Een vrou se 30 dubbelafsprake voor 30? Voor jy jouself kan keer, dink jy: Dié vrou is baie avontuurlik of sy’s hopeloos desperaat . . .

Dina Jooste (27) kom by ’n koffiewinkel in Tuine, Kaapstad, aan. Nie ’n vrou wat ooit ’n tekort aan manlike geselskap kán hê nie, dink jy, want sy versinnebeeld skoonheid. Sy’t groot groenbruin oë, ’n perfekte lyf, ’n hartlike lag én sy’s intelligent. Sy het immers ’n honneursgraad in drama en sielkunde en is deesdae betrokke by vryskutprojekte in die vermaakbedryf.

Dit was haar vriendin Mia se idee om voor haar 30ste verjaardag 30 afsprake elk (en saam) in 6 maande in te pas. Mia, sien ’n mens op ’n foto, is net so mooi en lenig en perfek gegrimeer. Op 29 het sy besluit dis nou of nooit. Maar sy wou nie alleen “die projek” aanpak nie en het boonop verklaar: “As ek hierna nog nie ’n man ontmoet het wat by my pas nie, bestaan daar nie so iemand nie.”

Hoekom het Dina saamgegaan? “Ek het besluit ek het niks om te verloor nie. As ek saamgaan, sou
dit Mia moed gee en ek sou meer oor mans en ook hul persepsies oor vroue kon leer.”

Op 30 fokus die meeste vroue op hul loopbaan, sê Dina, maar sy kom agter dat haar alleenloper-vriendinne dan wakker skrik en dink hulle gaan dalk eendag alleen wees. Op 27 voel sy nog glad nie so nie, al was sy meer as ’n jaar laas in ’n verhouding.

Dina beskryf haarself as ’n ekstrovert wat waaghalsig is en lief is vir pret. Maar, sê sy beslis, “ek wil nie hê ander moet my as ’n nar sien nie. Dit was regtig net ’n avontuur.”

Het sy tog gehoop sy ontmoet Meneer Reg? “Dit het deur my gedagtes gegaan, ja.” En tog, reken sy, is dit nie moeilik om ’n ordentlike man te kry nie.

“Vandag se vroue soek net meer as ordentlik. Vir my moet hy iemand wees wat sal kan inpas op ’n familiebegrafnis. Ek moet hom ook na ’n klein dorpie toe kan neem en steeds die beste tyd kan hê, net omdat ons saam daar is.”

Wat ís dit wat mans na vroue aantrek en vroue na mans? wonder sy en verwys na Getting the Love You Want (Holt Paperbacks, 2008) deur dr. Harville Hendrix, ’n Amerikaanse verhoudingsterapeut. Daarin verduidelik Hendrix aantrekkingskrag vanuit ’n evolusionêre perspektief: ’n Man soek ’n vrou met ’n gladde vel, helder oë, blink hare, ’n goeie beenstruktuur, rooi lippe en rosige wange – eienskappe wat jeug, gesondheid en vrugbaarheid versinnebeeld.

Vroue is meer aangetrokke tot ’n man wat ander sal kan domineer (survival of the fittest) eerder as
skoonheid en jeug, sê dié teorie. Dit is dus taamlik eenvoudig: ’n Vrou dink ’n suksesvolle man is aantreklik en jy as vrou moet jonk en mooi bly as jy geliefd wil wees. Maar is dit regtig so eenvoudig? het sy gewonder.

Dit was nie moeilik om 30 gewillige mans, wat elkeen ’n vriend moes saambring, te vind nie, vertel sy. Hulle was vriende van vriende, ou Facebook-vriende met wie sy en Mia kontak verloor het of ouens uit hul verlede.

“Soos die skaam studente destyds. Toe het ons net nie moeite gedoen om hulle beter te leer ken nie.”

Die twee vriendinne het die mans gebel of per e-pos uitgevra, ander kere was daar spontan ontmoetings. Alles binne net ses maande!

Hulle het in openbare, veilige plekke ontmoet, soos restaurante, wynfeeste en dansplekke. “En nooit saam met hulle in die motor geklim nie.”

Só het Dina se storie sy loop gekry . . .

Sal jy met my op ’n date gaan?’

Hierdie vraag kan ook op ander maniere gestel word, maar dit bly steeds moeilik. Nou weet ek waardeur mans gaan. Want nadat jy die vraag gevra het, dink jy: Is ek fassinerend genoeg dat hy sal ja sê?

Boonop is daar die kans om verwerp te word of om jou hart te verloor . . . Om te dink ek het destyds dikwels agteraf gelag vir sommige ouens wat my wou uitvra!

Ek en Mia het ons eerste metgeselle toevallig een aand ontmoet toe ons saam met vriende by ’n kuierplek was. Dié aand het ’n man vir my ’n baie vervelige uitleg van sy plaas gegee en gespog oor sy erfporsie. Ek wou net so gou moontlik wegkom.Terwyl ek uitgeput ’n slukkie wyn neem, hoor ek ’n manstem met ’n besondere aksent. Met die opkyk, sien ek Zaza, ’n aantreklike Hongaar. ’n Moulose truitjie pas netjies oor sy goeie lyf en hy het mooi, breë wangbene. Hmmm, dink ek . . .

Ons gesels toe heerlik oor dieselfde boek, Shantaram [deur Gregory David Roberts], wat ons toevallig albei lees. Dis toe ek en Mia besluit om Zaza en sy vriend, Roley, as ons eerste double date uit te vra.

Ongemaklik, uitgevat en opgewonde kom ons by die restaurant aan. Lipglans, leerstewels en ons
ruik so lekker. Die manne wag toe al honger langs die kroegtoonbank. Roley, Zaza se effens stewiger vriend, vertel gretig van al die lekker geregte op die spyskaart. Hy bestel toe ook dadelik ’n klein bordjie groente.

Ons het net gaan sit, toe laat gly Mia haar hand verleidelik tussen Roley se bene in. Haar verduidelikings dat dit regtig ’n ongeluk was, was baie snaaks. Almal het gelag en ek het besef humor is internasionaal.

Toe ons geregte kom, kry Roley net sy groente. Die kelner dog dis al wat hy wou hê. Toe’s die kombuis ook nog gesluit! Hierna was ek nog vuur en vlam vir ons projek, juis omdat Zaza en Roley
sulke aangename ouens was. Maar ek het besef dat nie alle afsprake so kon wees nie.

En ek was reg. Ek kan tot vandag toe nie besluit wat die slegste afspraak was nie: Die een met die man wat nie kon ophou om oor homself te praat nie, of die ou wat heelaand nie ’n woord gesê het nie . . . Die spogter het alles wat ek gesê het, verdraai en in ’n kompliment aan homself verander.

’n Ander aand het my verleë gelaat: Mia is ouer as ek en vra toe ’n man uit wat ’n paar jaar ouer is as sy. Dié man nooi toe twee ouens saam wat selfs ouer is as hy. Ek het die hele aand gesukkel om met dié twee (ja, twéé) Marokkaanse aandeelhouers van ek skat oor die 40 te kommunikeer.

Boonop het ek heelaand die gevoel gekry dat hulle my graag as bruid sou wou koop. Byna net so verleë was ek toe net een ou pleks van twee opdaag. Ons sou hommoes ‘deel’. Ek lei toe vinnig af dat die man al jare lank verlief is op Mia. Daar sit ek toe en luister hoe die twee mekaar weer vind.

Ek wou nog nooit vinniger vlug as die keer toe ’n Argentynse model my metgesel was nie. Hy was ’n regte name-dropper. Hy het sy lang stories afgesluit met ’n uitklopreël soos: ‘Toe herken prins Albert my.’Of: ‘Toe glimlag Charlize Theron vir my.’

Daarna het ’n vriend beloof hy het ‘die perfekte ou’ vir my. Ek was nuuskierig. Hoe sou hierdie wonderlike ou lyk en wees? Maar toe sê hy heelaand skaars ’n woord en wanneer hy wel gepraat het, was hy kortaf.Wat het deur my vriend se kop gegaan? Van Mia se soesji wat sy daardie aand wou huis toe neem, het niks oorgebly nie. Die nare man het alles opgeëet!

Ná sowat 20 afsprake kón ek nie meer nie. Ek het gewens ek was eerder ’n mollige tiener wat ongemaklik na ouens loer en wonder hoe ’n eerste afspraak sou wees.

Ná nommer 30 was ek totaal uitgemergel. Ek het vir Mia gesê ek wil nooit weer uitgaan nie, net
by die huis sit en DVD’s kyk en warmsjokolade drink.

In die algemeen was ons metgeselle baie sjarmant. Ek dink ook met mooi herinneringe terug aan die lekker tye. Soos toe ons by ’n wynfees onder ’n tafel ’n gaatjie gekry het om met oesters en vonkelwyn piekniek te hou.

Of toe my metgesel my sommer net daar in die restaurant gevra het om te dans. Daar was ook die keer toe ’n ou sy kitaar in die eetplek uitpluk en uit volle bors vir ons begin sing . . .

Ek moet darem sê Suid-Afrikaanse mans het baie goeie maniere. Hulle maak nog deure oop en trek stoele vir jou uit.

Maar so ’n vinnige ge-date bly maar onnatuurlik. Jy leer later presies wat om te sê om ’n positiewe reaksie uit te lok en hoe om ’n spesifieke beeld van jouself uit te straal. Selfs jou glimlag begin aangeplak voel. En tog het ek baie uit die gesprekke geleer: Soos hoe om ’n volstruis te vang, wat aktuarisse se werk behels en dat Argentynse manne meestal eenvoudig voorbarig is.

Ek het ook geleer ek kan myself wees in enige situasie en oral aanpas. En dat ek soms mense onderskat. Baie ouens het my met hul veelsydige gesprekke verras. Vir mans gaan alles oor ego, het ek ook besef. Laat hom goed voel oor homself en jy het die beste aand ooit.

En aan mans wil ek sê: Vroue kom agter as julle ons probeer beïndruk. Soos ek met toneelspel geleer het: Don’t act the part, be the part. Luister na ons. En lag vir ons stories, eerder as om ’n beter een uit te dink terwyl
ons praat!

Byna almal met wie ons uitgegaan het, het ons weer uitgevra en ons het vriende met die meeste geword. Zaza was al een wat my maag laat fladder het. Ek het homweer gesien en geleer dat ’n mens nie net die beste vir jouself kan gryp nie. Sommige mans behoort nie aan jou nie,maar aan iemand anders – soos Zaza aan ’n meisie in Hongarye wat beter by hom pas. Dit sou net selfsugtig wees om dit nie te besef nie.Om aangetrokke te voel tot iemand beteken tog nie noodwendig hy is vir jou bedoel nie . . .

Daar was ’n hele paar aantreklike mans. Dit was lekker om soms na een te kyk wat nie myne sal wees nie, sy manslyf naby my te ervaar, sy oë te sien wat alles van my soos ’n spons inneem en hoendervleis met sy aanraking te kry. Ek het besef dat die oomblik dalk al is wat daar was.

Miskien is hierdie warrelwindmanne soos Roley se porsie groente. Jy kry wat jy bestel, maar dis net ’n voorsmakie van hul ware persoonlikheid. Want dis eers later, wanneer hulle nie weet jy kyk nie, dat jy belangrike dinge sal raaksien. Soos as hy ’n ou tannie oor die straat sou help . . . Ja-nee, die evolusieteorie geld nie altyd nie.

Ná 30 afsprake het my vriendin behoorlik moed opgegee dat daar ooit ’n man vir haar sal wees. Op ’n partytjie daarna, waar gesprekke haar verveel het, het sy koue vonkelwyn in die kombuis gaan skink. En haar vinger in die yskasdeur vasgeslaan.

Net daar kom al haar opgekropte gevoelens toe na vore. Sy huil oor haar seer vinger, die frustrasie van uitmergelende afsprake en veral oor die man wat sy nooit ontmoet het nie. Soos sy daar ineengestort sit, voel sy ’n man se sagte, ferm hand wat ys op haar vinger sit.

‘Is jy oukei?’ vra hy. Vandag is hulle ’n paartjie. Soos die uitdrukking lui: Jy kies nie altyd jou lewe nie, jou lewe kies jou.