Vroeër vanjaar het die glanspaartjie Leandie du Randt en Bouwer Bosch hul Instagramvolgelinge geskok toe hulle daar aankondig hulle gaan skei. “Hey! Ons het iets om te deel. Ná ’n ongelooflike paar jaar saam het (ons) uit ons liefde vir mekaar besluit dat ons beter maats as huweliksmaats vir mekaar is. Die besluit is gegrond in ons liefde vir mekaar.”

Aanhangers kon dit nie glo nie, want dié twee was oënskynlik die perfekte paartjie. Hulle was jare lank beste vriende en het op ’n sprokiesmooi troue in 2015 afgehaak. Maar hul gelukkige einde het minder as vier jaar gehou. As beste vriende dit dan nie kan maak nie, wie kan?

Vriendskap, lees jy gereeld, is een van die belangrikste komponente van ’n gelukkige huwelik – want verliefdheid hou net só lank. Een studie (2017) waarby 350 000 mense in die Verenigde Koninkryk betrek is, het byvoorbeeld gewys paartjies wat gesê het hulle is met hul beste vriend getroud, is gemiddeld twee keer gelukkiger as ander getroude paartjies.

Maar is dit genoeg – veral wanneer 44% van plaaslike paartjies nie hul tiende huweliksherdenking haal nie?

IS JULLE VRIENDE?

Dié gevoelens kan dit laat lyk of die verhouding kan werk, maar is ook in gewone vriendskappe teenwoordig:

  • Aangetrokkenheid. Ja, vriende is ook aangetrokke tot mekaar, al is dit nie seksueel nie, en hulle mis mekaar.
  • Intimiteit. Enige verhouding word meer intiem soos iemand hul gevoelens deel en voel hulle kan die ander een daarmee vertrou.
  • Respek. Om iemand te bewonder en te respekteer is ook belangrik in ’n vriendskap.
  • Ondersteuning. Wedersydse ondersteuning is ’n kenmerk van vriendskappe én huwelike.
  • Pret. Om iemand se geselskap te geniet, of hul sin vir humor te waardeer, is ook belangrik in vriendskappe.
  • Invloed. Vriende beïnvloed ook mekaar se doelwitte, voorkeure en uitkyk – maar in ’n mindere mate as paartjies.

IS JULLE VERLIEFDES?

  • As julle buiten jul vriendskap ook dié dinge deel, het die huwelik ’n goeie kans:
  • Seks. Dis afwesig in die meeste vriendskappe.
  • Gedeelde doelwitte. Paartjies pas by mekaar se toekomsplanne en -verwagtinge aan, soos dié oor finansies, kinders en geloof.
  • Tyd en aandag. Paartjies bring baie meer tyd saam deur en doen meer moeite met mekaar as vriende.
  • Verbondenheid. “Ek” en “jy” word “ons”.
  • Positiewe illusies. Gelukkige paartjies is betower deur mekaar. ’n Mens het ’n meer realistiese prentjie van vriende.
  • Toewyding. Gelukkige paartjies kiés om moeite te doen om die verhouding gesond te hou.

DIE WAARDE VAN VRIENDSKAP

Dit is so dat huwelike met ’n sterk vriendskapsband ’n baie beter kans het om dit te maak, sê dr. Andri Burger, ’n sielkundige van Synergy Psychological Services (met takke in Johannesburg en Pretoria). “Daardie vlinders-op-die-maag-gevoel – navorsing toon dit kan tot twee jaar duur – is bloot ’n biologiese proses, chemikalieë wat in die brein afgeskei word. Dit gaan áltyd verby, vir almal, maar in gesonde huwelike bly paartjies steeds toegewyd aan mekaar wanneer die high verby is.”

Om dít te doen is vriendskap noodsaaklik, sê sy. “Dis nie sommer net ’n sêding nie. Talle studies het al gewys mense is gelukkiger getroud as hulle hul maat ook beskou as hul vriend/vriendin, en dat daardie vertroue, toewyding, respek en liefde belangriker is as die fisieke.”

Bonita Grobbelaar, ’n Johannesburgse leefstylafrigter wat onder meer spesialiseer as liefdesafrigter vir paartjies in Suid-Afrika en die buiteland, stem saam dat ’n huwelik nie sonder vriendskap kan oorleef nie. “Die meeste mense trou steeds omdat hulle ’n ‘vonk’ ervaar. Maar op die lange duur gaan daardie gevoel weg en ek glo dís die oorsaak van baie egskeidings – eerder as dat mense besef hulle is eintlik net goeie vriende.”

Natuurlik is ’n vonk belangrik, voeg sy by. “Julle kan ook nie nét vriende wees nie; julle moet versot wees op mekaar. Hoekom anders die moeite doen!”

Vroeër vanjaar het die sanger Ivan Roux, naaswenner in die Via-talentsoekreeks Die Kontrak, ook sy hart oopgemaak oor hom en sy vrou, Marida, wat op skei staan omdat hulle juis nie dié vonk gehad het nie. “Ek is baie lief vir haar, maar ons het nie as ’n egpaar gewerk nie. Ons was nog altyd eerder boesemvriende. Sy verdien ’n ware lewensmaat; haar sielsgenoot. En dis nie ek nie,” het hy in die media gesê.

Die geheim, is kenners dit eens, is om te verstaan wat ’n sterk vriendskapsband in ’n huwelik behels, en hoe dit van ’n gewone vriendskap verskil.

WAT KORT NÓG?

Odette Fourie, ’n berader van Johannesburg, het in 2009 net soos Leandie en Bouwer geglo sy trou met haar beste vriend – maar net twee jaar later is hulle uitmekaar. Sy vertel: “Ons het mekaar vir omtrent vier jaar voor ons verhouding as vriende geken en was daar vir elke op en af in ons lewens. Selfs vir daardie verhoudings wat nie uitgewerk het nie. En toe, op Oujaarsaand 2008, het ons gesoen toe die klok middernag slaan. Dit was so romanties en opwindend! Ons was maar twee maande saam toe ons besluit het om te trou, want ons ken mekaar mos al jare lank. Die seremonie was daardie Oktober.”

Nóú, jare later, kan sy sien daar was eintlik toe al probleme. “Ons was so gemaklik met mekaar, maar ek het toe gedink dis juis ’n goeie ding dat niemand voorgee nie. Ons sou al die gross goed voor mekaar doen – toonnaels knip, in ons oudste sweetpakke rondlê ... 

“Dié gemaklikheid het my gekoester laat voel, maar nou besef ek dis omdat ons verhouding te platonies was.”

Kort ná die troudag het enigiets romanties of fisiek soos inspanning begin voel, en hulle het ál minder moeite met mekaar begin doen. “Ons het eintlik maar ons eie, aparte lewens gehad – ons eie vriende, aparte stokperdjies, verskillende wêrelde. Dit was company, nie ’n verhouding nie.”

Tog sê dr. Annemarike de Beer, ook van Synergy, dat nabyheid, vertroue en liefde baie meer tel as die seksuele deel van ’n verhouding. “Seks is nie onbelangrik nie en maak steeds deel uit van ’n gesonde huwelik – dis net nie die spil waarom alles draai nie. Trouens, ’n goeie seksuele verhouding is meestal die gevolg van ’n goeie verhouding op alle ander vlakke.”

En as julle, soos Odette-hulle, toelaat dat ander vriende in jul behoeftes voorsien, is dit ook nie ’n gesonde teken nie. “Gelukkige paartjies laat nie die deur vir iemand anders oop nie – hetsy dit vriendskaplike behoeftes is soos om lekker dinge saam te doen of geselstyd, of romantiese behoeftes soos seks (wat dan tot ’n verneukery kan lei). Julle moet natuurlik ook ’n lewe en vriende buite die huwelik hê, maar dit raak ongesond as daardie lewe belangriker as jou verhouding raak.”

Bonita voeg by: “Ons verwag eenvoudig minder van ons vriende as van ons maat. Jy moet jou man of vrou baie wíl sien, geheime deel, dinge saam doen. Jy moet jou die lewe eintlik nie sonder hulle kan indink nie. En ja, daardie ekstra verwagtinge maak jou soms meer krities jeens jou maat as ander mense en kan tot konflik lei, maar in ’n gesonde huwelik is julle albei bereid om vir die verhouding te baklei.”

Odette is bly hul jare se vriendskap het gemaak dat hulle nie krities was teenoor mekaar toe hul lewe en dinge buite hul verhouding belangriker as hul huwelik geraak het nie. “Ons was gelukkig nooit lelik met mekaar nie en kon ná ons egskeiding vriende bly, al is ons nie vandag meer so na aan mekaar nie. Maar dit wys ook seker daar was nie daardie passie nie – ons wou nie daarvoor baklei nie.”

DIE BALANS

Bonita sê benewens vriendskap en verliefdheid, moet julle kyk of julle by mekaar pas – en kan aanpas. “Dís ’n beter aanduiding of jul verhouding op die lang termyn kan werk as vriendskap. Het julle dieselfde drome, finansiële gewoontes, ambisie? Stem jul waardes, doelwitte, geloof, lewensuitkyk en lewensfases ooreen? ’n Vriendskap kan interessant wees as mense op dié maniere verskil, maar in ’n verhouding sal dit nie werk nie. Wat ook al regtig vir jou belangrik is, moet vir jou maat ook wees, en dit verskil in elke verhouding. In ’n huwelik moet julle saam ’n lewe bou.”

En bo alles, moet julle getrou wees, sê dr. Burger. “In suksesvolle huwelike kies lewensmaats om lewenslank aan mekaar getrou te bly en om saam aan ’n toekoms te bou, ten spyte van die feit dat moeilike tye as deel van die paadjie gewaarborg is. Huweliksmaats kies om deur konflik te werk en kies ook om mekaar te vergewe. In gesonde huwelike sien paartjies uitdagings wat oor hul pad kom as ‘hul’ uitdaging en probeer dit saam aandurf. Daar is nie ’n wenner en verloorder nie, maar eerder ’n span wat saamwerk. Dit veroorsaak ’n diep intimiteit wat nie noodwendig in ander vriendskappe gevind word nie.”

Maar hoe weet jy of jul verhouding oor al dié dinge beskik? Tyd, tyd, en nog meer tyd, sê dr. De Beer. “Dit is belangrik om iemand eers baie goed te leer ken en die verhouding tyd te gee om te ontwikkel sodat julle kan sien of dit al hierdie eienskappe het. Paartjies wat op die lang termyn gelukkig is, het realistiese verwagtinge van mekaar en die verhouding en kies steeds elke dag om mekaar lief te hê – eerder as wat dit net ’n ‘gevoel van liefde’ soos in die verliefde fase is. Wag tot die vonk begin bedaar sodat jy nugter oor alles kan besin.”

Juis dán sal daardie vonk langer behoue bly. Oor die jare sal dit weer en weer opvlam, hetsy ná moeilike tye, tydens vakansies, wanneer julle mekaar mis, of sommer net ’n spesiale aand saam deel. “Al is vriendskap, verliefdheid, en al die bogenoemde waardes baie belangrik, moet julle ook in staat wees om mekaar genoeg te vertrou om ook aparte lewens te kan lei, want dit bou langtermynaangetrokkenheid,” sê Bonita. 

“Julle moet doelwitte deel, maar ook afsonderlike doelwitte hê. As ’n paartjie groei, maar ook as mense. Jou eie identiteit behou terwyl julle ook saam een bou. Die vertroue om mekaar daardie ruimte te gun om jul eie mens te wees is noodsaaklik. Dis ’n fyn balans, ja, en baie om in gedagte te hou. Maar as ek mense net een brokkie raad kan gee, is dit: Wees mál oor mekaar. As jy regtig eerlik is met jouself en met mekaar, sal jy wéét of julle versot is op mekaar of nie.” 

KONTAK: Bonita Grobbelaar: www.lovecoachbonita.com Synergy Psychological Services: www.ruimsigpsych.co.za