Jy is sy prinses, hy jou held. Of nie? Wat as daardie kosbare band tussen jou en jou pa vroeg reeds gebreek word? Dalk selfs nooit bestaan het nie?

Die Amerikaanse aktrise Meghan Markle sou Saterdag die paadjie van die St. George-kapel in die Windsor-kasteel afstap met haar pa, Thomas Markle, aan haar sy. Dis die groot dag waarop sy en prins Harry ewige trou aan mekaar gaan beloof.

Maar gister het Thomas Markle aan TMZ bevestig dat hy nie meer die troue gaan bywoon nie. Hy wil glo Meghan en die koninklike familie verdere verleentheid spaar. Dit nadat die nuus uitgelek het dat Thomas vooraf met ’n steelfotograaf ooreengekom het om foto’s van hom (Thomas) in Mexiko te neem. Hy het glo geld daarvoor ontvang. 

'n Ou foto: Thomas en klein Meghan. FOTO Instagram

Volgens ’n verklaring deur die Kensington-paleis het Meghan en Harry versoek dat Thomas se privaatheid in hierdie moeilike tyd respekteer word.

Pa’s speel ’n belangrike rol in ’n dogter se lewe. Waarskynlik is jou pa, of ander manlike versorger in jou vroeë lewe, jou eerste model van ’n verhouding met ’n man.

Kinders is onvoorwaardelik lief vir hul ouers, die omstandighede ten spyt. Hulle aanvaar hul ouers se liefde en sorg (of gebrek daaraan) as normaal. Ons ouers leer ons om die lewe en verhoudings te benader – hoe om liefde te wys en ontvang, verskille te hanteer, gevoelens te verwerk, ens.

En is jou pa emosioneel/fisiek afwesig, reageer jy dalk op die mans in jou lewe soos wat jy op jou ontwykende pa reageer het: Soek dalk desperaat intimiteit, maar glo terselfdertyd mans kan nie vertrou word nie. Dus laat jy nooit jou skanse sak nie, skryf Victoria Secunda in Women and Their Fathers: The Sexual and Romantic Impact of the First Man in Your Life (Delta, 1993).

Wat navorsing sê

En ja, navorsing onderstreep hoe allerbelangrik die verhouding tussen ’n pa en sy meisiekind is. Linda Nielsen, skrywer van Father-Daughter Relationships: Contemporary Research and Issues (Routledge, 2012), vat dit in ’n neutedop vas in ’n blog op die webtuiste van die Amerikaanse Institute for Family Studies (ifstudies.org). As jul band heg was, is die kans beter dat jou verhoudings met mans emosioneel intiem en vervullend is.

Omdat jy wyser keuses maak oor seks en met wie jy ’n verhouding aanknoop, is jou huwelik oor die algemeen meer vervullend en ook meer standhoudend.

Dit hou dalk verband daarmee dat jou risiko kleiner is om klinies depressief te raak of ’n eetafwyking te ontwikkel, volgens die blog. Jy is minder ontevrede met jou voorkoms en gewig. Omdat jy meer emosioneel stabiel en ’n gesonder gees het, het jy allerhande vaardighede en uitgangspunte wat ’n meer vervullende verhouding met mans beteken. Dus kan pa’s ’n verreikende invloed op hul dogters se lewe – negatief en positief – hê.

Om jou lewe te bou en jouself ten volle te ontwikkel, moet jy jou verhouding met hom deeglik in oënskou neem. As jy eers verstaan hoe dié noodsaaklike band jou gevorm het, kan jy die uitdaging aanvaar om jou lewe (en jou pa) te aanvaar. En dan voortgaan om die vrou te word wat jy wil wees, volgens Women and Their Fathers.

Eers perspektief, sê dr. Karen van Niekerk, sielkundige van Pretoria. Moenie veralgemeen nie, ’n afwesige pa is nie noodwendig altyd negatief nie. Soms is die omstandighede maar net so. Dit hang ook af van hoe iemand dit interpreteer.

Almal wat rook gaan nie longkanker kry nie, daar is bloot ’n verband daartussen. Net so met ’n afwesige pa.

Die verhouding tussen pa en dogter is boonop meer kompleks as net ’n klein subsisteem (pa-dogter) binne die gesin, volgens Elize Morkel, sielkundige van Somerset-Wes. “Hoe ouers teenoor mekaar optree, dra by tot of doen afbreek aan kinders se gevoel van geborgenheid, hul band met hul ouers, en hul hoop op toekomstige suksesvolle verhoudings.”

Maar ouers is nie alleen daarvoor verantwoordelik nie; grootouers, ooms en tannies, familievriende, onderwysers, sportafrigters en ander volwassenes en tydgenote kan ook ’n groot rol speel. En bydra tot die vervulling van kinders se emosionele behoeftes, sê sy.

Meghan, as tiener, saam met haar pa. FOTO Instagram

Hoe erken jy jouself?

Die hoofkenmerk dat jou nie-so-stewige bande met Pa wel ’n effek op jou lewe het, is dat jy meer sensitief vir verwerping is, verduidelik dr. Van Niekerk. Dit kan lei tot laer vlakke van welstand – in jou beroep, geldelik, fisiek, algemene verhoudings en hoe jy by die gemeenskap inpas.

Jy kan negatiewe hanteringsmeganismes ontwikkel: seksueel promisku wees (soek aanvaarding; het nie ’n identiteit nie, dit maak dus nie saak nie); intimiteit vermy want jy is bang vir verwerping; jouself isoleer; en/of middels misbruik (om goed te voel, of seer te onderdruk).

Daar is egter ook ’n ander kant van die saak, sê sy. “Só ’n swak verhouding kan jou leer hoe belangrik lojaliteit en deernis is en jy ontwikkel dit. Jy kan dan sterk bande met vriende hê, hulle word soos familie. Jy raak ook vroeër volwasse en kan ’n sin vir verantwoordelikheid, leierskap en deursettingsvermoë ontwikkel.”

En as die verhouding so-so was?

Dink aan ander mense, mans en vroue, met wie jy as kind hegte bande gehad het en jou waardeer en geniet het, sê Elize. Vra dan: Wat het Ouma in my raakgesien? Hoekom was dit so lekker vir haar as ek kom kuier het? Waaroor kon ons twee so heerlik gesels en lag? “Kyk dus na jouself deur die lens van mense wat jou goed, veilig en geliefd laat voel het.”

Volgens dr. Van Niekerk is een respons op trauma om te veg of vlug. Nog een is om uit te reik na ander. Navorsing wys vroue is meer geneig tot laasgenoemde. En hoor hier: As jy tyd vir ander maak, na hulle luister en hulle ondersteun, hanteer jy trauma/seerkry beter. Dit maak jou ook meer weerbaar teen teenspoed.

As jy omgee vir ander, verander jou brein se biochemie en jy voel meer vol hoop en moedig. Doen dus moeite om aan ander te doen wat jy aan jouself gedoen wil hê. Verander só jou kop se ingesteldheid van ’n slagoffer na ’n oorwinnaar.

Erken jy voel verwerp en verwelkom dit. Want dit beteken dis vir jou belangrik om te behoort, dat mense vir jou lief is en om self lief te hê. Gebruik daardie gevoel om nuwe doelwitte stel, dit wat jy wíl hê. Soms kan jy nie die verhouding met jou pa herstel nie, hy is byvoorbeeld dalk al oorlede.

Gaan jy toelaat dat sy optrede die res van jou lewe definieer? Kyk na pare wat volgens jou ’n mooi verhouding het. En stel dan realistiese doelwitte vir jouself.

Elize sê: “Ons herskryf die stories van ons teleurstellende of selfs traumatiese verlede deur nuwe soorte verhoudings te kies. Jy kan nie jou ouers kies nie, maar wel jou lewensmaat. Jul verhouding moet jou sterker maak en ruimte gee om te floreer. Dis ook jou keuse hoe jy teenoor jou maat en kinders optree en hoe jy daardie verhoudings definieer.”

En stop die bose sirkel só.

FOTO Getty Images / Gallo Images

Só smee sy nouer bande

- Pa, dis belangrik dat jy jou dogter laat voel sy hóórt. Sy sal dan ook veilig voel en nie bang om te waag nie, emosioneel en fisiek, volgens dr. Van Niekerk.

- Dit begin reeds die dag wat sy gebore word. Help met haar fisieke versorging, voer haar, ruil haar doeke om. Leer haar vaardighede, soos fietsry. Ook meer “seunsdinge”, soos visvang.

- Dogters is geneig om meer te praat as seuns. Luister en onthou wat vir haar belangrik is.

- Maak tyd vir pret, vat haar vir ’n koek-en-tee-afspraak en laat haar soos ’n dame voel.

Stuur vir haar notas/briefies op spesiale dae en sommer maar net. Vertel haar jy is trots op haar. Nie haar prestasies nie, maar wie sy as mens is: “. . . dat jy so ’n mooi hart het en raaksien as Mamma moeg is.”

- Stel bowenal ’n voorbeeld van hoe ’n man ’n vrou moet behandel.

FOTO Getty Images / Gallo Images

'n Leser skryf

Liewe Pa,

Ek is amper halfpad in my dertigs, jy dink reeds aan aftree. Nou die dag was ek nog heup-hoog . . . deesdae kleur ek my grys hare. En Pa s’n is nou spierwit!

Dit voel soos gister wat ek op jou skoot gesit en TV kyk het. Jy my leer bestuur het. My tand met jou sakdoek getrek het. Iewers het dinge verander, het ek my pa verloor. En ek is kwaad, bitter en so teleurgesteld.

Ná 34 jaar het jy besluit om van Ma te skei. Ons gesin is nou deel van die statistieke. Wie nooi ek nou vir Kersfees? Vir Pa, met die nuwe koekie aan jou sy?

’n Pa is jou held. Jou lewe lank probeer jy hom beïndruk. Maar dan onthou jy skielik . . . joune was nooit langs die sportbaan nie, dit was maar altyd Ma. Jy was min by die huis, ek het gereken jy werk so hard.

Nóú weet ek jy’t stringe affairs gehad, ek was maar twee die eerste keer. Ons het later die tekens geken, jy sou tuis kom, skoorsoek. Baie gedrink, seker om jou gewete te sus. Julle sou baklei en Sussie het by my kom inkruip. Ek hoor Ma nog sê: “Jy maak my seer.” Julle het al hoe meer op mekaar gegil. Dit het ons later min gepla, ons het oor ander goed begin praat. Ná elke familiebyeenkoms was daar dramaoor wat wie gesê en gedoen het. Ma was ongeduldig, bitsig. Soms het jy sommer ’n dwarsklap gekry, of jy dit verdien het of nie.

Toe word ek groot, trou . . . Sewe sakke sout is swaar, sowaar. Die huwelik is nie jou maat nie. Dis ’n groot gemors. Hoe meer ek probeer om nie soos julle te wees nie, hoe meer raak dit my huwelik.

Pateties . . . dis die beeld van ’n man. Kan mos niks vir hulself doen nie. ’n Vrou bestuur alles. Die geld, huis, kinders, vakansieplanne. Nou verstaan ek hoekom Ma ons so geklap het . . . hoekom sy so gegil het. Want ek doen presies dieselfde met my kinders.

Maar my man is nie soos jy nie, Pa. Hy is lief vir my, geduldig. En met ’n sielkundige sessie elke dan en wan, besef ek nou die bril waardeur ek na die lewe, na mans kyk, is vuil en gekrap.

Dis hoe dit moet wees: ’n Pa werk hard, maar maak tyd vir sy gesin. Vir hul sport, moeilike somme, klein dramas. Hulle het altyd die vrymoedigheid om hom raad te vra. Hy behandel sy vrou met respek en sy vir hom. Drank, ander vroue, dit ontneem sy kinders die reg en vreugde van sorgeloos kind wees.

Hy skei nie sy vrou in sy 40’s, 50’s of 60’s nie. Foeter só Kersfees en familiefeeste op nie. Want as iets fout is, sit ons soos grootmense en erken ons tekortkominge en foute, werk daaraan. Vir jou kinders se respek. Dít gesê: Ek reken kinders toon minder skade met beskaafde ouers wat ’n egskeiding goed hanteer. Dít het ek ook al gesien.

Hier sit ek nou, ’n grootmens, verstom oor wat hier staan. En steeds sal ek aanhou bid en hoop dat die brief jou hart sal raak. Jy sal besef hoe belangrik ’n pa vir sy kinders is – of hulle nou 7, 16, of 40 is.

Jou dogter