Jy wil altyd alles nét reg doen. Met ’n gesonde skeut perfeksionisme skort niks - trouens, dis goed as dit vir jou lekker is om hard te werk en dinge ordentlik te doen.

Maar as jou strewe na hoë standaarde neuroties en ongesond is, moet die rooi ligte flikker. Soos as jy onvergenoegd voel omdat dinge nooit goed genoeg is nie, as jy altyd in beheer moet wees, jouself kasty oor die kleinste foute en jy oorsensitief is vir kritiek.

Dalk beskou jy jouself as ’n perfeksionis omdat jy gesteld is op netheid of ’n geordende lessenaar. Kenners onderskei egter tussen werklike perfeksionistiese gedrag en meer geritualiseerde, obsessiewe gewoontes, soos om jou huis hipernetjies te hou. Dis geen rede tot kommer nie - ás dit jou lewe vergemaklik, nie te veel van jou tyd in beslag neem of die mense om jou benadeel nie.

Is jy steeds onseker oor hoe “gesond” jou strewe is? Onthou, alle perfeksioniste het hoë standaarde, maar ’n wanaangepaste perfeksionis word baie meer geraak daardeur as dit nie bereik word nie - ’n gevoel van waardeloosheid, erge teleurstelling, emosioneel omgekrap, hartseer, angstig . . . Uiteindelik maak dit jou ongelukkig. Maar min mense meld aan vir hulp en sê: “Ek’s ’n perfeksionis.”

Is jy ook een?

’n Perfeksionis . . .

  • het baie hoë standaarde wat nie altyd haalbaar
  • is baie mededingend 
  • is erg teleurgesteld en omgekrap as sy nie sukses behaal nie
  • glo iets is óf 100% reg óf heeltemal verkeerd *
  • is dikwels baie bang vir mislukking, tob oor haar foute en dis vir haar ’n bewys dat sy waardeloos is
  • vra moeilik hulp
  • sien (soms) ander se foute raak en wil hulle teregwys
  • is dadelik op die verdediging as sy gekritiseer word.
* Karin Büter is ’n kliniese sielkundige, 021 863 3128
 

Dit kom op ander maniere uit, soos:

  • fisieke en psigiese probleme bv. depressie, angs en eetsteurings, asook uitbranding, die misbruik van kafeïen en meer gevaarlike dwelmmiddels;
  • sosiale probleme. Jy projekteer jou gevoelens op ander (jou maat moet “perfek” wees, of jy is oorkrities teenoor ander.) Jy is té toegewy aan ’n vriendskap/verhouding en word teleurgestel omdat jou verwagtinge te hoog is. Jy droom van die “volmaakte” gesin - wat nie haalbaar is nie;
  • of die uitstel-strik. Jou standaarde is só hoog dat jy net nie aan die gang kan kom nie, veral met groot projekte. Later is jy heeltemal “verlam”. Verskillende faktore kan bydra tot perfeksionisme. Angs is gewoonlik die oorsprong. As jy dinge onder beheer het, gaan dit goed. Maar om dit onder beheer te hou maak jou meer angstig (en dikwels affekteer dit mense om jou, omdat jy hulle ook probeer beheer). Soms is iemand geneties so bedraad. Jy sit dalk van kleins af baie druk op jouself. Partykeer is ouers onrealistiese rolmodelle. (Jou ouers was groot presteerders, en al verwag hulle dit nie, voel jý jy moet hul prestasies ewenaar.) En soms plaas ouers wél druk op hul kind. (Reeds kleintyd meet jy jou waarde aan hoe goed jy presteer, nie bloot aan wie jy is nie.) Sekere media wat almal wat perfek is, uitbeeld met geld, sukses . . . kan ook ’n rol speel. So ook sosiale druk, soos kinders wat meeding met mekaar.

WENKE

  • Wees bewus van jou selfkritiese aard. Kenners onderskei tussen drie soorte: Jy fokus net op jouself (ander se foute pla jou glad nie); jy het hoë verwagtinge van ander; of jy dink jy moet aan hoë standaarde voldoen omdat “ander mense” dit verwag.
  • Wees bewus van jou rigiede (alles of niks) gedagtes en hoe dit ander raak.
  • As ’n perfeksionis se gedrag jou affekteer, sê dit vir haar. Soms kom so iemand weg daarmee omdat harde werk mos “goed” is. Maar dit kan net so onbedagsaam en irriterend wees as sy haar standaarde op jou afdruk.
  • Wees realisties oor wat jy kan en mag doen. Jou verwagtinge is nie noodwendig reg nie.
  • Gebruik kritiek tot jou voordeel. Moenie verdedigend wees nie. Leer uit jou foute.
  • Kom tot stilstand. As jy so verstrengel raak in die kleiner detail verloor jy dikwels die groter prentjie uit die oog. Kom uit by jou lewe!
  • As jou perfeksionisme jou benadeel, kry hulp by ’n sielkundige.