Die volledige antwoord van dr. Jean du Plessis.

Ek het onlangs uit die kas gekom, na baie jare van wroeg en ontkenning. Ek was lief vir my vrou en het in byna alle opsigte ‘n gelukkige huwelik gehad. Dit het baie van my geverg om uiteindelik eerlik met myself te wees en my seksuele identiteit te aanvaar. My twee tieners is woedend, hulle wil niks met my te doen hê nie. Die jonger ene is eintlik nog te klein om die implikasies te verstaan.  Hoe loop ons die pad verder vorentoe?

Dr. Jean du Plessis

sielkundige en skrywer van Oor Gay Wees (Tafelberg, 1999)

Die probleme wat voortspruit wanneer ‘n pa uit die kas kom, gaan nie oornag of in een sessie met ‘n terapeut uitgesorteer word nie. Dit neem gay mense jare om hulself te aanvaar. Jy kan uiteraard nie verwag dat die res van die familie alles dadelik sal verstaan en reg hanteer nie.

Daar is geen manier dat ‘n situasie soos hierdie gehanteer kan word sonder ‘n redelike kennis en insig in die hele kwessie van seksuele oriëntasie nie. Daar lê waarskynlik ‘n lang opvoedings-en groeiproses voor en die pad gaan nie altyd gelyk loop nie. Baie sal afhang van die gesin se vlak van kennis en begrip. Ongelukkig is dit dikwels in hierdie stadium beperk tot sporadiese sensasionele berigte in die media en blootstelling aan negatiewe stereotipes.

Ten spyte van ons grondwet wat fokus op gelyke regte ook vir gay mense, en die feit dat selfs gay huwelike die laaste paar jaar moontlik is, het groot dele van die gemeenskap nog nie bevry geraak van hul vooroordele nie. Wanpersepsies en negatiewe stereotipering van gay mense is nog baie algemeen en deel van die vrou en tienerdogters in jul gesin se realiteit.

Daar is steeds geweldige druk op gay mense om in die kas te bly of te trou in die hoop dat hulle sodoende diskriminasie en verwerping kan vryspring. Daar is ook soms steeds die persepsie dat die huwelik die oplossing kan wees. In die meeste lande in Afrika en die Midde-Ooste is homoseksualiteit steeds strafbaar met baie jare tronkstraf en selfs die doodstraf. Daar is dit letterlik van lewensbelang dat gay mense ter wille van hul eie oorlewing moet trou. In ons eie land is die sogenaamde korrektiewe verkragting van en vermoor van lesbiese vroue ‘n daaglikse werklikheid wat dikwels nie eers die koerante haal nie. Tsjaikowski het hom  ook in ‘n rampspoedige huwelik begewe in ‘n desperate poging om sy familie die “skande” van sy homseksualiteit te probeer spaar. Blykbaar bevind 20% van alle gay mans en veel meer gay vroue hulle minstens een keer in heteroseksuele huwelike.

Nie alle gay mense in heteroseksuele huwelike het onder druk getrou nie. Daar is ook gay mense wat getrou het omdat hulle werklik hul huweliksmaats liefhet. Seksuele oriëntasie lê op ‘n kontinuum van homo- tot heteroseksueel, met al die grade van biseksualiteit tussenin. Alle gay mense is nie immuun teen verlief raak op iemand van die teenoorgestelde geslag nie. Ongelukkig neem dit nie noodwendig die hunkering na ‘n verhouding met iemand van dieselfde geslag weg nie. ‘n Mate van biseksualiteit kan ontsettend verwarrend wees. Sonder om afbreuk te doen aan die belangrikheid van die seksuele aspek, gaan dit oor veel meer. Soms kan hierdie behoefte aan ‘n sterk emosionele verhouding met iemand van dieselfde geslag binne die raamwerk van ‘n intense platoniese vriendskap geakkomodeer word, maar dikwels gaan dit oor die totaliteit van ‘n intieme verhouding.

In my praktyk het ek meermale te doen gekry met mans wat 20 of 30 jaar getroud is. Dikwels is hy werklik lief vir sy vrou en soms is sy sy beste vriend. Nou het hy in sy middeljare emosioneel betrokke geraak by ‘n man.  Dit gaan nou oor die volledige saamwees van ‘n man in ‘n verhouding – meer as ‘n blote platoniese vriendskap. Hy kan nie langer die stres van geheimhouding en al die leuens wat daarmee saamgaan, hanteer nie. Hy sal altyd vir sy vrou lief wees en dit breek sy hart om haar seer te maak, maar sy lewe het ‘n krisispunt bereik. Hy kan nie frustrasie en spanning nie meer hanteer nie en hy kan eenvoudig nie meer voorgee nie. Dan bars die bom en die hele gesin word in ‘n krisis gedompel.

Soms kom die krisis uit ‘n ander oord. Daar is ook gay getroude mand wat promisku leef. Veral mense in sensitiewe beroepe, soos predikante of gemeenskapsleiers, wat te veel het om te verloor indien hulle openlike monogame verhoudings sou vorm, soek soms anonieme seksuele verligting of opwinding op obskure, dikwels gevaarlike plekke. Ongelukkig stel hulle hul dan juis bloot aan die gevaar van seksueel oordraagbare siektes, aanranding, roof en afpersing. Volgens die navorsing van prof. Michael Herbst van UNISA (2002) is 80% van die mans wat manlike prostitute besoek, getroude mans wat die risiko van herkenning of sosiale blootstelling probeer vermy.

Gay mans wat ‘n groot deel van hul lewe in die kas was, gaan soms deur ‘n periode van emosionele onstabiliteit. Die skielike vryheid om te wees wie hulle eintlik inherent is, kan moeilik wees om te hanteer. Na jare van onderdrukking en ontkenning het so iemand soms ‘n groot behoefte om vir verlore tyd op te maak. Die pendulum kan selfs swaai tot heel uiterstes en byvoorbeeld lei tot byna kompulsiewe aande in gay klubs en pubs. Koorsagtige seksuele eksperimentering met al wat beskikbaar is of oorhaastige betrokkenheid by potensiële geliefdes, kan in hierdie tyd van emosionele wanbalans problematies wees.

‘n Sielkundige kan regtig hier ‘n goeie rol speel om vir jou ‘n klankbord te wees en te help om die balans te herstel as dit nodig is.

Jy voel dalk opgewonde omdat jy ‘n nuwe lewe begin, maar jou gewese vrou gaan waarskynlik swaar kry. Dit sal nie ongewoon wees as sy deur al die fases van rou gaan nie. Sy het haar lewe soos sy dit geken het, verloor. Baie vroue ervaar dit as ‘n persoonlike verwerping en jy moet haar help om te verstaan dat dit nie oor haar as mens gaan nie. Sy was dalk vir jare blootgestel aan al jou buie en onsekerhede en het haar bes probeer om dit te verstaan en jou te ondersteun. Wys haar dat jy dit waardeer en probeer om haar seer teleurstelling, gevoel van verwerping en selfs haar woede te verstaan. Help haar om by die nuwe omstandighede aan te pas.

Massas navorsing oor kinders met gay ouers wys dat hulle emosioneel en sosiaal ewe goed aangepas is as die uit heteroseksuele huwelike. As hulle nie met openheid hieroor grootgeword het nie, neem dit tyd vir kinders om so ‘n situasie te verwerk. Jonger kinders pas soms makliker by die nuwe omstandighede aan, veral as daar genoeg kontak met albei ouers is, die ouers goed klaarkom en mekaar nie afkraak nie. Vir tieners wat met hul eie identiteitsprobleme sukkel, kan dit moeiliker wees as vir jonger kinders. Hier gaan jou vrou se houding baie belangrik wees. Net soos met enige ander egskeiding sal alles mooier en makliker uitwerk as jy en jou gewese vrou vriende kan bly.

Dis nodig dat die res van jou familie verstaan dat jy nie uit die bloute gay geword het nie. Jy is nog altyd dieselfde mens, maar jy is nou net eerliker oor wie jy is as voorheen. Jy leef nou sonder geheime, met groter integriteit en jy het genoeg vertroue in hulle om hulle deel te maak van die eerliker lewe wat jy nou leef.

Veral wanneer daar nuwe verhoudings betrokke is, het jou gesin tyd nodig om aan die idee en aan jou nuwe lewensmaat gewoond te raak. Moenie jou nuwe vriende aan hulle opdring nie. Laat hulle geleidelik gewoond raak aan jou nuwe sosiale- of liefdeslewe. Vermy of beperk ten minste aanvanklik openlike demonstrasies van liefde tussen jou en die nuwe man in jou lewe wanneer hulle ook in die geselskap is. Moet egter nie terugdeins van openlike antwoorde wanneer hulle inligting soek of vrae vra nie, en wees eerlik sonder om hulle te oorweldig met onnodige detail.

Deesdae het tieners maklike toegang tot die media. Gee eerder vir hulle leesstof oor gay-wees voordat hulle dalk verstrengel raak in allerhande sensasionele of obskure webwerwe. As dit moontlik is (en net as hulle daartoe instem) sal dit goed wees om hulle ook vir berading te neem by iemand wat die situasie verstaan. Wees net versigtig vir fundamentalistiese predikante of pastore.

Moenie te veel te gou verwag nie, veral nie van jou tieners nie. Maak altyd seker jou kinders weet jou liefde vir hulle het nie verander nie, en dat jy nog net soveel in hulle doen en late belangstel en trots is op wat hulle bereik. Jou kinders moet nooit die gevoel kry dat hulle nou vir jou minder belangrik is nie.

*Kry die Maart-uitgawe van SARIE om Gawie Brits (skuilnaam), ’n professionele 40-jarige van Pretoria, se antwoord ook te lees.