Die gevaarligte het stelselmatig begin flikker. Sy het na meisies van dieselfde ouderdom gekyk, vergelykings getref. Haar kind is groter, ja, maar sy kom mos uit ’n lang familie, het sy haarself getroos.

Op ’n dag het Martie* egter besef dis nie meer ’n verskoning nie. Iets was ook nie pluis met haar kind se eetpatroon nie. Sy sou ná ’n maaltyd opstaan en in die yskas invaar.

“Ons gesin leef gesond. Die kinders is aktief en Emma* speel hokkie, netbal en tennis. Ek is altyd daar om vir hulle kos te gee, hulle hoef nie vir hulself te sorg nie. Boonop het ek van kleins af goeie eetgewoontes by hulle probeer kweek,” sê Martie. Sy het besef sy moet ingryp, maar was sku vir ’n dieetkundige.

“Kinders is slim en ek wou nie ’n negatiewe ding veroorsaak van oor en oor dieet nie. Ek wou die oorsaak van die probleem opspoor. Hoekom eet sy soos ’n stofsuier? Sy is gedissiplineerd met haar skoolwerk, sport. Hoekom nie met kos nie?

“Dit tas later jul verhouding aan. Jy raak so desperaat dat jy wil sê: ‘Hou net op met eet! Wat ís dit in jou wat maak dat jy aaneen wil eet?’ Ja, ons eet soms verkeerd, maar dit was nie al rede waarom sy gewig aangesit het nie. Daar was méér, het ek gevoel.”

’n Pediater het gesê hou dit dop. En later: Sy moet net meer beweeg. Maar Martie het geweet dis ’n wegholtrein. “Ek het probeer keer dat sy tussenin eet, vir haar kos skool toe ingepak. Maar ’n kind bly ’n kind.

“Jy voer ’n stille stryd. Sy eet ’n ysstokkie op ’n partytjie. Jy kan sién die ander ouers dink: Jou kind lyk so lekker, want sy éét so lekker.”

’n Jaar gelede het sy besef ’n gesonde leefstyl gaan nie die probleem hokslaan nie. Op 11 het Emma al rekmerke gehad. En haar selfbeeld was laag. “Die kinders by die skool was aaklig, my hart wou breek. Eendag het sy ná skool in die motor geklim, sy het die mooiste rokkie aangehad. ‘Weet Ma wat sê daai meisiekind? Sy vra of ek pregnant is!’ het sy gesê.

“Dít was die kruispad.” Iemand het Mariza van Zyl, ’n dieetkundige van die Paarl, aanbeveel. Bloedtoetse het getoon Emma het ’n ystertekort en ’n trae skildklier, laasgenoemde is ’n familietrek. En sy is insulienweerstandig. “Soos ’n diabeet dors bly, bly jy eterig.” (Die seine vir honger/versadig raak deurmekaar.)

“Die ystertekort maak haar moeg. Maar sy was ook emosioneel uitgeput. Sy sien hoe mense na haar kyk en kruip terug in haar dop.” Mariza het gesê hulle moet die skaal wegpak; hulle het net Emma se middel gemeet en binne 6 weke het sy 6 cm daar verloor.

“Ek het skielik ’n kind wat weer wil leer, en weer by ons sit en gesels,” sê Martie. “Sy het nou die dag die eerste keer op die verhoog gesing, iets wat sy nooit voorheen sou gedoen het nie.”

Sy glo die ervaring kan Emma ’n lewensles leer: Van deursettingsvermoë en motivering, dat jy terugkry wat jy insit. Jy sien wat dissipline en geduld jou in die sak bring.

Hoe het sy Emma sover gekry om saam te werk? “Ek het vir haar die feite gegee: ‘Jy weet tannie sus en so is ’n diabeet? Jy weet dis gevaarlik? Jy is op pad daarheen. Maar dit kan gekeer word; ek sal die pad saam met jou stap.’ Ek volg saam met haar ’n dieet. Dis ’n spanpoging. Dis die invloed wat ’n ma kan hê. Jy is immers die een wat kook.

“En ons eet steeds lekker. Sy voel nie sy word iets ontneem nie. Haar kosblik is propvol. Dis nie asof almal pouses agterkom sy volg ’n dieet nie. En as iemand verjaar en daar is cupcakes en sy kan nie nee sê nie, is dit oukei. Môre eet sy weer reg. Want dis ’n lewenstyl, nie iets wat ophou nadat sy ’n paar kilo’s afgeskud het nie.”

ss
FOTO Getty Images / Gallo Images

Ons vet kinders

Die statistieke sê dit alles: Ons jeug is naas Brittanje, Kanada, Amerika en Mexiko die vetste ter wêreld. Sowat 5% van ons seuns en 25% van ons meisies is oorgewig/vetsugtig. Maar wat staan jou te doen as ouer?

In haar kontroversiële boek, The Heavy: A Mother, A Daughter, A Diet – A Memoir (Ballantine Books, 2013) vertel Dara-Lynn Weiss hoe sy Bea, haar sewejarige dogter, gedwing het om op ’n streng dieet te gaan nadat ’n dokter gesê het sy is vetsugtig.

’n Artikel wat sy daaroor in Vogue geskryf het, het só ’n bohaai op die internet veroorsaak dat ’n uitgewer haar ’n boekkontrak gegee het. In die Vogue-artikel vertel sy onder meer hoe sy Bea aandete geweier het omdat sy brie-kaas by die skool geëet het. En hoe sy haar kind se kakao by Starbucks in die vullisdrom gegooi het. Mense het haar uitgeskel as ’n slegte ma wat haar kind in die openbaar verneder.

Dan is daar die ander uiterste: Ouers wat ontken hul kind het ’n probleem. Plaaslik is dit sowat 6% van ouers, wys GlaxoSmithKline se nasionale gesondheidspeiling (2011). En ’n Spaanse studie wys dis nog moeiliker as die ouers óók oorgewig is.

Draai vroeg briek aan

Volgens Mariza kan jou baba se gewig reeds een van die eerste aanduidings van probleme wees. As haar geboortegewig meer as 3,5 kg of minder as 2,5 kg is, het sy later ’n groter kans om aan metaboliese sindroom (vetsug, hoë cholesterol, bloeddruk en bloedsuiker, alles onder een sambreel) te ly. Want jou metabolisme word grootliks reeds in die baarmoeder “geprogrammeer”.

Hou dus die balans tussen jou kind se groei, lengte en gewig fyn dop. As daar ’n wanbalans is, doen iets daaraan. Jy kan reeds op twee jaar sien jou kind het ’n probleem en haar eetgewoontes aanpas. Hoe langer jy dit los, hoe moeiliker is dit om te stuit.

Jou vyfjarige het “net babavet wat hy sal ontgroei”? Nee, sê Mariza, jy ontgroei nie sommer net oormatige “babavet” nie. Jong kinders wat ondervoed is, het ook ’n groter kans op metaboliese probleme. As jou liggaam voedingstowwe kort, kan dit nie voluit werk nie. En wanvoeding kom nie net by arm kinders voor nie, maar ook by kinders wat net verfynde kosse en baie suiker inneem. Jy kan oorgewig én wangevoed wees, sê sy.

Emosionele impak

Oorgewig/vetsug is ’n gesondheidsgevaar. Maar méér. Dié kinders voel dikwels skaam en selfbewus oor hul voorkoms, ook minderwaardig en hartseer. Hulle glo hulle sal gelukkiger wees as hulle maerder is en dat maats meer van hulle sal hou, sê dr. Annalize Green, opvoedkundige sielkundige van Pretoria. Dié selfbewustheid benadeel dikwels nie net hul sosiale verhoudinge nie, maar ook hul motivering vir skoolwerk en buitemuurse aktiwiteite.

Oorgewig kinders raak gouer moeg en haal moeiliker ’n sportspan. Dit ry weer hul ontwikkeling in die wiele. Navorsing wys hulle word meer geboelie. Kinders is sensitief vir wat ander sê en neem aanmerkings oor hul gewig ernstig op. Hulle is nog nie toegerus om dit te ontleed en nie alles ter harte te neem nie, sê Annalize.

Die effek van ’n gewigsprobleem en jou kind se hantering daarvan hang van haar ontwikkelingsvlak en ouderdom af. Klein kindertjies besef meestal nie hulle is “anders” as hul maatjies nie. Die skoolkind raak dikwels bewus daarvan weens aanmerkings van haar portuurgroep. Sy voel dan uitgesonder en soms selfs verwerp. Sy weet selde hoe om dit te hanteer, maar deel gewoonlik haar ongemak en ongelukkigheid met ’n volwassene.

Tieners is gewoonlik baie ingestel en krities op hul eie liggaamsbeeld en sal meer geredelik verantwoordelikheid vir die probleem aanvaar. Jou hulp is egter ook noodsaaklik, want jou tiener het nie die kennis of motivering om dit alleen enduit deur te voer nie.

FOTO Getty Images / Gallo Images
FOTO Getty Images / Gallo Images

Hoe hanteer jy dit?

Begin by die huis, beveel Mariza aan.

  • Hoeveel beweeg julle? Sit jy en jou man voor die TV met net jul kakebene wat werk? Die kinders sal dieselfde doen. Daar is ’n direkte verband tussen TV’s in slaapkamers en vet kinders. Dis ook die geval by kinders wat meer as twee uur per dag voor ’n skerm sit (TV, rekenaar of selfoon). Dus: Jou hele gesin moet aan die gang kom.
  • Wat eet en drink julle? Kitspap, witbrood, witsuiker, witrys? Koop gesonder kos. Dieselfde reëls geld vir volwassenes.
  • Moenie kos verminder nie, maar gee gesonde kos. ’n Kind van ses se energiebehoeftes is baie dieselfde as ’n volwasse vrou s’n. Jou kind sál dus meer as jy eet. Hul energiebehoeftes verskil na gelang van hul liggaamsbou, groeifase en aktiwiteit. Die piek in seuns se groeifase is om en by 17 of 18 en stabiliseer dan. Meisies s’n is sowat twee jaar vroeër – op 15 of 16. Jou oorgewig kind móét dus eet, maar die regte kos.
  • Jou hele gesin se eetpatroon moet verander. Jy kan nie verwag jou vet kind moet lekkergoed vermy en jý eet dit skelm nie. Of jy belet haar Coke, maar haar boeties drink dit steeds nie.
  • Lekkernye moenie taboe wees nie. Eet eerder klein porsies en maak beter keuses, sê Mariza.

Skool toe:

  • ’n Goeie ontbyt is byna belangriker as wat sy by die skool eet, anders eet sy alles wat voorkom.
  • ’n Gesonde kosblik bevat: Meer kos, maar minder brood. Pak bv. ’n gekookte eier of porsie kouevleis, ’n vrug, rou groente en gesonder vette (grondboontjiebotter, neute) in. Swaar volgraanbrood of rogkraakbeskuitjies met genoeg vulsel is ook ’n goeie keuse. Los die margarien. Gee rosyne, vrugterol of droëperskes vir soetigheid. En een maal per week dalk ’n paar blokkies sjokolade.
  • Stel voor sy spaar haar snoepiegeld vir iets wat sy graag wil hê. En as sy wel iets daar koop, net ’n klein pakkie.
  • Wees bewus van wat jou kind by die nasorgsentrum eet, vra vrae. Dring daarop aan dat sy nie elke dag verfynde kos soos ’n hot dog kry nie.

Mariza sê ons lewe in ’n kitstyd. Maar jou kind se dieet is nie, en die oplossing ook nie. Wees geduldig en byt sáám met haar vas.

FOTO Getty Images / Gallo Images
FOTO Getty Images / Gallo Images

Om te weet:

Raad vir ouers

  • Dis nooit te vroeg om jou gesin te leer om gesond te eet nie.
  • Leef en eet soos jy graag wil hê jou kind moet – stel dus ’n voorbeeld.
  • Doen dadelik iets as jy agterkom jou kind se gewig of liggaamsbeeld is vir haar ’n probleem. Kinders sal dit openlik sê of bv. noem dat maats haar spot. Luister na haar, bespreek saam ’n oplossing en kry hulp indien nodig. Soms is die tekens meer subtiel: Jy kom dalk agter sy is skaam vir haar liggaam en vermy ’n swembroek.
  • Probeer die oorsaak vasstel. Dis nie altyd net verkeerde eetgewoontes nie, daar kan ook mediese of emosionele redes wees.
  • Deel inligting met haar oor die aard, oorsake en gevolge van haar probleem. Doen dit op ’n vlak wat sy verstaan.
  • Doen navorsing oor die oplossings of kry professionele hulp as jy onseker voel. Verduidelik die oplossing op so ’n manier aan jou kind dat sy die voordele insien.
  • Kitsoplossings werk nie en herhaalde mislukkings gaan jou kind net laat glo sy kan nie gehelp word nie.
  • Waak daarteen dat alle gesprekke met haar om kos of die verbod daarop draai. Sorg vir balans. Doen lekker dinge saam met haar en gesels ook oor ander dinge as kos. ’n Gelukkige kind wat voel dat jy omgee, in haar belangstel en vir haar lief is, werk beter saam aan enige probleem.
  • Maak van kleins af duidelike, konsekwente reëls oor maaltye en snoepgoed. Navorsing wys vetsug kom meer voor in gesinne sonder duidelike gesagstrukture. Dis ook dan moeiliker om die probleem op te los.
  • Jou kind eet dalk uit verveling, of omdat kos ’n beloning is, of haar ’n gevoel van beheer gee. Waak van kleins af daarteen om haar met ’n eetdingetjie te beloon as sy soet is. Of om haar te dwing om nóg te eet, al is sy versadig. Sy moet leer om op gereelde tye te eet. En net as sy honger is, nie as beloning of wanneer sy gestres is nie.

Bron: Annalize Green

VIR HULP:

Annalize: 012 567 4768, www.terapiesentrum.co.za

Mariza: 021 872 8423,  www.betereet.co.za

*Hierdie argief-artikel het in SARIE se April 2013-uitgawe verskyn. Nuwer inligting het moontlik sedertdien beskikbaar geword.