Baie van ons is spyt oor dinge wat ons nooit gedoen het nie. ’n Verpleegster wat met sterwendes werk, het vyf dinge op die internet gedeel waaroor mense veral berou het. Dié insigte laat ons almal weer dink oor ons lewe.

As die gordyn finaal oor jou lewe sak, kan jy maar net hoop jy kyk terug op ’n ryk, vol lewe. En dat die dinge waaroor jy jammer is, verreweg in die minderheid is. Bronnie Ware, ’n Australiese verpleegster, het jare lank berading gegee aan sterwendes met net nog enkele weke oor om te leef. Sy het toe 'n boek geskryf The Top Five Regrets of the Dying (Balboa Press, 2011). Daar is ’n les in vir elkeen van ons. As ons die regte keuses maak, kan ons met vrede in ons hart sterf, sê Bronnie. Maar hoekom doen ons dit nie? Wat keer ons? En hoe oorbrug ons dit? Ons kenners lewer kommentaar op die vyf grootste versugtinge wat mense in hul laaste dae uitgespreek het.

1. Ek wens ek het die moed gehad om ’n lewe getrou aan myself te leef, nie die lewe wat ander van my verwag het nie.

James de Villiers, sielkundige van Kaapstad, gee wenke:

- Maak gereeld tyd vir meditasie, stil-word of stilgebed (word stil en luister) om van jou “ware self” bewus te raak.

- Maak aantekeninge van gedagtes wat tydens en direk ná hierdie stiltetye by jou opkom. Neem dit ernstig op.

- Vra jouself af waarvoor jy graag onthou sal wil word. Fokus jou lewe daarop.

- Maak ’n kort lys van dinge wat jou lewe betekenis sal gee. Dalk ’n verandering, of ’n eerlike gesprek met iemand wat jy uit vrees vermy.

- Herinner jouself daaraan dat jy verantwoordelik is vir die respek waarmee jy ander mense behandel, maar nie vir hul geluk nie.

2. Ek wens ek het nie so hard gewerk nie.

Dr. Alida Herbst, senior lektor in maatskaplike werk aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus, gee wenke:

- Balans tussen jou werk en persoonlike lewe is ’n daaglikse keuse. Werkgewers het deesdae groter begrip daarvoor en jy moet daaroor onderhandel. Aanpasbare werkure kan jou help om byvoorbeeld jou kind se sportwedstryde by te woon.

- Soms moet jy bloot jou roetine verbreek en iets impulsiefs saam met ’n vriendin of geliefde doen. Dit is dikwels klein vreugdes, soos om saam met jou kind te gaan stap, wat regtig saak maak. En dit vra dalk nie eens soveel tyd nie.

- Gebruik jou jaarlikse verlof en beplan vakansies saam met jou geliefdes wat herinneringe skep en verhoudings verstewig.

- Geliefdes meet liefde selde aan materiële dinge, maar aan tyd. Maak doelbewus tyd om saam met jou lewensmaat belangstellings buite die werk te ontwikkel. Leer dans, reis of skep daaglikse rituele soos om saam in die tuin koffie te drink. Teken belangrike gebeure in jou kind se lewe in jou dagboek aan.

- Ons kan leer uit die woorde van Marcia Wieder, Amerikaanse motiveringspreker en skrywer: “Dit is noodsaaklik vir ons welsyn en ons lewens dat ons speel en die lewe geniet. Doen elke dag iets wat jou hart laat sing.”

3. Ek wens ek het die moed gehad om my gevoelens uit te druk.

Rina Vogler, lewensafrigter van Pretoria, se wenke:

- As jy jou gevoelens uitdruk, vra jouself af wat is jou doel daarmee. Wil jy dit regtig deel, of is dit ’n ander vorm van beheer? Wil jy ander mense seermaak, of dalk skuldig laat voel?

- Wees openhartig: Wys wat jy voel, wat jy dink, of deel die gesprek wat jy in jou binneste voer. Gee ek-boodskappe sonder om veroordelend te wees of ander af te kraak.

- Verwelkom terugvoer: Julle kommunikeer eers regtig as jy belangstel in wat die ander een te sê het, ook oor jóú. Al is dit nie altyd lekker nie.

- Tref ’n onderskeid tussen wat jy regtig waarneem en wat jy jou verbeel. Dit sal jou help om nie jou eie en ander mense se afleidings so ernstig op te neem nie. Jou vriend moet bv. dikwels laat werk. Jy voel verwaarloos en verbeel jou jy is nie vir hom so belangrik nie.

- Ondersteun jou gevoelens met dade. Mense weet dikwels nie wat hulle wil hê nie en daar is dus gedurig deurmekaar gevoelens in hul kop. Jy is ongelukkig in jou werk, maar jy is self nie seker wat jy wil doen nie. Jy broei oor hoe kollegas jou behoort te behandel of wat hulle behoort te doen. Maar jy doen niks daaraan nie, sê nie wat jy wil hê nie en staan nie op vir jouself nie.

- Dis bevrydend om jou gevoelens te kan deel. Dit kan help om jou perspektief op die lewe te behou, emosioneel te groei en het ’n positiewe uitwerking op jou fisieke gesondheid. Want as jy jou gevoelens aanmekaar opkrop, kan dit jou uiteindelik siek maak.

4. Ek wens ek het kontak met ou vriende behou.

Lenie Naudé, sielkundige van Pretoria, gee wenke:

- Beplan jou tyd. Maak lysies, daagliks en weekliks. Jy sal meer uitgerig kry en meer tyd hê.

- Maak ’n lysie van jou vriende, oues en nuwes. Bel een maal per week ’n vriend(in) en merk dit af. Skryf die naam weer onderaan die lys.

- Spoor ou vriende op. Die internet maak dit deesdae makliker.

- Wens vriende geluk op hul verjaardag en ander belangrike datums. Hou ’n verjaardagkalender aan. Moenie teksboodskappe stuur nie, dis te onpersoonlik.

- Kies vriende met wie jy koffie-afsprake kan maak.

- Nooi vriende uit vir tee/ete by jou huis. Jy hoef nie so vreeslik moeite te doen nie. Dit gaan oor die vriendskap en om gehaltetyd saam deur te bring.

- Beplan om soms iets prettigs saam te doen. Beoefen stokperdjies saam, of volg kortkursusse.

- Kom gereeld weg van jou werk se druk en die lewe se eise – en deel dié tyd met jou vriende. 

5. Ek wens ek het myself toegelaat om gelukkiger te wees.

Dr. Linda Friedland, mediese dokter en skrywer van onder meer Omvattende gids vir gesinsgesondheid (Tafelberg, 2011), gee wenke: 

- Moenie wag dat geluk aan jou deur klop nie. Kies ’n positiewe houding. Besluit elke dag om iets te doen wat jou sal laat glimlag. En nog meer: Iemand anders sal laat glimlag.

- Maak oefening deel van jou lewe. Daaglikse oefening of flink stap net 30 minute lank 3 keer per week lig jou gemoed en laat jou meer energiek en geesdriftig voel.

- Span harmonie se krag in. Luister na musiek, dans en sing. Sing en dans is ’n kragtige tegniek om jou gelukkiger te laat voel.