Dit was haar groot liefde. Die een na wie sy elke keer teruggegaan het. Net om eenkant toe geskuif te word. In die gewilde TV-reeks Sex and the City is die rubriekskrywer Carrie Bradshaw (Sarah Jessica Parker) ’n onafhanklike, intelligente fashionista van New York. Maar die liefde van haar lewe, Mr Big, is emosioneel afwesig. Kykers het vasgenael gesit om hul intriges dop te hou – dalk omdat baie van ons iewers in ons lewe al met ’n man deurmekaar was wat hom net nie kon verbind nie ... En almal weet: Dis nie so maklik om net weg te stap nie – nie in die flieks óf die regte lewe nie.

Melani* het haarself ’n jaar lank voorberei om finaal tot siens te sê aan haar “groot liefde”. Sy moes uiteindelik aanvaar sy en haar maat gaan nooit trou nie en sy móét aanbeweeg – al was hulle langer as vyf jaar saam, en al was dit vir haar moeilik om te peil hoekom hy so sku was vir trou. 

Melani en haar vriend hét al oor trou gepraat, maar hy het altyd ’n verskoning gehad hoekom die tyd nie reg was nie. Eers moes hulle wag tot hy ’n goeie werk het. Die goeie werk met ’n goeie salaris het gekom. Hy’t dinge gesê soos: “ék wil ’n boot koop” of “ék wil ’n huis koop”. Nooit “óns” nie.

Melani het meer van haarself in die verhouding gegee om te wys sy is goeie “troumateriaal”: sy’t oor naweke sy wasgoed gewas en gestryk, meer van ’n huisvrou geword, maar hy het dit alles as vanselfsprekend aanvaar. Tog het hy nie gesukkel om homself tot sy familie, vriende of werk te verbind nie. “Hy het douvoordag opgestaan om by die gimnasium te wees sodat hy seweuur by die werk kan wees. En hy het ook oor naweke gewerk,” sê Melani.

“Maar as dit by romantiese verhoudings kom, het hy nie geweet wat hy wil hê nie.” Toe sy hom vra waar hy haar in sy toekoms sien, wou hy eers “die huwelik vir homself uitwerk”. Sy weet tot vandag toe nie wat presies hy wou “uitwerk” nie. ’n Jaar later was sy verskoning hy wag vir bevordering by die werk. Die bevordering het ook gekom, maar hy’t nie ’n woord oor trou gerep nie.

“Ek het uiteindelik besef ek is nie op sy voorkeurlys nie. Ek weet nie hoekom hy so weggeskram het nie maar ek vermoed hy was bang hy sou iemand beter ontmoet. Vyf jaar en sewe maande ná ons begin uitgaan het, het ek die verhouding verbreek. Dit het nooit vir my net oor trou gegaan nie. Ek wou ’n maat hê wat hom tot my verbind en saam met wie ek my lewe kon deurbring.”

Daar ís mans wat hulle nooit tot jou gaan verbind nie, sê Corne Peach, kliniese sielkundige van Kempton Park. “As hy nog elke naweek saam met sy vriende wil uitgaan,’n werkolis is wat nie tyd saam met jou deurbring nie of gereeld verhoudings met ander vroue het, gaan hy waarskynlik nooit verander nie, selfs al trou hy met jou. En jy gaan hom ook nie kán verander nie, al werk jy hóé hard en al is jy hóé goed vir hom. Hy moet self sy gedrag verander.”

Daar is ook mans wat bang is vir trou, sê sy. “Maar voor jy jouself oortuig hy’s nie lief vir jou nie omdat hy nie wil trou nie, moet jy besef ’n verbintenis soos trou is nie gelykstaande aan liefde nie. Sy gedrag wys of hy lief is vir jou. Is hy toegewy aan jou op ander vlakke? Gee hy jou emosionele en geldelike ondersteuning? Bring hy tyd saam met jou deur en gee hy aandag aan jou? As dit die geval is, kan julle iets aan sy vrees vir trou doen.”

Daar kan verskeie redes wees hoekom ’n man hom nie wil verbind nie, sê dr.Ilza van Wyk, voorligtingsielkundige van Pretoria. Dalk stem julle behoeftes nie ooreen nie: hy is dalk net in die verhouding om nie alleen te wees nie, of jy bevredig sy seksuele behoeftes en dis genoeg vir hom.

“Sommige mans sukkel om hulle te verbind omdat hulle nog nie die bande met hul ma’s geknip het nie. Hy sukkel om langdurige of permanente liefdesverhoudings aan te knoop, want hy is nog ‘in sy ma se besit’ en het nog nie geleer om verantwoordelikheid vir sy eie lewe te aanvaar nie. Dalk het hy voorheen seergekry.”

Ilza sê sekere mans sukkel meer as ander om hulle te verbind. “Wees versigtig vir ’n man wie se wêreld om homself draai, nie kritiek kan hanteer nie, nie aan jou behoeftes voldoen nie en gedurig erkenning soek.Wees ook versigtig vir die ewige seun wat in sy tienerstadium vasgesteek het en allergies vir verbintenis is omdat hy nooit geleer het om verantwoordelikheid te aanvaar nie, en wie se groot ideale nie verwesenlik word nie.”

“Ek het myself heeltyd probeer verander”

Al lê die probleem dikwels by die man wat hom nie wil verbind nie, is dit ironies dat vroue geneig is om te dink iets skort met háár. Toe Madri* haar eks-kêrel ontmoet het, het hy gesê hy wil eers op 37 trou. Hy was toe 29. “Ek weet nie hoekom hy eers op 37 wou trou nie. Ek het altyd geglo hy sou anders besluit as hy reg was om te trou. Ek het probeer om ‘beter’ te wees deur bv. gewig te verloor en gehoop hy sou besluit om te trou. Ek het hom probeer tevrede stel en nooit gekla oor al die tyd wat hy op die gholfbaan of by die werk deurgebring het nie,” vertel Madri.

Die gevare van so ’n verhouding?

Menige vrou het al verkeerdelik gedink as sy die perfekte vrou probeer wees, sal haar maat haar só liefkry dat hy sy gedrag of probleme sal laat staan, sê Corne. “As jy óf hy voel jy moet jouself vir hom verander, moet rooi ligte flikker. As ’n man hom nie tot ’n vrou wil verbind nie, raak sy dikwels ál meer onseker van haarself en werk harder om dit te láát werk. Dan hoef hy nie so hard te werk nie en hy aanvaar dus minder verantwoordelikheid en raak gemaklik in die verhouding. Dan werk jy nóg harder en voel nóg meer onseker. Jy gaan nie meer weet wie jy is nie en jouself te na kom. As hy die regte maat vir jou is, sal julle op ’n natuurlike manier by mekaar pas en jy sal jouself by hom kan wees.”

“My alles sou nooit genoeg vir hom wees nie”

Daleen* besef vandag ’n verhouding moet van die begin af gesond wees as jy eendag aan trou wil dink. Sy en ’n goeie vriend het ’n romantiese verhouding begin. Hy het later gesê hy is nie verlief op haar nie, hoewel sy sy “droomvrou” is. Die “verhouding” het nietemin voortgegaan. Hulle kon oor alles gesels en was emosioneel en fisiek betrokke, maar hy het weggeskram van ’n vaste verhouding.

“Ek het geweet ek sal die verhouding moet beëindig, want dit was vir hom gerieflik.Watter man sal sy rug draai op ’n vriendskap wat byvoordele het, maar geen eise aan hom stel nie? “Maar ek kon nie my lewe sonder hom indink nie. Ek het dit geregverdig deur te dink hy sal verander. Ek het onlangs besef die situasie steel my lewensvreugde en beïnvloed my lewensgehalte, en ek het die krag gekry om die verhouding te beëindig. “Ek weet daar’s niks wat ek kan doen nie. Dit gaan iets ingrypends vat om hom sover te kry om te werk aan sy probleme om te verbind, maar presies wát, weet ek nie. Verhoudings is nie daar om jou heel te maak nie – dit moet bestaan uit twee heel mense.”

Watter vroue kies sulke verhoudings?

Party vroue is geneig om betrokke te raak by mans wat verbinteniskwessies het, sê Corne peach, kliniese sielkundige. “Dis gewoonlik vroue wat aangetrokke voel tot die sogenaamde ‘afvlerkie’ wat nie verantwoordelikheid vir homself neem nie. Jy is ook geneig om te veel verantwoordelikheid in alle aspekte van die verhouding te neem. Dit gee vir jou betekenis om vir hom ma te speel. Jy dink jy gaan hom kan verander en hom laat verbind as jy goed is vir hom, mooi lyk of perfek vir hom sorg.”

Wanneer moet jy eerder loop?

Jy moet besef jou maat gaan nie verander as hy nie self besef hy het ’n probleem nie, sê Ilza.“Leer om jou intuïsie te vertrou, dan sal jy weet as jou verhouding op pad is na nêrens. Jy kan nie jou persoonlikheid vir sy onthalwe verander nie. Hy kan homself nie aan jou verbind nie weens sy eie redes. Dit het nie noodwendig iets met jou te doen nie.”

“Hoe lank jy bereid is om in die verhouding te bly verskil van vrou tot vrou.’n Paartjie kan besluit om eers ná agt jaar te trou en later baie gelukkig in hul huwelik wees. Jy sal weet wanneer die verhouding nie meer gesond is nie,”sê Corne.

As jou maat nie bereid is om te praat oor sy probleme om hom te verbind nie of hy wil nie ’n sielkundige gaan sien nie, is daar niks wat jy kan doen om hom te verander nie. Die beste raad is: los hom en gaan aan met jou lewe.”

En wanneer moet jy bly?

As jou maat wel bereid is om vir terapie te gaan en aan sy verbintenisfobie te werk, sê Ilza.“Dit sal help as jy ook vir terapie gaan om vas te stel of julle met die verhouding wil aangaan.”

Probeer agter die kap van die byl kom oor hoekom hy nie wil trou nie, sê Corne. “Hy voel dalk hy’s finansieel nie gereed om te trou nie, of hy’t ’n traumatiese kinderlewe gehad en is bang om homself bloot te stel, beheer te verloor of om te afhanklik van iemand anders te wees.

Praat openlik met hom oor die redes en hoe dit jul verhouding beïnvloed.” Kyk of jou gedrag nie tot die probleem bydra nie, sê sy. “Klou jy nie te veel aan hom nie of is jy nie te desperaat nie? Is jy ’n mens uit eie reg buite die verhouding? Is jy nie te ónafhanklik nie? Watter redes gee hy oor hoekom hy hom nie tot jou wil verbind nie en kan julle hieraan werk?

“As julle in ’n gesonde verhouding is, is daar ’n kans dat julle in die toekoms sal trou. Die omstandighede is dalk nie nóú reg daarvoor nie.”

*Hierdie artikel het oorspronklik in SARIE se Julie 2008-uitgawe verskyn. Besonderhede en inligting kon sedertdien verander.