"My man is deur ruimtewesens ontvoer. En in sy plek is ’n zombie wat net eet, slaap, eet, slaap,” is die versugting van’n Pretoriase sakevrou. “Hy was altyd ’n werkoholis. Vyfuur soggens op, en vanaand kom hy watter tyd by die huis. Maar hy het al minder plesier uit sy werk geput, en al meer gekla. Hy wou net wegkom van al die eise wat dit aan hom stel.

Op ’n dag het hy opgestaan en uit sy kantoor gestap. En ’n jaar later het hy nog nie weer sy voete daar gesit nie. Hy toon geen belangstelling om weer die drade van sy lewe op te tel nie. Hy slaap, of sit in die niet en staar.” Dis uitbranding. “En ek?” vra die vrou. “Ek wil net my man van vroeër terughê.” Sy verwyt haarself dat sy nie die waarskuwingstekens vroeër raakgesien het nie. Dit was immers nie iets wat plotseling gebeur het nie. En uitbranding kan voorkom word as betyds ingegryp word.

Dalk ken jý ook die prentjie. En pas dit jou man/vrou/vriendin soos ’n handskoen. Of jouself. Dit gebeur dikwels met toegewyde, passievolle en hardwerkende mense. Hier teen die einde van die jaar voel jy in elk geval klaar, kapot . . . Al die stres wil jou rug knak.

Dis ’n toestand van verstandelike en/of liggaamlike uitputting weens oormatige, langdurige stres, skryf dr. Linda Friedland in Self: Die essensiële gesondheids- en lewensgids vir vandag se vrou (Tafelberg, 2005). Jy kan dié ervaring vergelyk met ’n rekkie wat uitgerek en uitgerek word, terwyl dit aanhou terugskiet. Daardie rekkie breek wanneer jy uitbrand. En dit kan jou só siek maak dat jy nie meer kan funksioneer nie.

 

Jy kan van uitbranding herstel . . .

Ruim die oorsake uit die weg

 

Volgens dr. Franco Colin, ’n Pretoriase psigiater, is uitbranding ’n volksmond-uitdrukking vir mense wat by die werk oorlaai word - en dan toestande soos depressie en angsversteurings ontwikkel.

Hy sê jy kán daarvan herstel. Hoe vinnig hang van die diagnose af. Daarvolgens word medikasie (soos anti-depressante of gemoedstabiliseerders) voorgeskryf. Psigoterapie is ook belangrik, want jy moet sekere aanpassings in jou lewe maak. En die dinge uit die weg ruim wat dit veroorsaak het.

’n Derde van werkers in ontwikkelde lande het uitermate hoë stresvlakke. En die probleem is waarskynlik meer algemeen in ontwikkelende lande, aldus ’n artikel in The GIBS Review, ’n maandelikse nuusbrief van die Gordon Institute of Business Science in Johannesburg. Daarvolgens werk sowat 30 000 Japannese hulself jaarliks letterlik dood. Hulle het selfs ’n uitdrukking daarvoor - karosji.

Sowat 75% van Amerikaners beskou hul werk as stresvol. Baie is vir lang tydperke doodmoeg en hulle noem werkstres as die hoofoorsaak. Daar is nie Suid-Afrikaanse statistieke oor uitbranding/stres nie, aldus die Soma Inisiatief, ’n Kaapstadse maatskappy wat in die bestuur van afwesigheid by die werk spesialiseer. Maar stres neem toe. Selfs al neem jy in ag dat mense meer openlik daaroor praat.

Suid-Afrika is ’n ontwikkelende land, verduidelik dr. Heshma Vaithilingam, ’n Durbanse homeopaat wat navorsing oor uitbranding gedoen het, en maatskappye verander voortdurend. Daar is minder werkgeleenthede en ons word met nuwe, uitdagende werksituasies gekonfronteer. Interpersoonlike en werkverhoudinge het verander. Meer vroue is byvoorbeeld in bestuursposte: As man moet jy dalk nou aan ’n vrouebaas gewoond raak.

Daar is ook ’n groter kulturele en godsdienstige verskeidenheid in die werkplek. ’n Groot verandering is besnoeiings en samesmeltings binne maatskappye. Jy kan dus jou werk verloor. Daar word ook meer tyd, moeite, vaardighede en buigsaamheid van jou verwag. Terwyl daar minder geleenthede vir bevordering is. Mense weet boonop nie hoe om uitbranding te hanteer nie. Daar kleef ’n stigma aan: Dit word as ’n teken van swakheid en onderprestasie gesien.

Die aanloop tot uitbranding begin dikwels reeds wanneer jy nog oorloop van idealistiese geesdrif vir jou werk, sê Heshma. Jy het baie energie, verwagtinge en ideale. Jou ambisie is dalk om die hoogste sport in jou beroep te bereik. Of jy het ’n sterk behoefte om ander te help: ’n Dokter, onderwyser, maatskaplike werker of polisieman. Maar jou ideale en verwagtinge is moontlik nie realisties nie. Soos jou werkdruk toeneem en jy nie al jou doelwitte bereik nie, vervaag jou idealisme.

Wie, ék?

Enigeen van ons kan uitbrand. Jý ook.

  • Raak jy maklik ongeduldig?
  • Wil jy tot elke prys ’n sekere beeld voorhou?
  • Is jy ’n perfeksionis?
  • Presteer jy onder druk?
  • Word mense beïndruk deur jou bedrywige program?
  • Is jy ’n steunpilaar vir ander?
  • Irriteer oppervlakkige praatjies jou?
  • Is dit belangrik dat mense van jou hou?
  • Is jy lief vir verantwoordelikheid?

As jy ja antwoord op enigeen van hierdie vrae, is jy weliswaar ’n kandidaat vir uitbranding. Bron: Self deur Linda Friedland Gevaarligte

Gevaarligte

  • Jy lag nie meer of het nie pret by die werk nie.
  • Kollegas en kliënte irriteer jou.
  • Jou werk het ’n albatros geword.
  • Jy is chronies daaroor bekommerd.
  • Jy voel lusteloos en leeg.

Bron: www.employeremployee.com

 

Dit kan om verskillende redes wees, volgens die webblad www.mindtools.com. Dalk het jy te lank te hard gewerk. Of miskien is die probleme wat jy moet oplos te groot - en die beskikbare bronne te min. Dalk is jou ondersteunende mentors vervang deur mense wat nie jou goeie pogings waardeer nie. Of hulle voel niks vir die ideale wat jou dryf nie.

Jou waardes, soos eerlikheid en integriteit, word dalk vertrap. Of kollegas stel te veel emosionele eise aan jou. Mense aan wie jy ’n diens lewer, is miskien ondankbaar en ontevrede. Maar dan werk jy harder in ’n poging om die probleme uit jou pad te vee. Jou energie en geesdrif word egter al minder. Jy voel ontnugter en gefrustreerd. Jou pligte strek eindeloos voor jou uit en jy sien oral net probleme. In uiterste gevalle verloor jy alle vertroue in wat jy en jou organisasie doen. Uiteindelik raak jy apaties en sinies. Dis die begin van uitbranding. Volgens kenners gebeur dit nie noodwendig met spesifieke soort persoonlikhede nie.

Dit het eerder te doen met hoe jy na die lewe kyk. Dr. Judy Jaye, projekontwikkelingsbestuurder by die Voice and Stress Clinic in Johannesburg, het ’n tesis oor stres in die werkplek geskryf. Volgens haar ervaar almal stres, maar jý kies hoe jy daarop reageer. Jy kan jouself as die slagoffer sien en ander mense en jou omstandighede daarvoor die skuld gee. Jy voel dan hulpeloos, oorweldig en sonder keuses.

As jy gló alles gaan verkeerd loop, loop dit juis daarom verkeerd. Inderdaad, sê Heshma. Glo eerder wat jy bereik, hang van jou eie gedrag en vaardighede af. Jy is dan in beheer van jou lewe. As jy daarenteen glo die lewe beheer jóú - hetsy deur die noodlot, geluk of ander mense - is jy meer kwesbaar om deur werk oorspoel te word en uit te brand. Judy sonder ’n swak selfbeeld uit as ’n belangrike rede vir uitbranding. Jy moet dus tegnieke aanleer om jou selfbeeld te verbeter. Moenie daarvoor op ander mense staatmaak nie (byvoorbeeld deur hul goedkeuring te soek nie). Ontdek wie jý is en wat jou sterk en swak punte is.

En stel jou doelwitte en verwagtinge binne dié grense. Moenie huiwer om jouself op die skouer te klop as jy iets reg gedoen het nie, al is dit ook hoe klein. Moet jouself eweneens nie eindeloos kasty as jy iets verkeerds gedoen het nie. ’n Wenk is om kort, kragtige sinnetjies neer te skryf wat jy deur die dag vir jouself herhaal om jou eiewaarde te herbevestig. Soos: “Ek ís ’n goeie werker.” Dit sal jou ook help om meer selfgeldend te wees. Heshma sê daar is geen wonderkuur nie en die behandeling is holisties:

Simptome van uitbranding

Fisiek: Moegheid, slaapversteurings, maagprobleme, migraine, gereelde verkoues en griep, rugpyn, spierpyne, kortasem, naar, gewigstoename of -verlies, verandering in eetgewoontes.

Emosioneel: Woede, verveeldheid, frustrasie, depressie, angs, apatie, hulpeloosheid, pessimisme, irritasie.

Houding: Sinies, afsydig, twyfel in jouself, gebrek aan empatie, swak konsentrasie, buierig, lae selfbeeld.

Gedrag: Ongeskik/ongeduldig met kliënte, krities, pak die skuld op ander, op die verdediging, kommunikeer swak, stel take uit, klou aan rigiede reëls vas, baie afwesig, maak foute, waag onnodige kanse, misbruik drank/pille, het huweliksprobleme, baklei met medewerkers, werkoholisme, obsessief, oorweeg selfmoord.
Bron: Heshma Vaithilingam

  • Oefen gereeld en mediteer.
  • Beoefen 'n stokperdjie.
  • Verminder jou werklading.
  • Dink na oor wat jy doen en hóé jy dit doen.
  • Leer ook om jou tyd meer doeltreffend te bestuur. Delegeer take waar moontlik.
  • Verbeter jou kennis en vaardighede deur gereeld kursusse en konferensies by te woon.
  • Stres verminder jou vlakke van vitamiene A, E, B6 en C - neem dus aanvullings. En eet gesond - meer vrugte en groente, drink genoeg water en vermy kits- en vetterige kos, drank en kafeïen. Onthou, uitbranding is ’n waarskuwing dat dinge in jou lewe nie gebalanseerd is nie. En dat jy die pas dringend moet markeer.

Herstel na uitbranding
Mense reageer verskillend op uitbranding.

Jy doen niks:

Jy raak bitter en kwaad terwyl geleenthede by jou verbygaan. Jou maatskappy sien jou as “dooie hout” en jy sink net verder in die moeras weg.

Jy verander jou loopbaan:

As jy alle belangstelling verloor het in die waardes wat jou dié beroep laat kies het, is dit dalk ’n uitweg. Maar jy verloor dan ook al die ervaring wat jy reeds opgedoen het. Jy moet boonop meeding met mense wat jonger as jy is. En bereid is om vir minder geld te werk.

Jy kry ’n ander werk in dieselfde professie:

Jy kan jou ervaring gebruik en kry kans om jou opnuut aan jou oorspronklike doelwitte te wy. Jy begin ook nuut in ’n ander omgewing. Dis ’n oplossing as jy ontnugter met jou organisasie, eerder as jou loopbaan is. Pas egter op dat jy jouself nie weer in dieselfde doodloopstraat bevind nie. Maak seker jy verstaan wat daartoe gelei het dat jy uitbrand.

Jy gebruik jou uitbranding as ’n snelleraksie vir persoonlike groei:

Jy moet verstaan hoekom jy uitgebrand het. Kyk rasioneel en objektief na die omstandighede wat daartoe gelei het. Praat met iemand wat ’n soortgelyke ervaring in ’n soortgelyke organisasie gehad het. Kyk na jou werklading, jou en ander mense se optrede en die situasie wat ontwikkel het.

Plaas die skuld waar dit hoort. Jy gaan waarskynlik leer dat jy nie bomenslik is nie, harde werk nie alles kan oorkom nie en groot prestasies die toegewydheid en ondersteuning van ander mense verg. Een mens se toewyding is dikwels nie genoeg nie. Benader situasies met skeptisisme en vertrou jou eie oordeel om probleme betyds raak te sien en daaroor te praat. Die volgende stap is om jou doelwitte te herevalueer - en te dink oor wat jy in jou lewe wil bereik.

Bron en verdere leesstof: www.mindtools.com
Kontak Heshma Vaithilingam: 082 587 8322; die Voice and Stress Clinic: 011 880 2334.

Voorkom uitbranding

Slaap, ’n wondersoete ding
Slaaploosheid of swak slaapgehalte is die eerste teken van innerlike spanning. Jy sluimer nie maklik in nie of skrik snags wakker. Slaap het ’n geweldige vermoë om te genees. Jou spiere, senuwees en organe se energiebehoeftes neem dan drasties af - en al jou energie is beskikbaar vir die herstelproses. Gereelde oefening, ’n voedsame dieet en stresverligtingstegnieke help jou om beter te slaap. Skakel saans geleidelik na ’n laer versnelling oor, vermy stimulante en geniet ’n warm bad voor jy in die bed klim.

Asem in . . .
Diep asemhaling is ’n natuurlike kalmeermiddel. Ontspan deur jou asemhaling doelbewus te reguleer. Die eenvoudigste manier is om met jou diafragma en maagspiere asem te haal. Asem diep in, vul jou longe heeltemal en trek dan stadig jou buik in terwyl jy uitasem.

Mediteer
Tegnieke wat jou gedagtes tot stilstand bring, is die kragtigste vorm van streshantering en ontspanning. Al meer dokters skryf meditasie voor om bloeddruk te verlaag, mense met angina te help en alledaagse stres te verminder. Dis eenvoudig: Besluit waarop jy jou gedagtes ’n tyd lank gaan toespits - bv. jou asemhaling. Bring jou dwalende gedagtes telkens na jou fokuspunt terug.

Begeleide verbeeldingsvlugte (visualisering)
Daar is baie kassette en CD’s beskikbaar. Jy luister na ’n vertelling met mooi agtergrondmusiek wat jou help om te ontspan. Navorsing toon dat sulke kragtige denkbeelde jou liggaam en biochemie beïnvloed.
Bron: Self deur Linda Friedland

Die StressEraser is ’n bioterugvoertoestel wat jou help om jou asemhalingspatroon met die aktiwiteit van jou senuweestelsel te sinchroniseer.

Kontak dr. Justin Kennedy by 021 553 3377 of besoek www.stresseraser.com