Celeste (Nicole Kidman), in die TV-reeks Big Little Lies, beplan versigtig hoe sy uit haar huwelik gaan padgee. Sy neem foto’s van hoe Perry (Alexander Skarsgård) haar verniel. En huur vooraf ’n woonstel vir haar en haar twee seuns. Dan vind hy natuurlik uit . . .

In die donker TV-komedie Divorce sluit Robert (Thomas Haden Church) summier vir Frances (Sarah Jessica Parker) uit die huis as hy uitvind sy verneuk hom. En braak gal van agter die toe deur. Hollywood . . .

Meestal eindig huwelike minder dramaties. Met ’n sagte suggie, nie ’n knal nie.

Jou lewe is dalk anders. Jy is al jare ongelukkig in jou huwelik. Jy dink dikwels aan skei, fantaseer daaroor. Dalk was jy en jou man saam by ’n berader, sonder enige positiewe verandering. Nou het jy finaal besluit. Ten spyte van al die nadele, ontwrigting en probleme wat dit gaan veroorsaak, wil jy skei. 

Wat nou? Fokus op jou gesonde verstand eerder as emosies, volgens die seks- en verhoudingsterapeut dr. Ruth K. Westheimer in haar boek Stay or Go: Dr. Ruth’s Rules for Real Relationships (Amazon, 2018)

Einste, sê Bertus Preller, familiereg- en egskeidingsprokureur van Kaapstad. “Kry jou emosies in toom sodat dit nie met die moeilike take vorentoe inmeng nie. Dit beteken nie jy moet jou gevoelens onderdruk nie, maar benader dinge met jou kop. ’n Egskeiding het enorme gevolge vir jou lewe, nie net emosioneel nie, maar ook finansieel. 

“Deur dinge georganiseerd te benader kan jy help verseker jou lewe bly op koers. Nie dat dit maklik gaan wees nie, want jou emosies is ’n reuse-hekkie waaroor jy kan struikel.” Werk dus met ’n plan, sê hy.

Die verstandigste is om heel eerste ’n prokureur te gaan sien. Hy kan jou inlig oor watter eise jy kan instel sodat jy ’n idee kan kry oor jou geldelike posisie ná die egskeiding. 

En win soveel moontlik finansiële inligting in. Volgens Bertus het hy al met baie vroue gekonsulteer wat geen idee van hul man se geldelike posisie het nie. Die prokureur sal jou kan adviseer na gelang van die manier waarop julle getroud is: buite gemeenskap van goedere met/sonder aanwasbedeling of binne gemeenskap van goedere. 

Bertus hoor dikwels ’n vrou sê: “Ek wil niks van hom hê nie.” Moenie die fout maak nie, waarsku hy. “Dink aan jou egskeiding as ’n saketransaksie.”

Wie woon waar:

Veral as daar kinders is, moet julle dinge in dié deurmekaar tyd so stabiel moontlik probeer hou. Weet ook dat “besitting nege tiendes van die reg” is. Dis ’n uitdrukking wat beteken dis makliker om eienaarskap van iets te behou indien jy in besit daarvan is. En moeiliker om af te dwing as jy nie is nie. Moet dus nie jou tasse pak en dadelik jul huis verlaat nie. Tensy jy byvoorbeeld mishandel word en saambly nie langer ’n opsie is nie.

Die meeste pare kom ooreen oor tydelike reëlings vir verblyf. En stel die finale besluit oor wie waar gaan bly tot ná die egskeiding uit. 

As jy sonder die kinders uittrek, stuur jy ook die boodskap dat jou eggenoot die “beter” ouer is, die een wat beter na hulle kan kyk. Die hof hou boonop nie daarvan om die status quo te versteur nie. So, waar jou kinders voor die egskeiding is, gaan hulle waarskynlik bly

As jy wil uittrek maar bang is dit gaan jou kans verminder om ’n behoorlike ouerskapplan geïmplementeer te kry, besluit saam met jou man oor ’n tussentydse plan hangende die egskeiding.

Platsak:

Trek een van julle voor die egskeiding uit, moet twee huishoudings aan die gang gehou word. Jy kan ’n hofaansoek om tussentydse onderhoud doen. Dit kan insluit tussentydse versorging of kontak met kinders, onderhoud vir jou en/of die kinders, betaling van dinge soos skoolgeld, ’n verband op die huis, siekefondsbydraes, selfs deposito’s op ’n nuwe blyplek en verhuisingskoste. Ook bydraes tot egskeiding- en regskoste.

Bewyse:

Suid-Afrika gebruik die “geen fout”-stelsel vir egskeiding. Dit beteken ’n egskeiding word toegestaan as een van die partye glo die huwelik is onherstelbaar, selfs al wil die ander een nie skei nie. As daar oor kinders tougetrek word, is dit belangrik om alle voorvalle van mishandeling te dokumenteer. Ook die hoeveelheid tyd wat elke ouer saam met die kinders deurbring.

“Dit gebeur dikwels dat ’n man wat nooit regtig tyd aan die kinders bestee nie, ’n super-pa word in sy pogings om primêre toesig oor hulle te verkry,” sê Bertus.

Ná die egskeiding:

Dit is een van die mees traumatiese gebeure in jou lewe en jy sal emosies soos woede, teleurstelling, frustrasie en pyn ervaar. Dis moeilik om die emosies te beheer en dit neem lank om volkome te herstel ná ’n egskeiding. Jou lewe gaan vir seker anders wees. Aanpassing en selfs aanvaarding van die veranderinge sal jou help om gouer anderkant uit te kom, volgens Bertus. 

DINGE OM NOU TE DOEN:

  • Stel ’n nuwe testament op.
  • Jul bates is tydens die egskeiding herverdeel: Dikwels kry een ’n kontantbedrag in een of meer paaiemente. As dit jy is, beplan verstandig vir jou geldelike behoeftes later in jou lewe.
  • Verander begunstigdes van polisse binne drie maande ná jou egskeiding om by jou nuwe omstandighede aan te pas.
  • Maak jou eie bankrekening oop as julle ’n gesamentlike een gehad het. As jy reeds een het, verander jou rekening(e) se wagwoord.
  • Stel ’n begroting op met jou inkomste en uitgawes om te weet wat jou lewenskoste gaan wees, met of sonder kinders.
  • Werk ’n finansiële plan uit. Dis nie om ’n ryk man (of vrou) te vind nie! Of om op jou eks staat te maak nie. Die lewe kan in ’n oogwink verander en jy kan met die finansiële verpligtinge sit. 
  • Maak seker jy het ’n goeie begrip van jou geldsake. Kontak ’n finansiële raadgewer om jou met die opstel van so ’n plan te help.
  • Maak seker jy het so min moontlik skuld voor die egskeiding. Dit sal ’n goeie kredietrekord waarborg.
  • Ook dat daar minstens ’n maand se salaris beskikbaar is vir ’n noodgeval.As jy onderhoud vir kinders kry, spaar minstens ’n maand s’n ingeval jou eks om een of ander rede nie betaal nie.
  • Sluit aan by ’n mediese fonds of kry ’n hospitaalplan, neem korttermynversekering op jou motor en huisinhoud uit, versekering op jou lewe en vir mediese ongeskiktheid. Volgens Bertus is ’n egskeiding ’n einde, maar ook ’n begin. Maak seker jy het ’n goeie padkaart daarvoor. 

NEEM BEHEER VAN JOU GELDSAKE:

Moenie wag vir lewensveranderende omstandighede soos egskeiding of die dood van ’n eggenoot nie, sê Amelia Morgenrood, finansiële beplanner van PSG in Pretoria. “Ons sit met ’n dilemma. ’n Vrou kan dit eintlik nie waag om op te hou werk as daar kinders is nie; om nie óók op haar loopbaan te fokus nie. Die wet bepaal ’n man hoef net die eerste twee jaar onderhoud vir sy eksvrou te betaal. (Kinders is ’n ander saak.) Daarna moet sy self ’n inkomste verdien.

Maar hoe nou as jy jare lank ’n tuisteskepper was en nie die selfvertroue (en dalk kwalifikasies) het om weer te gaan werk nie?”

Dit is belangrik dat jy voorsiening vir enige gebeurlikheid maak as jy besluit:

1. om te trou

2. op te hou werk

3. kinders te kry 

4. te skei

“Jy kan dalk by voorbaat ’n paar voorwaardes by die voorhuwelikse kontrak voeg wat altyd bindend sal wees, selfs al het julle nou min. Iets soos: Skei julle ooit en daar is kinders, kry jy outomaties die familiewoning en motor skuldvry. Ten minste het jy dan ’n dak oor jou kop en ’n motor.

“Kom vooraf hieroor ooreen, verkieslik op skrif, selfs per kontrak by ’n prokureur. Onthou, jy kan een of ander tyd alleen verantwoordelik wees vir jou geldsake (as gevolg van egskeiding of die dood van jou huweliksmaat). Vroue besef nie aldag wat die finansiële en emosionele implikasies is as jy alleen met kinders agterbly nie. Ook nie hoe moeilik dit is om oor geld te praat as dinge uitmekaarval nie.”

Praat reg ná jul verlowing oor wat julle wil hê en nodig sal hê in geval van ’n egskeiding, reken James Sexton, ’n egskeidingsprokureur, op time.com se webblad. “Ek doen baie voorhuwelikse kontrakte en dis die onderwerp wat volgens my kliënte na die mees emosionele en insiggewende gesprekke lei. Dis ’n moeilike gesprek om in dié stadium van jul verhouding te hê. ‘Wat dink jy gaan ons doen as ons skei?’”

Moenie wag vir onaangename verrassings nie, sê Amelia. “Wees ingelig en voorbereid. Die ou verskonings van platsak, verstaan nie, het nie tyd nie, is nie meer vandag aanvaarbaar nie. Inligting is danksy die internet tot almal se beskikking.”

DÁÁRDIE GESPREK

Hoe jy jou man (of vrou) vertel en wát, is baie belangrik. Dit gaan bepaal hoe die egskeiding vorentoe ontvou. Eerstens, hoe groot gaan die verrassing wees? Meestal is hy, soos jy, waarskynlik ontevrede met die huwelik. Dalk weet hy jy is ongelukkig, maar soveel dat jy wil skei? Of dalk dink hy als is reg, daar’s nie fout nie. Hoe meer geskok en verras hy is, hoe langer gaan hy neem om dit te aanvaar.

Kies ’n tyd wat julle nie gesteur sal word nie. Wees voorbereid op ’n lang gesprek of ’n reeks. As hy nie gereed is vir skei nie (en die kans is goed daarvoor), gaan sy eerste impuls wees om jou daaruit te probeer praat, jou te vertel hoe verkeerd dit sal wees. Hy kan woedend aandring om te weet hoekom jy dit aan hom en die kinders doen en jou van allerhande dinge beskuldig. Dis voorspelbaar en normaal.

Moenie terugkap nie. Sê bloot die huwelik werk geruime tyd nie meer nie. Dinge kan nie meer reggestel word nie en egskeiding is die enigste uitweg. Julle het albei daartoe bygedra en dit help nie julle blameer mekaar nie. Jou besluit is finaal, niks gaan dit verander nie. Jy sou graag ’n beskaafde egskeiding wou hê waar almal se behoeftes in ag geneem word, syne ook.

Jy gaan nie vasval in ’n gesprek oor wie se fout dit is nie. Net maar praat oor hoe om die egskeiding te reël. Jy weet hy het tyd nodig om die situasie te aanvaar en jy sal hom soveel gee as wat nodig is. Dat jy seker is julle sal saam ’n redelike ooreenkoms uitwerk. Daar gaan nog baie sulke gesprekke wees, maar dis al wat jy nou hoef te sê.

Bron: psychologytoday.com

KONTAK: Bertus Preller: 021 422 2461, www.divorceattorney.co.za