Weg met daai maag!

Daardie maag is nie altyd van lekker eet nie. Dit kan ook stres, ’n dermkanaal wat kla of jou hormone se skuld wees, skryf SARIE se gesondheidsredakteur, Lydia van der Merwe.

In die September-uitgawe van SARIE ondersoek Lydia die oorsake en oplossings van visserale vet (ingewandsvet om jou maag) - iets wat gevaarlik kan wees vir jou gesondheid.

Sy het onder andere gekyk na maagoefeninge wat kan help met daai maag. Lees die volledige artikel in die September-uitgawe van SARIE - steeds digitaal beskikbaar.

{---}

1) Eetgewoontes

Die regte eetgewoontes is belangriker as ’n goeie oefenplan. En die eerste stap om van hardnekkige vet ontslae te raak. Dit help nie jy oefen dat dit bars en jy eet nie reg nie. As net oefening jou slank gemaak het, hoekom is daar oorgewig mense wat aan die Comrades-marathon en Argus-fietstoer deelneem?

2) Verskeie oefeninge

Net maagoefening gaan nie help nie. Jy moet 3 – 4 keer per week op al jou spiere, en veral die groot spiergroepe, konsentreer. (Soos jou rug, bors, boude en dye.) Funksionele oefeninge is deesdae ’n gonswoord. Dis oefeninge waar jy gelyk verskeie spiere en gewrigte inspan en onder meer spieruithouvermoë, koördinasie, balans, postuur en ratsheid verbeter – dinge wat jou liggaam voorberei op aktiwiteite wat jy elke dag doen. Jou maagspiere kry dan outomaties baie oefening.

(Vir voorbeelde van funksionele oefeninge, besoek FitStrong en SheKnows.)

3) Kardiovaskulêre oefeninge

Kardiovaskulêre oefeninge is belangrik, maar as jy oor en oor dieselfde ding doen, beteken dit nie veel nie. Hou jou lyf aan die raai deur dit af te wissel, bv. draf, stap, fietsry, roei, swem. Wissel ook die intensiteit af.

4) Doelwitte

Stel doelwitte. Jy moet weet waarvoor jy oefen en dit kan meet: ’n Kleiner broekgrootte, ’n foto teen die yskas. Enigiets wat jy kan visualiseer en wat jou gedurig aan jou doelwitte herinner. As jou doelwitte onduidelik is, gaan jou resultate ook wees.

5) Geduld en hou moed

Wees geduldig en byt vas. Daar is nie kitsoplossings nie.

Bron: Jan van Zyl, persoonlike instrukteur by FitStrong in Durbanville

september corne crous corné kim 7de laan

Lees die volledige artikel oor maagvet in die September-uitgawe van SARIE.