• "Ek kan nie help dat ek nie vorder by die werk nie – die baas het gedurig sy mes in vir my."
  • "Ek’s oorgewig omdat daar ’n kitskoswinkel op die grondverdieping is."
  • "Is dit mý skuld dat ek nie geleer het om behoorlik te spel nie?"
Klink dié verskonings vir jou bekend? In ons deurmekaar wêreld het die slagoffer-kultuur só oorgeneem dat party van ons (veral vroue) glo ons word altyd te na gekom, sleg behandel, selfs mishandel. Jy glo mense behandel jou nie met respek of waardering nie. En wanneer jy sekere dinge nie kan doen nie, is jý die slagoffer. Dis ánder mense se skuld. Vorder jou loopbaan nie? Blameer die baas. Oorgewig? Dis die onderduimse bemarking van kitskos-eetplekke. Kan nie spel nie? Dis jou ouers of die swak onderwysstelsel se skuld. Hierdie denkpatroon kon dalk só begin het: ’n Kind voel siek en ellendig. Haar ouers versorg haar liefderik en gee haar dalk selfs ’n geskenk om haar beter te laat voel. In haar onbewuste word siek wees skielik ’n pluspunt. Sy begin agterkom: Wanneer sy spesiale aandag wil hê, moet sy net siek wees. Sy oortuig haarself later sy voel sleg en word dan wél spesiaal behandel – psigoterapeute noem dié verskynsel “sekondêre voordeel”. Sommige kenners meen om ’n slagoffer te wees het dalk ’n soortgelyke voordeel. Volgens Scott Andrews, ’n lewensafrigter en stigter van AspireNow (www.aspirenow.com), ’n Amerikaanse maatskappy wat op persoonlike ontwikkeling en produktiwiteit by die werk fokus, is die slagofferhouding ’n manier om aandag en goedkeuring te kry. Dis as ’t ware deel van jou oorlewingstrategie.

“Jy dink dalk vriende, familie en ander ondersteuningsgroepe sal jou aanvaar en goedkeur as jy hulle wys hoe aaklig, moeilik, onregverdig en hard jou lewe is,” sê hy.

As sy woorde ’n snaar by jou roer, en jy boonop dink die hele wêreld is teen jou gekant, ly jy dalk aan die slagoffersindroom.

Dit beteken gelukkig nie jy moet aanhou om soos ’n slagoffer op te tree nie, maar dit is belangrik dat jy verstaan waarom jy soos een optree.

In byna alle gevalle lê die oorsaak in jou vroeë kinder- of jeugjare. Dalk het niemand by die huis jou met respek behandel nie. Dalk het jy trauma beleef, soos dat jy op vroeë ouderdom van jou ouers of jou broers en susters geskei is. In ekstreme gevalle kan dit selfs wees dat jou lewe op ’n tyd bedreig is – hoewel jy nie tans daarvan bewus is nie. Jy was dalk ernstig siek of het byna verdrink of versmoor - vra jou ouers uit.

Hierdie situasies laat jou onbewustelik glo jy’s nie veilig nie en dat jy altyd in gevaar is. Jy is dus bang vir elke verandering en beskou dit telkens as ’n ramp.

“As beskerming ontwikkel jy dan ’n slagoffer-mentaliteit,” reken Scott. “Dit word een van jou kernwaardes. Jy dink omdat dit jou beskerm, is dit goed vir jou.

Maar uiteindelik sal dié ingesteldheid jou drome aan bande lê, jou lewe steel en jou van liefdevolle verhoudings weerhou. Kortom, jy word gevange gehou deur dít wat jy dink jou beskerm.”

Die mees algemene oorsaak van ’n slagoffer-mentaliteit is ’n geskiedenis van mishandeling: seksueel, fisiek of verstandelik. Dalk het jou ouers alkohol misbruik en pal op jou geskree. Dan begin jy ook die mense na aan jou (tuis en by die werk) as bedreigings beskou, eerder as vriende.

Pleks dat jy hulle na aan jou hart hou, stoot jy hulle weg. Só herskep jy die verdedigingsmeganisme van jou verlede, glo Scott. “Slagoffers leer hul gedrag in hul gesin aan,” sê hy. “Daarom rig jy later hierdie gedrag ook op jou eie, nuwe gesin.” Dis ook nie net diegene met wie jy liefdesverhoudings het wat fyn moet trap nie. Jou kollegas sal ook versigtig moet wees wat hulle sê. Jy besef dit dalk nie, maar dié mense wend heel moontlik ’n spesiale poging aan om ’n wag voor hul mond te hou wanneer hulle met jou praat of saam met jou werk.

‘Die uitdaging is om te erken jý moet verander’

Dís dalk hoekom jou loopbaan in ’n doodloopstraat is. Niemand sal tog iemand wat so wisselvallig is in ’n bestuursposisie wil aanstel nie. Dis die begin van ’n baie negatiewe siklus. Omdat jy nie verder op jou loopbaanpad vorder nie, beskuldig jy jou werkgewers. Hulle viktimiseer jou, glo jy. Tog is jy in ’n sekere opsig reg: Hulle hou jou wel terug . . . net, dis om ’n ander rede as wat jy dink.

Scott sê elke slagoffer sal iemand kry op wie hy of sy die skuld kan pak.

“Daarom sal jy jou toesighouer of bestuurder as sleg afmaak. Jy sal gereeld kollegas en ander rondom jou afjak. Om jou manier van dink en jou oordeel te regverdig sal jy jou verbeel hulle skinder agteraf oor watter pateet jy is. Vir jou is hulle lafaards of kwaadstokers wat jou net die slegste toewens. Jy maak hulle as die sondaars uit,” sê hy.

Tricia, ’n 30-jarige rekeningklerk, sê sy het al baie vroue met ’n slagofferhouding teëgekom. “Ek dink byvoorbeeld aan iemand wat direk uit die universiteit in my departement begin werk het. Sy kon nie die rekeningesagteware verstaan nie en het verkies om alles met die hand te doen. In die proses het sy baie foute gemaak. Toe ek voorstel dat sy die stelsel leer ken, het sy verdedigend geraak en gesê sy kan nie help dat sy nie dié spesifieke rekenaarprogram op universiteit geleer het nie.”

Die punt is: Niemand in haar departement het geweet hoe die sagteware werk voordat hulle daar aangestel is nie. Maar hulle het nie die universiteit die skuld gegee nie, en die maatskappy het ook nie. Hulle het eerder deur leer en probeer die stelsel onder die knie gekry, vertel sy.

“Die volgende paar weke het ons die nuwe persoon los werkies laat doen,” sê Tricia. “Sy was natuurlik hoogs gefrustreerd, maar wat kon ons doen? Wanneer ek net oor die sagteware begin praat het, het sy heeltemal oorreageer. Dit was verskriklik moeilik,” sê sy.

Beteken dit dan alles is verlore as jy die slagoffer is van jou eie slagoffermentaliteit?

Nee, daar ís ’n pad na herstel, maar dis nie maklik nie. Jy sal jou verlede in die oë moet kyk, pynlik eerlik met jouself moet wees en verander – al is dit moeilik. “Onthou, jy kies om ’n slagoffer te wees omdat dit jou veilig laat voel,” sê Scott. “Maar jy kan hierdie patroon verander deur die veilige gevoel wat dit jou gee, te vervang met een wat werklik vir jou pyn veroorsaak. Sodra jy besef dat dit jou eie optrede is wat veroorsaak dat jy onder meer verhoudings, jou werk en jou gesin ondermyn, sal jy bewus word van jou probleem. Dán eers kan jy verander en jou houding vervang met ’n nuwe, positiewe gedragspatroon.” Die grootste uitdaging is om te erken dat jý moet verander. Ons is geneig om te dink almal rondom ons moet verander.

‘As jy eers dinge in jou verlede opgelos het, kan jy na die hede kyk’

Daar’s twee denkpatrone wat jy moet oorkom. Eerstens, jou onwilligheid om te verander. Tweedens sal jy die slagoffer-mentaliteit in jou kop moet uitroei.

Die eerste stap? Maak nuwe vriende.

“Ek glo werklik die meeste mense wat jare lank ’n ‘slagoffer’ was, het ’n ondersteuningsnetwerk (kollegas, vriende en familie) ontwikkel van mense wat ook slagoffers is,” sê Scott.

Soort soek soort. Slagoffers is geneig om ander slagoffers op te soek. En om dinge te vererger hou hulle nie van die idee om uit die groep te beweeg nie. Hulle voed mekaar as ’t ware. As jy probeer loskom, gaan die ander moontlik kwaad raak en jou selfs aanval. Jy moet dus gereed wees om jou vriende met nuwes te vervang.

“Ek stel voor dat jy eers jou probleem binne jou gesin probeer oplos,” sê Scott. “Maar dís ook die moeilikste van hierdie uitdaging.”

Verder moet jy eienaarskap van jou pyn aanvaar. Dat jy vandag soos ’n slagoffer voel, het waarskynlik niks met jou huidige baas of minnaar te doen nie.

Jy moet jou verlede ondersoek om vas te stel vanwaar dit kom, al is dit hóé pynlik. Sodra jy weet wat dit is, kan jy jouself afvra: “Wat kan ek doen om hierdie pyn met iets positiefs te vervang?”

As jy eers dinge in jou verlede opgelos het, kan jy na die hede kyk. As jy tans in ’n verhouding is, moet jy jou maat erkenning en liefde gee.

Neem by die werk die dinge wat mense sê ter harte – glo dit. As hulle byvoorbeeld oortuig is jy moet leer hoe die sagteware werk, is dit omdat hulle jou bydrae tot die span nodig het. Hulle is nie besig om jou opleiding af te kraak nie!

Wees ook bewus van die verandering wat jy aanbring, en onthou dat dit nie oornag sal gebeur nie.

Scott stel voor dat jy ’n muntstuk in jou skoen plaas om jou dwarsdeur die dag daaraan te herinner. As jy dalk geïrriteerd raak, tree ’n oomblik terug en kyk opnuut na die situasie.

“Wanneer iemand ’n probleem probeer oplos en al wat jy sien, is verdere irritasie, begin jy weer neig na die slagoffer-rol,” waarsku hy.

Om te verander is nét in jou eie hande. As jy ’n ernstige slagoffer-mentaliteit het (voltooi ons vraelysie hierby), oorweeg eerder professionele hulp, sê Scott.

Hoewel ’n kenner jou kan wys hóé, is daar geen wonderkuur wat jou denkpatroon oornag kan verander nie.

Doen nóú positiewe stappe – jy hoef nie ’n slagoffer te bly nie. Jy kán as oorwinnaar uit die stryd tree.

Ken jy 'n slagoffer?

AS JY VERMOED IEMAND SPEEL DIE SLAFOFFER-ROL, LUISTER OF SY TIPIESE UITLATINGS MAAK:


“Niks wat ek doen, is ooit goed genoeg vir jou nie.” “Hoekom verwag jy so baie van my?” “Jy’s nie goed genoeg nie. Jy’s vir niks goed nie. Al wat jy wil hê, is . . .” “Hoekom val jy my aan?” “Jy is so krities. Hoekom blameer jy my vir alles?” “As dit gebeur, sal ek net myself die skuld kan gee.” “Jy onderskat my. Hoekom luister jy nie na my nie?”

Het jy ’n slagoffer-mentaliteit?

ANTWOORD JA OF NEE OP HIERDIE VYF VRAE


1. Eindig jou verhoudings gereeld op ’n lelike manier? (Julle sê aaklige goed vir mekaar of sê en doen dinge wat seermaak.) 2.Het jy ’n lang geskiedenis van verhoudings waarin jy jou geliefde seermaak of jy seergemaak word?

3. Was jou kinderjare gekenmerk deur een van die volgende: ouers wat op mekaar of op jou skree; seksuele mishandeling en/of seksuele losbandigheid; ’n stryd – jy’t gevoel ander steur hulle nie regtig aan jou of jou mening nie; verwerping, verlating of ’n ander ernstige verlies; en ’n lewensgevaarlike gebeurtenis (jy’t byna verdrink, versmoor, verbrand . . .)

4. Word jy gereeld intens kwaad of selfs woedend?

5. Blameer jy ander wanneer dinge verkeerd loop?

ANTWOORDE


5 ja’s – Jy het heel waarskynlik ’n slagoffer-mentaliteit. Jy behoort dadelik professionele hulp te kry.

3 of 4 ja’s – ’n Slagoffer-mentaliteit is besig om ’n groot deel van jou lewe te word. As jy nie nóú iets daaraan doen nie, kan dit jou geluk ondermyn.

1 of 2 ja’s – Jou slagoffermentaliteit is nog op ’n lae vlak, maar hou jou gedrag fyn dop om seker te maak dit raak nie buite beheer nie.

BRON: Vraelys ontwerp deur Scott Andrews, skrywer van The Secrets of

Smooth Sailing Relationships.