Ons lewe in ’n giftige wêreld waarvan die impak meer sigbaar word hoe ouer jy word. Depressie, kanker en die skaal wat swaar trek ...  Dieetkundige MARIZA VAN ZYL gee ’n kykie na die nuutste inligting oor hoe jy kan terugveg.

Wenk 2: Lees betyds die waarskuwingstekens

Gemoedsveranderinge, depressie, vergeetagtigheid

Een van die mees ontnugterende gewaarwordinge in my lewe was die besef dat breinchemie jou gevoels- en belewenis-wêreld asook jou konsentrasie, leervermoë en vermoë om te beplan voorskryf. Jy het dalk al so iets beleef. Ná ’n groot skok is jy huilerig, angstig, sien nie lig nie, kan nie fokus nie en is vergeetagtig. Vir sommige mense is dit ’n geleidelike proses van oorlading. Die eise wat jou werk- en/of gesins-omstandighede stel, is te veel, maar jy beur voort.

Jy begin ’n besigheid wanneer jou kinders universiteit toe gaan. En verstaan nie hoekom jy “gestraf” word met onhanteerbare warm gloede nie. Of hervat jou werk op 40 ná jou tweede baba, borsvoed snags en wroeg omdat jy nie die laaste tien kilogram kan afskud nie. Jy moet van voor af begin ná jou egskeiding . . . en snags skrik jy in ’n angssweet wakker.

Dié scenario’s vra dalk meer van ons lyf as wat dit kan gee – veral nie sonder die nodige ondersteuning nie. Ayurvediese (antieke Indiese holistiese) medisyne gebruik graag adapto-geniese kruie soos ashwagandha of mirre (commiphora) wanneer sulke eise meer as jou vermoë is.

Op ’n voedingsvlak word die rol onderskat wat jou dieet in die ontwikkeling van ’n chemiese wanbalans speel. Het jy geweet die spysverteringskanaal produseer meer serotonien as die brein? ’n Ongesonde dermomgewing (met chroniese simptome soos ongemak, opgeblaasdheid of hardlywigheid) kan serotonienproduksie, noodsaaklik vir ons welwees, verlaag.

  • ’n Dieet gebaseer op diereproteïene en/of grane en suiwel dra by tot ’n laer pH (suur-alkalie-wanbalans) in die spys-verteringskanaal, wat die organismes in jou derm beïnvloed. Dis eintlik húlle – jou “dieretuin” – wat in beheer van jou metabolisme is. En van die boustene (vir bv. serotonien en dopamien) voorsien wat ’n balans in jou brein help verseker.
  • Jou bioom (“dieretuin”) is ’n weerspieëling van jou dieet. Eet jy ’n tipiese Westerse dieet hoog in graan, of meer vet en proteïene, lyk jou bioom anders as wanneer jy ’n verskeiden-heid plantaardige en onverfynde styselkosse met baie vesel inneem.
  • Voedingstowwe (of die afwesigheid daarvan) kan dus dalk nie net jou breinbalans direk beïnvloed nie, maar ook indirek jou gemoedstoestand weens die afwesigheid van die nodige boustene vir serotonien en dopamien.
  • Min mense besef hoe belangrik voedingstowwe is om noodsaaklike breinchemiese stowwe vervaardig. Sink en magnesium is bv. noodsaaklik vir die omskakeling van die chemiese stof 5-HTP (ook beskikbaar as ’n natuurlike aanvulling vir ’n lae gemoed) na serotonien. Suid-Afrika se grond is arm aan albei, sink én magnesium. Kosse wat normaalweg bronne daarvan is, bevat heel moontlik laer vlakke as elders in die wêreld, of plekke waar sink met bemesting aangevul word. Hoeveel mense eet daagliks drie opgehoopte eetlepels pampoensaad, ’n bron van sink en magnesium? Of gereeld oesters, ook ’n goeie bron. 

Mariza van Zyl, geregistreerde dieetkundige/nutrigenomiese geïndividualiseerde dieet-, gesondheids- en voedingskonsultant, lei vanaf vandeesmaand werksessies wat afskop by De Malle Meul, Philadelphia, Wes-Kaap, waar sy in diepte hieroor gaan gesels.

Besoek haar webblad www.betereet.co.za vir meer inligting, of volg haar op Facebook/BetterEat of Instagram/bettereat.betereet.

Vyf wenke vir woema:

WENK 1: TIPTOP HORMOONWERKING