aangepak moet word, maar navorsers meen dat tweetaligheid moontlik die ontwikkeling van toestande soos demensie kan vertraag.

Ander maniere om jou brein aan die gang te hou

Dit is maklik om in jou daaglikse roetine te verval waar jy jou werk en ander aktiwiteite min of meer outomaties doen. Neem ’n blaaskans van dié roetine en oefen ’n bietjie jou brein met dié wenke van Lifehacker.org.

  • Speel Sudoku (of doen blokkiesraaisels)
  • Lees elke dag ’n kort artikel oor ’n onderwerp waarvan jy niks weet nie
  • Doen eenvoudige somme
  • Skryf met pen en papier eerder as om te tik
  • Vertel meer stories. Deur gebeure te herleef in ’n storievorm help jy jou brein om beter te onthou

Klik hier vir nóg vyf maniere om jou brein te oefen.

Bronne: Medical News Today en Annals of Neurology