1. Hoe maak ek met my migraine wat my opkeil?

Dr. Elliot Shevel, stigter van die Migraine-en-hoofpynkliniek in Johannesburg en ’n gesiene internasionale migraine-kenner, ?sê migraine-pyn het sy oorsprong ?in sekere are in die kop en kopvel, terwyl ’n hoofpyn deur spanning ?in die spiere van die kop, gesig en ?nek veroorsaak word.

Simptome

’n Migraine is soortgelyk aan ’n ?hoofpyn, maar het ekstra simptome ?soos naarheid, lig- en/of klank-sensitiwiteit en tot 20% van lyers sien ook ’n “aura” of ligflitse voor hul oë. Sommige mense sukkel selfs om te praat, of is tydelik effens verlam.

Oorsake

Hoofpyn ontstaan in strukture in jou kop, gesig en nek soos spiere, senuwees en are. Stres, moegheid en sekere kosse en aktiwiteite is soos ’n sneller vir pyn in dié strukture. Dit maak nie saak of jy dink jy kry hoofpyne of migraines nie, solank jy kan agterkom wat jou pyn veroorsaak, kan jy dit probeer voorkom.

Behandel dit so

Identifiseer die snellers wat vir jou ?pyn verantwoordelik is, soos byvoorbeeld rooiwyn, en vermy dit dan so ?ver moontlik.

Nie alle hoofpyne word deur pynsnellers veroorsaak nie, maar dit kan jou baie help om ’n hoofpyn- of migraine-dagboek te hou. Skryf dan neer wat en hoe laat jy elke dag eet, hoe laat jy ’n hoofpyn kry en hoe lank dit aanhou. Jy moet ook ander moontlike oorsake neerskryf, soos spanning, lang ure agter die stuurwiel of baie tyd voor die rekenaar. Kyk dan of jy ’n patroon kan raaksien.

As jy agterkom ’n sekere aktiwiteit veroorsaak gereeld ’n hoofpyn, kan jy ?dit probeer vermy of ten minste die ?effek daarvan verminder. Doen byvoorbeeld ontspannende aktiwiteite soos joga om stres en spanningshoofpyne te keer, of eet klein hoeveelhede sjokolade as dit hoofpyne aanwakker eerder as ’n ?groot blok op een slag.

Indien jy ’n hoofpyn kry wanneer jy lank bestuur of voor die rekenaar was, het jy moontlik ’n swak postuur. Probeer gemaklik sit – regop, maar effens agteroor, met jou arms ontspanne langs jou sye en jou voorarms wat rus op die tafel, of jou hande in die 10:00/14:00-posisie op ?die stuurwiel. Die stoel moet ook net hoog genoeg wees dat jy reguit voor jou kan kyk en nie jou nek aanhoudend hoef te buig nie.

Middels wat gewoonlik deur epilepsie-lyers gedrink word, help dikwels mense wat meer as twee keer per week erge migraines kry, maar dit werk nie in alle gevalle nie. Onthou, medikasie het newe-effekte en jy moet dit net in uiterste gevalle gebruik – ook pynmedikasie en spierverslappers.

As die pyn jou lewensgehalte gereeld beïnvloed, of skielik ’n ander patroon aanneem soos erger pyn of meer gereelde aanvalle, moet jy ’n dokter raadpleeg aangesien dit ’n ander oorsaak kan hê.     

2. Ek het 'n permanente stryd met sinusitis

Dr. Poens van der Merwe, ’n oor-, neus- en keelspesialis en sinuschirurg van die Neus-en-sinussentrum in ?Kaapstad, sê daar is 14 tot 20 sinus?kanale in die kop, wat by die neus begin en ’n netwerk agter die wangbene en oë vorm, tot so diep as oorvlak. Wanneer die slymvliese in dié kanale aangetas is, het jy sinusitis. Baie ander kanale kan ook aangetas word omdat lug, wat nodig is vir gesonde funksionering van die slymvliese, dan nie behoorlik kan deurvloei nie.

Simptome

Wanneer die slymvliese aangetas is, ?vervaardig hulle oormatig baie slym om die irritante of allergene te probeer wegvoer. Jou slymvliese kan ook opswel ?as gevolg van dié stowwe en teen jou ?septum (skeidingswand in jou neus) ?begin druk, wat hoofpyne veroorsaak. ?Jou neus voel toe en jy kan ook dalk ’n droë mond, toe ore, sooibrand, ’n seer keel en smaakprobleme hê. Jy kan selfs dikwels moeg voel of sukkel om te konsentreer, omdat jy nie genoeg suurstof inkry nie. Soms kan ’n sekondêre bakteriële infeksie ontstaan as die sinusholtes geblok word deur slym, of weens virusse soos verkoues, wat die simptome kan vererger. ’n Dowwe hoofpyn is ’n sinusitis-simptoom, terwyl ’n kloppende hoofpyn kan dui op ’n bakteriële infeksie.

Oorsake

Allergene in jou omgewing soos stof, gras, stuifmeel of dierehare en irritante soos besoedeling is die hoofoorsake van ?sinuskanaal-aantasting. Sekere kosse soos neute, melk, eiers en varkvleis kan ?ook sinusitis by sommige mense ver-oorsaak, maar dis minder algemeen.

Behandel dit so

Vermy allergene, indien moontlik, om ?simptome te verlig. ’n Matras-oortreksel wat jou beskerm teen die miet en stof wat in ’n matras versamel, kan help.

Indien jy die allergene of irritante nie heeltemal kan vermy nie, moet jy jou neus en sinuskanale gereeld met ’n soutwater-oplossing uitspoel. Meng twee teelepels sout en een teelepel koeksoda in ’n koppie water en gebruik dan ’n inspuitingbuis om dit in jou neus op te spuit. Mik na die buitehoek van jou oog sodat jy dit nie net in jou septum vasspuit nie, en doen dit tot ses keer per dag as jy erge simptome het. Dit sal ’n bietjie brand in die begin, maar jy sal dit gou gewoond raak en dit help in alle gevalle – vir babatjies tot 90-jariges!

Vermy medisinale neussproei-middels, wat jou neus kan uitdroog. Vermy ook antihistamien-medikasie en pille vir sinusitis sover moontlik, want dit is nie goed vir jou om dié medisyne op lang termyn te gebruik nie. In erge gevalle kan jy ’n kortisooninspuiting kry om allergiese reaksies te verbeter, solank dit nie gereeld is nie, en jy kan pynpille soos Panado drink vir sinushoofpyne.

3. Ek is gediagnoseer met 'n onderaktiewe skildklier. Wat presies beteken dit?

Dr. Joel Dave, ’n endokrinoloog van Kaapstad wat spesialiseer in skildklierprobleme, verduidelik dié vlindervormige klier, wat in jou keel voor jou lugpyp geleë is, skei hormone af wat verantwoordelik is vir verskeie liggaamsfunksies. Daar is dus ’n wye reeks simptome wat kan voorkom wanneer dit nie behoorlik funksioneer nie. Behandeling is noodsaaklik, want die toestand kan andersins lewensgevaarlik wees.

Die probleem is meer algemeen by vroue as mans, en kan vroue so jonk as ?20 raak, hoewel jou kans daarop toeneem tot en met jou 50’s en selfs later.

Simptome

Indien jy baie sukkel om gewig te verloor, gedurig moeg voel, uitermate koud kry of swaar begin menstrueer, het jy moontlik ’n onderaktiewe skildklier. Ander simptome is ’n ?droë vel, hardlywigheid, depressie ?en deurmekaarheid of vergeetagtig-heid – pasiënte sê soms hul denke ?voel “waserig”.
Onthou dat dié simptome nie net deur ’n onderaktiewe skildklier veroorsaak word nie en dikwels die gevolg is van alledaagse stres, of ander probleme. Al dié simptome sal ook nie noodwendig teenwoordig wees as jou skildklier onderaktief is nie.

Oorsake

Die oorsaak is gewoonlik ’n outo-immuunreaksie, waar die liggaam die skildklier as ’n indringer begin sien en dan teenliggaampies vervaardig om die klier aan te val, wat veroorsaak dat dit nie meer normaal funksioneer nie. Hoekom dit gebeur, is nie duidelik nie. Die skildklier kan ook beskadig word deur byvoorbeeld chirurgie of radioaktiewe behandeling en dan nie meer normaal funksioneer nie.

Behandel dit so

’n Eenvoudige bloedtoets kan bepaal of jou skildklier normaal funksioneer. Dit is noodsaaklik om ’n onderaktiewe skildklier te behandel. Indien jy die simptome ignoreer, kan jou hart, brein, spiere, kolon en lewer beskadig word en erge skildklierprobleme kan lewensgevaarlik wees.

Die enigste behandeling wat help, is hormoonvervangingsterapie (HVT) vir die hormoon wat jou skildklier natuurlik afskei. Beter leefstylkeuses kan ook van die simptome verlig, soos gesonde eetgewoontes om gewig te verloor of hardlywigheid te voorkom, maar dit sal nie die skildklier self beter laat funksioneer nie.

Dis belangrik om jou simptome te beheer, nie net om jou lewensgehalte te verbeter nie, maar ook om ander verwante siektes te voorkom. ’n Hoë liggaamsmassa-indeks (LMI) kan byvoorbeeld tot tipe 2-diabetes lei en mense met ’n onderaktiewe skildklier sit dikwels gewig aan, wat dan tot dié siekte kan lei. Maar as jy jou dieet dophou, oefen en HVT kry, behoort ?dit nie te gebeur nie.

4. Ek sukkel met 'n spastiese kolon (irritable bowel syndrome)

Dr. David Epstein, ’n spesialis-gastroënteroloog van Kaapstad, sê ’n spastiese kolon word nie deur sekere kosse veroorsaak soos baie mense glo nie, maar is ’n toestand waar die ingewande of kolon aanhoudend sensitief is en sekere kosse die simptome dus kan vererger.

Dis belangrik om te weet dat IBS nie gevaarlik is nie en nie lei tot erger siektes soos kanker nie. Jy sal ook nooit chirurgie daarvoor benodig nie.

Simptome

Die drie mees algemene simptome van ’n spastiese kolon is buikpyn, opgeblaasdheid en ’n skielike verandering in jou stoelgang, ?soos diarree of hardlywigheid of afwisseling tussen die twee.

Oorsake

Stres vererger dikwels die toestand, so dis belangrik om jou stres te verminder of ?’n uitlaatklep daarvoor te vind as jy sukkel met IBS.

Behandel dit so

Oefening, veral ontspannende oefening soos joga, kan help. Maar wat ook al jou stresvlakke verlaag, of dit nou ’n massering of ?’n lekkerlag-fliek is, kan help om simptome te voorkom.

Hoewel jou simptome kan verbeter met goeie leefstylgewoontes, verskil ?die behandeling van IBS drasties van mens tot mens. Daarom is dit belangrik om ’n spesialis op die gebied te raadpleeg as jou simptome inmeng met ?jou lewensgehalte.

Sommige mense se toestand verbeter met natuurlike middels soos veselaanvullings of pepermentolie, terwyl ander weer baat vind by medisyne soos lakseermiddels of anti-diarree-medikasie. Pasiënte met baie erge simptome het selfs gereelde lae dosisse pynmedikasie nodig. Tydens ’n erge aanval kan pynpille en medikasie om spasmas te verlig gebruik word.

Jy moet jou dieet ten minste tydelik aanpas wanneer simptome jou kniehalter. Vermy irriterende kosse soos kafeïen, alkohol en speserye totdat jou ?simptome verbeter. Uie en blaargroente, verwerkte kosse, verfynde koolhidrate (soos pasta) en selfs veselryke kosse by sommige mense kan ook simptome vererger. Sommige pasiënte vind dit help ook om meer gereeld, maar kleiner maaltye, te eet (ses klein etes per dag pleks van drie groot etes), omdat ’n mens sukkel om groot hoeveelhede kos op een slag te verteer.

Jou simptome kan mettertyd begin verbeter as jy irriterende kosse vermy en pyn beheer. Daar is ongelukkig geen kuur vir ’n spastiese kolon nie, dus is die doel van behandeling om die impak op jou lewensgehalte te verbeter.

5. Fibromialgie laat my voel asof my hele lyf pyn

Dr. David Gotlieb, ’n rumatoloog van die Constantia-artritiskliniek in die Kaap, sê fibromialgie is ’n neurologiese siekte, waar die brein, rugmurg en die geaffekteerde dele van die liggaam hul seine te maklik en aanhoudend stuur. Om dit beter te verstaan kan ’n mens sê dat dié mense nie voldoende filters het vir al hierdie seine nie en te veel boodskappe dan aanhoudend na die liggaam gestuur word. Jy word ?soos die hasie in die battery-advertensie en voel aanhoudend oorwerk.

Simptome

Nek-, skouer- of laerug-pyn, moegheid, tamheid, probleme met sig, hoofpyne of migraines, IBS en geheue- en konsentrasieprobleme. ’n Algemene beskrywing is dat lyers sê dit voel asof hulle deur ’n bus getref is. Pasiënte sukkel ook dikwels om te slaap en wanneer hulle doen, is dit droomloos.

Dit behoort eintlik ’n maklike diagnose te wees, maar ongelukkig bestee die meeste lyers ’n fortuin voordat hulle kan agterkom wat regtig fout is. Dis omdat die simptome as ’n geheel raakgesien moet word, maar ?baie simptome word aanvanklik afsonderlik behandel – fibromialgie-pasiënte laat dikwels eers hul afsonderlike simptome soos IBS ?of migraines ondersoek.

Oorsake

Dit is nie duidelik wat die oorsaak is nie, maar dit raak meer vroue as mans – veral vroue tussen 30 en 60 jaar oud, en dit is oorerflik. Die meeste lyers is geneties geneig daartoe en ’n stresvolle tyd dien dan as sneller vir die siekte om te ontvlam. Selfs ’n onderbreking in jou normale slaappatroon, soos ná die geboorte van ’n kind, kan genoeg wees om simptome te veroorsaak.

Behandel dit so

Daar is nog nie ’n kuur vir fibromialgie nie, maar die simptome kan beheer word met medikasie soos betablokkers wat die senuwees se seine in erge gevalle blok.

Beter leefstylgewoontes kan ook simptome verlig. Gereelde oefening, selfs wanneer jy baie sleg voel, en genoeg slaap is baie belangrik. Begin ’n roetine van daaglikse oefening, moenie ná 18:00 koffie drink nie en begin ná 21:00 die TV, rekenaars en onnodige ligte of enige steurings afskakel sodat jou liggaam kan begin regmaak om te slaap.

’n Warm stort kan ook help tydens erge aanvalle. Dwing jouself ook juis ?dán om te oefen – gaan stap om die blok, al is dit pynlik. Neem genoeg omega 3-olies en vitamien D as aanvullings, want ’n tekort aan dié stowwe kan simptome vererger. Akupunktuur en gereelde masserings help ook vir sommige pasiënte.

Moenie chirurgie oorweeg nie, want dit kan jou nie help nie en kan moontlik simptome vererger. Vermy ook pynmedikasie, anti-inflammatoriese middels, slaappille ?en antidepressante. Dit help nie en kan ander newe-effekte veroorsaak as jy dit gereeld gebruik. As jy jou leefstyl verbeter en medikasie net gebruik indien nodig, kan jy help voorkom dat fibromialgie jou lewensgehalte verlaag.