"Geseënd is die een wat slaap ontdek het! Dit bedek jou gedagtes soos ’n jas; dis vleis vir die hongeres, water vir die dorstiges, hitte teen die koue en skaduwee teen die hitte. Dis ’n goedkoop betaalmiddel vir al die wêreld se plesiere, en die gelykmaker tussen koning en skaapwagter, gek en wysgeer."
- Miquel de Cervantes in sy Spaanse ridderroman, Don Quichote

Die meeste van ons is diep in die skuld. Nie die soort waarvoor die bankbestuurder jou soek nie, maar slaapskuld. Want slaap het ’n luukse geword. Cervantes sou verskoon kon word as hy vandag sou dink die moderne mens is effens getik - nes sy beroemde dwase ridder, Don Quijote, wat 400 jaar gelede so teen windmeulens wou veg. Want sedert Thomas Edison meer as ’n eeu gelede die gloeilamp ontdek het, slaap ons minder en minder. Edison self het geglo slaap is ’n mors van tyd. Dr. Alison Bentley, wat al 20 jaar aan Wits se Dial-a-Bed-slaaplaboratorium verbonde is, sê selfs slaap is die “nuwe seks”. Want jy voel tog so góéd ná ’n lekker, lang nagrus. Lewendig, opgewek, vol energie . . . (Terloops, te min slaap kan jou libido aantas.)

Volgens dr. Christiaan Geldenhuys, skrywer van Sleep Smart, Get a Life (Rollerbird-uitgewers, 2003), is slaap vir die lyf soos gesigroom vir die vel. Dis noodsaaklik vir die vernuwing van selle, groei, leer en geheue, en versterk boonop die immuniteit. Mense wat nie genoeg slaap nie, is geneig om meer deur die dag te peusel, te veel kafeïen-drankies te drink, en minder te oefen. En jy gaan boonop gouer oud lyk! Alison noem die sielkundige gevolge: Buierigheid, irritasie en ’n gebrek aan konsentrasie met gepaardgaande foute. Jou risiko is groter om angs en depressie te ontwikkel. Jy doen dinge nie so goed soos jy moet nie en dit neem boonop langer. Dit jaag dan jou stresvlakke op. ’n Taak wat jou bv. twee ure sou neem om te voltooi neem nou 2½ uur. Dit sou meer sinvol gewees het as jy maar daardie halfuur langer geslaap het, sê sy.

Dr. James B. Maas skryf in Power Sleep die derde van jou lewe wat jy veronderstel is om te slaap het ’n diepgaande invloed op die ander twee derdes: Wat wakkerheid, energie, jou bui, gewig, geheue, reaksietyd, produktiwiteit, kommunikasievaardighede, kreatiwiteit en veiligheid betref. Maar die lewe is besig-besig en jou verantwoordelikhede baie. Dis feitlik onmoontlik om elke aand vroeg bed toe te gaan. Christiaan sê as jy slim is, sal jy jou slaapskuld op só ’n manier bestuur dat jy wel die middernagkers laag kan laat brand. Net nie elke nag nie. Wissel laat nagte met vroeës af en sorg dat jy minstens drie keer per week vroeg bed toe gaan. Só maak jy op vir die slaap wat jy gemis het.

Jy slaap te min as jy . . .

  • ’n Wekker nodig het om op die regte tyd wakker te word
  • Sukkel om soggens uit die bed te kom
  • Moeg, geïrriteerd en gespanne voel in die week
  • Sukkel om te konsentreer
  • Jou geheue swak is
  • Nie “skerp” is as jy ’n probleem moet oplos of kreatief moet wees nie
  • Dikwels voor die TV aan die slaap raak
  • Sit en dommel, dikwels in warm vertrekke en op vervelige vergaderings
  • Dikwels ná ’n stewige maaltyd of die inname van ’n bietjie alkohol slaap
  • Dikwels ná aandete indut terwyl jy ontspan
  • Dikwels binne vyf minute ná jy in die bed geklim het aan die slaap raak
  • Dikwels slaperig voel terwyl jy bestuur
  • Dikwels in die middag dut
  • Dikwels naweke laat slaap
  • Donker kringe onder jou oë het

Uit: Power Sleep deur dr. James B. Maas
(HarperPerennial-uitgewers, 1998)

Hoeveel slaap is genoeg?
Navorsing toon die meeste mense het gemiddeld 6 tot 8 ure slaap per nag nodig. Dit verskil egter van mens tot mens. Soos Margaret Thatcher, het Edison glo net 4 ure per nag geslaap. Teenoor die 10 ure wat Albert Einstein in die arms van Morfeus verkeer het.

Die hoeveelheid wat jý nodig het, is dit wat jou toelaat om die volgende dag optimaal te funksioneer. Volgens Maas is dit ’n gevaarteken as jy slaperig voel die oomblik as jy stilsit, soos in ’n motor of op ’n vervelige vergadering. Baie top-bestuurders dink hulle is goeie slapers: Jy slaap dan die oomblik as jou kop die kussing raak. Hokaai! Dis juis ’n teken dat jy nié genoeg slaap nie. Andersins neem dit Klaasvakie se sand 15 tot 20 minute om die werk te doen. Maas sê die meeste mense besef nie eens hulle het slaap broodnodig nie. Want jy is op en wakker terwyl jy met uitdagende en interessante take besig is. As jy slaperig voel terwyl jy in ’n bedompige vertrek is of moet luister, dink jy dís die rede. Maar as jy genoeg slaap, gaan ’n vervelige praatjie jou teen die mure wil laat uitklim . . . nie vaak maak nie. Dus: Bed toe vóór die spoke begin loop. Die ou mense het geglo jy slaap beter in die ure voor middernag, dat ’n uur se slaap dan gelyk is aan twee ure se slaap daarna. Dis nie so nie, sê Alison. Hoewel feitlik al jou groeihormone gedurende die eerste ure van slaap afgeskei word, maak dit nie saak waar die horlosie se syfers staan nie.

“Jou liggaamsritme is ingestel sodat jy die slaperigste tussen elfuur die aand en vyfuur die oggend voel. Dis die beste tyd om te slaap, maar daar is uiteraard veranderings. Hoe vroeër jy soggens opstaan, hoe vroeër sal jy bed toe wil gaan,'' sê sy. En daar is niks verkeerd met ’n middagslapie nie. Volgens Maas toon navorsing ons het ’n ingebore geneigdheid om tussen tweeuur en drieuur smiddae te wil dut. ’n Swaar middagete maak jou dus nie vaak nie, dit “ontmasker'' bloot ’n oeroue instink. Maar moenie langer as ’n halfuur insluimer nie: Jou liggaam gaan daarna in ’n “diep'' slaap. Dis moeilik om daaruit wakker te word en dit kan jou half bedwelm laat voel. Slaap eerder 90 minute lank as jy baie moeg is - dis hoe lank ’n slaapsiklus duur.

As jy werk, is ’n middagslapie jou uiteraard nie beskore nie. Byt net vas as daardie middag-lomerigheid jou oorval. Jou liggaamsritme gaan daarna weer in ’n opwaartse kurwe en jy sal toenemend wakkerder voel. Dis nie wys om in die laatmiddag te slaap nie. Jy gaan dan later dié aand aan die slaap raak en die volgende dag sukkel om jou gewone tyd op te staan. (Moet glad nie in die middag slaap as jy aan slaaploosheid ly nie.)

Jou bene loop - terwyl jy slaap

Rustelose-bene-sindroom is ’n neurologiese probleem wat ’n ongemaklike gevoel in jou bene veroorsaak. Jy het ’n oorweldigende behoefte om jou bene te beweeg en sukkel om aan die slaap te raak. Dit gebeur ook deur die nag, al weet jy dit dikwels nie. En dit meng met jou slaapkwaliteit in. Fanie Cronjé, ’n stileerder by SARIE, sê dit voel asof “stoom besig is om in jou bene op te bou''. Dan bereik dit ’n punt waar jou bene letterlik ruk. Dis in sy familie: Sy pa, oupa en grootoupa het dit ook gehad. Ná evaluasie by Wits se slaaplaboratorium neem hy medikasie daarvoor en hy slaap nou soos ’n droom.

As slaap jou ontwyk
Die term insomnia verwys na iemand wat 7 ure moet slaap om goed te voel. Maar ná net 5 ure lê jy oopoog. As jy 5 ure lank slaap en die volgende dag verfris voel, ly jy nié aan slaaploosheid nie. Vroue is oor die algemeen meer geneig om wakker te lê en hulle oor familie- en werkprobleme te bekommer. Navorsing aan die Surrey-universiteit het bevind vroue verloor sowat 90 minute se slaap per nag - hul toenemende besige lewe maak dit moeiliker om met slaaptyd rustig te raak. Alison bevestig dat navorsing toon vroue is twee keer meer geneig as mans om aan slaaploosheid te ly. Die rede daarvoor is nie bekend nie. Volgens haar kan daar verskillende oorsake vir insomnia wees - soos depressie, rustelose-bene-sindroom (sien kassie) en psigo-fisieke-insomnia. Laasgenoemde beteken bloot jy is só angstig dat jy nie sal kan slaap nie dat dit presies is wat gebeur. Jy is vaak as slaaptyd nader kom, gaan deur jou slaaptyd-roetine, klim in die bed, sit die lig af . . . en is wawyd wakker. Jy word al hoe meer angstig en gefrustreerd omdat die slaap jou ontwyk.

Alison help mense wat aan insomnia ly om te bepaal hoeveel ure slaap hulle werklik nodig het - en om dan hul lewe daarvolgens in te rig. Só raak hulle ontslae van die vrees dat hulle nie sal kan slaap nie, wat juis die slaaploosheidvraat voed.

Oorkom slaaploosheid

in 9 stappe

1. Skryf neer hoe laat jy bed toe gaan, aan die slaap geraak het, in die nag wakker geword het en weer aan die slaap geraak het. Gee dan ’n puntetelling (1 tot 5) hoe jy die volgende dag voel.
2. Bepaal die aantal ure wat jy per nag slaap en trek een uur af. As dit sewe ure was, mik na ses.
3. Gaan jou gewone tyd bed toe en probeer om aan die slaap te raak. Moenie langer as 15 minute lê en lees of TV kyk nie.
4. Rook minder en drink minder alkoholiese en kafeïendrankies deur die dag. Vermy dit heeltemal minstens 3 ure voor jy gaan slaap.
5. Moenie langer as 15 minute sukkel om aan die slaap te raak nie. (Hetsy as jy aanvanklik in die bed klim, of deur die nag.) Staan op en doen ’n uur lank, of totdat jy slaperig voel, iets anders.
6. Klim terug in die bed en probeer slaap. Die 15-minute-reël geld weer. Dis dalk al wat jy die eerste nag doen, of dalk raak jy net voor hanekraai aan die slaap.
7. Wanneer jy wel binne 15 minute slaap, fokus daarop. (Al was dit eers vieruur die nag.)
8. Die volgende nag gaan jy waarskynlik vroeër aan die slaap raak. Die geloof dat jy vieruur sal slaap, raak later drieuur, dan tweeuur . . .
9. Jou vermoë om te slaap as jy vaak is, behoort binne die volgende 10 tot 14 nagte drasties te verbeter. (Dit werk net as jy nie gereeld slaappille neem nie.)
Bron: Alison Bentley van Wits se Dial-a-Bed-slaaplaboratorium

“As jy vaak is omdat jy later as gewoonlik opbly, plaas dit druk op die brein om te slaap. Jy gaan dan waarskynlik makliker aan die slaap raak. Só oorkom jy die vrees dat jy nie sal kan slaap nie - en die sirkel word mettertyd verbreek.” Die sielkunde agter slaappille is dieselfde. Jy drink ’n slaappil en dit neem die vrees weg dat jy nie sal kan slaap nie. Dan slaap jy - deels omdat jy nie angstig is nie, deels vanweë die pil se “skop”.

Dit verklaar hoekom baie mense aan die slaap raak vóórdat die pil hoegenaamd ’n uitwerking kan hê. “Jy gló die pil gaan werk, dit laat jou ontspan en jy slaap,“ sê sy. Volgens Christiaan het slaappille ’n reputasie dat dit gevaarlik is. Baie van die ouer soorte verdien dit weens die newe-effekte. Daar is ook die gevaar dat jy afhanklik kan raak. Daar is egter nuwe produkte op die mark wat veilig is - dit word vinnig uit jou liggaam gewerk en maak jou nie die volgende dag slaperig nie. Dis ook nie verslawend nie. (Vra jou dokter vir ’n voorskrif.) Christiaan reken nuwerwetse slaappille moet in dieselfde lig as medikasie vir ander mediese toestande gesien word. Hy beklemtoon egter dat dit slegs op kort termyn geneem moet word om jou te help om weer ’n gesonde slaappatroon te vestig.

Gaan slaap ’n paar nagte vroeg en kyk hoe goed jy voel. En as jy nie kán slaap nie, raadpleeg jou dokter. Hy/sy sal jou, indien nodig, na ’n slaapspesialis verwys. Soete drome!

Het jy geweet?

  • Ma’s en babas se slaapritmes verskil. Babas se slaapsiklus is tussen 45 en 60 minute lank, ma’s s’n 90 minute. Jy en jou baba word dus op verskillende tye wakker en dit verklaar waarom jy chronies moeg is. As jy ’n baba het, verloor jy sowat 400 tot 750 ure se slaap in die eerste jaar!
  • Nagskofwerkers is meer geneig om mediese probleme en slaapafwykings te ontwikkel en neem meer gereeld siekteverlof as dagwerkers. Die slaappatrone van nagskofwerkers verander - soms bly dit die res van hul lewe só. Alison verwys na oudpres. Nelson Mandela, wat vroeg opstaan en vroeg gaan slaap, nes sy roetine al die jare in die gevangenis op Robbeneiland was.

Slaapstorie

Chantelle (30, skuilnaam) is ’n werkende ma met twee kinders. So drie maande gelede het sy baie “af ” begin voel. Sy kry snags (soms ook bedags) hartkloppings en kla gereeld van hoofpyn. Sy is lief vir koffie omdat dit haar ’n soms broodnodige “skop” gee. Sy lê toenemend snags wakker en dink aan alles wat sy nog moet doen. Meestal raak sy maklik aan die slaap, maar soms neem dit lank. As sy dan wel slaap, word sy dikwels so tweeuur wakker en raak eers weer ’n uur of twee later aan die slaap. Dit raak al hoe moeiliker om op te staan as die wekker lui. Toe sy dit met haar dokter bespreek en haar slaappatroon ter sprake kom, het sy besef dat sy gemiddeld net 5 ure per nag slaap - sy gaan selde voor twaalfuur bed toe. Behalwe dat sy bedags baie koffie drink, neem sy ook ’n sterk multi-vitamien-aanvulling om haar energie te gee. Dit het haar slaapkwaliteit beïnvloed. Die suur wat snags in haar slukderm opstoot, was ’n newe-effek van al die koffie. Dis drie weke later en sy voel ’n ander mens. Sy drink minder koffie, het die multi-vitamiene vir eers gelos en gaan drie aande van die week vroeër bed toe. Die eerste tien dae het sy ’n halwe, nie-verslawende slaappil geneem om haar slaappatroon te herstel. Sy voel soggens lus vir die lewe, konsentreer beter en les bes, haar libido het weer ontwaak.