1. Rotte lag as hulle gekielie word

Hulle hou nie net daarvan nie. Hulle (ultrasoniese) piepgeluide as dit gebeur, is soos gilletjies van plesier en hulle kom selfs terug vir nog! Dit lyk dus asof hulle dit, soos ons, dalk geniet, volgens ’n studie in die tydskrif Science. Selfs meer boeiend is dat hulle in die bui daarvoor moet wees. Die navorsers het gevind angstige rotte giggel nie en geniet dit glad nie.

FOTO Getty Images/ Gallo Images

2. Vlermuise word deur reuk geprikkel

Geen twyfel dat dit by mense die geval is nie. Kyk na die parfuum-nywerheid se reusagtige winste. Studies suggereer selfs die regte reuk kan ons op iemand verlief laat raak. In ’n studie moes vroue aan mans se vuil T-hemde ruik en die reuk takseer. ’n Vrou sou ’n spesifieke man s’n as meer aangenaam ervaar as hulle geneties baie verskil. Een teorie is dat ons só ons nageslag teen soveel moontlik siektes beskerm.

Die vroulike sak-gevleuelde vlermuis <sac-winged bat> word óók deur die reuk van die “regte” maat geprikkel, volgens ’n studie.

Dié vroulike vlermuis is baie groter as die mannetjie en sy kies met wie sy wil paar. Die mannetjies baai hulself in hul eie spesiale eau-de-cologne, ’n mengsel van urien, spoeg en penis-afskeiding. Soos mense, word die vroulike vlermuise aangetrek deur die gene wat meeste van hul eie verskil. 

FOTO Getty Images/ Gallo Images

3. Perde soek hulp

Ja, hulle gebruik “visuele en taktiele” tekens om mense se aandag te trek en hulp te vra, volgens ’n studie. Die navorsers het die kognitiewe vermoëns van perde ondersoek deur ’n emmer met kos op plekke te sit waar net mense kan bykom. As die perd besef die kos is buite sy bereik, het hy knaend naby die opsigter gebly en na hom gekyk, aan hom geraak en gestamp. Help bietjie hierso, man! Wat meer is, die perde het geweet of die opsigters gesien het waar die kos weggesteek word, of nie. En hul gedrag daarby aangepas. As die opsigter nie geweet het  waar die kos is nie, het hulle meer tekens gegee, volgens die navorsers.

FOTO Getty Images/ Gallo Images

4. Die huis ’n lekker plek vir jong walvishaaie

Jong mannetjie walvishaaie is verknog aan die huis! ’n Uitgebreide, dekade lange foto-identifikasie-studie met meer as 1 000 walvishaaie , het getoon die tieners waag dit nie graag te vêr van die huis af nie. Die meeste van die foto’s wys die jongelinge het nie oor oseane heen migreer soos aanvanklik geglo is nie, maar in hul eie streek gebly. Baie van hulle het ook herhaaldelik teruggekeer na Ningaloo-rif, in Australië se noordweste, hul tuiste-voedingsgebied. Sommige het tot 19 jaar lank daar rondgehang. Volgens die navorsers word daar selde volwasse walvishaaie gesien. Walvishaaie plant nie voort totdat hulle sowat 8 m lank is nie en dit kan tot 30 jaar lank neem.

FOTO Getty Images/ Gallo Images

5. Honde wéét wat jy gedoen het 

Al daardie dinge wat jy voor jou hond doen. En dink hy gaan vergeet? Toe nie. Navorsers het bewyse gevind dat honde, soos ons, ’n ontwikkelde “episodiese” geheue het. Hulle kan jou komplekse aksies onthou selfs as hulle nie verwag dat hul geheue getoets, of hulle beloon gaan word nie.  Die navorsers het die “doen soos ek doen”-metode gebruik: Honde is afgerig om mense se aksies na te maak, soos om te gaan lê. ’n Afrigter het iets gedoen en dan die hond  opdrag gegee: “Doen dit!” Die afrigter het daarna met ’n nuwe rondte afrigting begin. Die honde is geleer om te gaan lê nadat hulle gesien het die afrigter doen heeltemal iets anders. (Nie die “doen soos ek”-metode nie.) Ná die honde via die metode geleer is om te gaan lê, het die navorsers geroep: “Doen dit!” En die honde het bly lê, selfs al het hulle nie enige rede gehad om te dink hulle moet onthou nie. Hulle geheue vervaag oortyd, nes joune ook maar.

FOTO Getty Images/ Gallo Images

Bykomende bron: Psychology Today