Hoe meer kompleks die lewe geword het, hoe ingewikkelder het ons verhoudings geword. Baie mense wil nie meer van hulself praat as enkellopend, getroud of geskei nie.

Die een ná die ander nuwe term waai oor uit Hollywood. Jy “ontkoppel bewustelik” as jy skei, is “verstrengel” in ’n affair, in ’n “eie-vennootskap” eerder as enkellopend . . . En nou met die pandemie date jy heel moontlik virtueel – ’n verskynsel van die middel-90’s wat weer opgevlam het.

Mense is immers vloeibaar en soek nuwe definisies vir hul verhoudingslewe, verduidelik dr. Elmari Mulder Craig, ’n seksuoloog en verhoudingskenner van Pretoria. “Die wêreld verander en ons pas aan, soos ons nou weer sien met nuwe tegnologie en Covid-19.”

Of ons skuil gewoon agter nuwe woorde omdat ons verwerping vrees, meen Truida Heymann, ’n sielkundige berader van Kaapstad. “Soos ’n ‘situationship’ [omstandigheidsverhouding] – jy is dalk nie gereed vir ’n volwaardige verhouding nie of bang vir die druk en knoop ’n verhouding aan wat jou op kort termyn pas.”

Maar waar kom al dié nuwe terme vandaan? Kenners meen ons kan dit terugvoer na die Hollywoodegpaar Gwyneth Paltrow en Chris Martin wat in 2014 hul “bewustelike ontkoppeling” (conscious uncoupling) aangekondig het. Is dit nie maar net egskeiding nie? het almal gelag. Maar volgens Wikipedia is dit ’n nuutskepping vir ’n beskaafde egskeiding in die 21ste eeu. Vandag praat baie mense daarvan, sê dr. Mulder Craig.

En wat van die “verstrengeling” (entanglement) tussen die aktrise Jada Pinkett Smith en die veel jonger sanger August Alsina waarvan ons onlangs gehoor het? Jada en die akteur Will Smith is al 25 jaar getroud. Hulle het glo ’n plooibare verhouding en begrip vir mekaar se behoefte aan persoonlike groei . . . Maar is verstrengeling nie maar net ’n oop verhouding nie?

Nóg ’n nuwe term is “eie-vennootskap”. Let wel, dis anders as enkelloperstatus, glo aktrise Emma Watson. Sy is verlede jaar in die Britse Vogue aangehaal waar sy sê: “Ek het nooit hierdie ‘ek is ’n gelukkige enkelloper-storie’ geglo nie.” Dié einste wysneusige Hermione van Harry Potter-faam, deesdae ’n vuurvreter feminis en VN-ambassadeur vir vroue, leef haar lewe soos sy´ wil en verwys na haarself as “self-partnered” – in ’n vennootskap met haarself . . .

Dr. Mulder Craig meen Watson en kie wys vroue wil nie meer in terme van hul verhoudingstatus gedefinieer word nie. “Jy hoef nie minderwaardig te voel as jy ongetroud is nie. Dit gaan ook hand aan hand met die hele #MeToo-beweging van 2018 waar vroue opgestaan het teen seksuele teistering.”

Meer onlangs hoor ek die eerste keer van die “situationist”- status, toe Gillian Seetso, ’n glam Johannesburgse skakelbeampte wat aan The Bachelor SA op M-Net deelgeneem het, vertel sy was nog nooit in ’n vaste verhouding nie – nog net in omstandigheidsverhoudings.

En asof al die vreemde terminologie nie genoeg is nie, verskyn Covid-19 einde 2019 en dompel ons in ’n gans ander afspraakwêreld.

Virtuele dating blom tydens die pandemie, vertel dr. Mulder Craig. “Dit is oorwegend positief en veiliger omdat jy eers gemaklik met mekaar raak deur te gesels op virtuele platforms soos Skype en Zoom.” En ja, jy kán in ’n mate iemand se lyftaal lees en sien of daar ’n konneksie is. Jy kan selfs voel julle “kuier” saam, al is julle nie fisiek saam nie, volgens haar.

“Dis minder bedrieglik as die afspraakwebtuistes, waar mense dikwels hul eie beuel blaas en gedokterde foto’s plaas. Nou kan jy ten minste sien met wie jy gesels. In my terapiesessies op Zoom is dit verbasend hoeveel jy van iemand se energie kan aanvoel.”

Sy gee toe die subtiele seine – nieverbale kommunikasie in die régte lewe – gaan verlore en aanraking is natuurlik onmoontlik. Juis dít wat nodig is om oksitosien, die “bindingshormoon” wat ons veilig by mekaar laat voel, vry te stel.

Tog meen sy virtuele afsprake gaan die nuwe manier wees waarop paartjies mekaar aanvanklik leer ken. “Amper soos die ‘speed dating’ van ouds, want jy kry vinnig ’n redelik betroubare idee van iemand anders.”

FOTO Unsplash

Jana van Schalkwyk, ’n intern by ’n landboumaatskappy in Johannesburg, en haar kêrel, Christoff Odendaal, wat tans sy doktorsgraad in Groningen, Nederland, doen, het mekaar as studente op Stellenbosch ontmoet. Vanweë Christoff se studies is hulle sedert Februarie 2018 in ’n virtuele verhouding. “Dit kan moeilik wees om jouself op die skerm te ‘verduidelik’,” erken Jana. “Gelukkig ken ons mekaar al lank.”

Sy en Christoff gesels daagliks op WhatsApp, FaceTime twee keer per week, fliek gereeld saam, maak Sondae kos en speel speletjies met vriende op Skype. Aanlyn pret is moontlik, meen hulle.

Maar is dit nie vir jong mense vreeslik onvervullend om in dié distopiese tye aanlyn te date nie, wonder ’n mens.

Dr. Mulder Craig beaam dis ’n dilemma. “Afstandbeheer en die liefde is vir seker nie pasmaats in hul leefwêreld nie. Dit kan ongelooflik moeilik wees om nuwe mense op sosiale media ‘op te chat’.”

Truida sê met die virus beleef veral sestien- en sewentienjariges ’n groot verlies aan samesyn wat in dáárdie jare so belangrik is. “Dié pret kan nooit ingehaal word nie.” Sy stel voor dat hulle saam gaan stap en gesels as hulle iemand beter wil leer ken. “Dit is ’n veilige manier om raakpunte te ontdek. Chemistry is wel voelbaar deur die aanraking van pinkies en tone – dalk kan jy handskoene dra en voetjievoetjie speel.”

Of jy mekaar virtueel of in lewende lywe leer ken, daar is geen waarborge nie.

“Jy leer iemand eers werklik ná twee jaar ken, wanneer die neuro-oordragstowwe wat die brein op ’n high sit, soortgelyk aan dié van die dwelm kokaïen, uitgewerk is. Tot dan kan iemand ’n front voorhou, soos narsiste of psigopate,” sê dr. Mulder Craig.

Die goeie nuus is die pandemie gaan nie vir ewig hier wees nie, troos sy. “Intussen is daar hope dinge wat jy van iemand kan leer ken in ’n virtuele gesprek. As jy die verhouding na die volgende stap wil neem, kan julle mekaar buite ontmoet, op ’n afstand, met ’n masker aan en mekaar in die oë kyk.”

Sy hoop die pandemie gaan mense meer bewustelik laat dink oor hoe hulle seks benader, ook vorentoe. “As jy iemand ontmoet en besluit om die verhouding verder te neem, kan jy altyd een of ander dokument vereis om seker te maak jou seksmaat het nie ’n seksueel-oordraagbare siekte nie. Met Covid-19 is dit ’n bietjie moeiliker. Maar die belangrikste is: Elke mens moet sy eie risiko’s bestuur en besluit wat vir hóm belangrik is.”

Sy raai mense wat in die pandemietyd verlief raak en tog wil soen aan om dit met ’n masker aan te doen en gereeld hande te was. “Klein deeltjies van die virus is al in speeksel, uriene en semen gevind. Jy´ bly jou veiligste seksmaat.”

Jana en Christoff beplan om nog drie jaar, totdat sy studies voltooi is, virtueel te date. Hoewel dit soms sukkel om konflik langafstand uit te sorteer, dwing dit hulle om “eksplisiet” te kommunikeer, vertel Christoff. Jana se grootste kopseer met die virtuele hofmakery is dat sy nie haar vreugde dadelik kan deel of vinnig vertroos kan word nie.

FOTO Unsplash

Die opwindende deel van hul verhouding is wel wanneer hulle mekaar ná ’n lang ruk kan omhels. “Ons sien mekaar vier keer per jaar. Ander paartjies eet uit, ons doen nogal flashy dinge. Soos om in Berlyn te ontmoet en Stalinistiese argitektuur (Christoff is ’n nerd) te bekyk. Dit is een van die voordele van dié verhouding.”

Baie van hul vriende date nou ook virtueel nadat hulle mekaar in die “regte” lewe ontmoet het. Dit help as jy weet julle pas by mekaar voordat jy so iets aandurf, glo albei.

Wat ook al jou voorkeur: Jy besluit straks ná jare se afsprake om te trou want julle kom goed klaar, soos die Amerikaanse miljardêr-filantrooppaar Melinda en Bill Gates – of jy beskou dating bloot as ontspanning, soos die aktrise Lena Dunham. Dalk verpes jy dit om mense aanlyn te ontmoet, jy wil hulle eerder in die oë kyk, soos die akteur Noah Centineo, of jy glo nes die aktrise Amanda Seales ons date mense om dieselfde redes as hulle vir ons . . .

Die goeie nuus is, daar is ’n groot wêreld wat op jou wag en jy´ kan besluit hoe jou verhouding lyk.