MEGXIT – 8 Januarie. Dis die dag toe Meghan Markle en prins Harry, die hertog en hertogin van Sussex, hul skokaankondiging op Instagram maak dat hulle nou klaar is met die monargie.

Ons sit regop. Die Queen ook. Sy wis niks. Trouens, toe die Britse monarg haar oë uitvee, is Meghan en baba Archie sak en pak weg na Kanada. Gevolg deur Harry. Baie mense sê: Mooi so, dis hoog tyd dat hulle standpunt inneem en rebelleer teen jare lange tradisies wat op hulle afgedwing word. Ander sê: Hoe dúrf hulle.

Sonde met die skoonmense is nie beperk tot Jan en San Alleman nie. Die verskil is dalk net dat die meeste van ons se doen en late nie so in die openbare kollig is nie. Maar ten spyte van gewone Jannies en Sannies se nederiger posisie is daar ’n paar lesse wat hulle by die koninklikes kan leer, meen die Kaapse sielkundige Elizabeth Oosthuizen. Die grootstes is sekerlik: Hanteer jou skoonouers met respek. Moenie jou private sake vir die eerste keer op Instagram aankondig nie. En praat betyds wanneer iets jou pla. Anders kan dit uitkring en baie groot probleme veroorsaak.

Arlene Prinsloo, webredakteur van Media24 en een van Suid-Afrika se bekendste bloubloed-kenners, gee ’n bietjie perspektief op die koninklikes. Sy sê ons moet onthou daar is ander reëls as jy in die koninklike familie introu. Dit is mos darem ’n gesogte posisie. Ek en jy ry nie sommer met ’n koets na die kerk nie. Ons dra nie erfstuk-tiaras nie.

En Meghan is nie al een wat al swaargekry het in die koningshuis nie. “Prins Philip, koningin Elizabeth se man, het goeie loopbaanvooruitsigte in die vloot opgegee om te trou.” Meghan het geweet sy trou in die koninklike gesin in en het met oop oë die huwelik ingegaan. Haar vriende het haar voorberei op die poniepers. Sy was in ieder geval as Amerikaanse aktrise veral bekend vir haar rol in die TV-reeks Suits, gewoond aan die kollig.

Tog kon sy nie vrede maak met die valkoog waarmee hulle dopgehou is nie. En as Amerikaner het sy gesukkel met die Britse stywe-bolip-mentaliteit. Meghan is ook vergelyk met die eksieperfeksie Catherine Middleton, vrou van prins William, die troonopvolger en Harry se broer. “Maar Catherine se ouerhuis is stabiel. Anders as Meghan kan sy daar steeds koestering kry. En Catherine het maar ook onder die poniepers deurgeloop. William het haar egter geleidelik aan die media en koningsgesin bekend gestel. Hy wou keer dat sy in dieselfde slaggat as sy ma trap. Met Meghan en Harry was alles te gou: die kort verhouding, die vinnige verlowing, die troue, ’n baba, ’n koninklike toer.”

Toe word hulle rocksterre en kan dit nie lekker hanteer nie. Terwyl die prinse voorheen altyd steunpilare vir mekaar was, het hulle geleidelik uitmekaar gedryf, en Arlene reken dít het veroorsaak dat Harry en Meghan gevoel het die res van die familie steun hulle nie genoeg nie.

“Dit was ’n groot fout om in ITV se televisie-dokumentêr Harry and Meghan: An African Journey te gaan uitpraat oor hul ongelukkigheid en isolasie binne die monargie. Pleks het hulle vroeër na die koningin gegaan, eerder as om op raadgewers te vertrou. Om sonder die toestemming van die koningin hul uittrede uit die koningshuis aan te kondig was disrespekvol teenoor haar.”

Tog was dit nie totaal onverwags nie, want William word immers voorberei as die toekomstige prins van Wallis, terwyl Harry al in 2017 laat val het hy wil eendag ’n natuurlewe-fotograaf in Afrika word. “Ek dink nie Harry is rebels nie, hy wil Meghan bloot beskerm en wegbreek om asem te skep,” sê Arlene. Sy dink nie die fout lê by die skoonmense nie. “Charles en die koningin was eintlik ongelooflik tegemoetkomend teenoor Meghan. Dit gaan waarskynlik oor die onversoenbaarheid van twee kulture.”

Dít is juis een van die grootste redes vir konflik, selfs by ons gewone sterflinge, meen Elizabeth Oosthuizen. “Wanneer ons verlief raak en ’n nuwe pad saam met mekaar stap, is daar sy pad, my pad en ons pad. Natuurlik verskil families hemelsbreed en wat vir een familie normale samesyn is, is vreemd vir ’n ander. Dit is dus belangrik om te probeer bepaal of julle by mekaar sal kan aanpas wanneer jy verlief raak. As sekere dinge vir jou onaanvaarbaar is – byvoorbeeld Kerstyd-rituele of familiebyeenkomste – moet jy voor die troue hieroor gesels. Anders kan dit later berge van konflik en selfs gebroke verhoudings veroorsaak,” sê sy.

In baie Afrikaanse families is daar ’n ongeskrewe hiërargie en rolle vir familielede. Dikwels is daar ’n chauvinistiese pater familias wat glo hy moet al die besluite neem, verduidelik Elizabeth. “Wanneer oupa se woord wet is, vind jonger generasies dit soms moeilik om te aanvaar. Gestel Kersdag, Paasfees of familieverjaardae word op ’n bepaalde manier gevier, kan dit groot ontevredenheid onder jonger familielede veroorsaak. Wanneer gesprekke met deernis en respek gevoer word, met ‘nuuskierigheid’ as basis, kan wonderlike ontdekkings oor mekaar gemaak word. Vermy afkrakende kritiek. Onthou, samesyn tussen familielede ondergaan ook prosesse van evolusie.”

Laura du Toit, ’n pottebakker van Stellenbosch, sê: “Dit is opvallend en interessant hoe Kersvakansies heelwat anders gevier word as sowat veertig jaar gelede. Baie volwasse kinders woon oorsee. Ek en my man, Pierre [’n afgetrede hoogleraar in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch], het taamlik tradisionele Kerstye in ons jong dae beleef. Almal was teenwoordig. Hier en daar was so ’n ligte dramatjie as ons nie aan ouers se verwagtinge voldoen het nie.”

Hul seun Leon woon saam met sy vrou, Line, en die 2½-jarige Gustav in Oslo, Noorweë. Hul ander seun, Chris, en sy Amerikaanse vrou, Liz, woon in Groenpunt met die ses maande oue Liam. “Leon en die kleintjie het al by ons Kersvakansie gehou en ons was vir ’n wonderlike wit Kersfees by hulle. Maar ons verhuur soms ons seehuis op Hermanus oor die Kerstyd en dan loop almal maar hul eie paadjie. Chris-hulle gaan soms oor Thanksgiving by sy skoonouers in Noord-Carolina kuier want hulle kom goed oor die weg. Alles is baie rustig en onvoorwaardelik. Ons reken as die kinders Kerstyd hul eie planne wil maak, is dit in orde. Als in ons familie is eintlik vloeibaar, sonder probleme. Nuwe generasies, nuwe dinge.”

’n Ander Kaapse vriendin, wat met ’n Engelsman getroud is, vertel hy vind haar groot Afrikaanse familiefeeste soms oorweldigend. “Ons het ’n reëling dat ons nie by my familie tuisgaan soos wat my ouers verwag nie.” Hulle twee huur hul eie verblyf en sy doen lustig mee saam met haar broers en susters. Haar man loer net af en toe in en almal aanvaar dit so.

’n Skakelbeampte van Pretoria sê soms is dit makliker om informele reëls binne die groter familiestruktuur te verander as die ouers van die volwasse kinders reeds oorlede is. “In die verlede sou ek altyd my man se groot familiebyeenkomste bywoon, maar sedert die dood van sy ouers doen ek dit nie meer nie. Dit is immers sy familie, hy gaan nou alleen. Dieselfde ‘reël’ geld vir hom, hoewel hy nogal van my uitgebreide familie hou. Daar is wel sekere lede van sy familie by wie ek soms kuier. Niemand is kwaad oor die reëling nie.”

Sy het ook gesukkel met haar skoonma se ouderwetse siening van ’n vrou se rol. “Sy het geglo ’n vrou se plek is in die huis en sy is daar om haar man te dien. Ons het min te sê gehad vir mekaar. Dit was só ’n moeilike situasie. My skoonpa was ’n engel ... My ma is die wonderlikste skoonma en sal my man altyd ophemel.

“Hy was die laatlam en al middeljarig toe sy ouer broers en susters hom steeds soos die baba in die gesin behandel het. Dit het my baie ontstel dat hy altyd laaste in die ry was vir die vakansiehuis by die Hartbeespoortdam. Hy het altyd stil gebly, ter wille van die vrede, maar ek sou nie sommer my mond hou nie.” Om sake te beredder het hulle hul eie vakansieplek aan die KwaZulu-Natalse Suidkus gekoop.

Elizabeth sê: “Wanneer ons deel vorm van ’n nuwe skoonfamilie, moet jy sensitiwiteit vir hul waardes en ongeskrewe reëls hê, soos hulle vir joune. As jy weet hulle is baie gelowig, probeer om nie heeltyd te vloek of oormatig te drink tydens die feesgety nie. As jou swaer ’n vegetariër is, hoef jy nie elke dag vleis te braai nie. As jy weet jou skoondogter is feministies, kan jy nie aanmekaar sê vroue behoort nie te werk nie ... probeer klein dingetjies doen. Gestel die skoonfamilie eet Oujaarsdag altyd pavlova ter nagedagtenis aan die jaar wat verby is, sluit dit op die spyskaart in. Dit wys jy stel belang in die ‘nuwe’ familie se manier van doen. Jy gee om.

“Ons hoef nie ons waardes, menswees en behoeftes prys te gee as ons in verhoudings ingaan nie. Ons moet dit net bestuur deur middel van konsidererende, outentieke gedrag. Laat ons ons uniekheid eer. Die lewe sou vervelig wees as ons behoeftes, waardes en rituele presies dieselfde was,” meen Elizabeth. Koos du Plessis som dit mooi op met dié lirieke: As jy op niemand leun nie En niks van iemand vra nie Hoef niemand jou te steun nie, Hoef niemand jou te dra nie. (Uit: “Skielik is jy vry”) Verhoudings is gee en neem – so, doen jou ding.

Hanteer jou skoonmense só

Dit is belangrik om jou skoonouers te probeer gelukkig hou. Jy is immers met hul kind getroud en is die ma van hul kleinkinders. Maar stel gesonde grense.

Moenie met jou skoonouers wedywer om jou man se aandag nie. Moedig jou wederhelf aan om ook genoeg tyd met sy ouers te spandeer.

Stel tye vas wanneer jou en sy ouers by julle kan kom kuier.

Gee hulle genoeg tyd saam met hul kleinkinders – dit vorm ’n hegte band tussen hulle en gee jou ook ekstra tyd om dinge te doen waarvoor jy nie tyd kry nie.

Probeer jou indink hoe jý eendag as skoonouer sal voel.

Sorg dat jy en jou wederhelf mekaar verstaan en saam besluit hoe julle op ’n sagte dog ferm manier teenoor die onderskeie ouers gaan optree (as hulle byvoorbeeld inmeng met jul geldsake of kinderopvoeding).

Wys jy stel belang in jou skoonouers se stokperdjies – gesels met hulle oor hul reise, gunsteling-TV-programme, boeke wat hulle lees, gunstelingkossoorte. Dit dra alles by tot harmonie.

Bronne: fatherly.com; Matt Christensen in 7 Tips For Setting Boundaries With Your In-Laws, According To A Therapist