Sambreeltjie in die hand, gestreepte pajamas aan en in Pa se gróót boots het hy gegrap, toertjies uitgehaal, vermaak. Familie en vriende was in die holte van sy klein handjie. Op ses het David Kramer besef sy talent is uniek. Hy kon met mense se emosies toor. En méér: “As jy eers hoor mense lag vir jou grappe, bemagtig dit jóú.” Maar David was pynlik skaam, nie ’n tipiese kandidaat vir die kollig nie. In sy nar-kostuum het hy egter ’n transformasie ondergaan. Dan het dit nie saak gemaak dat hy die tenger een in ’n skool met Bolandse bulle was nie. “Ek het besef ek hóéf nie deel van die rugbyspan te wees nie. Ek kon my eie ding doen.”

En min het sedertdien verander. Op die verhoog is hy steeds “almal se pêl”. Maar ontmoet jy hom die eerste keer, is hy “stil, teruggetrokke en vat ’n tyd om te ontdooi”. Op partytjies gaan staan hy eers in ’n hoek, bier in die hand, en kyk dinge uit. Mense soek natuurlik die ander David, die een wat volksbesit is: “Hallo, ou David. Waar is jou rooi skoene? Waar is die Volksiebus?” “Ek probeer vriendelik wees, ek verstaan hul motivering. Maar dalk stap hulle soms weg en dink: ‘Wát ’n ou suurknol.’ Dis moeilik om voor mense te pronk. Ek moet eers my masker opsit.”

Diaan Lawrenson, die ekstrovert Paula in 7de Laan, eggo dieselfde gedagte.“Mense is dalk teleurgesteld as ek myself is.” Want anders as haar TV-persona, wat al die aandag eis wanneer sy ’n vertrek instap, is Diaan skugter. Sy kyk eers wie is die mense. Waar pas sy in? Sy het haar daarmee versoen om by openbare geleenthede Paula se skoene aan te glip, want dis immers in háár wat bewonderaars belang stel. Dis Paula wat hulle byna as deel van hul huishouding beskou.

As skaamheid angs word

Met sosiale angssteurings (SAS) raak jy erg ongemaklik of angstig as jy in sosiale situasies is (of selfs net daaraan dink), sê Christine Lochner van die Universiteit Stellenbosch. simptome kan insluit ’n intense vrees, jou hart “galop”, maag draai, mond is droog, jy bewe, sluk moeilik en jou spiere trek saam. Jy doen nie meer alles wat jy graag sou wou nie. Marisa di Terlizzi, opvoedkundige sielkundige, verduidelik dit só:

Jy kry jouself nie sover om na ’n partytjie toe te gaan nie en raak angstig selfs as jy daaraan dink. ’n Skaam mens, daarenteen, sal dalk gaan - maar heeltyd in ’n hoekie sit.

Jy kan skaamheid oorkom deur sekere tegnieke te gebruik. Vir SAS word medikasie, psigoterapie en kognitiewe gedragsterapie aanbeveel. Navorsing toon kinders kan kleintyd reeds daaraan ly, hoewel dit gewoonlik eers later gediagnoseer word. As dit met hul daaglikse bedrywighede inmeng, soek sielkundige hulp. Christine sê SAS het genetiese wortels, maar jou omgewing speel ook ’n rol by die ontwikkeling daarvan bv. trauma. As jy meer daarvan wil uitvind, en/of deel wil wees van navorsing, kontak Christine by 021 938 9179 of cl2@sun.ac.za.

'Soms dink mense dalk ek is 'n ou suurknol' - David Kramer

Skaam? Moenie alleen voel nie.
Amerikaanse navorsing toon sowat 40% van mense beskou hulself as skaam. Marisa di Terlizzi, opvoedkundige sielkundige van Johannesburg, sê selfs die mees selfversekerde en professionele openbare spreker het waarskynlik al ’n oomblik van skaamheid ervaar.

Skaamheid moenie verwar word met sosiale angssteurings (SAS) nie. Dis ’n psigiatriese toestand waaraan sowat 13% (1 uit 6 mense) van die wêreld se bevolking ly. Die simptome is baie soos dié van skaamheid, maar jy ervaar dit in die oortreffende trap. Daar is egter toenemend kommer dat mense met SAS gediagnoseer word terwyl hulle eintlik net skaam is. In ’n nuwe boek, Shyness: How Normal Behaviour Became a Sickness (Christopher Lane, Yale University Press, 2007), word skaamheid se nuwe etiket gekritiseer. Die Britse Daily Mail het in ’n peiling gevind die geld wat die nasionale gesondheidsdiens moes uitbetaal aan voorskrifte vir “sosiale fobie”, het van 1997 tot 2002 verdubbel. Mense sluk dus soms pille vir iets wat doodnormaal is, is die gevolgtrekking.

Prof. Christine Lochner van die Universiteit Stellenbosch se eenheid vir angs en stressteurings sê dis beslis verkeerd om skaamheid só te etiketteer. “Mense móét besef skaamheid en SAS is nie dieselfde ding nie. Skaamheid kan ’n innemende eienskap wees. SAS daarenteen, voorkom dat jy normaal funksioneer." Sy sê dis belangrik dat ’n sielkundige of psigiater die toestand by jou diagnoseer.

Baie kleintjies is skaam, maar dit beteken nie noodwendig hulle gaan eendag ook só as volwassenes wees nie. Kinders kan hul skaamheid vir vreemdes afskud wanneer hulle meer sosiale vaardighede aangeleer word. Soms is dit egter ’n lewenslange karaktertrek wat gewoonlik so teen 13 jaar reeds gevestig is, aldus die Amerikaanse instituut vir die navorsing van skaamheid (www.homepages.ius.edu/Special/Shyness).

Skaamheid is die “onvermoë om gemaklik met vreemdes te kommunikeer”, of “’n ongemaklikheid in die teenwoordigheid van ander”, volgens alt.support.shyness, ’n ondersteuningsnetwerk vir skames op die net. Jy sukkel met dít wat spontaan vir die gemiddelde mens kom (soos ’n glimlag, die raakvat van onderwerpe om oor te gesels,’n ontspanne liggaamshouding, toepaslike oogkontak).

Volgens Marisa ervaar elke mens sy skaamheid op ’n unieke manier. Die instituut vir die navorsing van skaamheid verwys daarna as die verskillende “skakerings” van skaamheid. Jy sê dalk min of niks in ’n geselskap nie en tree nie toepaslik op nie. Jy sal bv. nie op ’n kompliment reageer nie of oogkontak vermy. Of jy kan dit aan jou lyf vóél: Jou hande bewe of sweet, jou mond is droog, jy bloos en het dalk selfs hartkloppings. Of dis in jou kop: Jy is oormatig selfbewus. (“Ek wonder of my klere reg sit.”) En jy is bekommerd oor wat ander van jou dink. (“Hoekom het ek so ’n simpel ding gesê? Ek wed hulle dink ek is onnosel.”) Jy ervaar waarskynlik ’n kombinasie van al dié dinge - in ’n meer of mindere mate. Dit bepaal dan ook hóé skaam jy is. Dalk sukkel jy net om aan iets te dink om te sê. Aan die ander kant kan dit selfs vir jou moeilik wees om vir iemand te glimlag en “hallo” te sê. Jou skugterheid is ook gekoppel aan spesifieke situasies.

Wenke vir ouers

  • Moenie jou skaam kind dwing om in groot groepe te sosialiseer in die hoop dat dit sal help nie. Dit kan tot wanaangepaste gedrag lei, soos leuens om uit sulke situasies te kom. Laat haar eers sosiale vaardighede in kleiner groepe ontwikkel. Sy kan dalk netbaldoele tuis saam met ’n vriendin oefen en later genoeg selfvertroue opbou om by die skool se netbalspan aan te sluit.
  • Wees ’n positiewe rolmodel: Gebruik toepaslike sosiale vaardighede (glimlag, maak oogkontak, praat oor toepaslike ditjies en datjies), wees vriendelik, knoop gereeld geselsies met mense aan en moenie hulle agter hul rug kritiseer nie.
  • Moenie jou kind as “skaam” etiketteer nie. Dit kan haar nóg meer na ’n sosiale misoes laat voel.
  • Moenie haar in die openbaar kritiseer nie.
  • As sy ’n negatiewe sosiale ervaring gehad het, soek saam na kreatiewe oplossings. As sy bv. in ’n klastoespraak gebloos en gebabbel het, kan julle saam besluit sy moet voortaan oogkontak maak met ’n paar goeie vriende. Of sy kan haar verbeel sy’s ’n bekende met baie selfvertroue.
  • Beloon haar vir positiewe sosiale gedrag (bv. ekstra voorregte tuis) en maak sulke geleenthede (soos partytjies) iets om na uit te sien en te geniet.
  • Wys in geselskap op jou kind se talente en sterk punte - sonder om haar in die verleentheid te stel. Moenie sê nie: “Anna is ’n fantastiese klopdanser. Kom wys hulle, Anna”. Eerder: “Anna is ’n fantastiese klopdanser, sy oefen baie hard. Ek wens julle kan haar sien. Dalk sal sy julle later meer daarvan vertel.”

Bron: Marisa di Terlizzi, opvoedkundige sielkundige

David sê: “Ek kan met die grootste gemak voor duisende mense optree. Maar stel my voor aan ’n vreemdeling en dis ’n ander saak.” Diaan daarenteen, is dan weer op haar gemak. Maar groot groepe oorweldig haar. (Nié op die verhoog nie. Dan is sy kaatjie van die baan.)
Volgens Marisa is jy skaam in sosiale omstandighede waar jy voel jy moet jouself bewys. Skaam mense is gewoonlik krities teenoor hulself en voel ander mense kyk op dieselfde manier na hulle. Diaan reken soos sy met die jare gemakliker in haar eie vel raak, is dit minder belangrik wat ander van haar dink. En sy is minder skaam. "As ek stil en teruggetrokke is, is dit wie ek is. Miskien moet jy daarna streef om in sulke situasies net gemaklik te wees met wie jý is. Jy hoef nie te oorkompenseer deur bv. die meeste grappe te vertel nie.”

Dikwels word geen onderskeid getref tussen iemand wat ’n introvert is en iemand wat skaam is nie. Dis nie dieselfde ding nie, sê Marisa. Introverte kry energie van binne af en herlaai hul batterye wanneer hulle alleen is. Jy hou dalk nie van sosiale geleenthede nie, maar dit maak jou nie angstig nie. Eweneens is skaam mense nie noodwendig introverte nie. Jy wil dalk graag nader aan ander mense kom, maar weet nie mooi hoe nie. Daar is selfs skaam ekstroverte, aldus alt.support.shyness. Jy kan ’n onderhoudende gesprek voer, deur mense aanvaar word en selfs gewild wees. Maar jy voel nietemin effens senuweeagtig in ander se teenwoordigheid.

Volgens Marisa kan skaamheid jou op verskeie gebiede kniehalter. ’n Skaam kind steek dalk nie sy hand in die klas op as hy nie die werk verstaan nie. Dis vir skames moeilik om nuwe vriende te maak en selfs om ’n goeie werk te kry. Baie poste vereis dat jy netwerk en sosialiseer - ’n probleem vir skames. Navorsing wys juis hoe skamer jy is, hoe laer is jy op jou maatskappy se ranglys. Gesogte poste vereis goeie kommunikasievermoëns, ’n selfgeldende houding en ’n neus vir kantoorpolitiek (alt.support.shyness). Annie Greeff, lewensvaardigheidsafrigter van Johannesburg, sê jy sal waarskynlik nie jou mening in ’n groep uitspreek of opstaan vir jou regte nie, konflik vermy en toelaat dat jy onregverdig behandel word. Op die lange duur kan jy soos ’n slagoffer voel. Omdat jy nie selfgeldend is nie, word jy dalk geterg en geboelie. In die werkplek kan die boelie bv. aandring dat alles op sy manier gedoen word of jou (goeie) werk kritiseer.

Skaamheid kan in jou gene wees, maar is meestal nié, sê Marisa. Dit kan dikwels gekoppel word aan omgewingsfaktore soos trauma of negatiewe ervarings, oorbeskermende ouers, ’n geboelie, perfeksionisme, selfs as ’n kind hoor hoe ouers ander gereeld ná ’n sosiale geleentheid beskinder. Jy begin dan wonder wat ander van jóú gesin sê. Studies toon skaam mense gebruik verskeie strategieë om dit te hanteer. Nie almal is ewe doeltreffend nie, berig die instituut vir die navorsing van skaamheid. Die mees algemene een is om jouself te dwing om bv. partytjies by te woon of na klubs toe te gaan - in die hoop dat jy nuwe mense sal ontmoet. Maar dis nie genoeg om net dáár te wees nie. Jy moet sosiaal met mense omgaan (meng), gesprekke aanknoop en laat vloei.

Sowat 17% van skames gebruik alkohol en 13% dwelms om sosiale geleenthede beter te kan hanteer

Alkohol en dwelms word ook as ’n kruk gebruik. Volgens Marisa toon statistieke sowat 17% van skames gebruik alkohol en 13% dwelms om sosiale geleenthede beter te kan hanteer. Jy voel dan meer spraaksaam (hoewel studies toon jou tong knoop dan éérs), selfgeldend en minder bedag op wat ander van jou dink.

Die gevolge kan egter wissel van ’n drankprobleem tot ’n gevoel van teleurstelling in jouself. Marisa sê skames kan deesdae tegnologie (SMS’e, e-posse, Facebook, ens.) inspan om te kommunikeer - sonder om ongemaklik of bedreig te voel. Jy kan jou sosiale vaardighede só slyp en meer selfvertroue ontwikkel. Aan die ander kant kan dit jou dalk méér in jou dop laat kruip - omdat jy nie op ’n persoonlike vlak met mense verkeer nie.

Hanteer dit só

Opvoedkundige sielkundige Marisa di Terlizzi gee raad:

  • ’n Wegspringplek is om met mense te sosialiseer wat jou gemaklik laat voel. Dit hoef aanvanklik nie 'n groot groep te wees nie. Jy kan gaan fliek saam met 'n goeie vriend of familielid wat jou laat voel jy is pittig en pret om mee saam te wees.
  • Vermy mense wat ander kritiseer en veroordeel. Dit kan jou laat voel jy is nie goed genoeg nie.
  • Dra klere wat jou selfvertroue gee, in ’n styl waarmee jy gemaklik is. Dit beteken jy voel reeds selfversekerd vóórdat jy die situasie aandurf wat jou angstig maak.
  • Sorg dat jy iets het om te sê. Lees koerante en tydskrifte, kyk TV en luister radio. (Lees ook: The Fine Art of Small Talk deur Debra Fine, Piatkus, 2005.)
  • Soek mense wat skaam lyk, iemand wat bv. alleen sit en die geleentheid sal verwelkom om te gesels.
  • Maak oogkontak en praat duidelik. Herinner jouself dat jy iets te sê het wat die moeite werd is en wees positief as jy dit sê.
  • Let op jou lyftaal. Moenie jou arms kruis nie en leun effens vorentoe as iemand praat. Dit laat hom ontspanne in jou teenwoordigheid voel en jy lyk boonop meer geïnteresseerd in wat hy sê.
  • Komplimenteer ander en luister regtig na wat hulle sê. Vra vrae wat nie net ’n “ja” of “nee” as antwoord vereis nie. “Wat het jy gedink van ...”
    Annie Greeff brei uit: Die geheim is om mense oor hulself te laat praat. Vind uit wat hul belangstellings is. Dan kan jy agteroorsit, luister en vrae vra wat daaruit voortspruit. Dit trek ook die aandag van jóú af. David Kramer sê dis sý taktiek. “Ek bly stil, luister en fokus al my aandag op die ander mens.”

Kontak:
Marisa di Terlizzi: 011 888 1110, marisa@dannerup.com, www.dannerup.com.
Annie Greeff: 082 886 6840, annie@anniegreeff.com,