“My grootste uitdaging was om nie jammer vir myself te voel omdat ek nou kleiner porsies sonder groot skeppe stysel moes eet nie.”

Die laaste paar maande het die sielvolle sangeres Sarah Theron ’n hele paar kilogramme van haar rondings verloor. “Ek was nog altyd salig gelukkig met my lyf. Ek het verlede jaar my 21ste jaar in die musiekbedryf gevier as ’n size 40 wat haar verbeel sy is Barbie.”

Maar toe klim sy in Augustus op die skaal en besluit sy moet gewig verloor. “Want iewers in my agterkop was daar ’n stemmetjie wat my wysgemaak het – omdat ek mollig en soms selfs vet was – dat ek nie goed genoeg was om te kon aanspraak maak op onvoorwaardelike respek nie.”

Sarah het ’n afspraak by haar huisdokter gemaak. Die dokter het voorgestel sy moet gebalanseerd begin eet. Uiteindelik was dit ’n geval van “kop skoonmaak en < spyskaart skoonmaak” om die gewig te verloor.

Haar dieet bestaan uit ’n paar moenies, sê sy. “Moenie wag tot ná 08:30 om ontbyt te eet nie, want teen daardie tyd is jou bloedsuiker ’n karnaval-pretpark. Dan smul jy maklik aan ’n stuk pizza. Moet ook nie maaltye oorslaan nie, want dan dink jou lyf daar kom hongersnood en maak soos ek op ’n uitverkoping – vat vyf van alles net vir ingeval. En moenie later as 21:00 aandete eet nie. Ek voel 19:00 is die ideale tyd om te eet.”

Vir ontbyt drink Sarah ’n proteïen-skommel. Middag en aandete bestaan hoofsaaklik uit maer rooivleis, hoender of vis met groente en slaai.“Dis basies ’n porsie proteïene met ’n groente.My porsies is nou kleiner en ek eet meer gereeld.”

Tussendeur peusel sy aan appels en brosbeskuitjies.

“En ek gooi water by my keel af asof daar ’n duisend jaar droogte op pad is.”

Sy drink ook nie meer as twee koppies koffie per dag nie. “En geen alkohol nie. Ná ’n drankie of twee neem jy in elk geval slegte besluite, wat ’n kaasburger en melkskommel insluit.”

Sy weeg haarself elke twee weke by haar huisdokter. “Dit help, want dan voel dit jy doen nie die ding op jou eie nie. Dis ook lekker as iemand saam met jou bly is as jy gewig verloor het. Sy praat my dan ook moed in vir die volgende twee weke wat voorlê.”

Sarah het al byna 15 kg verloor. “Ek kry baie komplimente. Mense sien my nou anders. Dis vreemd, want ek is steeds dieselfde mens.”

Sy wil nog so 5 of 6 kg verloor. “’n Kilogram vir elke jaar van my oorgewig professionele loopbaan. Maar ek is tevrede dat al die klere in my kas pas, buiten dié wat nou te groot is. Ek het nou dosyne uitrustings en trek sommer twee of drie keer per dag iets anders aan, want ek kan!”

Maar sy sal nooit plankdun wees nie. “Dis net nie ek nie.”

Sedert die kilogramme weggesmelt het, voel sy meer energiek. “Kyk, ek was nog altyd vol energie, maar mense sê ek praat nou nog meer as voorheen. Ek skryf dit toe aan my nuwe lewenslus. Dit het beslis ook my selfvertroue ’n hupstoot gegee. If you feel good, you look good.”

* Kry jou Februarie-uitgawe van SARIE vir nóg twee sangers se gewigsverlies-suksesstories.

Sarah se wenke

  • Maak ’n kombuiskas leeg waarin jy net jou eie eetgoed kan pak. Kry ook ’n skaal om jou porsies te weeg. Gebruik die twee laaie in jou yskas vir jou groente en vrugte. Almal in die huis moet weet dit is jou goed.
  • Moenie skuldig voel as jy oortree nie. Ek weier om ’n lekker stuk koek of ’n braaibroodjie as ’n terugslag te sien. Ek eet eerder die koek smaaklik. Ek weet dit sit my vordering twee dae terug, maar soms is dit regtig die moeite werd.