Stres jy? Jou liggaam skei dan adrenalien en kortisol af. Adrenalien is ’n streshormoon wat jou "oemf“ gee - sodat jy vinnig kan dink, weghol of veg. Daarna skop skop kortisol in en gee jou lyf genoeg energie om aan te hou veg of vlug. Jou brein onderskei ongelukkig nie tussen werklike gevaar (’n leeu jaag jou) of daaglikse probleme wat jy as moderne mens moet konfronteer (’n moeilike situasie by die werk) nie. Dit reageer ook op laasgenoemde asof jou lewe daarvan afhang. Die verskil is dat jy nie by die werk kan weghardloop of met die baas kan stoei nie . . . Jou liggaam kry dus nie kans om van die kortisol en adrenalien ontslae te raak nie. Dit kan daartoe lei dat jou metabolisme mettertyd verander en jou bloedsuiker wipplank ry. Jy raak uiteindelik insulienweerstandig en kan nie gewig afskud nie. Jy kan ook chroniese siektes soos hoë bloeddruk en ’n hormoonwanbalans kry.
Hoe gemaak? Dis níé nodig om jou werk te los nie. En ook nie ’n goeie idee om uit jou kar te spring en die swak bestuurder voor jou by te dam nie. Dis bewys 15 minute se stap soggens en saans (verkieslik elke dag) help jou liggaam om van streshormone ontslae te raak - en só die vetrolle te tem. Praat ook so nou en dan jou hart uit . . . dalk sommer met jou stapmaat? Bron: Mariza van Zyl, RD(SA), geregistreerde dieetkundige van Beter Eet Voeding en Voedsel Konsult in die Paarl. Besoek haar webblad by www.betereet.co.za.