Jy’s pas getroud, vol ideale en idees oor hoe jul huwelik gaan wees. Maar gooi sommer by voorbaat al daai mites oorboord. En pak jul verhouding nuut aan.

Vind nóg mites oor die huwelik in die Mei-uitgawe van SARIE – op die rakke tot 11 Mei.

Mite 1: As ons eers getroud is, gaan ek my man verander

As jou man nie voor jul huwelik bereid is om aan ernstige probleme te werk nie, sal hy nie sommer ná die tyd verander nie. ’n Dwalende oog is byvoorbeeld ’n gevaarlig, sê Anna-Marie Koen, Bolandse sielkundige. "Ernstige probleme moet reeds voor die huwelik deurgewerk word."

Dié mite dikteer ongelukkig dat ’n verhouding- of persoonlikheidsprobleem uitgestel moet word, reken Hugo Theron, sielkundige van Welgemoed, Kaapstad. "Maar die beste tyd om daaraan te werk is nóú." As daar ’n ernstige probleem haper, soos mishandeling of ’n buite-egtelike verhouding, vra dadelik "wat kan ons verander?", of "wat kan ek verander om die verhouding te laat groei?". Jy kan buitendien net jouself verander.

Hanli van der Westhuizen, sielkundige van Waterkloof, Pretoria, sê hierdie mite sal beslis ’n effek op vertroue hê: "Want jou man kry nie voor die troue die kans om ’n realistiese beeld van jou, jou verwagtinge en jou behoeftes te vorm nie." Voor die huwelik is daar ’n subtiele "kontrak" tussen julle en dis op grond van dié verstandhouding dat julle besluit om te trou. As jy dan ná die troue probeer om jou man te verander, of jy voel jý moet verander, verbreek julle dié vertrouenskontrak. Dis onregverdig en stuur op rampspoed af, sê sy.

Mite 2:  Moenie kwaad vir mekaar gaan slaap nie

Prakties gesproke is dit byna onmoontlik, sê Anna-Marie. "Ons is feilbare mense wat van tyd tot tyd (baie) kwaad raak vir mekaar. Soms is dit beter om eers die volgende dag, nadat albei tyd gehad het om oor die konflik of verskil na te dink, daaroor te praat."

Die tydsberekening vir moeilike gesprekke wat tot verdere konflik kan lei, is uiters belangrik, beaam Hugo. Wanneer jy uitgerus is, funksioneer jy emosioneel optimaal en kommunikeer julle soveel beter. So nie, kan een van julle in ’n oomblik van woede kwetsende dinge kwytraak, waarsku Anna-Marie.

Die kans is ook daar dat die een wat slaap die nodigste het, om verkeerde redes sal ingee, reken Hanli. "Julle sal só nie by sinvolle oplossings uitkom nie."

Een het dalk tyd nodig om af te koel, terwyl ’n ander een sukkel om die onsekerheid en angstigheid wat verskille meebring, te lank uit te stel. Só iemand sal sommer vinnig wil vrede maak, bloot om van ongemaklike gevoelens ontslae te raak.

Laat liewer ruimte vir albei om binne jul konflikhanteringstyle die beste bydrae moontlik te kan maak, sê Hanli. Die een wat tyd nodig het, kan byvoorbeeld sê: '"Jy weet mos ek neem langer as jy om emosioneel te bedaar en my gedagtes georden te kry. Kan ons liewer môre, so middagete se kant, hieroor praat? Ek is beslis nie nou kalm nie... Is dit reg so? Ons móét hierdie issue oplos."

Ons kenners is dit eens dat julle wél uiteindelik oplossings moet vind sodat julle begryp waar die emosies of verskille vandaan kom. ’n Sinvolle bydrae van elkeen is krities om mekaar te kan verstaan.

KLIK HIER vir nóg mites