Die hartmonitor en swaar asemhaling van die sterwende vrou is die enigste geluide in die skemer hospitaalkamer. Aktrise Elsabé Daneel sit by haar jeugvriendin op die bed, vryf haar voete, haar hare. Eenkant, by ’n venster, staan die vrou se ma. “Wil tannie nie nader kom nie, dan kan sy tannie sien,” stel Elsabé voor. Sy doen dit, begin saggies met haar kind praat. “Ek is hier, ek is lief vir jou.”

’n Traan vorm in die hoek van die siek vrou se oog, spoel versigtig oor haar wang. Sy is in ’n koma, reeds ver heen oor daardie finale drumpel. Maar sy registreer – dis Ma. Op die hartmonitor is daar eensklaps meer aktiwiteit. Op ’n ander bed, dié keer in ’n tehuis vir verswakte bejaardes, lê ’n vrou met Alzheimersiekte. Haar tyd loop vinnig uit en sy roep klaend na haar dogter. Juis dié een wat haar jare lank nie besoek het nie. Dis te swaar, te hartseer om haar ma in ’n seniele toestand te sien, saam met haar daardie pad te loop.

Sulke stories bied hulself vir Elsabé aan, self uit ’n familiekring waar die matriargale band oor geslagte heen sterk gebrei is. Elsabé se ma, Roeline, met haar vyf susters aan’t “kloek”, die son wat deur die venster stroom. Die ou plaashuis in die Hexriviervallei, waar ouma Bettie, die matriarg, die septer liefdevol swaai. “Dáár het ek van die lewe geleer, hoe die wêreld werk. Dit het my help vorm, hoe ek is. En Roeline, my dogter, is net so mal oor mense en stories.”

Ma-en-dogter – waarskynlik die mees passievolle en betekenisvolle verbintenis in ’n vrou se lewe. Dit beïnvloed jou op maniere wat jy nie eens besef nie. Al is julle kompleks en uiteenlopend, kan julle beste vriendinne wees. Of dit kan ’n skaduwee skep wat jou lewenslank agtervolg.

Met Hollywood-ster Jennifer Aniston se ma, Nancy Dow, se dood [in 2016], is berig Jen het haar twee weke tevore blykbaar die eerste keer in ’n dekade besoek. Hul verhouding was altyd moeilik. “Sy was krities, baie krities op my. As model was sy pragtig, verruklik. Ek was nie, nog nooit nie. Ek het eerlikwaar nooit so aan myself gedink nie. Sy het nie maklik vergewe nie, wrokke gekoester wat vir my kleinlik was,” het sy verlede jaar aan The Hollywood Reporter vertel.

Nancy se onthullende memoires, From Mother and Daughter to Friends (Prometheus Books, 1999), was skynbaar die laaste strooi. Daarin skryf sy openlik oor hul problematiese  verhouding, maar onthef haarself van enige blaam. Ook Maria Callas, Brooke Shields en Liza Minnelli het moeilike verhoudings met hul ma gehad. (Sien “Toksiese ma’s” onder.)

Selfs die beste verhouding tussen ma en dogter het klippe in die pad. Dis onmoontlik om altyd dieselfde oor dinge te voel. Maar as dit jou hartseer, hulpeloos of sleg oor jouself laat voel, moet jy dieper daarin delf. Want jou verhouding met jou ma beïnvloed van jou gesondheid en selfwaarde, tot al jou ander verhoudings, sê dr. Christiane Northrup, skrywer van Mother-Daughter Wisdom (Hay House, 2006). “Dis die sterkste band in die wêreld, in lief en leed. Die stelinkleding vir al jou verhoudings.”

Sy sê selfs geen kindertyd-ervaring is so sterk as juis dié verbintenis nie. “Ons neem op ’n sellulêre vlak in hoe ons ma voel oor vrouwees. Wat sy van haar liggaam dink, glo moontlik is in die lewe en hoe sy na haar gesondheid kyk.”

Of soos Elsabé sê: “Jou eerste verhouding is lotsbepalend van watter soort vrou en ma jy gaan wees. Dis die bloudruk wat jou verhoudings die res van jou lewe gaan kleur; iets misterieus in jou gene, soos ’n aflosstokkie wat van ma na kind oorgedra word. Kry jy liefde en aanvaarding, is dit wat jy gaan oordra. Dit maak jou sterk genoeg om ’n leërskare storm te loop, maar ook om om te gee en liefdevol te wees. Indien nie, gaan jy altyd op die agtervoet wees.”

Psychology Today se webtuiste (psychologytoday.com) verduidelik dit só: ’n Gebrek aan moederlike warmte en aanvaarding verwring jou eiewaarde; gee jou ’n gebrek aan selfvertroue en maak jou katvoet vir intieme emosionele verbintenisse. Dis dus goed om te hoor die madogter-verhouding is uiteindelik vir die meeste van ons vervullend. Ten spyte van konflikte en knope reken 80 tot 90% van vroue in hul middeljare tog dit is/was goed, volgens Amerikaanse navorsing. En as dit nie is nie?

Soos Elsabé sê: “Dis ’n negatiewe sirkel. Jy moet dit probeer verbreek, veg om daaruit te kom.”

Navorsing wys jou sosiale verhoudings, veral intiemes, word hoofsaaklik bepaal deur die manier waarop jou ouers hul emosies hanteer, sê James de Villiers, sielkundige van Kaapstad. Die gevaar bestaan dat jy dieselfde tipe verhouding met jou man en kinders herhaal. En hulle met hul kinders . . .

Dalk het jy nooit geleer om jou warmte te wys nie, of jy is klouerig. Geen man (of vrou) kan jou heelmaak of opmaak vir jou seerkry nie.

Die manier hoe jy jou emosies rondom die negatiewe verhouding met jou ma hanteer, is belangrik, sê hy. Verwerk jy nie die pyn daar rondom positief nie, kan dit kop uitsteek as skuldgevoelens (as ek maar net . . .), selfbevraagtekening (hoekom het ek nie . . .), rasionalisering of selfbejammering (sy was tog nooit lief vir my nie . . .). Jy kan kwaad, selfs woedend wees.

Versoening op haar sterfbed beteken nie alles gaan verander nie. Dit kan ’n katarsis wees, maar dis nie te sê dit gaan deursypel na jou ander verhoudings nie. Die brein vorm vroeg in jou lewe reeds gedragspatrone van hoe jy jou emosies hanteer.

Verwerk jy jou emosies rondom die slegte verhouding wel goed en verander jy dié patrone, sal jy potensiële konflik en verskille in jou verhouding met jou lewensmaat en kinders met groter begrip en empatie kan benader, verduidelik hy.

En jy kán, sê dr. Karen van Niekerk, sielkundige van Pretoria. “Sielkundige navorsing het in die verlede baie gefokus op verhoudingsprobleme. Dis egter net een deel van die antwoord. Die afgelope dekade word heelparty studies gedoen oor mense wat bó hul omstandighede uitstyg. Hulself en hul verhoudings floreer ten spyte van trauma en/of probleme in die verlede.

“Die ma-dogter-verhouding ís belangrik, jy leer gedragspatrone by haar aan. Hoe jy egter dink oor jou probleme, kan konstruktief of destruktief wees. Sien jy jouself as slagoffer, gaan jy by die ou patrone vashaak. Jy het’n keuse oor watter gedragspatrone jy wil verander. Jy kan verantwoordelikheid vir jou eie geluk neem.

“Fokus liefs op wat jy nou en in die toekoms wil hê, eerder as wat alles in die verlede verkeerd was. Jou brein het die wonderlike vermoë om nuwe neurale netwerke te vorm as jy nuut dink en anders optree. As jy dus nuwe gedagte- en gedragspatrone oefen en versterk, vervang dit ou, destruktiewe patrone. Praat jy heeltyd oor die probleme, versterk jy dit net. Jy doen dalk gedurig selfondersoek en vra ‘wat het ek verkeerd gedoen’.”

Volgens Karen is dit belangrik om te onderskei tussen jou ma se optrede, wat iets van háár sê. En jou optrede, wat iets van jóú sê. Jy hoef nie verantwoordelikheid vir haar te aanvaar nie. Dit beteken nie jy moet sê dis haar skuld en die rol van slagoffer speel nie.

“Al wil jy graag ’n goeie verhouding met jou ma hê, gaan dit nie noodwendig gebeur nie. Aanvaar jy het gedoen wat jy kan om dinge te verbeter. Besluit dan wat jy vir jouself kan doen, watter soort ma en vrou jý wil wees. Hou op praat oor hoe sleg dinge was. En maak seker wat jý doen, voldoen aan wat jy wil hê. Swaai die slegte verhouding met jou ma om in ’n inspirasie. ‘Ek weet nou wat ek nié wil hê nie, nie wil wees nie. En vir seker wat ek wíl wees.’”

Volgens haar beleef jy net intense emosie (positief en negatief ) as iets vir jou belangrik is. Daarom is jy ontsteld oor jou verhouding met jou ma en dis oukei. Maar dis verby, jy kan dit nie oordoen nie. As jy by ’n punt kom waar jy aanvaar jou ma het nie noodwendig die vermoë om te verander nie, besluit watter positiewe dinge het jy by haar geleer. Nie alles was immers sleg nie. Gooi weg wat negatief was en pak die pad vorentoe met die goeie aan, sê sy.

Die laaste woord kom van Deborah Tannen in You’re Wearing That? Understanding Mothers and Daughters in Conversation (Ballantine Books, 2006): Daar is dikwels misverstande tussen ma en dogter. Ons sukkel om die regte balans te vind tussen nabyheid en onafhanklikheid. En wil so graag gesien word nes ons is, maar voel sy kan soveel méér wees as wat sy is. Ons oorskat haar krag, onderskat ons eie. Probeer minder praat en meer dinge saam dóén, is haar raad. Besoek ’n vlinder-reservaat. Of verslankingsklub. Gaan vir ’n pedikuur of manikuur. Byna enige gedeelde aktiwiteit kan ’n bron van plesier wees.

TOKSIESE MA’S

Nie emosioneel beskikbaar

Eienskappe: Sy is onbewus van jou emosionele (soms selfs fisieke) behoeftes. Hiperkrities en vasgevang in haar eie probleme.

Langtermyn-uitwerking: Jy is sonder selfvertroue, sukkel om te waag en raak klouerig in verhoudings. Voel onwaardig om liefde te ontvang, is ’n pleaser met ’n gebrek aan objektiwiteit oor jou eie vermoëns. Jy sukkel om trots op jouself te voel, is nie spontaan in verhoudings nie en kan ’n emosionele eter wees.

Beherend – mikrobestuur jou lewe

Eienskappe: Sy is oorkrities en laat geen ruimte vir jou eie keuses en menings nie. Jy moet dink soos sy. Haar onrealistiese verwagtings plaas baie druk op jou. Sy ontmoedig eksperimentering met jou eie idees en oortuigings.

Langtermyn-uitwerking: Jy stel onredelike eise aan jouself, is ’n perfeksionis en voel nooit goed genoeg nie. Ander se behoeftes is altyd belangriker as jou eie. Oorsensitief vir kritiek, voel jy maklik geïntimideer deur mense met sterk persoonlikhede. Jy kan nie vir jouself opstaan nie.

Geen grense

Eienskappe: Sy wil eintlik jou maat wees, is nie konsekwent nie en “ja” vandag is “nee” môre. Daar is geen vaste reëls nie. Sy sukkel om nee te sê, vermy konfrontasie en koop jou eerder om sodat jy doen wat sy wil hê.

Langtermyn-uitwerking: Jy is selfgesentreerd en jou behoeftes moet dadelik bevredig word. Veeleisend in verhoudings en gewoond om jou sin te kry. Jy blameer ander vir jou gevoelens.

Narsis

Eienskappe: Jy kry nie ondersteuning, liefde en aandag nie. Sy manipuleer jou vir eie gewin en jy moet presteer sodat sy soos ’n goeie ma kan lyk. Indien nie, word jy wreed uitgetrap. Voel sy sleg, is dit jou skuld. Sy gebruik vrees en straf om jou te manipuleer en vergewe nie jou foute nie.

Langtermyn-uitwerking: Jy voel verantwoordelik om na ander om te sien. Jou man mishandel jou dalk, jy dink jy verdien dit en enige kritiek teen jou is geregverdig. Jy sukkel om besluite te neem. En onderdruk jou emosies wat tot uitbarstings kan lei, wat jou skuldig laat voel.

Rolle omgekeer

Eienskappe: Haar pligte word joune: soos kosmaak, takies in die huis. Sy bespreek persoonlike probleme met jou. Jy, kleine kind, moet haar emosionele behoeftes vervul.

Langtermyn-uitwerking: Jy sukkel om emosioneel onafhanklik van haar te raak en vertolk ewig die rol van die versorger. Jy is ’n pleaser, jou behoeftes is nie belangrik nie, wel om ander gelukkig te maak.

Bron: Dr. Karen van Niekerk

KONTAK:

Dr. Karen van Niekerk: 012 460 4465 www.karenvanniekerk.co.za

James de Villiers: 021 559 6400, jamesdv@iafrica.com