1. SOETE SLAAP

Volgens Nederlandse navorsers moet jy jou veltemperatuur verlaag vir ’n goeie nagrus. Jy is dan minder geneig om deur die nag wakker te word. As jy gereeld jou beddegoed afskop omdat jy te warm kry, los die nagklere.

2. VERJONGINGSKUUR

Dis moeilik om in ’n warm vertrek (bo 21 °C) te slaap. Volgens naturopate werp die hitte ook die vrystelling van teenverouderingshormone omver. Veral die menslike groeihormone (HGH), wat jou selle, ook jou vel en hare s’n, herstel. 

3. MEER INTIMITEIT

Vel-teen-vel-kontak met jou maat stel oksitosien, die “bindingshormoon”, vry. Van die grootste voordele is dat dit stres en depressie verminder, bloeddruk verlaag en jou ook lekker laat slaap. Jy sal ook veel nader aan jou bedmaat voel.

4. GLOEIENDE VEL

Sweet wat in jou nagklere vasgevang word, skep ’n warm, vogtige omgewing, ’n broeiplek vir gis-infeksie en bakterieë. Slaap jy sonder klere kan dit verligting help bring vir velprobleme soos ekseem of psoriase.

5. KRY LUG DAARONDER

Uitgelewer aan stywe onderklere, sweterige oefensessies en altyd kuis bedek . . . laat jou intieme dele so nou en dan asemhaal. En wat is ’n beter tyd as wanneer jy slaap? 

Bronne: www.msn.com, www.dreams.co.uk, self.com