Trek die geur diép in. Daar’s jasmyn vir slaaploosheid. Laventel vir stres en spanning. Peperment as jy in die werkplek op en wakker moet wees. En vanilla as jy skrikkerig is omdat jy tandarts toe moet gaan of bloed skenk. Sitroengras, anys, kaneel, gemmer ... In elke geur skuil ’n sielkundige, ’n spa, ’n see-vakansie. En ’n natuurlike geneesheer.

Aromaterapeute verkondig dit al van toeka af. En nou onderskryf die wetenskap dit toenemend. Aromakologie is die nuwe veld se naam. Dit kombineer kliniese studies met die nuutste tegnologie om geur se uitwerking op jou en jou gesondheid te bepaal. Want nie net kan ’n spesifieke reuk jou ontspanne, sensueel, gelukkig en vervul laat voel nie, dit kan ook ’n nuttige hulpmiddel in jou gesondheidskassie wees. Dit is beaam deur dr. Alan Hirsch, ’n Amerikaanse neuroloog en psigiater en die direkteur van die Amerikaanse stigting vir die behandeling en navorsing van reuk en smaak in Chicago, in ’n telefoniese onderhoud met SARIE. Hy het meer as 180 studies gedoen oor die verband tussen reuk en menslike gedrag en verskeie boeke oor die onderwerp geskryf, onder meer Life’s a Smelling Success (Unity uitgewers, 2003).

Volgens Patrick Holford en Hyla Cass in Natural Highs (Piatkus, 2001) is die term aromaterapie vroeg in die twintigste eeu die eerste keer gebruik om die medisinale gebruik van aromatiese plantolies te beskryf. Daar is egter reeds in die Middeleeue geglo dat parfumeurs nie tydens plae siek word nie - omdat hulle so baie met sulke olies werk. In sestiende-eeuse China is kamille-olie as susmiddel ingespan. En in Europese hospitale is kruie soos roosmaryn, tiemie en laventel gebrand om die lug te suiwer. En nou toon navorsing dat sekere reuke inderdaad op die sentrale senuweestelsel inwerk - en veranderinge in jou breingolwe, hartspoed, bloeddruk, spierspanning en veltemperatuur veroorsaak. Dr. Hirsch sê reuke het ’n direkte uitwerking op die brein. Jou reaksie op reuk is onmiddellik en intens. Dis die enigste sintuig wat die intellektuele deel van die brein verbysteek en reguit na die instinktiewe, primitiewe deel (die limbiese sisteem) gaan - dié deel van die brein wat aan emosies, intuïsie, geheue en seksuele dryfkrag gekoppel word. Opperman was reg: “My nooi is in ’n nartjie, my ouma in kaneel.”

Reuke loop dus reguit na jou geheue en emosies toe. Dit kan vergete herinneringe na die oppervlak bring - en ’n invloed op jou bui hê. Só is marjolein ’n susmiddel wat die afskeiding van die kalmerende brein-oordragstof serotonien stimuleer. Reuke soos laventel, roos, bergamot en sipres is bekende ontspanningsmiddels. (Des te meer as dit met tegnieke soos diep asemhaling, visualisering en rustige musiek gekombineer word.)

 

In die toekoms gaan reuke meer as ’n mode-bykomstigheid wees, word op die stigting vir die behandeling en navorsing van reuk en smaak se webblad voorspel (www.scienceofsmell.com).

 Dit sal gereeld gebruik word om stres en depressie te verminder, produktiwiteit te bevorder, jou bui en selfbeeld te verbeter, jou beter te laat slaap, herinneringe op te roep, jou gewig te laat verloor en libido en verhoudinge te verbeter. Dit kan ook in openbare plekke gebruik word om mense se gedrag te verbeter en daartoe bydra dat hulle hul omgewing meer positief ervaar. Die wetenskap sê dis moontlik. En dis ook vir jou toeganklik. Al wat jy nodig het, is ’n botteltjie aromatiese olie en ’n kersbrander.

Jou allerlaaste dieet?
Dis maar net gegeurde kristalle wat jy oor jou kos strooi. Maar jy voel gouer versadig en eet dus minder. Nog ’n dieet-foefie? In ’n studie het mense wat dit gebruik het gemiddeld sowat 14 kg in ses maande verloor. Dit het alles begin toe Alan Hirsch sien dat pasiënte gewig aansit as hul reuksintuig beskadig word. Sowat 90% van smaak is die gevolg van reuk. As jy dus nie kos kan ruik nie, kan jy dit ook nie proe nie. Dis asof jy dan te veel eet om te vergoed vir jou verlies aan genot, het hy gespekuleer. Hy het gewonder of die oorstimulasie van die reuksintuig dalk eweneens jou aptyt kan verminder. Inderdaad, het navorsing getoon.

Deelnemers aan die studie moes drie verskillende kosreuke voor, tydens en ná etes inasem. Almal het gewig verloor. Hoe verklaar ’n mens dit? Dit kan wees dat die reuk van kos, meer as die smaak daarvan of ’n vol maag, die brein laat weet dat jy versadig is en kan ophou eet. Jou brein kan dus gekul en jou lus vir kos beheer word deur jou reuksintuig te manipuleer, sê Alan. Hoe jy dié inligting kan gebruik as jy dieet? Trek die reuk van jou kos diep in jou neus op, eet dit warm om die reuk te versterk en gebruik knoffel, uie en ander sterk geurmiddels. ’n Amerikaanse maatskappy het weer ’n ander idee, nl. die ontwikkeling van ’n neussproei wat die reukreseptore in jou neus afskakel. As jy nie kan ruik nie, kan heerlike aromas jou ook nie verlei om te veel te eet nie, is die redenasie. Dit sal eers oor ’n paar jaar op die mark wees. Maar dalk kan jy van dieet vergeet en net ’n blom-speseryagtige parfuum dra. Mans gaan jou dan in elk geval baie maerder skat as wat jy regtig is, toon studies. Dis die reuk-ekwivalent van klere met vertikale strepe, sê Alan.

Só werk dit in die praktyk

  • Al gewonder waarom so baie sepe, rome en ander badprodukte na die see ruik? Dit laat jou ontspan. Navorsing toon ’n seereuk verminder sametrekkings van die gesigspiere met tot 20%.
  • Ook blomreuke verminder stres, daarom ruik so baie badprodukte daarna.
  • Treinkondukteurs in Japan en Rusland gebruik ’n toestel wat die geur van roos, dennenaalde, sederhout en selfs seegras en sampioen die lug in spuit. Dit hou hulle glo wakker as hulle lang ure moet werk.
  • Die polisie van die Indiese deelstaat Gujarat gaan voortaan uniforms dra wat na blomme en sitrus ruik om hul beeld te verbeter.
Botox van geure
Beskikbaar: ’n Sproei wat mans laat dink jy is ses jaar jonger. En dis nie wetenskapfiksie nie. Die fontein van ewige jeug lê skynbaar in jou neus. (Of in die neus van mans in jou omgewing.) Navorsing aan die instituut vir die behandeling en navorsing van reuk en smaak toon dat mans onder die “invloed” van pomelo’s se reuk vroue ses jaar jonger as hul werklike ouderdom skat.

Dit het egter nie dieselfde uitwerking op vroue gehad nie. Volgens Alan maak die pomelo-aroma mans dalk net gelukkiger. En gelukkige mense kyk met “sagter” oë na ander. Maar dis meer waarskynlik dat dié reuk nostalgiese herinneringe by jou wek. Of dat dit mans seksueel prikkel en hul oordeel kortwiek. Dit kan dalk selfs stres verminder, sê hy.

Parfuum, die nuwe Prozac?
’n Glimlag word nou in ’n parfuumbottel verpak. Of só wil die bemarkers van ’n nuwe parfuum, Smiley, jou laat glo. Hulle verwys selfs na die “nuwe Prozac”. Dis ’n mengsel van onder meer lemoen, kakao en muskus en laat jou glo vreugdevol en eufories voel. (Net in New York beskikbaar.) Europese kruiekenners het reeds in die sestiende eeu algoede (clary sage) en sitroenkruid gebruik om depressie en verstandelike uitputting teen te werk. En toetse toon die uitwerking van sekere reuke op die brein is soortgelyk aan antidepressante s’n. Geure soos lemoen kan glo die brein-chemikalieë verander wat depressie, angs en ander gemoedskommelinge veroorsaak. Dis egter nog te gou om jou antidepressante weg te gooi. Alan Hirsch sê stewige bewyse ontbreek dat sekere reuke ernstige depressie kan verlig. As jy net effens “af ” voel, kan jy altyd aan ’n sweterige hemp ruik! Die reuk van sweet kan ligte depressie verlig, toon ’n studie.

Plakker vir jou libido
Nuut in Suid-Afrika is ’n plakker wat die brein se reukreseptore teiken en jou libido stimuleer. Dit boots glo die uitwerking van dopamien, die liggaam se sogenaamde “goedvoel”-hormoon, na. Petra Nicol, bemarkingsbestuurder van IZPRO, die maatskappy wat die produk plaaslik versprei, sê dit het háár gehelp. Dit kos R260 vir ’n maand se voorraad en is by uitgesoekte apteke beskikbaar. (Vir meer inligting, kontak izpro@izpro.net.)

Studies toon ’n verband tussen seks en geslagsprikkelende reuke soos jasmyn en ilang-ilang. En dis geen verrassing nie, sê Holford et al. Mens en dier skei chemiese stowwe, of feromone, af. Dis dikwels vir kommunikasie, maar ook om mekaar vir voortplanting te lok. Navorsers het mense in openbare plekke en kantore aan feromoon-ekstrakte blootgestel. Die mense was daarna aansienlik vriendeliker teenoor mekaar. In nog ’n studie is ’n identiese tweeling na ’n kroeg gestuur. Net een het ’n feromoon-ekstrak aangetik. Nodeloos om te sê, die manne het haar met aandag oorval. En nie haar ewe aanvallige suster nie.

Jy wil jou liefdeslewe opkikker? Maak sy neus jou teiken. Die reuk van pampoenpastei, ’n Amerikaanse dis, gekombineer met laventel vermeerder bloedvloei na die penis met tot 40%,toon navorsing. Oliebolle en swart drop was volgende op die lys. Vroue het die laventel-pampoenpastei-kombinasie ook prikkelend gevind, maar nie naastenby soveel soos die mans nie.

 

Klaasvakie strooi laventel: Laventel en jasmyn is die sleutelwoorde vir ’n goeie nagrus, toon navorsing. Sit ’n sakkie laventel onder jou kussing. Of spuit ’n ligte sproei met jasmyn of laventel in jou kamer net voor jy gaan slaap. Gooi ook ’n paar druppels laventel of jasmynolie in jou bedlinne se afspoelwater.

Reuk van appels
Sekere reuke, van parfuum tot lugverfrisser, kan migraine vererger. Maar die teenoorgestelde is ook waar. Vyftig migraine-lyers is aan die reuk van groen appels blootgestel. Van hulle het 35 nie van die reuk gehou nie. Dit het dan ook geen uitwerking op hul hoofpyn gehad nie. Die 15 vrywilligers wat wel van die reuk gehou het, se hoofpyn het egter beduidend verbeter. Dit hang dus af of jy van die reuk hou of nie.

Natuur se kalmeermiddel
Navorsers het bevind sekere kalmeermiddels beïnvloed ’n groep nuut ontdekte reukreseptore in die brein. Hulle het toe redeneer as die reukreseptore help om jou rustig te maak kan reuke dieselfde uitwerking as kalmeermiddels hê. Om dit te toets het hulle speserygeure (soos gemmer, koljander en vinkel) in moltrein-waens in New York gespuit. Hulle het toe die aantal stampe en stote en aggressiewe aanmerkings in die “lekkerruik”-waens met dié in gewone waens vergelyk. En ja, sekere reuke het aggressiewe gedrag met amper die helfte verminder. Die invloed van reuke kan ook gemeet word deur jou breingolwe te monitor. Geure soos laventel, sandelhout en suurlemoen maak die breingolwe stadiger en jou dus kalm.

Hups by die werk
’n Japanse maatskappy gebruik ’n sitrusreuk in die begin van die werkdag om werkers te stimuleer, blomreuke in die laatoggend en vroeë middag om hul konsentrasie te verskerp, en houtreuke soos sipres en seder om moegheid later in die dag teen te werk. Want sommige reuke is ’n natuurlike stimulant. Dit sluit in naeltjies, ilang-ilang, pypkaneel, suurlemoen, peperment, bloekom, vinkel, basielkruid, swartpeper en jasmyn. En in ’n mindere mate roos, salie en sitroengras. Dr. Hirsch se boodskap aan SARIE-lesers is: Omring jou met reuke waarvan jy hou. Dit sal jou gelukkig maak. En as jy gelukkig voel, is jou hoofpyn, rugpyn en ander skete ook sommer iets van die verlede. Navorsing bevestig dit. En het ons dit nie maar altyd geweet nie?

Meer oor aromatiese plantolies

  • Koop reg: Die bottel moet altyd van donkerbruin of blou glas gemaak wees. Lig beskadig die olies. En ware aromatiese olies sal uiteindelik plastiek vernietig. Die prop moet ook styf pas sodat geen lug kan inkom nie.
  • Die gewone sowel as Latynse naam moet op die etiket verskyn. Daar moet ook aangedui word dis ’n suiwer aromatiese olie en nie met plantolie verdun nie.
  • Die prys is ’n aanduiding van suiwerheid. As ’n botteltjie “suiwer roosolie” maar net ’n paar rand kos, is dit waarskynlik nie eg nie (roosolie is duur). Wees bewus van pryse: roosmaryn is goedkoper as jasmyn, lemoen as lemoenblom (neroli).
  • Daar moet ’n drupper in die nek van die bottel wees. Dit word van nylon gemaak sodat dit nie deur die aromatiese olie vernietig word nie. Dis nuttig as jy die olie moet meet.
  • Koop aromatiese olies by gesondheidswinkels en sekere apteke.

Bron: Maklike Aromaterapie deur Helen Ranger (Tafelberg, 2001).

 Bron, tensy anders vermeld: www.scienceofsmell.com