Wil jy langer gesond bly? Kry ’n hond.

Honde-base se kans is 23% minder om aan hartsiekte te sterf. En 20% minder om weens enige ander oorsaak voortydig om te kom, volgens nuwe navorsing.

Die Sweedse studie met sowat 3,4 miljoen mense het oor twaalf jaar gestrek – lees die volledige studie hier.

Talle studies het reeds bevestig dat jou hond jou gesondheid se beste mater is. Vroeëre navorsing suggereer onder meer dat honde sosiale isolasie en depressie verminder – albei gekoppel aan hartsiekte en vroeë dood. Ook hanteer honde-base stres beter (hul bloeddruk en polsslag skiet nie die hoogte in nie), hulle is fisiek meer aktief (jy moet met daai hond gaan stap) en het laer cholesterolvlakke.

Ná heelwat sulke studies, was die Amerikaanse Hart-stigting in 2013 genoegsaam beïndruk om in ’n verklaring te sê ’n hond kan “waarskynlik” gekoppel word aan ’n verminderde risiko vir hartsiekte. Hul huiwering om dit sterker te onderskryf, was waarskynlik omdat die studies meestal op waarneming gegrond was. (Dus nie in ’n laboratorium getoets nie.) Navorsers sien ’n verband maar kan nie die oorsaak bewys nie. Dit beteken ander faktore kan dalk verklaar waarom honde-base gesonder as byvoorbeeld mense met visse is. Dalk koop net mense wat fiks is, in die eerste plek honde omdat hulle daagliks walkies nodig het.

In die nuwe studie het die navorsers hul bes gedoen om voorsiening te maak vir verskille in opvoeding, bestaande swak gesondheid en leefstyl tussen mense met en sonder honde.

’n Hond se grootste positiewe impak is op mense wat alleen woon, is bevind. “Honde moedig jou aan om te gaan loop, verskaf sosiale ondersteuning en maak die lewe meer betekenisvol,” volgens Tove Fall, hoof-navorser, in The Guardian.

“As jy ’n hond het, het jy meer interaksie met ander mense. Word jy siek en beland in die hospitaal, is dit ’n groot motivering om gouer op die been te kom.”

Natuurlik gaan dit nie jou risiko vir hartsiekte verminder as jy (en jou hond) op jou sofa sit en vetterige kos eet nie.

Honde wat oorspronklik vir jag geteel is (soos die apporteerhond en pointers) hou die grootste gesondheidsvoordele in, volgens die navorsing.

Bykomende bron: Forbes