IS JUL VRIENDSKAP NOG DIE MOEITE WERD?

Racheal Johnston sê vra jouself af:

  • Is ons verhouding opbouend?
  • Kan ek haar vertrou met die inligting wat ek haar gee?
  • Voel ek meer energiek nadat ons tyd saam deurgebring het?
  • Is sy opreg teenoor my?
  • Gee sy net so baie soos wat ek gee, of kom alles net van een kant?
  • Ondersteun sy my wanneer ek dit nodig het?
  • Luister sy werklik na my?

Heske Sangster meen laat jul vriendskap gaan as: 

  • Sy nie ’n goeie invloed op bv. jou huwelik of werk het nie.
  • Sy jou heeltyd beïnvloed om swak keuses te maak, soos om dinge te doen wat teen jou waardes is.
  • Sy jou emosioneel dreineer of afkraak.
FOTO Unsplash / Helena Lopes

Die inperking het mense tyd gegee om oor baie dinge na te dink – ook vriendskappe. In die proses het afgeskeepte vriendskappe weer begin blom via WhatsApp, ou pêlle is op Facebook herontdek en jy het dalk selfs jou bure beter leer ken – al was dit net oor die tuinmuur. Maar daar was ook genoeg ure in die dag om te reflekteer oor verbintenisse waarvan die tyd dalk uitgeloop het.

Daardie beterweterige vriendin wat jou altyd een voor wil wees.

Die raakvatter wat jou so bygestaan het toe jy nog ’n onbeholpe ma was, maar tien jaar later steeds met raad (nou óngevraagd) kom, en in die gesig gevat voel as jy dit nie aanvaar nie.

Of daardie vriendskappe wat eintlik net oor pligsbesef gaan ...

Wanneer weet jy dis tyd om ’n vriendskap te laat gaan?

Die eerste prys is om die mooi in ’n vriendskap raak te sien en te fokus op wat jy wel daaruit kry en kan gee. Dis ’n gesonder uitkoms as om te fokus op ’n vriendin se swak trekke, sê Anri van den Berg, spesialis-welweesberader van die Vita Nova-beradingsentrum in Pretoria.

“Maar in dieselfde asem gesê: Wanneer ’n vriendskap jou oorwegend emosioneel dreineer, wanneer jy begin opsien na jul kuiers, oproepe begin vermy of afsprake kanselleer met verskonings, is dit ’n goeie tyd om jouself af te vra wat aan die gang is. Is hierdie net ’n fase waardeur jul verhouding gaan? Is daar bydraende faktore – gaan jou vriendin dalk deur ’n moeilike tyd en het sy dus juis nou jou ondersteuning nodig? Of is dít waarin die vriendskap verander het?”

’n Vriendskap wat jou leeg tap, een waarin jy nie veilig of gerespekteer voel nie, een wat nie met jou waardes strook nie, wat jou slegter laat voel oor jouself of negatief oor wie jy is, is een wat liefs beëindig moet word, sê Anri.

FOTO Getty Images / Gallo Images

Die lewe is moeilik genoeg, ons het nie mense nodig wat ons afbreek nie, sê Racheal Johnston, maatskaplike werker van Vita Nova. ’n Opregte vriendin is iemand wat jy kan vertrou en wat jou ondersteun. ’n Vriendskap kan ook toksies raak as sy jou laat skuldig voel oor iets wat jy nie gedoen het of nie goed genoeg gedoen het nie. Of as sy altyd iets van jou vereis en nie bereid is om terug te gee nie.

Soms is die kwessie nie eens so kompleks soos ’n toksiese vriendskap wat jou emosioneel uitput nie. Dit kan selfs ook net twee mense wees wat verskillende verwagtinge van ’n vriendskap het, sê Anri. Dan moet jy jouself afvra of jy nie te veel verwag nie – mense verskil en hoe hulle konnekteer verskil, maar dit beteken nie dat jou vriendin nie vir jou omgee nie.

As jy begin opsien na jul kuiers, oproepe vermy of afsprake kanselleer, is dit tyd om jouself af te vra wat aan die gang is
Anri van den Berg, welweesberader

Soos Ilanie Moller, sielkundige en pastorale berader by Vita Nova, dit stel: Een vriendin het dalk ’n behoefte aan koffie twee keer per week, ’n ander wil gesels oor die foon en ’n ander sal ’n bos blomme voor haar voordeur sonder enige sosiale kontak meer waardeer as ’n honderd koppies koffie. Dis daarom belangrik om mekaar goed te leer ken.

’n SARIE-leser vertel dit het haar ’n rukkie geneem, maar sy het geleer om elke vriendin te geniet vir wat sy bied. “Soms is ’n vriendin net ’n lekker pêl saam met wie jy na musiekuitvoerings gaan; jy hóéf nie jou lewensverhaal met elkeen te deel nie. As dit jul albei pas, wen albei.”

Volgens Racheal is gebrekkige kommunikasie een van die groot redes hoekom vriendskappe tot niet gaan. “Kommunikasie is die sleutel tot enige gesonde verhouding, maar ten spyte daarvan dat ons vroue kwansuis heeltyd oor ons gevoelens praat, kommunikeer ons nie altyd so goed nie. Ek weet van twee groot vriendinne wat nie meer kontak het nie. Babs* glo Alet* het haar te na gekom, terwyl Alet nie daarvan bewus is dat sy ontsteld is nie. Sy dink Babs is maar net te besig op haar nuwe dorp sedert sy verhuis het, terwyl Babs nie met haar praat nie omdat sy voel dat Alet haar nie genoeg tydens haar egskeiding ondersteun het nie. Maar hulle het nooit werklik daaroor gepraat nie.”

Voordat jy halt roep met ’n vriendskap – dink na of daar nie genoeg rede is om dit te red nie. Ilanie reken jy sal in jou wese weet watter vriendskappe meer om die lyf het en met watter vriendinne jy ’n dieper verhouding het. Vriendskappe word gevorm deur jare se gedeelde ervarings.

FOTO Getty Images / Gallo Images

Daar is heelparty gevalle waar vriendinne wat vir ’n lang tyd nie kontak gehad het nie weens ’n verkeerde persepsie, konflik of ’n misverstand, versoen geraak het nadat hulle mekaar iewers raakgeloop of by ’n sosiale geleentheid raakgesien het. “As sy vir jou belangrik is, nooi jou vriendin vir ’n koppie tee sodat julle kan gesels – daardie ontmoeting is gewoonlik die ontlontingsfase sodat jul verhouding kan begin herstel,” sê Ilanie.

Indien dit iemand is met wie jy al ’n lang pad stap, is dit beter om ten minste te probeer om die vriendskap te red, verduidelik Heske Sangster, forensiese maatskaplike werker by Vita Nova. Dink na oor die waarde wat die vriendskap vir jou inhou. “Onthou, geen groei kan plaasvind as daar nie soms ’n bietjie ongemak is nie. Dalk wil jy wegstap omdat sy vir jou raad gegee het waarvan jy nie hou nie of ’n opinie uitgespreek waarmee jy nie saamstem nie – dit is nie ’n goed genoeg rede om ’n vriendskap te laat gaan nie.”

Anri sê baie vriendskapsverhoudings het ’n seisoen. Sommige vriendskappe sterf ’n stil, natuurlike dood. Julle het dalk al hoe minder kontak en ál minder behoefte aan kontak – soos wanneer julle deur jul kinders bevriend geraak het en die kinders mekaar ontgroei of na ander skole gaan.

Ook verskillende lewensfases lei daartoe dat ’n vriendskap vanself doodloop, sê Heske. Jy verander dalk van werk of verhuis, jy trou en kry ’n baba, maar jou vriendin bly enkellopend. Jul waardes en belangstellings verander, en dis normaal dat julle uitmekaar dryf. As julle geen behoefte het om dit te laat werk nie, is dit onnodig om sleg te voel daaroor.

Maar hoe gemaak as jy ’n vriendskap wil verbreek en jou vriendin is onbewus daarvan dat dit nie meer vir jou werk nie?

Hier is riglyne:

  • ’n Gesprek is belangrik, sê Heske. As jou vriendin geen idee het hoekom jy die vriendskap wil beëindig nie, moet jy vir haar sê hoekom jy so voel, anders los dit baie ruimte vir vae vermoedens. Dit is ook nie regverdig teenoor haar as sy nie weet wat aangaan nie.
  • Gaan drink ’n koppie koffie saam en sorg dat julle albei genoeg tyd het om daaroor te praat, minstens ’n uur of twee, sê Racheal. Vra haar hoe sy by jul vriendskap baat. Gee haar kans om uit te wei, en noem dan wat jy daarby baat. Sê wat jou pla en gesels daaroor. Gee haar die geleentheid om ook haar kant te stel. Dalk is jy haar enigste vriendin en is sy byvoorbeeld nie eens bewus van hoeveel druk sy op jou plaas om haar te ondersteun nie.
  • Ilanie stel voor jy skryf eers alles neer wat jou ongemaklik maak. Skryf nou ’n brief aan jou vriendin om jou gedagtes te orden. Lees die brief ’n paar dae later weer of vra iemand wat jy vertrou om ook daardeur te lees om seker te maak daar lê nie ’n wegkruip-sin wat kan seermaak nie. “Gesels dan met jou vriendin: Sê wat dit is wat jou pla op ’n sagte, respekvolle manier sonder om haar te kritiseer. Ek besef dis moeiliker gesê as gedaan! Maar miskien is dit juis wat sy nodig het om te hoor – want dis heel moontlik ook hoe sy haar ander verhoudings hanteer en sy sukkel dalk presies met dieselfde ding in haar huwelik of by die werk.”

Ilanie waarsku dat jou vriendin dalk ná jul gesprek vir jou kan kwaad wees, en dan gaan jou vriendskap tot niet wees. Maar as sy volwasse genoeg is om daaroor na te dink, introspeksie te doen, kan dit tot haar persoonlike groei bydra. Dit kan selfs daartoe lei dat die vriendskap herbou word.

As jy ’n vriendskap laat gaan, hoef dit nie met slegte herinneringe gepaard te gaan nie. Soos een leser dit stel: “Ek het aanbeweeg van sekere vriendskappe, maar sal altyd onthou wat hulle op ’n sekere tyd in my lewe vir my beteken het – en ek hoop ek ook vir hulle.”

FOTO Getty Images / Gallo Images

DIE MOENIES VAN OPBREEK

  • Al het jy glad nie lus om haar in die oë te kyk nie, moenie net geleidelik uit jou vriendin se lewe verdwyn nie, sê Racheal. Dis wreed, en jy maak jou skuldig aan wat tieners ghosting noem, waar iemand glad nie meer kontak met jou maak nie en jou blokkeer en unfriend. Ilanie voeg by: Jou vriendin gaan seergemaak, verward en selfs verwerp voel as jy haar vermy. Sy kan dalk ook dink sy het jou teleurgestel en nie weet waarom nie.
  • Moenie kwaad uitmekaar gaan nie, sê Racheal. Jy gaan jouself nie vergewe as sy iets oorkom nie (worst case scenario). Moenie verskonings maak of jok nie.
  • Moenie op mekaar skree of aanvallend wees nie.
  • Soos met die beëindiging van enige verhouding, sal daar ’n gevoel van verlies wees, sê Heske. Bly beleefd. En moenie jou vriendin slegsê of beskinder by ander omdat julle nie meer goed oor die weg kom nie.

* Skuilname.

KONTAK

info@vitanova.co.za, vitanova.co.za of 082 541 4357