WEES INGELIG

Kyk na jou omgewing se stuifmeeltelling (op weer-apps soos AccuWeather) en beplan jou aktiwiteite in die buitelug daarvolgens. Stel vas vir watter stuifmeel jy allergies is met ’n velprik- of bloedtoets. Vermy dit om buite te wees in piek-stuifmeeltye, gewoonlik soggens en saans. Hou deure en vensters in piektye toe.

WINK DIE BUITELUG?

Smeer Vaseline om die rand van jou neusgate om stuifmeel te vang. Of sit ’n masker of bandana oor jou neus en mond. As die stuifmeeltelling baie hoog is, vermy intense oefening. Hoe vinniger jy asemhaal, hoe meer allergene asem jy in.

OP PAD

Skakel jou motor se lugversorger aan 10 minute voor jy ry, verkieslik met die venster oop. Dit help om stof en skimmel in die lugversorgerstelsel te verwyder. Hou die vensters toe terwyl jy ry.

BEPLAN

As jy oorslaap in ’n hotel, pak jou eie hipoallergeniese kussing (of sloop) en matrasbedekking in. Vra vir ’n kamer waar geen rook of diere toegelaat word nie.

VERMY ROOI, GESWELDE OË

Beskerm jou oë in die dag met ’n sonbril. Spoel kontaklense gereeld om van stof en stuifmeeldeeltjies ontslae te raak. (Of dra ’n bril in die allergieseisoen.) Gebruik oogdruppels vir rooi, krapperige kykers.