Tagtig persent van die geluk wat jy op aarde beleef, het te make met die sukses wat jy met jou verhoudings ervaar.

Dít is die wyse woorde van Brian Tracy, ’n Amerikaanse motiveringspreker. Ronel du Toit, ’n sielkundige verbonde aan die Universiteit van Pretoria se departement studente-ondersteuning, sê telkens in haar werk word sy daardeur getref dat veral jongmense worstel met probleme wat uit verhoudings spruit.

“’n Gevoel dat jou lewe nie sin of betekenis het nie, gemoedsversteuring, angs, depressie, spanning en selfs hoofpyn is dikwels uitvloeisels van verhoudingsprobleme. Hoe meer ek hieroor begin dink het, hoe meer wou ek riglyne gee om ’n beter greep op verhoudings te kry.”

Dit het uiteindelik gelei tot haar boek Verhoudings onder druk: 13 beginsels wat maak dat verhoudings slaag of misluk*.

Drie jaar gelede, toe sy met navorsing vir dié boek begin het, het twee van haar seuns ook getrou. Dit is toe dat sy haarself afvra: “Is hulle toegerus vir dié groot stap?” Die ouerhuis is immers ’n soort “laboratorium in die kleine” vir die volwasse lewe.

In haar navorsing het sy gevind studente wat die moeilikste aanpas, is veral dié wat sukkel om uit te reik en alleen is. “Jy moet vir hulp kan vra en leer om met ’n groot verskeidenheid mense oor die weg te kom om gelukkig te wees. Die invloed van die belangrikste verhoudings in jou lewe laat jou op die wipplank van geluk en ongeluk ry.”

Sy beskryf verhoudings as ’n soort “dans”. “Albei partye moet gesinchroniseerd wees – op dieselfde ritme dans. Soms lei die een, en die ander volg. En omgekeerd. Soms trap die een op die ander se tone, dan tree een terug. Een maak verskoning en die dans gaan voort. Dit is ’n fyn kuns van gee en neem en verg oefening.” Dink maar aan die baldanse op televisie – dit gebeur nie sommer eensklaps dat die man en vrou ingewikkelde voetwerk kan doen en hy haar omtol in haar asemrowende rok nie.

Ronel beklemtoon: “Daar is geen resep vir ’n goeie verhouding nie, want geen twee mense is dieselfde nie. Elke mens se ervarings, behoeftes en verwysingsraamwerk verskil. Ons kan wel leer om dinge reg te bestuur – wát en hóé ons dinge sê, en ons liggaamstaal kan die regte boodskappe oordra. En dít kan die band tussen twee mense beïnvloed.”

Buiten die gewone uitdagings, stel ’n Derdewêreldland soos Suid-Afrika unieke uitdagings aan verhoudings. Geweld, misdaad, werkloosheid, onsekerheid oor die politiek, elf landstale wat dikwels verwarring veroorsaak – alles speel ’n rol. “Ons moet ruimte maak vir mekaar se verskille en minder veroordeel. In ’n patriargale samelewing soos Suid-Afrika leer baie jong meisies nog pa is die broodwinner, sterk en slim, en ma is gaaf en mooi. Later in hul lewe kan dit groot probleme skep.”

Jare lange ervaring het haar oortuig dat 13 beginsels tot gelukkige maats in ’n gesonde verhouding lei: kommunikasie, empatie, jou rol in die verhouding, konteks (hoe dra jy die boodskap oor?), afstand en nabyheid (hoe onafhanklik/afhanklik is julle van mekaar), wedersydse beïnvloeding (jou rol in die lekker of sleg van die verhouding), aanvaarding/verwerping, behoeftebevrediging, erkenning, selfbestuur, aanpasbaarheid, emosies en konflik.

Sy meen as jy dié beginsels by jou lewe inweef, kan jy moontlike probleme uitstryk of voorkom en gesonder en gelukkiger maats wees. “Ouers sal dit ook kan gebruik om hul kinders te leer om verhoudings reg aan te pak.”

Hoewel al 13 belangrik is, sonder Ronel dié vier beginsels uit:

1. Kommunikasie

Wat is duidelike kommunikasie?

Wanneer jou boodskap duidelik verstaan word en die ontvanger jou as opreg beleef. Dán is hy/sy ontvanklik om te kommunikeer.

Wanneer is daar ’n probleem?

  • As jy voel iemand “hóór” jou nie. “Ek is so gefrustreerd by die werk, niemand verstaan my nie.” (Jou maat: “Ag, almal voel soms so.”)
  • Wanneer jy “veroordelende” versoeke rig. “Jy het seker nie lus om winkel toe te gaan nie, jy wil seker rugby kyk?” (Hy hoor kritiek.)
  • As jy onsamehangend en langdradig praat en iemand belangstelling verloor.
  • As daar gereeld misverstande is, praat julle by mekaar verby. Dit gebeur dikwels met digitale kommunikasie, soos per WhatsApp of e-pos, wanneer daar nie direkte kontak is of gesigsuitdrukkings of liggaamstaal om op te reageer nie.
  • As iemand “betigtigend” is, kan dit tot géén kommunikasie (onttrekking) lei.

Onthou:

Kommunikasie skep die emosionele klimaat in ’n verhouding. Die gevaarligte moet flikker as julle byvoorbeeld gereeld kwaad, verwerp, misverstaan of onbelangrik voel, of julself wil verdedig. Of as daar dikwels ongemaklike stiltes is.

Moontlike oplossings

  • Kommunikasieprobleme skep konflik en om dit op te los moet jy kommunikeer. Moenie dit ignoreer nie.
  • Hanteer een probleem op ’n slag. Wees spesifiek. Moenie ou koeie uit die sloot grawe nie.
  • Gebruik ek-boodskappe sodat jy nie krities klink nie. “Ek voel soms jy dink ek is klaerig, maar eintlik wil ek net stoom afblaas en ’n drukkie hê.”
  • Pasop vir afleidings maak. “Jy is nou al die afgelope maand elke naweek besig, het jy ’n skelmpie?”
  • As jy oor ’n probleem wil praat, byvoorbeeld jou man se gewig wat handuit ruk, sê dalk: “Ek dink ons moet ’n bietjie gesonder begin eet en oefening doen.” Daar is krag in “ons”.
  • Wees opreg. Dit help nie jy gebruik mooi woorde en jou oë blits nie.

2. Empatie

Wat is dit?

Julle wil mekaar se wêrelde verstaan en sensitief wees vir die ander een se manier van dink, verwysingsraamwerk en persoonlikheidstipe. Leer om jou in sy/haar skoene in te dink.

Wanneer is daar ’n probleem?

Voorbeelde

  • Wanneer jy sê jy het niks om aan te trek vir ’n sekere geleentheid nie en hy vra hoekom verloor jy nie net gewig nie. “Daar is ’n hele kas vol klere waarin jy sal pas.”
  • Wanneer sy dit as “niks” afmaak as hy sy hare verloor.
  • As hy anderpad kyk as jy begin huil.
  • Wanneer hy jou geïrriteerd aankyk as jy kla oor ’n ma in die oueronderwyser-vereniging wat jou beledig het – en voorstel jy bedank uit die vereniging.

Onthou:

Die gevaarligte moet flikker as een van julle té gereeld emosioneel ver van mekaar af voel. As jy voel jou maat verstaan jou nie, bevind jy jou in ’n niemandsland, waar jy nie kán of wil deel nie.

Moontlike oplossings (vir die voorbeelde)

Om empatie te ontvang, moet jy dit uitdeel. Hy weet waarskynlik nie wat om te “maak” met jou ongemak nie. Sy eerste “oplossing” is om die klere-situasie uit te stryk. Haar “oplossing” om hom beter te laat voel oor sy hare, is om dit as “niks” af te maak. Gebruik ’n ek-boodskap en sê: “Ek wil hê jy moet verstaan waardeur ek gaan. Ek voel nie lekker as jy dadelik ’n oplossing vir die probleem soek/anderpad kyk/dit as onbenullig afmaak omdat jy dalk nie weet hoe om dit te hanteer nie. Ek sal graag met jou oor die probleem praat. Miskien kan ons dan saam oplossings vind. Maar ek het eers nodig om te ontlaai.” Nou wéét hy/sy hoe jy voel.

3. JOU ROL IN DIE VERHOUDING

Is jy die leier of die volger?

Is julle vennote, of is daar ’n magstryd?

Wanneer is daar probleme?

Die grootste probleem duik op tydens ’n magstryd. Daar is afgebakende rolle vir leier, volger en vennote. In patriargale huishoudings is die man die leier. Hy is byvoorbeeld die broodwinner en neem die groot besluite. Die vrou sien om na die huissake en kinders en ondersteun haar man. (Sien ook kassie “Die nuwe, sterk vrou”.) Deesdae is die man en vrou dikwels vennote. Daar is nie sulke sterk “rolle” nie. Albei werk en dra by tot die huishouding se begroting en die kinders se opvoeding. In ’n magstryd voel een party “verlam” deur die maat se beheer. Frustrasie bou op. Verskeie wapens word ingespan deur die verontregte – kritiek, vergelykings. Stilstuipe, en beskuldigings. Emosionele afstand ontwikkel en dikwels raak mense so moeg vir die “toksiese verhouding” dat hulle dit beëindig.

Moontlike oplossings

  • Lê jou wapens neer.
  • Gebruik ek-boodskappe soos: “Ek kry swaar. Ons is besig om mekaar te vernietig. Ek wil jou vennoot wees en nie deur jou oorheers word of jou oorheers nie. Kom ons maak ander reëls vir ons verhouding.”
  • Gee dit ’n kans.
  • As dit nie werk nie, klop aan vir hulp by kundiges.

4. Behoeftes

Hoe dra jy jou behoeftes oor?

Duidelik, sonder om voorskriftelik te wees. Niemand kan lees wat in jou hart of kop aangaan nie. Noem dinge op die naam. Albei partye moet gemotiveerd voel om minstens aan mekaar se minimum behoeftes te voldoen. Behoeftes kan wissel van vriendskap, erkenning, geldelike ondersteuning, praktiese hulp in en om die huis, aanraking en seks ... Die lys is lank. Navorsing bewys verhoudings slaag slegs as maats se minimum behoeftes vervul word, sê Ronel.

Wanneer is daar probleme?

Wanneer jy voel die meerderheid van jou behoeftes word nie bevredig nie en jy voel die verhouding dra niks by tot jou lewensgehalte nie.

Onthou:

Die gevaarligte moet flikker as jy wrewelrig teenoor jou maat voel, hom/haar vermy of minderwaardig en geïsoleerd voel.

Moontlike oplossings

  • Maak ’n afspraak, vertel hom/haar wat pla en speel oop kaarte. Moenie probleme “versuiker” nie.
  • Manipulasie werk nie. Dit help byvoorbeeld nie jy weier om seks te hê omdat hy nie help met die huishouding nie.
  • Doen moeite om mekaar se behoeftes raak te sien. Jy kan nie besluit jou maat se behoeftes is geldig of nie.
  • Aanvaar hom/haar onvoorwaardelik.
  • Gebruik ek-boodskappe om te “onderhandel”: “Ek voel verneder as jy my beledig voor die kinders.”

Wenk:

Jong verliefdes moet let op hoe hul maat hulle aanvanklik hanteer. As hy jou knaend disrespekteer, stel jou grense of laat spaander.


Die nuwe sterk vrou

Wat baie vroue deur die jare in die patriargale stelsel ervaar het, ervaar mans nou met die sterk matriarg, sê Ronel.

“Dit stel bepaalde uitdagings aan verhoudings. Net soos tuisblyma’s in die verlede dikwels nie genoeg erkenning vir hul waardevolle rol as kinderopvoeders en bestuurders van die huishouding gekry het nie, kry huismans dit ook nie altyd nie. Maar hul vroue sou nie hul dinamiese loopbaan sonder hul mans gehad het nie.”

Ons lewe in ’n era van geslagsgelykheid en vroue kan dieselfde beroepe beoefen as mans. “Selfs bevryde mans sukkel soms om dit te verwerk, en dit kan tot minderwaardigheid lei. Skielik is hy nie noodwendig die broodwinner nie.

Vroue in gesagsposies by die werk sukkel soms om tuis hul ‘leierskapsrol’ af te skud en wil hul man en kinders ook soos werknemers hanteer. Hulle gebruik moontlik ’n gebiedende stemtoon en is krities.

Dié vroue moet sensitief wees om nie hul mans só te vervreem nie, of toelaat dat hul kinders mans in ’n swakker lig as vroue beskou nie. As hulle eerder fokus daarop om vennote te wees, sal dit baie konflik voorkom,” meen Ronel.

Verhoudings onder druk: 13 beginsels wat maak dat verhoudings slaag of misluk deur Ronel du Toit (Uitgewer: Christel Foord, R200)