Groentee, borrie en swartpeper

Dít was deel van oud-Bok Rob Louw se resep om sy immuniteit te versterk in sy stryd teen kanker. En ja, speserye het meer om die lyf as net hemelse geure. Jy hoef ook nie so baie in te neem vir die gesondheidswaarde nie, sê Arien van der Merwe, mediese dokter en kenner van aanvullende medisyne.

So help ’n tee-aftreksel van salie bv. vir warm gloede, en gemmer en peperment vir spysvertering en naarheid (ook veilig as jy swanger is). Of gebruik konsentrate in kapsulevorm, sê sy: kaneel en fenegriek vir diabetes en lae bloedsuiker; kaneel en borrie vir artritis; en knoffel en kersie vir verkoue en hoes.

(Beskikbaar by gesondheidswinkels en apteke. Kersie gewoonlik in stroopvorm.)

Besoek Arien se webblad: www.healthstresswellness.com

 

  Borrie

Dit het kragtige anti-inflammatoriese eienskappe: 2 g per dag (sowat 1½ teelepel) kan toestande soos rumatoïede artritis, osteo-artritis en asma se simptome verlig, aldus www.health.com. Swartpeper, self ’n sterk antioksidant, help dat jou liggaam borrie beter opneem.
 

Dokter jouself

Gooi ’n knippie elk van gemmer, kaneel en borrie, en ’n teelepel heuning by warm water. Laat staan 5 – 10minute en drink. Dit help vir gewrigs- en spierpyn, koors, verkoue, sinusitis en postnasale drup. Voeg daarby ’n skeutjie mosterd vir infeksie (as die slym geel of groen raak). Bron: Arien van der Merwe
 

Neutmuskaat

Studies wys dit speel klaar met bakterieë in kos. Dit kan dus as preserveermiddel gebruik word. ’n Bestanddeel daarin kan dalk ook bloedklontvorming en dus hartaanvalle voorkom. Die gemaalde spesery, sowel as sy olie, word in tradisionele medisyne gebruik vir winderigheid en opgeblasenheid.
 

Brandrissie


Die einste chemise bestanddeel wat rissies hul “byt” gee, beskerm jou liggaam teen vry radikale, wat selle beskadig en gekoppel word aan van kanker tot hartsiektes. Dis ook ’n natuurlike pynstiller. Eet jy dit gereeld, het dit ’n uitwerking op jou insulienvlakke ná ’n maaltyd, wat jou bloedsuikervlakke help reguleer. Dit stimuleer ook die vorming van maagsure, wat bydra om bakterieë dood te maak.

 

Kaneel


Volgens navorsing het kaneel ’n sigbare uitwerking op bloedsuikervlakke en kan dit vlakke stabiliseer. As jou liggaam nie meer jou bloedsuikervlakke kan reguleer nie, lei dit tot tipe 2-diabetes. Hierdie skommelinge maak jou ook honger en buierig. Kry kaneel in konsentraatvorm by jou gesondheidswinkel en volg die aanwysings op die pakkie.