Kamille en gemmer, peperment en salie. Voor jy na ’n pil gryp, put uit die natuur se spens vir verligting van ’n paar algemene kwale.

Vir blaasinfeksies

  • 20 g grofgekapte pietersielie
  • 2,5 liter water

Kook water en pietersielie 5 minute en laat trek 15 minute. Gooi deur sif. Drink hele pot tee binne 3 uur om blaas skoon te spoel. Pietersielie is ’n natuurlike diuretikum (waterdrywer) en help om die blaas te beskerm teen “goggas” wat infeksies veroorsaak.

Vir spanningshoofpyn

  • 200 ml water
  • 1t (15 ml) varsgekapte gemmerwortel
  • 1t (15 ml) kamilletee

Prut gemmer vir 5 minute in water. Sit kamille by en laat trek 10 minute. Gooi deur siffie en drink warm. Gemmer verlig pyn en kamille help emosionele en fisieke spanning bekamp.

Vir warmgloede

  • 250ml kookwater
  • 2t (30 ml) gedroogde salie

Gooi kookwater oor salie en trek 10 minute. Gooi deur siffie. Versoet met heuning en drink voor slaaptyd of soos nodig. Salie kan jou tot 50% minder laat sweet.

Vir sonbeskerming

Drink 750ml groentee daagliks vir ekstra antioksidante om jou lyf teen sonbrand te beskerm. En onthou die sonskerm.

Vir ’n spastiese kolon

  • 250 ml kookwater
  • 1 t (15 ml) droë pepermentblare

Gooi kookwater oor peperment, laat trek en gooi deur siffie. Drink 3 koppies per dag. Peperment bevat kragtige essensiële olies wat krampe en winderigheid verminder. Bron: Sunette Kotze, geregistreerde dieetkundige en eienaar van e-spice health, ’n gesondheidswinkel in Montana, Pretoria. Kontak: 012 548 2762, www.healthline.co.za *Hierdie storie het verskyn in die Februarie 2013 uitgawe van SARIE Nóg gesondheidstories