Die Naguilklub: Suzanne Smit, Lente Swift en Juanli Theron. Jip, hulle sit ook in dieselfde bootjie as jy. FOTO Salomien Smal Photographer

Uit die pen van Die Naguilklub:

Covid-19-kwarankansie! 

Is hierdie nie eenvoudig die mees eienaardige “verpligte vakansie” ooit nie? ’n Bietjie vakansie, ’n bietjie kwarantyn, ’n bietjie (baie) harde werk, en ’n bietjie “hoe gaan ons hierdie gedoente oorleef?!” 

Of jy ’n Pinterest-, tuisbly-, werkende, semi-werkende, hippie-, beplanning-verlig-spanning-, corporate ladder-klimmer-, bakster- of bloemiste-tipe ma is ... “life as unusual” het ons almal beslis onkant gevang en het ’n paar aanpassings van ons af nodig.  

Daar is fisieke uitdagings wat voorlê: Hoe vinnig jou kinders jou koskas kan leegmaak (regte ruspes, mos), plus die feit dat jy self ook moontlik selfisolasie van jou yskas gaan benodig! Boonop raak die spasie in jou huis by die dag skielik kleiner met jou hele gesin pal onder mekaar se voete en altyd reg agter jou as jy omdraai – dit eindig op getrapte tone, letterlik en figuurlik. Die gevoel van vasgevang wees, dat jy nie kan beweeg of ’n “change of scenery” kan hê nie, dra natuurlik by tot almal se vlakke van frustrasie.  

Tussen irritasie met mekaar, oorstimulasie/te min stimulasie, klein jakkalsies/enorme groot jakkalse soos jy jou huismaats skielik nou heelwat beter leer ken as beplan, gaan dinge dalk soms wild raak. Dis boonop onvermydelik dat die bekommernis oor die mense naaste aan jou, ons land, die finansiële impak en al die “wat as”-scenario’s wat in ons gedagtes afspeel, ’n emosionele tol sal eis.  

So, hoe bly ek as ma dan staande? Die ma is immers die gom, atmosfeerskepper, vredemaker, liefdegewer, versorger, entertainment, broodjiemaker, vlieëvanger, ballonblaser, legkaartbouer, Lego-meester, verfmenger en “keeper of all the snacks and the remote”, alles in een! 

En hoe hou ek my kinders gestimuleer, kalm en gehoorsaam (en verhoed ek die Derde Wêreldoorlog) so konstant in my eie huis? 

Lente: 

Lente Swift en haar twee kinders. FOTO Instagram / Lente Swift

My antwoord op albei vrae is: 20 minunte afgesonderde kwaliteittyd, elke dag, met elke kind. 

My kleuters is op ’n ouderdom waar hulle vreeslik jaloers is op mekaar en soms aspris die wit waks uit die ander een irriteer. Binne die beperkte spasie van ons huis is hulle heeltyd in mekaar se hare en het ons vinnig op ’n punt gekom waar ek heeldag skeidsregter speel. Dis beslis nie goeie kwaliteittyd of ’n opgewekte atmosfeer nie.  

Ek volg nou die afgelope paar dae Lizanne du Plessis, Kaapse arbeidsterapeut en skrywer van die boek Maak gelukkige kinders groot, se raad en spandeer so vroeg as moontlik in die dag tyd alleen saam met elke kind. ’n Bietjie “mammatyd”, waar hulle die spel lei, my onverdeelde aandag het, en my foon af is.  

Dit werk soos ’n bom! Dis asof hul tenkies dan vol is, hul hartjies tevrede, en dan verloop die res van my dag sommer 300% gladder. Hulle hang nie heeltyd aan my nie, loop en kerm nie, speel baie beter saam, en ek kan hulle selfs vir rukkies los om alleen te speel (terwyl ek dan tyd kry vir myself en ’n kas regpak, ’n tydskrif lees of my naels verf). Wen-wen-situasie, beslis. (Bonus: Dit beveg ook sommer my skuldgevoel vroegoggend al!) 

Suzanne: 

Suzanne Smit en haar gesin. FOTO Instagram / Suzanne Smit

Om jou sanity te behou, maak tyd om met jouself in te check, al is dit net ’n paar minute elke dag. Haal diep asem en vra jouself: 

1. Hoe voel ek? Wat gee my energie? 

2. Wat werk/werk nie? 

3. Wat kan ek verander? 

(Vraag 2 en 3 is nie net op jouself gemik nie, maar ook op julle as gesin en hoe julle in hierdie unieke omstandighede funksioneer.) 

Soos jy, gaan jou kinders opgeboude energie hê waarvan hulle ontslae sal moet raak. En in die afwesigheid van fietsry en stap is my beste raad om sommer tuisoefenvideo’s vir kinders op YouTube te speel om lekker te beweeg (kyk veral uit vir die Popsugar Fitness-video!). As dit kan, doen dit buite op die grasperk met vars lug en doen die bewegings sommer saam met die kinders. Dis lekker lawwe pret saam en verbrand heerlik energie.  

Juanli: 

Juanli Theron en haar twee kinders. FOTO Instagram / Juanli Theron

Wanneer angstigheid begin posvat, maak ek ’n gewoonte daarvan om realisties introspeksie te doen oor die dinge wat ek kan/nie kan beheer nie. As ek iets daaraan kan doen, sit ek dit op my doenlysie. As dit buite my beheer is, laat ek dit gaan. Daar is so baie dinge wat in hierdie tyd om ons aandag gaan meeding. Kom ons kies om slegs ons energie te skenk aan daardie dinge wat werklik belangrik is (of verander kan word). En haal gereeld, alleen en saam met die kinders, dieeeeep asem. 

Wanneer die frustrasievlakke dan dalk (weer) die hoogte inskiet, onthou dat kinders nie “beheer” kan word nie. Hulle gaan nié goeie kollegas wees nie. En daar’s geen Menslike Hulpbronne om hulle by te verkla nie, helaas ...  

Laat enige fantasieë oor Pinterest-perfeksie gaan en verlaag jou standaarde. Laat die fokus op pret wees! Dit is immers hierdie oomblikke waaraan jou kinders sal kan terugdink wanneer hulle eendag die storie van corona aan hul kinders vertel. 

**** 

Die impak van Covid-19 en ons hantering en ervaring daarvan is vir elkeen van ons ’n unieke uitdaging. En elkeen van ons emosies daaroor is ewe waar en geldig.  

Ma’s se “mental load” was nog nooit swaarder as nou nie. Dit is dus in hierdie tyd meer belangrik as ooit tevore om genade en liefde eerste vir jouself te hê. Gee van jouself uit ’n plek van oorvloed, nie uit ’n plek van tekort nie. 

En luister na die lugwaardinne: Maak eers seker jy is okei (en jou suurstofmasker sit stewig) en dan sal jou gesin ook meer okei wees. 

Hulpbronne vir ma 

Ons deel graag ’n paar oulike hulpbronne, net ingeval jou idees (soos ons s’n) dreig om op te raak: 

- Just a Mamma se 60 ouderdomsgepaste aktiwiteite met ’n oulike roetine: 

Klik hier.

- Storieman op YouTube: 

Klik hier.

- OtherGoose.com se gratis toetsperiode van hul tuisonderrigkurrikulum: 

Klik hier.

 - My Klaskamer het gratis hulpbronne: 

Klik hier of hier.

- Luistervink gaan vir die volgende vier weke elke dag ’n nuwe gratis storie op hul tuisblad wys: 

Klik hier.

- En as die alewige gesoebat vir eetgoed jou teen die mure uitdryf, oorweeg ’n snoepiestelsel. 

Laat jou kinders Monopoly-“geld” verdien deur huistakies te voltooi*, waarmee hulle dan happies by die snoepie kan koop (wat ook net op sekere tye oop is). Sodoende kry jy ’n (tydelik) netjieser huis én die kinders leer die waarde van werk vir geld. 

* Dankie aan Mandie du Plooy Baard by wie ons hierdie lekker idee gesien het!

FOTO Facebook / Die Naguilklub

Soek jy nog Die Naguilklub-wenke?

Volg hulle op Facebook, Instagram of besoek hul webtuiste.