Sy was nog altyd “rond en gesond”, maar toe aktrise Jana Nortier in die begin van verlede jaar vir roetine-bloedtoetse gegaan het, het die uitslae gewys sy is toe nie so gesond nie. Haar cholesterolvlak was hoog en sy was op die punt om tipe 2-diabetes te ontwikkel.

“Ek het verskriklik groot geskrik. Ek het dit glad nie verwag nie,” vertel die donkerkop aktrise wat die rol van die saggeaarde Sussie Koekemoer in die kykNET-sepie Villa Rosa speel.

“Ek het gedink ek is gesond. Rond en gesond, soos my ma altyd sê, maar toe ek die uitslae kry, het ek besef hierdie is ernstig. Ek moet iets hieraan doen.” En sy het.

Die afgelope jaar het Jana 15 kg verloor. “Deesdae doen mense double takes as hulle my op straat sien. Ek kry sulke twyfelagtige kyke. Ek kan sien ek lyk vir mense bekend, maar hulle kan my nie plaas nie.”

Jana Nortier

Jana se wenke vir gewigsverlies

  1. Ek werk elke Sondag ’n spyskaart vir die week uit en koop alles wat ek nodig het. Terwyl ek in die week aandete maak, pak ek my kos vir die volgende dag in: ontbyt, twee snoephappies en middagete.
  2. Om gesond te leef moet ’n gewoonte word. Jy moet iets vir 21 dae doen voordat dit ’n gewoonte is.
    Probeer dus ’n gesonde leefstyl vir drie weke handhaaf en merk dit elke dag op ’n kalender af. Daarna is dit makliker om vol te hou.
  3. Raak aktief. My dieetkundige het gesê jy moet minstens 150 minute in ’n week oefen. Probeer om net vyf keer in ’n week vir 30 minute op ’n slag aktief te wees. Jy kan selfs vinnig in ’n inkopiesentrum gaan stap.
  4. Probeer om gemorskos en suiker uit jou dieet te sny. Dit het my lewe verander.
  5. Hou jou porsiegroottes dop. Soms voel jy hongerder as wat jy is. Eet eers jou groente, dan jou proteïene en laaste die stysel op jou bord. Teen die tyd dat jy klaar jou proteïene geëet het, is jy dalk nie meer honger nie. As jy versadig is, hou op eet.
  6. Dis in ons natuur om verskonings uit te dink, soos “ek het nie tyd om kos te maak nie, daarom gaan ek ’n hamburger eet”. Dis nonsens. Ek moet die meeste van die tyd sewe-uur in die oggend op stel wees. So ek gaan oefen soms vyfuur in die oggend. Beplanning is belangrik.

* Lees die volle onderhoud in die Junie-uitgawe van SARIE – nóú te kry!