<TERUG NA WENKE 1 - 5>

6. Ontbyt is 'n móét

Studies wys mense wat gereeld 'n gesonde ontbyt eet, hou hul gewig makliker in toom. Volgens Mariza (geregistreerde dieetkundige van Beter Eet Voeding en Voedsel Konsult in die Paarl) is daar egter 3 belangrike vereistes waaraan jou ontbyt moet voldoen.

  • Handhaaf 'n goeie balans tussen proteïene (eiers, melk of jogurt) en koolhidrate (ontbytgraan).
  • Moenie net verfynde/verwerkte kos of kitskos eet nie.
  • Dit moet jou energie gee en sorg dat jy die res van die dag nie wil peusel nie.

Mariza se wenk

Warm vrugte en kaneel laat hawermoutpap soos poeding proe.

Of bederf jou gesin naweke met pannekoek, gestoofde vrugte (vars of gedroog) en 'n skeppie ongegeurde jogurt en kaneel.

Roereier of selfs Franse roosterbrood kan maklik by enige eetplan inpas.

7. Knoop jou soos 'n koeksister

Vroue wat joga doen, weeg minder, toon 'n studie in die Journal of the American Dietetic Association. Want joga maak jou meer bewus van jou liggaam. Jy eet dus as jy honger is, en hou op as jy genoeg gehad het. Dis nie só met ander maniere van oefen nie, soos loop of draf. Nog navorsing wys joga kan voorkom dat vet tydens jou middeljare saampak.

8. Slaap jouself maer

As jy gereeld sleg slaap, kan dit jou metabolisme omkrap - en jy kan gewig aansit, sê Amsterdamse navorsers. 'n Franse studie sluit daarby aan. Ná 'n slegte nagrus kan jy die volgende dag tot 2 300 kJ méér eet (gelyk aan 'n bord kos of groterige hamburger). Jy is dan meer peuselrig as wanneer jy genoeg geslaap het, verduidelik Mariza.

As jy kort-kort wakker word, kan dit ook meewerk om jou metabolisme deurmekaar te krap, wat tot metaboliese sindroom kan lei. (Dis die sambreelterm vir 'n klomp simptome, waaronder hoë bloeddruk, oorgewig en insulienweerstandigheid.)

Volgens haar kan jy nie altyd die omstandighede verander wat jou snags wakker hou nie. Wees egter bewus van die uitwerking op jou gewig - en moenie jouself bedags verder kasty met 'n te streng dieet nie.

9. Kafoefel meer

'n Tipiese liefdemaaksessie is gelykstaande aan 'n naelloop oor 220 m, skryf dr. Linda Friedland in Omvattende Vrouegesondheidsgids (Tafelberg, 2008). Dit jaag jou harttempo op, wat jou bloedsirkulasie verbeter en kJ's en vet verbrand. Probeer verskillende posisies en oefen ander spiere.

Verloor gewig sonder dieet - rêrig!

10. Eet klein maar gereelde maaltye

Dus 5 tot 6 klein maaltye eerder as 3 grotes. As jy te lank nie eet nie, word jou metabolisme stadiger om daarvoor te vergoed. Eet jy dan 'n groot maaltyd - terwyl jou metabolisme funksioneer asof daar 'n hongersnood is - klou jou lyf aan elke kJ vas. (Let egter steeds op hoeveel kJ's jy inneem. As dit meer is as wat jy verbrand, gaan jy gewig aansit.)

Mariza se wenk

  • Vars vrugte is die beste peuselkos. Maar in die koue maande is daar niks verkeerd met 'n gebakte appel met kaneel en vanielje-jogurt nie. Of maak 'n kaneelroosterbroodjie.
  • Gebruik 'n lekker soort brood (soos baguette of 'n Engelse muffin), rooster dit, sit 'n smeerseltjie botter op en sprinkel 'n teelepel kaneel en ½ teelepel suiker oor. Onthou: Warm soetgoed proe soeter as koues.

11. Kies heelgraanprodukte

Jy verloor dan vinniger gewig om jou maag, wat jou kans op onder meer hartsiektes verlaag, aldus navorsing in die American Journal of Clinical Nutrition. Die vesel in heelgraankosse (soos bruinrys) verlaag ook jou cholesterolvlakke. Vermy verfynde kos soos witbrood, witrys, graanvlokkies, aartappelskyfies en ryskoekies.

Mariza se wenk

  • Wissel heelgraanbrood af met kosse soos heel of gerolde koring en gort.

12. Wag vir 'pouse'

Die meeste mense het 'n natuurlike "eetpouse". As jy jou vurk 'n rukkie laat sak, is dit die teken dat jy versadig is, maar nie oorvol nie. Hou dan op met eet, sê die Amerikaanse tydskrif Health (www.health.com)

13. Kraak 'n neut

'n Hand vol rou neute daagliks kan dalk help om die rolletjies te keer, aldus Harvard-navorsing. Die "goeie"vette daarin laat jou langer versadig voel. Jy peusel dan minder aan happies met baie kJ's. Maar neute het op sigself baie kJ's.

As jy dus gewig wil verloor, moenie meer as 50 g per dag eet nie, beveel Mariza aan.

14. Bekamp stres

Stres op lang termyn kan jou metabolisme verander en jou bloedsuiker laat wipplank ry. Jy kan insulienweerstandig raak en sukkel om gewig af te skud. Jou kanse vir chroniese siektes soos hartsiektes en diabetes is ook groter.

Mariza se wenk

Dis bewys dat 15 minute se stap soggens en saans (verkieslik elke dag) jou liggaam help om van streshormone ontslae te raak - en só die vetrolle te tem. (Klim in die winter op jou trapmeul.)

15. Moenie jaag nie

Stel 'n alarm vir 20 minute en leer jouself om rustiger te eet. Proe en ruik elke happie. Jou brein kry dan tyd om jou te laat weet jy is versadig. (www.medicinenet.com)

*Besoek Mariza se webblad by www.betereet.co.za

**Bykomende bron: www.webmd.com.

Type or paste here.