Die verlies is altyd daar. Eens woelige Sondagmiddae waar kleinkinders die huis vol hardloop, word die afwagting op ’n Skype-sessie om sesuur. Verjaardagvieringe word langafstand-oproepe en ’n geldjie in die pos. En jy wag soms jare lank vir die volgende omhelsing. Dís baie ouers se ervaring wanneer ’n kind, en kleinkinders, emigreer.

“Dis ’n moeilike aanpassing en ’n rouproses wat eintlik geen einde het nie,” sê dr. Sulette Ferreira, ’n familie-terapeut van Pretoria wat navorsing doen oor die effek op ouers wat agterbly. “Niks is so erg soos die dood van ’n kind nie, en dit is glad nie dieselfde nie, maar dit wek baie van dieselfde emosies. Maar anders as wanneer iemand doodgaan, is daar geen rituele soos ’n begrafnis nie en mense ondersteun jou ook nie in dieselfde mate nie. Daar’s net die lughawe waar jy elke keer moet totsiens sê en daardie verlies weer van voor af moet ervaar.”

Tog het sy tydens haar navorsing gesien hoe baie ouers daarmee vrede maak. “Uiteindelik kom dit op een ding neer: ’n wilsbesluit. Om nie in sak en as te gaan sit nie, om die positiewe raak te sien en aan te gaan met jou lewe. Wees trots, want hoe wonderlik is dit dat jy kinders kon grootmaak wat die waagmoed het om hierdie nuwe geleentheid aan te gryp!” 

June van Rooyen by haar twee kleinseuns van Perth, die 12-jarige Aiden (links) en 15-jarige Dylan Long (regs). Foto verskaf

Onthou, jy’s nie alleen nie

Dís presies hoe June van Rooyen van Johannesburg haar dogter, Yvette, se emigrasie na Perth in Australië in 2003 benader het. “Die belangrikste vir my was om my kind se gevoelens en haar toekoms in ag te neem. Die gevoel van verlies sal altyd daar wees, maar ek dink jy verwerk dit makliker deur te onthou jou kind se toekoms, en sukses, is beter verseker. Dis ’n moeilike uitdaging vir ’n kind om by ’n nuwe land en leefwyse aan te pas, en dis nóg moeiliker as jy as ouer negatief is. Ondersteun jou kind en bly positief. Ek is ongelooflik trots op my dogter, skoonseun en twee kleinkinders se prestasies in Australië – en dít maak my gelukkig en tevrede.”

Maar elke situasie en die gepaardgaande gevoelens verskil natuurlik. Betsie van Zyl van Johannesburg het dít besef toe haar tweede kind emigreer. “Dit was baie moeiliker toe my tweede seun, Rudie, en sy gesin so twaalf jaar terug na Australië verhuis het, as toe my seun Pieter byna twintig jaar gelede Kanada toe is. Pieter en my skoondogter, Carin, het toe nog nie kinders gehad nie. Maar met Rudie en Elmari was dit ’n dubbele verlies omdat hul twee seuns toe net in daardie oulike stadium voor skool was waarvan oumas en oupas so graag wil deel wees.”

Elke familie sal die verlies anders ervaar, sê dr. Ferreira. “Vir families wat op dieselfde dorp woon en mekaar elke naweek sien, sal die verlies anders wees as vir iemand wat hul kind minder sien. Die ouer wat finansieel in staat is om gereeld te gaan kuier, het ook ’n ander ervaring as iemand wat nie kan nie. ’n Aktiewe 60-jarige en ’n kwesbare 80-jarige wat nie meer kan gaan kuier nie, voel verskillend. En dis anders vir ’n ma om haar swanger dogter te groet as haar seun wat op sy eie gaan.

“Maar jy kan nie die een met die ander vergelyk of sê een situasie is moeiliker of makliker nie, want almal voel die verlies, net op verskillende maniere.”

Vir die ouers wat agterbly, is dit belangrik om te onthou jy’s nie alleen nie, voeg sy by. “Daar is nie amptelike syfers nie, maar kenners raam meer as ’n miljoen Suid-Afrikaners het tussen 1995 en 2018 geëmigreer. Reik uit na ander ouers wie se kinders oorsee woon – jy ken waarskynlik reeds iemand. En onthou jou kinders mis jou ook – dis moeilik vir jou dogter om jou nie te kan oornooi om haar te leer hoe om haar baba te bad nie, nes jy haar nie kan vra om jou te wys hoe om jou nuwe TV in te stel nie!”

Callum en Tersia Lister met hul twee kinders, Tyler (op Callum se skoot) en Ava. Foto verskaf

Ondersteun en aanvaar mekaar

Tersia Lister, haar man, Callum, en hul twee kinders, Tyler (3) en Ava (1), het in 2018 na Londen geëmigreer toe Ava vyf maande oud was. “Ons het twee kinders onder twee jaar oud gehad en dit was baie moeilik om sonder ons familie se ondersteuning in ’n nuwe land aan te pas. In Londen is kinderversorging baie duur en een van die moeilikste aanpassings was om nooit alleentyd te hê terwyl die kinders by ouma en oupa kuier nie, of niemand naby te hê in ’n krisis nie,” erken Tersia.

“Die verlange is baie groot. Ons mis ons familie elke dag en ek dink nie jy verwerk dit ooit nie – of jy nou die een is wat vertrek of agterbly.” Dit het egter baie gehelp dat beide Tersia en Callum se ouers hulle vooraf in hul besluit ondersteun het. “Ons het ons planne met hulle gedeel die oomblik toe ons daaraan begin dink het. En vir hulle verduidelik ons wil die avontuur aanpak terwyl ons kinders nog nie op skool is nie. Ook hul raad gevra. Albei van ons se ouers het vir ’n paar jaar buite Suid-Afrika gewoon toe hulle jonger was en was dus opgewonde vir ons part, al was hulle hartseer. Om almal deel te maak van die besluitnemingsproses maak die aanvaarding makliker.”

Dr. Ferreira sê dit geld in die meeste gevalle. “Waar almal mekaar ondersteun, verwerk almal dit beter. As kinders eers aan die einde van die voorbereidingsproses hul ouers inlig, is daardie skok verskriklik moeilik om te verwerk, en die ouers kan dikwels ook verwerp voel. En indien ouers nie die emosionele volwassenheid het om hul kinders die geleentheid te gun en hulle te ondersteun nie, kan dit die verhouding skade doen.”

Almal moet al in die pre-emigrasiefase dinge begin verwerk, sê sy, want die emosionele proses begin eintlik lank voor jou kind op die vliegtuig klim. Moet dit nie uitstel of onderdruk sodat dit jou later oorweldig nie. “Hou mekaar se gevoelens in ag. Kinders moet hul ouers so vroeg moontlik in die proses inlig. Ouers moet weer onthou dis nie verwerping nie. Moenie jou kind probeer terughou nie en verwelkom eerder dié kans wat hulle op ’n goeie toekoms het.”

Behou die band

Hoe nou jul band vooraf is, sal grootliks bepaal hoeveel moeite julle met mekaar doen ná die emigrasie, en in watter mate jou kind jou by die besluitneming betrek, sê dr. Ferreira.

“Kinders sal gewoonlik hul ouers eers laat in die proses inlig as hulle nie ’n hegte band het nie. So ook het ek nog nooit ’n liefdevolle ouer teëgekom wat hul kind nié die geleentheid gun nie.”

Jou intense verlange beteken jou kind verlang ook na jou en julle moet moeite doen om daardie band te behou. Betsie sê sy en Carin praat byna daagliks, terwyl sy en haar kinders en kleinkinders in Australië ’n vaste afspraak het om oor naweke te Skype. “Maar niks kom naby ’n kuier nie. Ek en my man, Kobus, probeer beurte maak om elke jaar vir een van ons kinders en hul gesin te gaan kuier, al is dit net vir ’n week. En ek bederf my kleinkinders hier in Suid-Afrika verskriklik!”

June was in Julie en Augustus by haar dogter en gesin in Perth en was skoon jubelend van geluk. “Ons sien mekaar elke tweede jaar, maar afstand vernietig nie ’n hegte band nie, dit versterk dit eerder. Wanneer ons saam is, voel dit asof daar nooit ’n skeiding was nie, en ouma word baie vertroetel wanneer sy kom kuier – watter voorreg!”

Tersia sê buiten jaarlikse kuiers, gesels sy en Callum daagliks met hul sibbes en ouers, en doen ook moeite om nefies en niggies te bel sodat die kleinkinders mekaar kan leer ken. “Ons maak almal seker ons betrek mekaar by ons daaglikse lewe en stuur baie foto’s sodat almal deel voel van groot gebeure.”

Hoe wonderlik is dit nie om in ’n tyd te leef wat dít moontlik is en jy nie maande vir ’n brief in die pos hoef te wag nie, sê dr. Ferreira. “Dis natuurlik nie dieselfde as om jou kind naby te hê nie, maar fokus op die positiewe soos vandag se vele kommunikasiemetodes, of die geleentheid om ’n ander land te besoek. As jy net op die negatiewe fokus, gaan dit jou onderkry – jy is dikwels jou eie grootste vyand. Waardeer elke boodskap, en elke kuier. Gee genoeg en doen genoeg, want so hou jy jou kind naby – en jou kind jóú.”

Kontak Dr. Sulette Ferreira: www.livingworldsapart.com
Praktiese wenke

Dr. Sulette Ferreira en SARIE-lesers gee ook dié wenke vir ouers:

  1. Stel twee horlosies in jou huis: een op Suid-Afrikaanse tyd, en die ander vir die land waar jou kind woon. So kan jy gedurig sien hoe laat dit by hulle is en jy weet byvoorbeeld wanneer hulle opstaan of aandete eet.
  2. Teken in op ’n koerant of tydskrif in jou kind se land. Hulle verstaan hul geboorteland se kultuur en weet van belangrike gebeure en datums, maar jy ken waarskynlik nie hul omstandighede nie. So kan jy ook uitvra as iets interessants daar gebeur, soos Wimbledon in Engeland, of kersiebloeiseltyd in Japan.
  3. Vind nuwe uitdagings. Maak daardie leemte voller met nuwe vriende, stokperdjies en gebeure in jou gemeenskap.
  4. Maak notas van die gebeure in jou kind se lewe. As jou kleinkinders die Woensdag ’n konsert het, vra die Donderdag vir foto’s. Jou kind is waarskynlik besig en die onus is ook op jou om uit te vra.
  5. Moenie ’n oorlas van jouself maak nie. Jou kinders is baie besig wanneer hulle emigreer en moet baie aanpassings maak. Stuur boodskappe om te hoor hoe dit gaan, maar sê ook hulle hoef nie dadelik te reageer nie. Moet hulle nie skuldig laat voel nie – hulle voel waarskynlik reeds!
  6. Probeer verskillende kommunikasiemetodes. Skype, FaceTime, WhatsApp, e-pos en briefies in die pos het almal hul eie voordele en lekkertes.
  7. Probeer om ook deel te wees van daaglikse roetines. Koop die boek wat ma tans vir die kinders lees en vra om elke tweede aand vir hulle ’n bladsy daaruit te lees oor Skype. As iemand verjaar, bel en eet saam koek vanuit jul onderskeie woonkamers.
  8. Maak afsprake om te gesels, anders kan die dae vol raak en voor jy jou oë uitvee, het julle meer as ’n week laas gesels. As julle ’n weeklikse afspraak het, is dit makliker om daarby te hou.
  9. Maak ’n fotomuur van die familie en voeg gereeld nuwe foto’s by sodat jy elke dag jou kinders en kleinkinders kan sien soos hulle nou lyk en nie soos jare terug nie.