"... is astrant, beledigend en baie vyandiggesind, asof ek die egskeiding veroorsaak het, wat nie die geval is nie. Die jong een was eers makliker om te hanteer, maar sy ousus het hom teen my opgesteek. Hul ma woon aan die ander kant van die land en het hulle so te sê vir hom gegee, maar in hulle oë is sy perfek, terwyl ek die een is wat moet aanry en help huiswerk doen."

"Ek het so uitgesien na ons "nuwe gesin", maar besef nou dis onrealisties. Ek wil my eie kind hê, maar nie in sulke omstandighede nie. Soms is daar goeie oomblikke (veral as ousus by maats oorslaap). My man wil niks slegs hoor nie. Hy sê ek moenie hom laat kies tussen my en sy kinders nie."

Bea Potgieter, kliniese sielkundige van Johannesburg

Kinders voel lojaal teenoor die ouer wat nie teenwoordig is nie. Hul weerstand wys hulle voel dalk hulle verraai hul ma as hulle jou sou aanvaar. Laat hulle toe om vryelik oor haar te praat en gemaklik kontak te behou. Albei stelle ouers moet die behoeftes en dissipline van die kinders kan bespreek en ooreenkom daaroor. Dit sorg vir konsekwentheid en sekuriteit.

Bespreek dit dan met die kinders. Grense moet van die begin af bespreek en vasgestel word. Die biologiese ouer (jou man) moet dit verduidelik en dissipline toepas. Jy kan later meer betrokke raak as die verhouding met die kinders sterker is.

Gesels met die kinders oor hul gevoelens, selfs dié wat jy dalk nie wil hoor nie. Verduidelik jy wil nie hul ma se plek inneem nie, maar jy en hul pa het 'n verhouding wat vir jou baie saak maak en jy wil graag deel van hul lewe wees. Dis natuurlik dat die kinders weersin sal voel, veral as jy grense vir hul gedrag bepaal. Wys liefde op tasbare maniere. (Kinders het dit dikwels die meeste nodig wanneer dit die moeilikste is om te gee.)

Moenie swak gedrag versterk nie, maar probeer op die mooi fokus en sê as jy iets waardeer. Mans wil meestal 'n situasie red of regmaak. As dit nie werk nie, onttrek hulle, want die emosies is dalk te oorweldigend en ongemaklik. Sê vir hom jy wil gesels as maats (oop en niebedreigend) en dat jy sy insette benodig.

Verduidelik jy sal nooit vra dat hy moet kies nie, maar dat jy bang is jy verloor hom. Moenie krities of veroordelend wees nie. Wees eerlik oor jou bekommernisse, vrese, seer en onsekerhede, nie oor die kinders se gedrag nie.

Dr. Jacomien Germishuys opvoedkundige sielkundige van Pretoria

Dit gaan van jou en jou man as die grootmense afhang of jul "kitsgesin" gaan slaag. Hy kan voel hy't misluk in sy huwelik en voel dalk ook so teenoor sy kinders. As mense skuldig voel, is hulle geneig om hul kinders se foute oor te sien om hulle enige verdere hartseer en ongeluk te spaar.

Dis hier waar die fout inkom.
Kinders is slim en kom gou agter waar hulle kan manipuleer. Jou stiefdogter het dit raakgesien en gebruik nou haar pa teen jou. Gaan sit saam met hom as julle alleen en rustig is (en nie ná 'n meningsverskil nie).

Verduidelik mooi dat jy sy belange en die kinders s'n op die hart dra. Sê jy wil graag die gesin laat slaag, maar jy het sy hulp nodig. Vra of hy kans sien om saam met jou reëls te maak wat vir julle twee aanvaarbaar sal wees, omdat hy sy kinders die beste ken. Baie keer as jy die mag in die pa se hande terugplaas, reageer hy dadelik.

Sê ook vir die kinders jy probeer om die gesin te laat werk omdat jy vir hulle omgee. Bevestig veral aan die dogter dit maak haar nie minder lief vir haar eie ma as sy enige positiewe gevoel vir jou toon nie. Onthou, sy verberg haar seer omdat Ma haar weggegooi het. Verseker hulle dat jy hulle nie gaan weggooi nie, maar dat hulle ook moet help. Beklemtoon dat jy hulle aanvaar net soos hulle is. Dit neem tyd.

Terapie is ook 'n goeie opsie, maar die meeste mans skop vas daarteen. Vir hulle voel dit gewoonlik soos 'n bekentenis dat hulle dit nie self kan hanteer nie. Die ma is gewoonlik die een wat erken sy soek raad omdat sy lief is vir hom en omgee vir sy kinders. As dit ná al die pogings nie werk nie, gaan en wil hy nie verander nie.

Sterkte, jy kan net jou bes doen.