’n Leë babawiegie
Dilemma: Charlie en Ilse Daniels (Marlo Minnaar en Nicole Fortuin) is pasgetroud en smoorverlief. ’n Baba is hul droom, maar dan begin die stryd. Die wiegie wat leeg bly, vang baie paartjies onkant. Hulle hanteer stres verskillend, die een is dalk meer sensitief, meer in sak en as, en dit plaas ekstra druk op ’n reeds moeilike situasie. Hoe stap julle dié pad en kom heel (en steeds getroud) anderkant uit?

Kyk die reeks hier.

Mandy Rodrigues, kliniese sielkundige van Johannesburg wat op onvrugbaarheid fokus

Julle stem saam: Die tyd is ryp om met ’n gesin te begin en julle bêre die kontrasepsie. Jul liefdeslewe is goed en julle glo naïef julle gaan sommer vinnig swanger raak. Maar die maande gaan verby en die swangerskaptoets bly negatief. Jy begin let op jou siklus en doen navorsing oor wanneer die vrugbaarste tyd van die maand is. Julle kan nie wag om mekaar in die rol van ma of pa te sien nie.

Dan tree ontnugtering in. Aanvanklik bekyk julle jul gewoontes onder die vergrootglas en doen alles in jul vermoë om jul kans op swangerskap te verbeter. Maar irritasie begin knaag, byvoorbeeld vir mekaar se goed bedoelde raad. Oral is boonop emosionele slaggate, soos ’n vriendin wat aankondig sy is swanger, wat jou aan die leë wiegie herinner. Dit alles het ’n negatiewe uitwerking op jul intimiteit. Jy begin seks beplan, dit raak roetine en alle spontaneïteit verdwyn.

Dit raak ’n middel tot ’n doel – om ’n baba te verwek. Elke maand word jou hoop opnuut verpletter en jy begin intimiteit koppel aan teleurstelling. Jou man raak geïrriteerd omdat jou hele lewe wentel om een ding: Om swanger te raak. Skuldgevoelens en skaamte sluip in en julle begin mekaar blameer – sonder enige feite. Jy stel eerste voor julle besoek ’n spesialis. Hy is dalk nog nie gereed daarvoor nie en bekommerd oor wat dit gaan kos. ’n Besoek aan ’n spesialis beteken egter nie noodwendig in vitro-bevrugting en duur mediese behandeling nie. ’n Eenvoudige laparoskopie (minimale-toegangchirurgie) is dalk voldoende om die probleem op te los. En dis tog beter as maand ná maand se wag en emosionele uitmergeling.

Wanneer julle uiteindelik ’n spesialis besoek, het julle reeds ’n pad geloop. My ervaring is dat vroue meer geneig is om ondersteuning en vertrouelinge te soek, terwyl mans nie graag deel nie. Hy hanteer dinge deur te kompartementaliseer. Sport, stokperdjies, werk, sosialisering en gesin is apart in sy brein georden. By vroue is alles weer inmekaargevleg. Die feit dat jy nie ’n baba kan hê nie, het ’n effek op al daardie dinge en jy sukkel om dit te skei.

Julle pak die vrugbaarheids-behandeling aanvanklik as ’n span aan. Maar raak mettertyd ontnugter omdat dit nie vrugte afwerp nie. Jy wil aanmekaar praat oor die pad vorentoe. Hy vermy dit en kan selfs onttrek. Die huwelik begin wankel as julle apart probeer om dinge te verwerk: Jy praat met vertrouelinge en hy kom dalk later huis toe en raak angstig oor wat daar wag. Dís wat uiteindelik tot ’n egskeiding kan lei. En nié omdat die een die ander nie ’n baba kan gee nie.

Vroue is meer geneig om vir berading te gaan en advies te soek oor hoe om kop bo water te hou. Mans is meer rasioneel, pragmaties en soek maniere om die probleem op te los, nóú! Berading beteken nie noodwendig daar is ’n probleem met die huwelik nie. Dit kan hom wel help om jou beter te verstaan en jou stryd beter te hanteer, terwyl julle met ’n plan vorendag kom wat vir albei aanvaarbaar is. Besoek: mandyrodrigues.com

Nicole Fortuin en Marlo Minnaar
Nicole Fortuin en Marlo Minnaar

Liefde kom in verskillende pakkies
Dilemma Frans du Plessis (Neels van Jaarsveld) is ’n ghoeroe op die aandelemark. Mense wonder altyd of sy vrou, Leandé (Nadia Valvekens), vir liefde of geld getrou het. Liefde is tradisioneel die grondslag van die huwelik – die basis waarop ’n paartjie hul lewe vorentoe beplan en bou. Maar is dit ál werkbare fondament? Is dit verkeerd om vir geld te trou? Met wedersydse begrip, maar die emosionele belegging kleiner.

James de Villiers, sielkundige en hipnoterapeut van Kaapstad

Sowat 44,4% van mense wat in 2016 geskei het, het dit binne die eerste tien jaar gedoen, volgens Statistieke Suid-Afrika. Die redes hiervoor is kompleks. Die romantiese liefde van Eros, die Griekse god van vrugbaarheid, verteenwoordig seksuele passie en begeerte. Later het die Grieke daaraan gedink as irrasionele liefde, malligheid, want jy verloor beheer (fall madly in love). Dis ’n lekker gevoel, maar hou nie lank nie. Kort voor lank het julle ’n verbintenis en dan begin die oppe en affe. Julle verskil en sit vas. Die rede? Jy raak verlief op iemand wat ooreenkom met ’n (meestal onbewuste) prentjie in jou kop. ’n Prentjie wat te doen het met albei jou ouers se positiewe én negatiewe eienskappe. Asook jou persepsie en ervaring van liefde in jou kinderjare en die positiewe en negatiewe emosies wat dit by jou ontlok het.

Jou ouers het elkeen hul eie liefdestaal en jy ontdek ook joune. Daar is verskillende liefdestale. Sommige mense wys hul liefde deur praktiese dade van diens en versorging, fisiek of finansieel. Ander mense voel geliefd en gewaardeer as hulle geskenke ontvang. Die probleem is nie die liefdestaal as sodanig nie. Leandé se (moontlike) behoefte aan finansiële sekuriteit is nie noodwendig materialisme nie. Die probleem is wanneer een liefdestaal álles raak. Dan raak mense rigied en manipulerend. “As jy regtig vir my lief is, sal jy ...”

Aan die begin van die verhouding voel julle baie aangetrokke tot mekaar. Dit oorheers die negatiewe emosies van jou prentjie uit die verlede. Maar tussen sowat 35 tot 50 jaar begin ander aspekte van jou persoonlikheid ontwikkel. Die negatiewe ervarings van jou verlede, jou onvervulde behoeftes en onderdrukte emosies begin na vore kom. Dit wat jou na jou maat aangetrek het, is nie meer genoeg nie. Jy soek meer. As jou liefdestaal is om geskenke en materiële sekuriteit te ontvang, begin jy kla omdat jou maat nie met jou oor sy emosies gesels nie – net heeldag werk en jou emosioneel afskeep. Jy verwag onbewustelik dat jou maat nou moet opmaak vir jou kindertrauma en onvervulde behoeftes.

Romantiese liefde is dus nie volhoubaar en genoeg nie. Ander vorme van liefde moet ook ontwikkel word. Geen verhouding tussen twee mense kan in al die soorte liefde voorsien nie. In Grieks is daar nog ses tipes. [Waaronder vriendskaplike en onbaatsugtige liefde, die liefde vir ’n kind.] Noodsaaklik ook gesonde selfliefde. As jy nie jouself liefhet nie, eis jy liefde van jou maat, familie en vriende. Sukkel jy met selfliefde, besoek ’n sielkundige saam met wie jy jouself kan ontdek en jou met jou wonde uit die verlede kan help. Respekteer en aanvaar jou maat onvoorwaardelik as mens. Betoon geduld en verdraagsaamheid en gaan kompromieë aan. Fokus op jou liefdesverhouding met jou kinders. Bring tyd deur saam met jou vriende wat jou aanvaar soos jy is. So nou en dan moet jy ook net spontaan kuier, dans en plesier met jou vriende en kinders hê.

Kontak: 021 559 6400, jamesdv@iafrica.com

Nadia Valvekens en Neels van Jaarsveld
Nadia Valvekens en Neels van Jaarsveld

Red ’n saai huwelik
DILEMMA André en Bev Mouton (Charlton George en Quanita Adams) se kinders is uit die huis en skielik is dit net hulle twee. Al die jare van getroud wees en die druk van kinders grootmaak het die fokus na die gesin verskuif; as individue het hulle half verdwyn. Van ’n vonk tussen hulle is daar skaars sprake. Hoe laat jy die opwinding in die huwelik herleef – iets wat eers daar was, maar deur die jare begrawe is sodat die gesin net kop bo water kon hou.

Dr. Elmari Mulder Craig, seksuoloog en verhoudingskenner van Pretoria

Evalueer die verhouding: Wat sou julle die graagste in jul verhouding wou verander, en hoe? Skryf jul doelwitte neer. Is dit prakties en haalbaar? Doen saam iets wat vir julle albei lekker is. Veral mans kla dikwels hulle weet nie wat hul vrou eintlik van hulle verwag nie. Praat dus oor die verhouding: konflik, seks, finansies, skoonfamilie en rolle. Besluit wat julle aan die tekortkominge gaan doen. Stel ’n balansstaat op en fokus op al die positiewe dinge. Dink terug aan die tyd toe julle nog uitgegaan het, hoekom julle op mekaar verlief geraak het.

Prikkel sy/haar jagtersinstink: Verbeel jou jy’s enkellopend en jou maat die een wat jy tot elke prys wil hê. Wees net so subtiel soos destyds toe julle uitgegaan het. Laat hom/haar wonder en kopkrap. Doen soms doelbewus iets onvoorspel-baars, soos om jou arms van agter om sy/haar lyf te sit.

Verander jou styl: ’n Radikale verandering aan jou voorkoms is nie nodig nie – veral ’n vrou kan dit subtiel doen. Verander soms jou haarkleur en haarstyl en speel met ander klere as wat jy gewoonlik dra.

Doen die onverwagte: Probeer soms soos die ander geslag doen en dink. Koop vir hom twee rugbykaartjies vir ’n belangrike rugbytoets. Gee haar ’n geskenkbewys vir ’n massering. Deel mekaar se belangstellings, en wys jy gee om deur iets saam met jou maat te doen wat jy nooit vantevore gedoen het nie. Gun mekaar ook alleentyd en wys julle vertrou mekaar.

Wys jy stel belang: Jul beroepe verskil dalk hemelsbreed, en jy verstaan nie altyd alles wat jou maat van agt tot vyf doen nie, maar wys jy stel belang. Vra mekaar uit oor die dag, gee erkenning vir prestasies en ondersteun mekaar.

Werk aan gesamentlike én afsonderlike groei: Al word jy op jou troudag deel van ’n huweliks-vennootskap, bly jy ’n individu. Jy is geregtig op jou eie belangstellings en stokperdjies, mits dit nie ten koste van jul verhouding is nie. Dis die manier waarop jy nuwe idees en energie in die verhouding kan bring. Wees egter ook deel van mekaar se wêreld. Julle moet altyd die vrymoedigheid hê om met mekaar oor jul probleme te praat. Solank julle mekaar se beste vriende en vertrouelinge bly, sal dit nie nodig wees om dit elders te soek nie.

Identifiseer jou verwagtinge: Wat is jou verwagtinge van die verhouding? Bekyk jou behoeftes krities en vra jouself af of dit realisties is. Ons is soms geneig om deur ’n rooskleurige bril na verhoudings te kyk en ’n droombeeld van die “perfekte” een te hê. ’n Gelukkige huwelik beteken ook om sonder grimering met deurmekaar hare wakker te word en die asblik te moet uitdra.

Beplan ’n erotiese verrassing: Dis een van die opwindendste maniere om jul sekslewe weer woema te gee. Gee jou kreatiwiteit vrye teuels.

Elmari is beskikbaar vir praatjies en seminare. Besoek: elmaricraig.co.za.

Quanita Adams en Charlton George
Quanita Adams en Charlton George