"Ek's nou nie juis wat jy 'n fiksheid-fanatikus of 'n gesondheid-entoesias sou noem nie. Ek kom immers van die Overberg af en dáár leer jy van kleins af lekker leef, en nog lekkerder eet! Slaaiblare kom nie sommer die mas op as jy met skaapboud en braaiaartappels, vye en room, grootgeword het nie.

"Oefen? So tussen die graanlande het ons fietsgery en in riviere geswem, en later in die joernalistiek het ek gereken ek bly darem so half fiks, want jou dae is altyd op 'n drafstap. Maar oor die jare het dinge al meer verander.

"Mense het begin praat van koolhidrate en proteïene. Oor goeie en slegte vette, lae GI en die ideale liggaamsmassa-indeks (LMI). Oor stres en ophou rook. Oor vars lug en daardie 8 glase water. Oor rus en energie. Selfs oor oefen en gim toe gaan!

"'n Gesonde leefstyl is nie meer net 'n glansartikel in 'n tydskrif nie. Of iets wat net vir sportmense, gim-instrukteurs en te maer modelle is nie. Dit is 'n leefwyse vir al meer mense om my en langs my - my kollegas, my familie, my vriende. En dan die besef: Ja, ek is verantwoordelik vir my eie gesondheid. Want dis wanneer ek fisiek en emosioneel op my beste lyk en voel dat ek die lewe se lekker werklik proe.

"Ek's opgewonde oor ons heel 1ste uitgawe van SARIE GESOND. Dis hoog tyd en vir ons almal wat graag 'n glasie op die lewe klink!" - Michélle van Breda, redakteur

En wat sê Lydia van der Merwe (gesondheidsredakteur)?

En dit gaan gelukkig oor meer as net slaaibare en swoeg in die gim.

  • Dis baie eenvoudiger. Herontdek die vreugde van beweging. Stap langs die see, loop op jou hande in die swembad, swaai 'n graaf in die tuin. Dis ook sommer medisyne vir jou kop!
  • Kies 'n eetplan wat by jou pas: Fisiek en emosioneel. Lekkernytjies is 'n móét.
  • Maak vrede met daardie ekstra rolletjies wat bly klou.

Só maklik.

In jou eerste uitgawe van SARIE GESOND: