Dilemma

Ek wil my lewe terughê!

Dit voel soms vir my ek’t nie meer ’n lewe nie. Al die eise – werk, ma-wees, vrou-wees en meer – sluk my in. Ek het skaars tyd om te doen wat ek geniet. My werkdag is lank, die lewe is duur en my tyd is min. Ek en my man beplan weke vooruit om te gaan uiteet. As ons weer sien, het iets voorgeval en kom ons nie so ver nie. Hoe kry ek my lewe terug? – SARIE-leser

Kenners antwoord

Tracey Foulkes

- eienaar van die maatskappy Get Organised

Neem eienaarskap van jou tyd. Beplan ’n rooster waarop jy jou daaglikse verpligtinge in tydgleuwe indeel, soos oefentyd en wanneer jy jou kinders by die skool moet gaan haal. Probeer sowat 80% van jou tyd beplan. Die ander 20% is vir wanneer die bal op die grond val. Skryf jou program- rooster iewers neer waar jy dit gereeld sien. As jy presies weet wat jy wanneer moet doen, is die kans goed jy gaan daarby hou en jou tyd beter bestuur.

Kyk op ’n ander manier na tyd. Pleks daarvan om byvoorbeeld ’n?hele werkdag lank jou e-posse te beantwoord, doen dit drie keer op ’n dag vir net 30 minute op ’n slag. As jy weet jy het minder tyd om ’n taak te verrig, is jy meer gefokus en werk jy slimmer met die tyd wat jy het.

Studies het bewys om meer as een ding op een slag te doen (multitasking) is onproduktief. Deel jou tyd só op dat jy een taak op ’n slag hanteer. Wanneer jy aan ’n belangrike voorlegging werk, sit jou selfoon se klank af sodat mense boodskappe los. Bel hulle later terug wanneer jy fokus op telefoonoproepe. Dit kan tot 20 minute neem om?weer op jou aanvanklike taak te fokus wanneer jy daarvan afwyk.

Nadia de Bruin

- Algemene bestuurder van NDJ Consultants, wat onder meer tydsbestuurkursusse aanbied

  • Leer om nee te sê. Jy kan nie almal altyd gelukkig hou nie.

  • Betrek jou gesin by die daaglikse huishouding en verdeel verantwoordelikhede in en om die huis sodat alles nie op jou neerkom nie.

  • Beplan ’n spyskaart vir elke week?se etes vooruit. Koop die bestanddele vooraf sodat jy nie elke dag ná werk by die winkels hoef te stop nie.

  • Beplan een keer in ’n maand ’n “nie- stres-dag”. Doen dan die heeldag net waarvoor jy lus is en ontspan.

Margriet Engelbrecht

- Voorligtingsielkundige van Potchefstroom

Ons verwag dikwels ’n one size fits all- antwoord, maar om ’n balans tussen jou werk en persoonlike lewe te vind is uniek vir elkeen en daar is nie ’n perfekte antwoord nie. Ons almal het verskillende prioriteite.

Skryf neer hoe jy voel jy elke dag “moet” leef. Kyk na die woorde wat jy gebruik. Is dit woorde soos kan, gaan, sal, behoort? Jy voel dalk jy móét saans sesuur kos op die tafel hê en jy behoort die huis self aan die kant te maak.

Maar dit is ’n irrasionele manier van dink, want as jy dan byvoorbeeld nie die kos betyds reg het nie, voel jy soos ’n mislukking en sit jy onnodig druk op jouself.

Gesels met jou man en besluit of julle nog op koers is met jul doelwitte. Wanneer laas het julle jul doelwitte bespreek? Dalk voordat julle kinders gehad het? Dalk mors jy tyd op iets wat nie meer vir jou so belangrik?is nie, soos om al jou energie aan?jou loopbaan te bestee. Kyk watter realistiese veranderinge jy kan maak om by jou nuwe doelwitte aan te pas, soos ’n ander werk of om halfdag te werk (as dit moontlik is).

Ons maak onsself dikwels moeg omdat ons met ander mense probeer meeding of bybly, want ons voel ons word makliker aanvaar as ons doen wat ander doen. Dit kan jou angstig maak, want jy mors kosbare tyd en emosionele energie. As jy doelwitte vir jou eie lewe en gesin het, sal jy daarop fokus en nie op wat ander mense doen nie. Aanvaar jouself en bou jou geluk op die positiewe dinge in jóú lewe.

VIR HULP?

Nadia de Bruin: 012 991 6668 | www.ndjconsultants.co.za

Tracey Foulkes: tracey@getorganised.co | www.getorganised.co

Margriet Engelbrecht: 083 633 7377

*Die artikel het oorspronklik in die SARIE, April 2012 verskyn. Joernalis: Charis Labuschagne

Nina Swart op ons Februarie 2014- voorblad

Lees ook meer oor die werk-lewe-balans in die Februarie-uitgawe van SARIE - nou op die rakke!