Kry ’n baba – dit sal julle nader aan mekaar bring.

Anri van den Berg, verhoudingsberader by die Vita Nova-beradingsentrum in Pretoria, vra dikwels vir egpare tydens huweliksberading: “Waar het dinge vir julle begin verander?” En “maklik 95%” van dié pare wat ook ouers is, sal sê: “Toe ons kinders gebore is.” Hulle volg dit wel gewoonlik vinnig op met hoe lief hulle hul kinders het en dat hulle die kinders vir niks in die wêreld sal verruil nie!

Natuurlik is ’n baba ’n heerlike seëning om in dankbaarheid na uit te sien, maar dit bly ’n feit dat die nuwe gesinslid dinge drasties verander, sê Anri. “Ma se prioriteit is die hulpelose nuweling en Pa voel dikwels uitgesluit. Tydens berading vertel pa’s dikwels hoe hulle niks kan reg doen nie, gekritiseer word en nie toegelaat word om te help nie. Ma’s kla oor hoe hulle nie op hom kan staatmaak om te help nie, hoe hierdie volwasse man mos eintlik na homself kan omsien en hoe selfsugtig hy is om so op haar tyd aanspraak te maak. Dan praat ek nie eens van die invloed wat die tekort aan slaap het nie.”

Selfs van die gesondste huwelike kry ’n “speed wobble” met die koms van ’n baba, maar paartjies met die geduld en deursettingsvermoë om mekaar liefdevol te ondersteun en deur die onseker fase te werk, put uiteindelik baie vreugde uit hul nuwe gesin, sê Anri.

Om egter ’n baba te kry in die hoop dat dit jou wankelende huwelik gaan red is die grootste fout wat jy kan maak, waarsku sy. Ongelukkig gryp party egpare uit desperaatheid na hierdie “oplossing”. Die gevolg is bitter selde, indien ooit, positief. Die ekstra spanning lei meestal net tot meer konflik en skeiding. Moet nooit ’n baba kry in ’n poging om jou huwelik te red nie – die krake gaan net vererger, en dan het julle boonop ’n kind (en sy toekoms) om in ag te neem.

As julle eers getroud is, sal hy verander.

Daar is ’n sêding wat lui die beste voorspeller van toekomstige gedrag is hoe iemand in die verlede opgetree het, sê Anri. “Ek glo mense kan beslis verander en groei is moontlik, maar iemand moet self wíl verander.”

Ervaring het haar geleer dit is meestal vroue wat glo hul maat sal verander sodra hulle eers getroud is. Hulle sal gewoonlik gedrag wat hulle ongelukkig maak, oorsien en regverdig met ’n redenasie soos: “Wanneer ons getroud is, sal hy begin rustiger raak en sal ek ’n groter prioriteit vir hom wees.”

Die man voel dikwels weer: “Dis hoe sy my leer ken het, hoekom verwag sy dat dinge moet verander net omdat ons getroud is? Sy verwag van my om iemand te wees wat ek nie is nie.” Paartjies wat aan trou begin dink, moet hul verwagtinge en behoeftes oor die huwelik vooraf deurpraat. Voorhuwelikse berading kan van onskatbare waarde wees.

Romanse
FOTO Unsplash / Gabby Orcutt

As jy regtig vir jou maat omgee, sal jy opofferings maak.

Hierdie is wel goeie raad, maar met ’n groot “maar” daaraan gekoppel, sê Anri. ’n Paartjie wat bereid is om opofferings te maak en kompromieë aan te gaan, is gewoonlik bereid om van hulself te gee om só die verhouding te bou.

Die gevaar sluip in wanneer dit net van een kant af kom, of wanneer jou opofferings om jou huwelik te laat werk ten koste van jou eie menswees is. As jy jouself al hoe “kleiner en kleiner” begin maak om jou lewensmaat tevrede te hou, moet die gevaarklokke lui. Dit is belangrik dat elkeen sy eie identiteit kan behou terwyl julle saam bou aan die “ons” in jul verhouding.

Maak jou maat jaloers – dit sal jou meer begeerlik maak.

Om jou maat jaloers te maak is na my mening ’n gevaarlike speletjie, sê Roelien Wiesner, maatskaplike werker en berader by Vita Nova in Pietermaritzburg. Jy kan dit dalk beskou as ’n manier om ’n bietjie woema in jul verhouding te blaas, maar dit kan ’n verhouding vir ewig skend. Tipiese voorbeelde van dié jaloesie-speletjie is om jou selfoon vinnig en opsigtelik weg te sit as jou maat inkom, of ’n ligte flirtasie met ’n ander man terwyl jy en jou maat saam by ’n partytjie is. Dié optrede kan die teenoorgestelde uitwerking hê as waarop jy gehoop het. Dit kan hom onseker laat voel, laat toeskulp of kwaad maak.

“Blaas eerder ’n bietjie pret in jul verhouding. Flankeer met jou eie maat, los vir hom spesiale notas, gesels met en luister na hom. Dit sal hom laat voel jy gee om en dat jy nog verlief is,” sê Roelien.

Dis ’n goeie teken dat julle nooit baklei nie. As julle baklei, is jul verhouding in die moeilikheid.

Al is jy hoe lief vir die persoon in jou lewe – een of ander tyd gaan julle oor iets verskil. Die geheim lê net in die manier waarop julle dit doen, sê Roelien.

Paartjies wat nooit baklei nie, is soms ook paartjies wat eintlik maar net “saam leef”, verduidelik Anri. Om twee mense tevrede en gelukkig te hou is nie maklik nie. Daar is tye dat julle nie gaan saamstem nie of dat jy seergemaak, afgeskeep of te na gekom gaan voel. Om konflik te vermy klink dalk na die oplossing, maar sonder gesonde konflik kan julle nie verskille uitpraat en oplos nie.

Roelien beskryf die persoon wat geleer het om liewer die vrede te bewaar ter wille van alles en almal, as ’n “sluimerende vulkaan” wat wag om te ontplof. “Jou selfrespek en respek vir jou maat word minder, jy hou jou woede in en op die oppervlak lyk julle soos dié gelukkigste paartjie. In sulke verhoudings gebeur dit dikwels dat die ‘boelie’ vir die hele wêreld vertel hoe gelukkig hulle is.”

Party pare het al geleer om konflik reg te hanteer – met ’n wen-wen-benadering.

Volgens Roelien is die goue riglyne:

  • Behandel mekaar met respek;
  • As julle nie tot ’n vergelyk kan kom nie, staan ’n bietjie terug en probeer later weer;
  • Luister voor jy praat, en moenie hom in die rede val nie;
  • Praat wanneer die tyd reg is en julle albei uitgerus is. Halftwaalf in die aand is nie ’n goeie tyd nie;
  • Mik vir die goue middeweg waar albei wen.

Dikwels moet dié gedrag aangeleer word – en albei partye moet bereid wees om saam te werk en “reg” te baklei, sê Roelien. Sekere verhoudings is egter so toksies, veral waar geweld betrokke is, dat dit die beste uitweg is as ’n paartjie se paaie eerder skei.

Jou standaarde is te hoog.

Die implikasie van dié raad is kommerwekkend, sê Heske. Moet ek my standaarde verlaag net sodat ek in ’n verhouding kan wees?

“Die antwoord is onomwonde nee. Besluit met watter dinge jy kan saamleef en wat vir jou onaanvaarbaar sal wees – en hou daarby,” sê sy. “Mense verskil – so ook hul waardes, perspektiewe en lewensuitkyk. Wanneer dit ooreenstem, het jy en jou maat ’n gemeenskaplike basis waarop julle jul verhouding kan bou. As julle nie oor dié dinge saamstem nie, kan dit lei tot konflik en jy kan jouself ‘verloor’.”

Anri voeg by: “Wees eerlik met jouself oor wat jou behoeftes is. Wanneer jou maat nie aan jou ononderhandelbare behoeftes voldoen nie, is dit nie maar net iets kleins wat jy kan los met die hoop dat dit sal oorwaai nie.”

Romanse
FOTO Unsplash / Toa Heftiba

Moenie kwaad vir mekaar gaan slaap nie.

Dié raad doen meer skade as goed. “Ná ’n lang dag van werk, ouer-wees en huishoudelike verpligtinge is die kans baie goed dat nie een van julle die regte ingesteldheid sal hê om ’n belangrike kwessie deur te praat of ’n geskil op ’n rasionele, kalm manier op te los nie. Wanneer jy moeg is, kan jy nie altyd weldeurdag optree nie en is jy meer geneig om dinge te sê waaroor jy later spyt gaan wees,” verduidelik Anri.

Kom ooreen om die volgende dag dinge uit te gesels – wanneer julle albei uitgerus is en meer perspektief het. (Sien “goue riglyne” hier bo.) Sy sê dat julle mekaar steeds met liefde en respek kan hanteer, selfs al is julle kwaad – en pak dan die saak op ’n tyd wat julle albei pas. Moenie die kwessie net los nie! Dinge wat onder die mat ingevee word, raak soms groter kwessies.

Behou ten alle koste jou privaatheid.

Dis waar dat almal die reg op privaatheid het. Soos om nie al die besonderhede van ’n gesprek met ’n vriendin met jou lewensmaat te deel nie, veral as sy dit versoek het. Of om ’n WhatsApp-gesprek tussen jou en ’n familielid privaat te hou.

Daar is egter ’n groot verskil tussen privaatheid en geheimhouding, sê Roelien. Soos wanneer jy doelbewus dinge vir jou maat wegsteek omdat jy weet hy gaan nie daarvan hou nie, of omdat dit die ander persoon gaan seermaak. Dit kan uiteindelik jou verhouding skade berokken, sê sy.

Sy voeg by: “Hierdie stukkie ‘raad’ het die potensiaal om tot groot vertrouensprobleme te lei. Vertroue is een van die hoekstene van ’n gesonde huwelik. Voor jul troue is dit belangrik om ’n oop gesprek te hê oor wat julle as privaat beskou.”

As daar chemistry tussen julle is, is jul kop deur – hy is die een vir jou.

Chemistry, daardie skoenlappers op jou maag as jy hom sien, daardie iets wat jy net vóél en wéét, verwys meestal na fisieke en seksuele aantrekkingskrag. Liefde met die eerste oogopslag. Maar wat as hy nie regmerkies kry in al die ander boksies nie? Dalk het julle heeltemal verskillende waardestelsels. Of julle sukkel met kommunikasie. Niemand wil dit hoor as hulle tot oor hul ore toe verlief is nie, sê Roelien.

As daar chemistry is, maar daar is nie aanpasbaarheid nie, moet die gevaarligte flikker. Op die lange duur sal die skoenlappers al hoe minder tel, terwyl julle al hoe swaarder dra aan die verskille. As julle daardie wonderlike “chemie” ervaar, sorg dat julle mekaar eers goed leer ken voor julle belangrike lewensbesluite neem.

Bygesê, daar is wonderlike stories van mense wat die “warm kriewels” van chemistry ervaar het, binne ’n maand trou, goed aanpasbaar is en jare later steeds getroud en verlief is. Maar om daardie vlammetjie te laat aanhou brand, het ook werk geverg.