Hy het jou van jou voete afgeswiep – soos ’n ridder van ouds. Jy is verlief, tot oor jou ore toe. Maar soos die weke en maande aanstap, begin dinge krap. Aanvanklik het jy daarvan gehou dat hy sommer van dag een af die leiding neem, trouens, dit was lekker om net agteroor te sit terwyl hy al die besluite neem.

Nou begin jy wonder of hy jou nie wil beheer nie. Moet hy boonop ook oor álles die laaste sê hê? En skielik lyk die man wat jy net nou die dag nog vir jou vriende as “jou trouman” beskryf het, glad nie meer so “perfek” nie.

Daar bestaan natuurlik nie iets soos ’n perfekte verhouding of maat nie – ons is almal maar net mens, en foute, krapperigheid, konflik en seer is deel van enige verhouding, sê Anri van den Berg, verhoudings- en huweliksberader by die Vita Nova Beradingsentrum in Pretoria. “Maar in dieselfde asem gesê: Daar is sekere tekens in so ’n jong verhouding wat die waarskuwingsklokke baie luid moet laat lui. Dinge wat meer problematies is as twee mense wat mekaar net ‘skaaf en vorm’ soos hulle mekaar leer ken.”

Anri sê uiteindelik word ’n gesonde verhouding gekenmerk deur twee onvolmaakte mense wat mekaar ten spyte van hul foute aanvaar en liefhet en wat mekaar probeer beskerm en veilig hou – nie net fisiek nie, maar ook emosioneel.

In enige nuwe verhouding is dit normaal dat jy en jou maat sal verskil, beaam Derika de Villiers, kliniese sielkundige van Pretoria. “Jy sal waarskynlik ook in die beginfase baie meer akkommoderend wees, dalk jou eie behoeftes eenkant skuif om jou maat te beïndruk en selfs ‘rooi vlae’ miskyk – daardie dinge wat later probleme kan veroorsaak. Uiteindelik kan hierdie groot verskille verhoed dat julle ’n gesonde interafhanklike verhouding ontwikkel. ’n Gesonde verhouding is net moontlik wanneer dit op eerlikheid en respek van albei kante gebaseer is.”

Derika sien in haar praktyk daagliks verhoudings wat swaar trek as gevolg van jaloesie, beheer en ’n gebrek aan kommunikasie en eerlikheid – wat dalk al vroeg in die verhouding sigbaar was.

Ons kenners lig ’n paar rooi vlae uit wat dikwels niks goeds voorspel vir ’n verhouding nie. (Die manlike vorm word gebruik, maar dit geld mans en vroue.)

Verhoudings gaan deur fases:

Ná die ontmoeting volg die verliefde fase. Die hormone wat jou so dolverlief laat voel, is dan oorvloedig in jou brein en dit maak jou soms blind vir die ander persoon se tekortkominge of vir die gevaartekens in die verhouding. In dié fase is dit ook maklik om sy optrede of gedrag te regverdig en verskonings vir hom te soek as daar iets is wat jou hinder.

Soos julle mekaar beter leer ken, beweeg julle na die fase waar die “ware kleure” begin wys en julle veral begin bewus word van haakplekke en verskille. Soms begin paartjies ook die verskille en die “foute” uitwys. Dikwels sal die een die ander probeer verander om by sy/haar verwagtinge aan te pas en dus begin konflik ’n rol speel. ’n Magstryd of twee (power struggles) maak hul verskyning en selfs klein dinge wat in die begin van die verhouding oulik was, begin julle nou irriteer en frustreer.

Dit is meestal in dié fase dat baie jong verhoudings verbrokkel, maar indien ’n paartjie suksesvol hierdeur kan kom, breek die volgende fases aan waar trou selfs ’n moontlikheid word.

BRON: Anri van den Berg: verhoudings- en huweliksberader by die Vita Nova Beradingsentrum in Pretoria

1. Hy respekteer nie jou grense nie

Grense is dít wat vir jou aanvaarbaar is in ’n verhouding, sê Derika. “Elke mens s’n verskil, dus moet jy vir jou nuwe maat duidelik maak wat daardie grense is. As hy dit nie respekteer nie of voortdurend toets, kan jy jouself in die verhouding verloor.” Anri gee voorbeelde: Jy maak dit duidelik waar jou fisieke grense lê, maar hy probeer jou aanhoudend sover kry om dit te skuif (bv. seks) – al lyk dit onskuldig. Soos om jou te ignoreer as jy nee sê. Of deur fisieke goed te doen of te verwag waarmee jy ongemaklik voel – én jy het gesê jy is ongemaklik. Of hy bly aandring dat julle saam intrek, al is jy nog nie reg nie. Kortom: Wanneer jy ’n standpunt oor iets inneem, hou hy aan karring tot jy jou standpunt verander of verslap – ten koste van jouself, sê Anri.

2. Hy is jaloers of besitlik

Dis normaal (en dikwels nogal vleiend) as jou nuwe liefde effens jaloers voel wanneer iets of iemand oënskynlik jul verhouding bedreig. Maar jaloesie is ongesond wanneer dit tot ongesonde gedrag lei. Soos as jou nuwe kêrel heeltyd agterdogtig en humeurig is, jou beskuldig dat daar iemand anders is en aktief bewyse daarvoor soek. Dit spruit uit sy eie vrees, onsekerheid en wantroue – en as dit uit beheer raak, kan dit tot obsessiewe besitlike gedrag lei, sê Anri.

Rooi vlae:

  • Hy verwag jy moet al jou tyd by hom deurbring; hy word kwaad as jy alleen saam met vriende en selfs familie wil kuier. Hy kan jou later van hulle vervreem.
  • Hy kontak jou voortdurend wanneer jy wel sonder hom uitgaan en raak kwaad as jy nie vinnig genoeg antwoord nie.
  • Hy verwag jy moet verslag lewer: Waar jy was, met wie, hoe lank.

Derika voeg by: Vertroue is een van die hoekstene van ’n gesonde verhouding – daarsonder is daar geen vryheid nie en dit kan jou gou vasgevang laat voel.

3. Julle het niks gemeen nie

Geen twee mense is dieselfde of het presies dieselfde ervarings of agtergronde nie. Baie verhoudings blom, ten spyte daarvan dat die paartjie totaal uiteenlopende persoonlikhede het. Maar groot verskille kan wel problematies wees, veral as die verliefde fase eers verby is, sê Anri. Vra jouself af: In watter mate verskil ons vriendekring, ouerhuis, verwagtinge en toekomsplanne? En het ons dieselfde geloofs-oortuigings, gesinswaardes en beginsels? Julle moet heroorweeg as dit duidelik is dat julle bly vassit oor al daardie goed wat julle nie gemeen het nie. En nie ’n kompromie daaroor kan aangaan nie.

4. Hy hou sy besteding soos ’n valk dop – én joune

Mense wat gefokus is op elke sent wat hulle of hul maat bestee, kan dikwels meer as een aspek van die verhouding wil beheer, sê Heske Sangster, forensiese maatskaplike werker in ’n private praktyk by die Vita Nova Beradingsentrum in Pretoria. “Indien jy van die begin af daarvan bewus is dat jou maat heeltyd sy sente wil tel (én joune), stel vas hoekom hy so optree. Is dit hoe hy grootgemaak is, het hulle finansieel gesukkel of is dit omdat hy ’n beheervraat is? Indien laasgenoemde die geval is, moet jy in jou pasoppens wees. Indien dit al hoe erger word soos jul verhouding vorder, is daar die risiko dat hy moontlik nie net jou finansies nie, maar ook jou lewe sal wil beheer.” Derika voeg by: “Geld spreek boekdele in ’n verhouding. Dis belangrik om in die begin van ’n verhouding te gesels oor hoe julle individueel jul geldsake bestuur het voor die verhouding en hoe julle dit moontlik as ’n paartjie in die toekoms kan bestuur. Dis belangrik dat julle oor die verskille kan gesels en ’n middeweg vind.”

5. Hy is geheimsinnig

’n Tikkie geheimsinnigheid in die begin van enige verhouding is normaal, maar wanneer julle gemakliker met mekaar raak, gaan julle mekaar stelselmatig ook beter en dieper leer ken. En meer van mekaar wil weet en wil deel. As jou maat jul verhouding wil geheim hou, moet die waarskuwingsklokkies reeds luid klingel, verduidelik Anri.

Nog tekens:

  • Hy pas sy foon soos goud op en alles word deur ’n wagwoord beskerm.
  • Wanneer hy oproepe kry, verlaat hy die vertrek gereeld of gesels buite hoorafstand, of antwoord glad nie. Hy raak aanvallend of verdedigend wanneer jy onskuldig vra wie dit was.
  • Daar is altyd ’n rede waarom jy nie sy vriende of ouers kan ontmoet nie. Hy ontduik vrae oor sy verlede.
  • Julle het al ’n ernstige verhouding, maar hy weier om sy Facebook-status te verander of dat jy foto’s van julle op sosiale media plaas.

6. Hy raak te gou ernstig

Daar is niks so romanties soos iemand wat sommer ná drie maande dadelik met jou wil trou nie. As dit gebeur, moet dit jou eerder laat wonder. Ook as hy vroeg reeds meer gefokus is op jul toekoms saam as om mekaar beter te leer ken. En wanneer jy kwellinge in jul verhouding uitlig, skiet hy dit af as ’n kleinigheid, want jul lewe saam gaan “so perfek” wees, sê Anri. Sy sê dit is belangrik om enige verhouding stadig te laat ontwikkel en te kyk waarheen dit lei.

7. Als gaan goed, tot julle oor ernstige kwessies praat

Goeie, doeltreffende kommunikasie is een van die boustene van ’n gesonde verhouding. Persoonlikhede verskil. Sommige mense praat makliker en meer as ander, en dit op sigself is nie ’n probleem nie. Hoe jul kommunikasie lyk en daagliks uitspeel, is wel baie belangrik, sê Anri.

Rooi vlae:

  • Hy weier om probleme tussen julle te bespreek en wil net aangaan asof niks gebeur het nie.
  • Hy kritiseer vinnig en maklik, en is lief daarvoor om jou af te kraak of te verkleineer.
  • Sarkasme, beledigings en meerderwaardigheid is deel van sy manier om met jou te kommunikeer. (Hy is dus minagtend en disrespekvol.)
  • Hy kan of wil nie jou kant insien nie, wat nog te sê verantwoordelikheid neem vir sy optrede of sy aandeel in jul konflik. Hy sê nie jammer nie.
  • As julle probleme het, het hy weke lank stilstuipe en sal jou selfs ignoreer. Jy moet gewoonlik die minste wees en jammer sê.

8. Hy respekteer nie jou opinie nie – en besluit sommer namens jou

Party vroue hou van ’n man wat besluite namens hulle neem, ander wil self oor belangrike dinge in hul lewe besluit of minstens ’n sê daaroor hê, sê Heske. “Vra hom uit daaroor. Hy het moontlik verskillende verwagtinge rondom rolle en verantwoordelikhede in ’n verhouding en sal dalk gewillig wees om sy opinie te verander. Indien hy uit die staanspoor dit duidelik maak dat jou opinie nie tel nie, gaan dit waarskynlik nie in die toekoms verander nie.”

9. Jy skuif jou eie dinge opsy vir hom

Wanneer jy jou eie raamwerk, soos jou behoeftes, waardes, beginsels en stokperdjies, eenkant toe skuif en net fokus op jou maat se raamwerk, op dit wat vir hom belangrik en lekker is, ontwikkel dit vinnig in ’n afhanklike verhouding, sê Derika. In ’n verhouding moet jul albei se behoeftes, waardes, ens. gewaardeer word en ewe belangrik wees. Een moet nie die ander se “suurstof” in ’n verhouding steel nie.

10. Enige vorm van geweld

Dis normaal om kwaad te raak, maar om enigsins fisiek te raak, is nie aanvaarbaar nie, sê Anri. “As hy aan jou stamp, jou tik of in woede aan jou slaan, stap weg. Ek praat uiteraard nie hier van speelse optrede nie.”

ONS KENNERS

Derika de Villiers: www.derikapsychologist.com

Heske Sangster: Heske@vitanova.co.za

Anri van den Berg: 082 541 4357; Anri@vitanova.co.za, www.vitanova.co.za